top of page

DIE VIER PERDERUITERS

Die eerste 4 Seëls word as Perderuiters voorgestel. 'n Perd word selde in die Bybel as pakdier beskryf, eerder as ‘n oorlogsdier. (Sien Job 39:22-28)  

Sag. 10:3    
“... want die Here van die leërskare gee ag op sy kudde, op die huis van Juda, en maak hulle tot sy pragtige perd in die stryd.”

Net soos Juda (die kerk in die OT), word die Vrou (kerk in die NT) deur ‘n perd en sy ruiter voorgestel, waar sy in stryd met die Bose is. Met verloop van tyd verander die ruiter en die kleur van die perd.

DIE EERSTE SEËL - RUITER OP 'N WIT PERD
 
Openb 6:1, 2    
“En ek het gesien toe die Lam een van die seëls oopmaak;  en ek het een van die vier lewende wesens hoor sê, soos die geluid van 'n donderslag:  Kom kyk!  En ek het gesien, en kyk, daar  was 'n wit perd.  En hy wat daarop sit, het 'n boog; en aan hom is 'n kroon gegee, en hy het uitgegaan as 'n oorwinnaar en om te oorwin.”
 
Wit is die simbool van reinheid (Jes 1:18). Die Kerk van God gelei deur die apostels, het die reinheid van die vroeë kerk bewaar.  

Oorwinnaarskroon - Is 'n teken van die ware evangelie se oorwinning oor die sonde en die wêreld se valse godsdienste. Dit is vermag deur die Heilige Gees wat woon in die harte van die eerste Christene.

Die boog - Is die Woord van God wat die wêreld oorwin met die waarheid  van die evangelie (Hab 3:9; Ps 45:4-6; 64:7-11).  

In Paulus se tyd (60 n.C.) was die evangelie uitgedra na die uithoeke van die bekende wêreld (Hand 1:8; Rom 1:8; Kol 1:23).  Teen dié tyd was daar al 50,000 Christene net in Rome alleen. Die Christendom  het aan die einde van die eeu reeds 6,000,000 lede gehad.

Die eerste Seël stel die Christelike Kerk voor in 31-100 nC. en kom ooreen met die Kerk van Efese.  

DIE TWEEDE SEËL - RUITER OP 'N ROOI PERD

Openb 6:3,4    
“En toe Hy die tweede seël oopgemaak het, hoor ek die tweede lewende wese sê: Kom kyk!  En 'n ander perd, 'n vuurrooie, het uitgekom en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak;  en 'n groot swaard is aan hom gegee.”

Rooi - Die simbool van sonde en bloedvergieting (Jes 1:18; 59:1-3,6-8; Openb 17:4,6). Die kerk is deur die hele Romeinse Ryk vervolg.  
 
Swaard - Die simbool van gesag (Openb  19:15). Rome wou haarself verhef tot hoof oor die kerk, net soos Rome die hoofstad oor die hele Romeinse Ryk was. Haar biskoppe sou al meer gesag uitoefen.

Die verandering van wit na rooi, dui daarop dat die Kerk van haar suiwerheid ingeboet het. Rome en Alexandrië laat die datum van die kruisiging en opstanding van Jesus saamval met die naweek van die heidense lentefees van Tammuz. Tammuz se opstanding sou meer heidene na die kerk lok. Die Oosterse kerke het by die Joodse paasdatum (14 - 16 Abib, die eerste Joodse godsdienstige maand) gebly.


Victor I, biskop van Rome, dreig die ander kerke met ekskommunikasie indien hulle nie aan Rome onderdanig is nie. Volgens Cyprianus het Rome haar gesag probeer regverdig deur te sê dat Jesus aan Petrus die gesag oor die kerk gegee het. Deur die Cathedra Petri (stoel van Petrus) in Rome word die opvolger vir die hoof van die kerk gekies en so probeer sy steeds om gesag oor die kerk uit te oefen.

Die tweede Seël stel die Christelike Kerk voor in 100-313 nC. en kom ooreen met die Kerk van Smirna.  

DIE DERDE SEËL - RUITER OP 'N SWART PERD

Openb 6:5    
“En toe Hy die derde seël oopgemaak het, hoor ek die derde lewende wese sê:  Kom kyk!  En ek het gesien, en kyk, daar was 'n swart perd;  en hy wat daarop sit, het 'n skaal in sy hand.”

Swart staan vir duisternis van geloof (Jes 9:1; Matt 4:13-17; Joh 8:12; Efe 5:8,14). Satan verander sy taktiek van vervolging, na insypeling deur valse leringe, rites en onbekeerde heidene. Die heidense keiser Konstantyn is in 313 nC. bekeer en die Christelike geloof word skielik staatsgodsdiens. Nou word dit mode om ‘n Christen te wees en miljoene heidene stroom die kerk sonder werklike bekering, binne.
 
Die wit perd (Reinheid) verander na die rooi perd (sonde) en daarna na die swart perd (geestelike verval). 'n Skaal beteken oordeel (Dan 5:27). Die Kerk se geestelike toestand is geweeg en te lig bevind. Sy is swart a.g.v. leerstellige onreinheid. Waarheid word vermeng met tradisies en rites van heidense oorsprong.
 
Rome het intussen die leerstellige vetes in die oosterse kerke uitgebuit en elkeen wat haar gesag erken, met staatshulp bygestaan. So het sy haar ingegrawe as arbiter tussen die strydende teologiese magte en meer en meer kerke onder haar jurisduksie ingepalm. Vanaf 323 nC. het die biskop van Rome hom daarvoor beywer om die hoof van die Kerk en die politiek van die wêreld te word. In 538 nC. word sy droom bewaarheid.


Satan het die kerk subtiel met dwaalleer en bygeloof verander. Die heidendom is slaafs nagevolg in haar tempels, altare, skilderye, ringkop priesters (met 'n Pontifex Maximus - hoofbiskop wat oor hulle toesig hou), priesterlike aanmatiging van onfeilbaarheid, die seremoniële soen van die voete van die Pontifex Maximus (eers biskop toe later die pous), priesterordes, statige kleredrag, krone en hooftooisels, gekromde herderstawwe, versiering van afgode, aanbidding van die koningin van die hemel (Diana wat Maria word), heilige plekke en heilige optogte, sogenaamde wonderwerke, bedelordes, gekanoniseerde dooie heiliges, kalenders wat aan afgode gewy is, honderde feeste, selibasie (mans en vroue wat nie mag trou nie), mistiese tekens, aanbidding van oorblyfsels en aandenkings van heiliges, vervolging van diegene wat aan die Woord as waarheid vashou, ens.

Openb 6:6    
“En ek het 'n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: 'n Rantsoen koring vir 'n penning en drie rantsoene gars vir 'n penning; en moenie die olie en die wyn beskadig nie.”

Die afmeet van koring en gars vir 'n geldstuk (dagloon vir 'n ongeskoolde arbeider), dui op hongersnood. Die graan is die woord van God (Jer 23:28; Luk 8:11). ‘n Geestelike hongersnood na waarheid sou heers weens afvalligheid in die Kerk. (Sien Amos 8:11; Lev 26:26)

Die geestelike droogte is erg, maar met opoffering, kan 'n mens oorleef, want olie en wyn is nog beskikbaar. Die olie dui op die Heilige Gees, wat deur die Woord in die harte van mense werk (Sag 4:6; 1 Sam 16:13). Die wyn dui op die bloed van Jesus en sy geregtigheid, waardeur ons van sonde verlos word (Matt 26:27,28).

Die derde Seël stel die afvalligheid van die Christelike Kerk voor in 313 tot 538 nC. en kom ooreen met die Kerk van Pergamus.
 
DIE VIERDE SEËL - RUITER OP ‘N VAAL PERD

Openb 6:7,8    
“En toe Hy die vierde seël oopgemaak het, hoor ek die stem van die vierde lewende wese sê:  Kom kyk!  En ek het gesien, en kyk, daar was 'n vaal perd.  En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg.  En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde.”

Die wit perd word die vaal perd (die dood). Vanaf 538 nC. verkry die pousdom geestelike heerskappy oor die Westerse Romeinse Ryk.

Soos die mag van die pousdom toeneem, het afvalligheid in die kerk verdiep. Die woord van God is onderdruk en sy verspreiding na die gepeupel is verbied. Die biskop van Rome het gesag uitgeoefen oor die geloof en alledaagse lewe van die mens.

Die wet van God is mee gepeuter (tweede gebod weggelaat, vierde gewysig en tiende in twee verdeel). Jesus se hemelse bediening word verdoesel deur priesterlike vergifnis van sonde en aflaatbriewe. Jesus as “Opstanding en die Lewe” is vervang met die onsterflike siel. Dooie heiliges en die maagd Maria dien as verlossers van siele uit ‘n denkbeeldige vagevuur. Die nagmaal maak plek vir die misoffer. Die hoogtepunt van die pousdom was die middernag van die kerk.

Gedurende die Donker Eeue, was die bevolking 400 000,000 en in dié tyd is 100,000,000 Christene ("van die aarde") gedood omdat hulle aan die suiwer leer van die Bybel vasgehou en die gesag van die pousdom oor die Christelike kerk ontken het.   

Die vierde Seël stel die Christelike Kerk voor in 538-1565 nC. en kom ooreen met die Kerk van Thiatire.

Dan 7:21        
“Ek het gesien dat hierdie horing oorlog voer met die heiliges en hulle oorwin.”
 
Daniël sien dieselfde mag wat met God se heiliges oorlog voer en hulle oorwin. Deur die Inkwisisie het die pousdom meer onskuldige bloed laat vloei as al die heidense keisers van Rome saam. Sy grootste doel was om seker te maak dat niemand enige ander gesag as die pousdom erken nie. Na pous Gregorius VII, maak die biskop van Rome aanspraak op sekulêre mag en selfs konings moes die knie voor die kerk buig.

Dan 7:25        
“En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel;  en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende 'n tyd en tye en die helfte van 'n tyd.”

Hierdie klein horinkie-mag sou ook godslasterlike dinge uiter, die heiliges mishandel en God se Wet probeer verander. Die bogenoemde tydperk (Tyd, Tye en ½ Tyd) kom ooreen met die 1260 jaar van Pouslike oorheersing en onderdrukking.

DIE VYFDE SEËL - MARTELARE

Openb 6:9    
“En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het.”

Die hemelse Heiligdom het nie ‘n hemelse altaar nie. Die altaar verwys na die aardse tabernakel met sy twee altare, die brandofferaltaar (waarteen die bloed van die offerhandes uitgegiet is) en die reukofferaltaar (waarop wierook gebrand is). (Lev 1-7; 16,17) Net soos Jesus, het die martelare hul bloed op aarde uitgestort.

Alhoewel miljoene hulle lewens tydens die Donker Eeue onder pouslike vervolging verloor het, kon die Hervormers nie die gees van vervolging afskud nie. Selfs Protestante het mense na die brandstapel gestuur. Die Anabaptiste (voorlopers van die Baptiste), en ook die Peïtiste, is beswadder en vervolg. Beide die groepe het geglo in ‘n kerk sonder staatsbeheer en sonder ‘n pous.
 
Openb 6:10    
“En hulle het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?”
 
Die bloed van Abel het simbolies uitgeroep om vergelding teen Kain, sy afvallige broer (Gen 4:10). So roep die bloed van die martelare om vergelding teen hulle broers - die afvallige Kerk.

Openb 6:11    
“En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog 'n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees.”

Die wit klere is simbolies van Jesus se geregtigheid wat aan hulle geskenk is weens hulle geloof. (Openb 7:14; 19:7-9; Hebr 11:45-40).  

Die Hervorming sou die martelare se getuienis bevestig. Die Bybel het die bose stelsel van Afvalligheid oopgevlek. Martelare wat eers as "uitvaagsels en ketters" gesien is, word toe as "heiliges van God" en "helde" beskou, hul name is voor die mendom in ere herstel. Die Waarheidsfakkel het te midde van geestelike duisternis geskyn (Dan 7:21; 8:12).  

Die vervolging was egter nog nie verby nie. Die Anabaptiste en Peïtiste (17de eeu), sou saam met ander Protestante, o.a. die Waldense en Albigense, die groot getalle martelare aanvul wat nog hul lewens sou moes opoffer op die altaar van godsdienstige onverdraagsaamheid. Europa was gedwing om met die “Vrede van Westvale,” die skeiding van kerk en staat te erken. Non-konformiste kon in vryheid God aanbid. Baie het politieke asiel in die “nuwe wêreld” ontvang en geïmmigreer na Australië en die V.S.A. waar hulle hul godsdiens kon uitleef sonder staatsondersteunde Katolieke en Protestante vervolging. Na die “Edik van Nantis” in 1685, het Suidelike Afrika ook politieke en godsdienstige heenkome gebied aan vlugtelinge uit Frankryk.

Die vyfde Seël stel die Christelike Kerk voor in 1517-1755 nC. en kom ooreen met die Kerk van Sardis.
 
DIE SESDE SEËL - TEKENS IN DIE HEMEL
 
Openb 6:12,13    
“En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was 'n groot aardbewing;  en die son het swart geword soos 'n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos 'n vyeboom wat deur 'n groot wind geskud word, sy navye laat afval.”

1.      Op 1 November 1755 tref die grootste aardbewing die aarde, met sy episentrum in Lissabon. Daar was drie skokke, om 9h40, 10h00 en om 12h00.  Dit het gestrek oor 4,000,000 vk\myl en het 60,000 mense binne 6 minute gedood. Skokgolwe kon op al die kontinente, behalwe Australië, gevoel word.

2.      Die donker dag van 19 Mei 1780, het alreeds om 10h00 die oggend begin. Beeste is terug kraal toe, hoenders het op hul stokke gaan slaap en voëls het hul laaste area gesing. Om 12h00 was dit so donker dat lampe en kerse opgesteek moes word. Die maan het bloederig gelyk. Die verskynsel het tot die volgende oggend geduur.

Die hoek tussen die son en maan het geen sonsverduistering moontlik gemaak nie. Sterrekundiges kan dit vandag nog nie verklaar nie, maar God kan. Hy sê dat rook en vuurpilare sal verskyn, die son sal verduister en die maan in bloed verander, voor die dag van die Here aanbreek (Joël 2:30,31).

3.      Op 13 November 1833 vind die grootste sterrereën (asteroïede reën) ooit, plaas. Dit was soos vuurwerke wat die nag verlig. Om 02:00 die oggend kon mense koerant in die straat lees. Drie dae later, was die hemel nog wasig, soos rook. Sterre was onsigbaar, die son, 'n flou bolletjie vuur, kon met die blote oog aanskou word.

Die sesde Seël stel die Christelike Kerk voor in 1755-1844 nC en kom ooreen met die Kerk van Filadelfia.
 
Openb 6:14-17    
“En die hemel het weggewyk soos 'n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê:  Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon Sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?”

Aan die einde van die sesde Seël breek die langverwagte Wederkoms van Jesus aan. Die hemel rol toe soos 'n boekrol en Hy verskyn op Sy troon. Die goddelose probeer vlug voor God se toorn.

 

Gaan na die volgende studie:  INSETSEL - DIE VERSEËLING

bottom of page