top of page

Het Jesus die Sabbat Gebod Gebreek?

 

Die argument van sommige, wat liefde-gehoorsaamheid aan hul Skepper probeer ignoreer, is dat as Jesus die Sabbat gebod gebreek het, dit dus nie sonde was nie, want Jesus het nooit gesondig nie, en dan hoef hulle ook nie die Sabbat Gebod langer te eerbiedig nie...

Sal God ‘n Gebod hoorbaar tot Sy volk spreek (Deut.4:9-13; Deut. 4:32-36; Deut. 5:1-4) en daarna dit bevestig deur met Sy eie vinger (Ex.31:18; Ex.24:12; Ex.32:15-16) dieselfde gebod op klip te graveer net om later self dit te kom breek? Nee. God waak oor Sy woord om dit uit te voer, (Jer.1:12) nie om dit te verbreek nie. God stel Sy woord selfs bo Sy Heilige Naam (Ps.138:2). Hoe kan ons so verkeerd dink?

Sou God regverdig wees deur vir een groep mense Sy morele wette (10 gebooie) te gee om te handhaaf en dan self later dieselfde wet kom oortree, en sonder om ‘n woord te sê, te kenne gee dat Sy ‘getroue’ volgelinge nou maar Sy wet mag verbreek?

  • Nee. Dit is lasterlik teen God se Naam om so te dink. God is regverdig (Ps.145:17) en trek niemand voor nie (Rom.2:11) en verander nooit (Mal.3:6).

  • Nee. Jesus se eie woorde bevestig dat Hy die wet gehandhaaf het: “1 Joh 3:4 sê vir ons “Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid.” Om sonde te doen is om wetteloos te handel. Dus, as Jesus die Sabbat gebod gebreek het het Hy wetteloos gehandel en sou dan ‘n sondaar wees. As sondaar sou Hy nie as perfekte ‘Lam’ in ons plek vir sonde kon sterf nie. Verstaan dat dit ‘n gevaarlike aantuiging teen Christus is deur te glo Hy Sy eie Sabbat Gebod kom oortree het sodat ons nie in liefdevolle gehoorsaamheid aan ons Skepper hoef te leef nie. Nee. Jesus sê dit baie duidelik “As julle My liefhet, bewaar my gebooie.” (Joh.14:15)

 

Wie het Jesus beskuldig dat Hy die Sabbat gebod gebreek het? Joh.9:14-24 wys vir ons dit was die Fariseërs wat Jesus beskuldig het. So, as mens dan kies om die Fariseërs te glo, dan moet mens aanvaar dat hulle (en die ander) "reg" was deur Jesus ‘n sondaar te noem, en daarom ook geen Verlosser het nie.

 

 

Die hoof vers in hierdie twispunt is Joh.5:18 waar Jesus weereens besig is om ‘n man op die Sabbat te genees, en weereens word Hy deur die Fariseërs beskuldig dat Hy die Sabbat Gebod breek. Die wyse waarop Johannes die woorde "[Jesus het] die Sabbat gebreek" geskryf het verwys na Jesus se optrede vanuit die Fariseërs se perspektief (vergelyk Joh.9:14-16). Ons sal onweerlegbare bewyse hiervan later sien. Eerstens is dit belangrik om te sien wat Jesus aangaande die Fariseërs sê: Mat.5:20, “Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie.”

 

So? Wie se woorde dink u moet ons na luister? Die woorde van Jesus of die woorde van die Fariseërs wie Jesus laat kruisig het?

 

Neem verder kennis dat dit ook die Fariseërs was wat Jesus beskuldig het van godslastering deurdat Hy homself gelyk gestel het aan die Vader. Was die Fariseërs reg? Nee. Hulle was net so min reg met hierdie aantuiging as toe hulle beweer het dat Jesus die Sabbat Gebod gebreek het.

 

Hier is bewyse dat hierdie aantuiging van die Fariseërs afkomstig was en nie vanaf Johannes nie, en verder dat dit nie verbreking van die Sabbat Gebod is om op daardie dag te genees (goed te doen) nie.

 

Mat.12:10-12: “En daar was ‘n man met ‘n verdorde hand, en hulle het Hom gevra en gesê: Is dit geoorloof om op die sabbat gesond te maak? —sodat hulle Hom sou kan aanklae. Maar Hy sê vir hulle: Watter mens sal daar onder julle wees wat een skaap het, en as dit op die sabbat in ‘n sloot val, dit nie sal gryp en uithaal nie? Hoeveel meer is ‘n mens dan nie werd as ‘n skaap nie! So is dit dan geoorloof om op die sabbat goed te doen.” 

 

Weereens het ons die Fariseërs wat Jesus beskuldig van verbreking van die Sabbat Gebod op Sy dag soos in Joh.5:18. Hierdie keer het ons egter Jesus se eie antwoord op die vraag of goeddoen, soos om gesond te maak, op die Sabbat wetlik is: "So is dit dan geoorloof om op die sabbat goed te doen."

 

Hoekom sou die teenstaanders van die ware Sabbat-aanbidding hul geloof plaas in die woorde van die Fariseërs as eerder in die woorde van hul eie Heer en Heiland? Watter Christen gelowige wat werklik God liefhet sal net Joh.5:5-18 noem maar nie melding maak van Mat.12:10-12 wat sê dat dit NIE onwettig was om gesond te maak en goed te doen op die Sabbat nie?

 

Ons kan baie dankbaar wees dat Jesus nie ‘n sondaar was nie en nooit enige van Sy Tien Gebooie gebreek het nie, soos toe Hy verklaar het dat “dit dan geoorloof [is] om op die sabbat goed te doen” soos om siekes gesond te maak of om ‘n dier uit ‘n put te red wat andersens sou ly. Dis tragies dat daar sommiges is wat valslik beweer dat Jesus die Sabbat gebreek het net om te vermy om nie kwaliteit tyd saam met Hom op Sy Heilige dag te spandeer nie.

GAAN NA: Verdere Bronne Rondom Die Rusdag Van Die Here

bottom of page