top of page

DIE SKAKEL TUSSEN DANIËL EN OPENBARING

Matt 24:15
“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom - laat hy wat lees, oplet.”

Ten spyte van wat moderne teoloë van Daniël mag dink, het Jesus ‘n hoë agting vir sy eie profeet. Daniël beskik oor belangrike inligting wat die God in die hemel aan hom gegee het omtrent die Gruwel van Verwoesting wat God se plek in die heiligdom inneem. Luister na wat Daniël te sê het:

ENKELE HOOGTEPUNTE UIT DIE BOEK DANIËL


Dan 2:28    
“Maar daar is 'n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadnesar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur.”


Dit is ons Vader wat in die Hemel is, wat geheime openbaar. Selfs die toekoms (dit wat aan die einde van die wêreld se geskiedenis gaan gebeur) is vir Hom nie verborge nie - Hy weet álles!

Dan 8:17    
“Toe kom hy by my staanplek;  en toe hy kom, het ek geskrik en op my aangesig geval.  En hy het vir my gesê:  Let op, mensekind, want die gesig sien op die tyd van die einde.”

Daniël se visioene sien vooruit na gebeure aan die einde van die wêreld se geskiedenis. Ons wat vandag leef, en die Antichris, is daarby betrokke.  

Dan 8:19    
“Kyk, ek maak jou bekend wat aan die einde van die strafgerig sal gebeur, want dit sien op die bepaalde tyd van die einde.”

Die visioen het op 'n bepaalde tydperk in die toekoms betrekking. Daardie bepaalde tyd van die einde is die tyd waarin ons leef!

Dan 12:4,9
“En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe;  baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder...  En hy het gesê:  Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe.”


Die visioene van Daniël moes verseël bly (in opdrag van God) totdat die tyd van die Einde aangebreek het. Soos tyd verloop en die menslike geskiedenis homself ontvou, sal Daniël se visioene deur baie verstaan word.

Dan 7:21,22
“Ek het gesien dat hierdie horing oorlog voer met die heiliges en hulle oorwin, totdat die Oue van dae kom en aan die heiliges van die Allerhoogste reg verskaf is en die bepaalde tyd gekom het dat die heiliges die koninkryk in besit geneem het.”


Die Antichris sal oorlog voer met God se kinders en hulle oorwin. Maar op die bepaalde tyd sal God se kinders weer in ere herstel word.

Dan 8:12    
“En 'n leër is aan die horing oorgelewer in goddeloosheid saam met die voortdurende offer;  en dit het die waarheid op die grond neergewerp en in sy optrede voorspoed gehad.”


Deur goddelooslik te handel sou hierdie vyandige mag voorspoedig wees om Christus se bediening en die waarheid te vertrap.

Dan 8:25    
“En op grond van sy slimheid sal hy met geluk bedrog pleeg, en hy sal groot dinge onderneem in sy hart en baie mense onverwags vernietig, ja, optree teen die Vors van die vorste, maar hy sal sonder toedoen van mensehand verbreek word.”

Hy sal bedrog pleeg, godslasterlike dinge onderneem en baie mense dood maak. Hy sal selfs teen Christus in opstand kom.

Dan 8:26    
“En die gesig van die aande en die môres waarvan gespreek is, dit is waarheid; en jy, hou die gesig geheim, want dit sien op 'n verre toekoms.”

Die visioen van die 2300 aande-en-môres is Waarheid. Dit moet geheim gehou word want dit sien op die verre toekoms (Tyd van die Einde).

Dan 8:27    
“En ek, Daniël, was gedaan en was dae lank siek;  daarna het ek opgestaan en die werk van die koning gedoen; en ek was verstom oor die gesig, maar niemand het dit gemerk nie.”


Die visioen oor die verre toekoms was vir Daniël 'n skok, sodat hy siek word. Wie is so vermetel om God se Waarheid te vertrap?

OPENBARING ONTSLUIT DIE BOEK DANIËL

Net soos die boek Daniël sleutels bevat om Openbaring mee oop te sluit, so bevat die boek Openbaring weer sleutels om Daniël mee oop te sluit.


Openb 10:1
“En ek het 'n ander sterk engel uit die hemel sien neerdaal, bekleed met 'n wolk, en 'n reënboog was oor sy hoof, en sy aangesig was soos die son, en sy voete soos pilare van vuur;”


Hier is dieselfde beskrywing van Jesus soos in Daniël hfst 10. Die reënboog is 'n erkenning van God se Verbond met die mensdom sedert die tyd van Noag. Hiermee bevestig Openbaring die Verbond van God met die mens.

Openb 10:2,5,6
“...en in sy hand het hy 'n geopende boekie gehad, en hy het sy regtervoet op die see gesit en sy linkervoet op die land;...die engel wat ek op die see en op die land sien staan het, het sy hand na die hemel opgehef, en hy het gesweer by Hom wat tot in alle ewigheid lewe, wat die hemel geskape het en wat daarin is, en die aarde en wat daarin is, en die see en wat daarin is, dat daar geen tyd meer sal wees nie.”


Die boekie Daniël (verseël tot die Tyd van die Einde) is nou geopen. Die tyd van die einde het aangebreek, daarom sweer die Engel dat daar geen tydprofesie meer sal wees nie. Daar het intussen 2000 jaar verloop sedert dié profesie gemaak is! Ons leef waarlik in die laaste fase van die wêreld se geskiedenis.
 
Openb 10:7
“...maar in die dae van die stem van die sewende engel, wanneer hy met die basuin sal blaas, dan is die verborgenheid van God volbring, soos Hy die blye tyding verkondig het aan sy diensknegte, die profete.”

God se Verborge Plan om van sonde ontslae te raak, sal volbring wees sodra die sewende en laaste engel op sy trompet blaas. God se beloofde blye boodskap - herstel van geregtigheid - sal dan 'n werklikheid wees.

SKOKKENDE NUUS!

Openbaring bevat skokkende nuus - Daniël en Johannes was geskok. U sal ook geskok wees! Hou egter goeie moed! God se Woord is Waarheid! Ons hoef nie bang te wees nie, vertrou op Jesus, want Hy sê:

Matt 28:20
“En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.  Amen.”

Ten spyte van wat gaan gebeur, is Hy met ons tot aan die einde van die wêreld se geskiedenis. Hy sal ons nooit alleen laat, of vergeet nie.
 
Openb 1:1
“Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het.”

Jesus waarsku ons vroegtydig deur sy profete dat skokkende dinge gaan gebeur. Hy wil hê dat ons gereed moet wees daarvoor.

Openb 1:3
“Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.”


Jesus wil nie vrees by sy lesers kweek nie. Hy bied drie seëninge aan die wat Openbaring lees, hoor en die geskrewe dinge in hulle harte bewaar.

JESUS SE OPROEP TOT U EN MY

2 Pet 1:19
“En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte.”

Ons moet vertroue hê in God se Woord. Dit is die Lamp waamee Jesus ons deur die duisternis tot in die helder daglig sal lei.

 

IS DIT U BEGEERTE DAT DIE HEILIGE GEES GOD SE WIL VIR U LEWE DEUR DIE BYBEL AAN U OPENBAAR?

 

IS DIT U BEGEERTE OM GOD SE WIL TE GEHOORSAAM SOOS HY DIT DEUR DIE SKRIF AAN U SAL OPENBAAR?

 

Gaan na die volgende afdeling:  2. DIE LAMP IN 'N DONKER WêRELD

bottom of page