top of page

GOD SLUIT 'N VERBOND MET DIE JOODSE VOLK

Ons moet onthou dat 70-Weke vir die Joodse Volk ‘afgekap” is. Tot op hierdie gedeelte van die Profesie, is daar alreeds 69 weke, van die toegelate 70 weke, verstreke.
 
70 X 7 profetiese dae  =  490 profetiese dae  óf  490 letterlike jaar.  Dus is:
69 X 7 profetiese dae  =  483 profetiese dae  óf  483 letterlike jaar.  Dus;
  1 X 7 profetiese dae  =     7 profetiese dae, óf  7 letterlike jaar bly oor.

 
Aangesien die 70-Weke profesie, soos reeds vasgestel, in die jaar 457 vC. begin het, volgens die dekreet van Artasasta, bring 69 weke ons dus tot by die jaar 27 nC.  

Dan 9:26        
“En na die twee-en-sestig sewetalle sal ‘n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van ‘n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met ‘n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings.”  

Hierdie Gesalfde (Jesus Christus) gaan uitgeroei word ná die 69ste week, d.w.s. gedurende die verloop van die 70ste week. Vers 26 sê egter nie wanneer in die 70ste week dit sal plaasvind nie.

Die res van die teks vertel dat die stad en die heligdom (tempel) hierná, vernietig sal word, deur die volk van ‘n vors wat nog sóú kom. Die geskiedenis maak dit duidelik dat dit die Romeine, onder generaal Titus, sou wees, wat Jerusalem en die tempel in 70 nC. sou verwoes.
 
Dan 9:27        
“En hy sal een week lank met baie ‘n verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal Hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.”

Baie vertolkers het ‘n probleem om dié teks te vertolk, omdat hulle onseker is oor wie die “hy” van vers 27, is. Is dit die “Gesalfde,” of is  dit die “vors?” Ten eerste behoort die konteks te bepaal met wie ons in hierdie vers te doen het.

“Die woord ‘vors’ [in v.26] verskyn hier in ‘n ondergeskikte posisie en dit is baie onwaarskynlik dat dit die onderwerp van v. 27 kan wees. Dit sou beter wees om die ‘Gesalfde’ te beskou as die onderwerp, omdat Hy die mees prominente Persoon in hierdie gedeelte is.” Dr. Edward Young, The New Bible Commentary, Intervarsity Fellowship, London, 1955, bl. 679.

“Dit is natuurliker om dit [‘hy’] te verstaan as een van die twee agente waarvan in hierdie gedeelte [v. 25-27] gespreek word. Die twee agente is, die ‘Gesalfde,’ en die ‘vors wat sou kom...’ Laasgenoemde, sou kom met ‘n vloed waarvan die effek ‘n algehele verwoesting tot gevolg sou hê. Die mees korrekte vertaling sou wees om dit te sien as die ‘Gesalfde,’ wat die hoofonderwerp van die profesie uitmaak. Die werk wat Hy veronderstel was om in daardie ‘een week’ te verrig, was om ‘n verbond tussen die mense en God te bewerkstellig.” Albert Barnes, Notes on the Old Testament, Vol 2, Baker Bookhouse, Grand Rapids, 13de druk, Junie 1978, bl. 181,182.

Dit blyk dus dat die hoof persoon met wie ons hier te doen het, die Gesalfde is. Dit is ook belangrik om daarop te let dat die Gesalfde in die gedeelte, nie ‘n Gesalfde (Verlosser) van iemand spesifiek is nie. Die term Gesalfde kom in die Skrif altyd voor saam met iemand wat deur hom gered word. Dit is dus baie duidelik dat ons hier met ‘n universele Gesalfde te doen het - Iemand wat nie aan ‘n enkeling behoort nie, maar vir baie hulp sal bied.

HEBREEUSE PARALLELLISME

In Dan 9:26 en 27 het ons ook met Hebreeuse parallelisme te doen. D.w.s. die twee verse vul mekaar deur herhaling aan, sodoende word meer diepte aan die betekenis van die profesie gegee, wat andersins verlore sou wees:

Dan 9:26a    
“En ná die twee-en-sestig sewetalle sal 'n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom...”

Dan 9:26b    
“...en die volk van ‘n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met ‘n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings.”

Dan 9:27a    
“En hy sal een week lank met baie 'n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; ...”

Dan 9:27b    
“...en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.”
 
Indien ons die belangrikste punte in die twee verse sou uitlig, dan kom die diepere betekenis van die profesie na vore en dit lyk as volg:

Dan 9:26a    -    Na 62 sewetalle sal ‘n Gesalfde uitgeroei word.

Dan 9:26b    -    Vors en volk sal alles verwoes, tot aan einde oorlog, vasbeslote verwoesting.

Dan 9:27a    -    Hy sal een week lank ‘n sterk Verbond sluit en slagoffer en spysoffer laat ophou.

Dan 9:27b    -    Verwoester tot aan einde, wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.

VERGELYKING DEUR HEBREEUSE PARALLELLISME:

Vergelyking A:

Dan 9:26b                           Dan9:27b
“n vors wat verwoes”            “verwoester”
“tot aan einde oorlog”           “Tot aan einde”
“vasbeslote verwoesting”      “wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word”

        
Vergelyking B:

Dan 9:26a                          Dan 9:27a
“Na 62 sewetalle” (70ste wk) “Hy sal een week lank ‘n sterk verbond sluit” (70ste wk)
“Gesalfde uitgeroei”             “Hy sal slagoffer en spysoffer laat (gedurende 70ste wk) ophou”

                                          (in helfte van 70ste wk)

Gevolgtrekking:

Die 70-Weke Profesie is afgesny, “afgekap” van die 2300 Jaar Profesie, en aan die Joodse Volk gegee as ‘n eenheid. Net soos die heidense volke om haar, sou sy haar maatbeker van sonde vol maak (Dan 9:24). Maar God wou haar nog een laaste kans gee. Dit sou Hy doen deur ‘n laaste verbond met Sy Volk te sluit, d.m.v ‘n Gesalfde.

Ná die 69 weke, in die helfte van die 70ste week, sou die Gesalfde (Jesus) uitgeroei word (tot andere se voordeel en nie Sy eie nie), deurdat Hy brandoffer en spysoffer (Seremoniële Wet) laat ophou.

Jesus, die Gesalfde, sou met die Joodse Volk 'n verbond sluit in die laaste week (7 Jaar) van die 70-weke profesie. Die Verbond sou strek vanaf 27nC. tot en met 34 nC. Jesus se bediening as Messias, het begin in 27 nC. en die Verbond sou vir 7 jaar strek, tot 34 nC.

In die helfte van die week (3½ jaar na 27 nC.), in 31 nC. sou Jesus slagoffer en spysoffer laat ophou. Hoe? Deur aan die kruis te sterf. Die bloed van Jesus aan die kruis, is die bekragtiging van die Ewige Verbond van God met die mens. Sou die Jode, as volk, die Verbond met God aanvaar, deur Jesus as die Messias (Verlosser van die sonde), aan te neem, sou hulle God se vername volk gebly het en die hoof oor al die nasies word, soos deur sekere voorwaardelike profesieë in die Ou Testament gemaak is.
 
Matt 23:37-39    
“Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerk bymekaarmaak, en julle wou nie!  Kyk julle huis word vir julle woes gelaat!  Want Ek sêvir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!”

Die leiers van die volk (konteks - die Skrifgeleerders Fariseërs) het Jesus al klaar verwerp. Hulle het nog net geleentheid gesoek om Hom om die lewe te bring. Hulle sou die maatbeker van hulle sondes volmaak (Matt 23:32) deur Jesus te kruisig, en so Dan 9:24 vervul.

Matt 27:50,51    
“Daarop het Jesus weer met 'n groot stem geroep en die gees gegee. En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder...”

Toe Jesus sterf aan die kruis, het die voorhangsel van die Tempel in twee geskeur. Dit het getoon dat die verwydering wat tussen God en die mens bestaan het, a.g.v. sonde, nou vernietig is. Die ou stelsel van priesters en offers is nou mee weggedoen. Deur Christus het die mens nou direkte toegang tot God.

Hebr 10:19-22    
“Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, en ons ‘n groot Priester oor die huis van God het, laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.”
 
Die voorhangsel tussen die Heilige en Allerheiligste, was simbolies van die sonde wat ‘n skeiding tussen God en die mens gebring het. Deur die Verlossingsplan het dit ook op die liggaam van Christus gedui. Hy is sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom (1 Kor 5:21). Hy het die vloek van die Wet gedra.  

Jesus was in die Ou bedeling die bedekking en beskerming vir sondaars wat God genader het. Nou is Hy in die Nuwe bedeling ons Verteenwoordiger en Hoëpriester in die hemel. Alle ander aardse priesters is nou oorbodig. Ons kan God nou deur die volkome versoenende bloed van Jesus nader, Hy is ons ewige Hoëpriester.

Joh 1:29        
“Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê:  Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”
 
Al die offers van Moses se Wet (Seremoniele Stelsel), het vooruit gewys na die ware Paaslam, Jesus, Wie volkome versoening vir sondes sou doen. Hy het ‘n ewige geregtigheid daar gestel deur Sy sondelose lewe en soendood aan die Kruis (en vervul so die 70-Weke Profesie).  

Die Verbond wat Christus met die Joodse Volk gesluit het, sou strek tot 34 nC. In 27 nC. word Jesus gesalf as Messias. Sy bediening sou strek vir 3½ jaar, tot by Sy sterwe aan die Kruis in 31 nC. 3½ jaar later, sou die Verbond van een week (7 jaar) eindig in 34 nC. Tydens die steniging van Stefanus, het die leiers van die Volk, Jesus amptelik as Verlosser verwerp (Hand 6:8-11:18). Daarmee saam, is die maatbeker van hulle sondes volgemaak en het God hulle as uitverkore Volk verwerp. Die Evangelie sou hierna na die heidene versprei en die Jode sou slegs op individuele basis by God se nuwe Volk (die Christelike Kerk - Openb 12:1-6) kon aansluit.


TABEL VAN DIE 70-WEKE PROFESIE

DOEL VAN DIE 70-WEKE PROFESIE

 

Dan 9:21-23    
“...terwyl ek nog spreek in die gebed, het die man Gabriël wat ek, uitgeput van vermoeienis, 'n vorige keer in die gesig gesien het, na my gekom omtrent die tyd van die aandspysoffer. En hy het my onderrig en met my gespreek en gesê: Daniël, nou het ek heengegaan om jou insig te gee. By die begin van jou smekinge het 'n woord uitgegaan, en ek het gekom om dit mee te deel, want jy is 'n geliefde man; gee dan ag op die woord en verstaan die gesig.”

Die doel van die 70-Weke profesie (Dan 9:24-27), is om Daniël te help om die gesig van die 2300 Jaar profesie (Dan 8:14) te verstaan. Wat wil die 70-Weke Profesie aan ons meedeel?


1.    Begindatum vir 2300 Jaar profesie - Die dekreet van koning Artasasta van Medo-Persië, is in 457 vC. gegee.

2.    Toekoms van die Joodse Volk - Hulle sal terugkeer om Jerusalem te herbou en tyd gegun word om hulle maatbeker van sonde vol te maak.
 
3.    Koms van die Messias bepaal - Hy sal versoening vir sonde en ewige geregtigheid vir boetvaardige sondaars daar stel.

4.    Die 70-Weke profesie moet dien as waarborg vir die vervulling van die 2300 Jaar profesie wat ver in die toekoms sou strek.

5.    Die Tyd bepaal vir die Oordeel waarin God teen die Klein Horinkie en die Vreeslike Dier sou optree. Deur 2300 Jaar by 457 vC. (begindatum) te tel, bring ons by 1844 nC. (Onthou om 1 jaar by te tel, want daar is nie 'n jaar "0" nie)

457 vC. (Begindatum) + 490 Jaar (70-Weke) = 34 nC. (Onthou om 1 jaar by te tel, want daar is nie 'n jaar "0" nie). Daar sou dus nog 1810 Jaar verloop voor die 2300 Jaar Profesie in 1844 nC. vervul sou word.
 

TABEL VAN DIE 2300 JAAR PROFESIE

bottom of page