top of page

TEKENS VAN SELFVOLDANE PROFETE

Matt 7:22
“Baie sal in daardie dag vir My sê:  Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?”

Die misleiding sal so erg wees, dat sommige dink hulle doen God se werk. Maar deur die Here se Naam aan te roep, te profeteer, duiwels uit te dryf en wonderkragte te doen, maak dit nog nie God se werk nie.

Matt 7:21
“Nie elkeen wat vir My sê:  Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.”

Nie almal wat dink hulle ken die Here, sal in die hemel toegelaat word nie. Geloof in Jesus vereis dat ons God se wil doen, nie ons eie nie.

Matt 7:23
“En dan sal Ek aan hulle sê:  Ek het julle nooit geken nie.  Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk.” (Julle wat die wet van God oortree - NV.)

Om God te ken, is meer as om net van Hom te wéét. Ongeregtigheid beteken om God se Wet (Sy karakter) te minag. Liefde vereis gehoorsaamheid, nie die vertrapping van Sy karakter nie.

VALSE PROFETE - HANDLANGERS VAN SATAN

2 Kor 11:13
“Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus.”

Hierdie sogenaamde leiers doen hul voor as God se gesante. Hulle sê en profeteer dinge wat God nie gesê het nie. Hulle het dieselfde aanmatigende houding as Satan.

2 Kor 11:14
“En geen wonder nie!  Want die Satan self verander hom in 'n engel van die lig.”

Satan gee voor om ‘n gesant van God te wees. Hy doen hom voor as 'n engel van die lig (Geregtigheid of waarheid). Instede daarvan om God se wil aan ons voor te hou, lei hy ons weg van God af.

2 Kor 11:15
“Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie.  Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.”


Die valse leiers is niks anders as Satan se gesante nie. Deurdat hulle self deur die duiwel mislei is, dink die valse leraars dat hul God se opdragte uitvoer. Instede daarvan voer hulle Satan se opdragte uit.

DIE ANTICHRIS SIT ALREEDS IN DIE KERK

 

2 Thess 2:3,4
“Laat niemand julle op enige manier mislei nie want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.”

Die Satan het dit ten doel om God se plek op aarde in te neem. Hy is die groot dwaling wat die Kerk besoedel, wat waarheid met valsheid meng. Hy sit alreeds ín die Kerk en gee voor om self God te wees. Hy beskou homself as aanbiddingswaardig, iets wat net God toekom.

 

HOE GAAN DIE ANTICHRIS TE WERK?


2 Thess 2:9
“...hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen.”


Die Antichris werk met Satan se strategie - hy mislei en bedrieg deur kragtige dade, tekens en wonders. Almal dink dit getuig van Waarheid, maar die oorsprong van al die wonderwerke is Satan self!

DIE BOEK OPENBARING MAAK SATAN SE MISLEIDING BEKEND

SIMBOLE VAN VALSHEID

Openb 13:1,3
“En ek het 'n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe 'n naam van godslastering. En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was, en sy dodelike wond is genees. En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan.”


Hierdie eerste Simbool neem die vorm aan van ‘n saamgestelde Dier. Sy naam dui aan dat sy karakter godslasterlik is. Dit werk onder die vaandel van Satan. Die hele wêreld volg die Dier, en dus Satan, met bewondering.

Openb 13:11
“En uit die aarde het ek 'n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos 'n lam en het gepraat soos 'n draak.”

 

Die Tweede Dier (Valse Profeet) lyk onskuldig (lam met twee horinkies). Hy word egter deur sy stem verraai, want dit praat soos 'n draak. Hy is ‘n besliste agent van Satan.

Openb 13:13
“Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense.”

Die 2de Dier (Valse Profeet) doen groot tekens, soos om vuur uit die hemel te laat neerdaal ('n na-aping van vuur by Karmel en tonge van vuur by Pinkster). Die wonders en tekens het alles met valse aanbidding te doen.

ONTHOU U NOG?    

  • Valse profete!

  • Valse christusse!

  • Alles word gedoen in die "Naam van Jesus"..!

 

... U sal aan die einde alles verstaan.


Openb 13:14
“En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle 'n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het.”

Die 2de Dier se hoofdoel is om die hele wêreld te mislei. Hierdie misleidende tekens word deur Satan aan hom gegee. Die wêreld word aangespoor om die eerste Dier (valse christelike Stelsel teen God se Waarheid) te verheerlik.

WIE BESTUUR DIE SIMBOLE VAN VALSHEID?

Openb 16:14
“Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God.”

Dit is niemand anders nie as Satan en sy bose engele self, wat aan die stuur van die twee simboliese Diere is wat die mensdom verlei.

 

Gaan na die volgende studie:  DIE SKAKEL TUSSEN DANIËL EN OPENBARING

bottom of page