top of page

6. DIE SEWE SEËLS VAN OPENBARING
 
DIE DOEL VAN OPENBARING


Openb 1:1    
“Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te  toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het.”

Dit is die "Openbaring van Jesus Christus" om aan ons "te toon wat gou moet gebeur..."  Die menslike geskiedenis gaan ontvou word.

Openb 4:1    
“Ná hierdie dinge het ek gesien - kyk, 'n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos 'n basuin met my hoor spreek het, het gesê:  Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur.”

"...Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur."  Die doel van Openbaring is om die toekomsgebeure, wat op God se kinders van toepassing is, vir ons bloot te lê. Openbaring is die padkaart en gids vir Christene.  Ons moet sy inhoud ken!

Openb 22:16    
“Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig.  Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester.”

Jesus het spesiaal Sy engel gestuur om dit aan die kerk oor te dra, sodat hulle gereed kan wees vir die gebeure van die toekoms. Wat 'n jammerte dat hierdie boek deur die moderne Christendom verwaarloos en in sommige gevalle, selfs verwerp word.

Openb 1:3    
“Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin ge-skrywe is, want die tyd is naby.”

So angstig is Jesus dat ons hierdie boek moet lees, dat Hy drie seëninge beloof het vir die wat Openbaring lees, dit hoor en bewaar wat daarin geskryf staan.
 
Markus 13:22,23    
“Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.  Maar julle moet op julle hoede wees.  Kyk, Ek het alles vir julle vooruit gesê.”

Satan, wat God en Sy volgelinge haat, haat ook die boek Openbaring. Hierdie boek openbaar God se vyande; Satan, sy generaal, "die seun van die verderf," en al sy adjudante (valse leiers) in die groot stryd.  

Deur leuens, tekens en wonders, valse getuienisse ens. wil hy keer dat ons die boek Openbaring bestudeer. Van sy dienaars sê selfs dat die boek verseël is, terwyl die boek self, dit weerlê (Openb 22:10).

DIE GETAL - 7

‘n Interessante eienskap in die boek Openbaring, is die gebruik van die getal 7. Daar is 7 Kerke, 7 Seëls, 7 Trompette, 7 Engele, 7 Plae, ens.  

Die getal 7 is een van God se eie kenmerke en is daarom ‘n goddelike getal. God het presies 7 dae vir die Skepping opsy geplaas. Die 7 versoeke wat Jesus in die "Onse Vader," rig, dui die volledigheid van Sy gebedsonderwerpe aan. Die 7 laaste gedagtes van Jesus aan die Kruis, vorm die opsomming van Sy leringe.  Net só dui die "sewes" van Openbaring op die volmaaktheid, volledigheid en finale afronding van God se Verlossingsplan.

Die 7 Kerke bevat die hele verloop van die Christelike bedeling - vanaf die tydperk van die Apostels tydens die stigting van die Christelike Kerk, tot en met die Wederkoms van Jesus. Die 7 Trompette dui op die politieke en nasionale probleme waarmee die Christelike Kerk deur die eeue te kampe sou hê en wat sou voortduur tot en met die Wederkoms van Christus.
 

DIAGRAM No 1 - TYDPERKE VAN DIE 7 KERKE

DIE VERSEËLDE BOEKROL

Openb 5:1,3,5    
“En ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit, 'n boek gesien, van binne en van buite beskrywe en met sewe seëls goed verseël.  En niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde kon die boek oopmaak of daarin kyk nie.  Toe sê een van die ouderlinge vir  my:  Moenie ween nie;  kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek.”

Die Skepper hou 'n boekrol vas, wat net deur die waardige Lam, oopgemaak kan word. Die verbreking van die 7 Seëls word beskryf in Openb 4 tot 8. Die oopbreek van die 7 Seëls, stel die geskiedenis van die agteruitgang en afvalligheid van die Kerk voor.
 
VERGELYKING TUSSEN 7 KERKE EN 7 SEËLS

Daar is 'n interessante verskil tussen die 7 Kerke en die 7 Seëls. Die 7 Kerke het betrekking op die INNERLIKE GEESTELIKE TOESTAND van die kerk, terwyl die 7 Seëls, die UITERLIKE FISIESE TOESTAND van die Kerk weerspieël.

Die 7 Seëls is 7 simboliese tydvakke van gebeure in die geskiedenis van die kerk, waarmee God se volk te kampe sou hê. Die 7 Seëls dek dieselfde tydperk as die 7 Kerke, d.w.s. vanaf die tyd van die apostels tot en met die Wederkoms van Christus.

 

DIAGRAM No 2 - VERGELYKING TUSSEN DIE 7 KERKE EN 7 SEËLS

AGTERGROND VIR DIE 7 SEËLS

1.    Ons het hier met een enkele profesie te doen wat oor vyf hoofstukke van Openbaring strek (Openb 4 - 8).
2.    Vir Johannes was die visioen 'n toekomsopenbaring - m.a.w. gebeure wat nog in die toekoms sou plaasvind.
3.    God sit op die troon, met die toekoms (boekrol) in Sy hande.  Ons hoef nie bang te wees nie want God is in beheer (Dan 2:20-22,28).
4.    Profesieë kan alleenlik ten volle verstaan word, sodra dit vervul is.  Die doel daarmee is om geloofsvertroue in die harte van God se kinders te kweek (Matt 24:25; Mark 13:23; Joh 13:19; 14:29).

 

Gaan na die volgende studie:  DIE VIER PERDERUITERS

bottom of page