top of page

DIE ONDERSOEKENDE OORDEEL - 2DE FASE VAN JESUS SE HEMELSE BEDIENING

Dan 8:13,14    
“Toe hoor ek 'n heilige spreek; en 'n ander heilige het aan die een wat spreek, gesê:  Hoe lank sal die gesig duur - van die voortdurende offer en die ontsettende goddeloosheid - sal die heiligdom sowel as die leer aan vertrapping oorgegee word?  En hy het vir my gesê:  Tweeduisend-driehonderd aande en môres, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word.”

Volgens Dan 7 en 8 en Openb 13 en 17, sou die Klein Horinkie daarop uit wees om Christus se middelaarswerk in die hemelse Heiligdom te verduister, die waarheid teen die grond te vertrap, probeer om die wet van God te verander en die heiliges te vervolg. Hoe lank sou God die Antichris en Satan se goddeloosheid duld? Sodra die 2300 Jaar Profesie in 1844 nC. tot 'n einde kom, dan sal God die Heiligdom in sy regte staat herstel. Hoe gaan Hy dit doen? Gaan God die aardse Heiligdom (tempel) in Jerusalem laat herbou?


Die aardse Heiligdom met sy aardse bedieninge het in 31 nC. opgehou om enige verdere betekenis te hê, omdat die ware Paaslam (Jesus) geslag was. In Hom het al die offertipes hul werklike Antitipe ontmoet. Dus het die aardse Heiligdom geen verdere betekenis in die Verlossingsplan nie, en is dit in 70 nC. finaal deur Rome verwoes.  

Hebr 9:24    
“Want Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom met hande gemaak, ‘n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn.”

Sedert 31 nC. tree Jesus as Middelaar in vir die mens in die Hemelse Tabernakel, waarvan die aardse met sy dienste, net ‘n afbeelding en tipe was. Dus het die herstel van die heiligdom in Dan 8:14, met die hemelse Heiligdom en sý bedieninge te doen en nie met die aardse heiligdom en sy dienste nie.
 
Soos die aardse Heiligdom (self ‘n tipe van die ware) twee tipes bedieninge gehad het, naamlik die daaglikse en die jaarlikse, so het die ware hemelse Heilgdom, self ook twee bedieninge.  

In die eerste of daaglikse bediening, moes die priester versoening doen in die Heilige afdeling van die aardse Heiligdom. Vanaf 31 nC. met Sy hemelvaart, het Christus die eerste Fase van Sy hemelse bediening in die hemelse Heiligdom, as Middelaar (Verteenwoordiger / Hoëpriester) vir die mens opgetree.

Hebr 10:12,13    
“Maar Hy het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God en wag nou verder totdat sy vyande gemaak is ‘n voetbank van sy voete.”

In die tweede of jaarlikse bediening, moes die hoëpriester versoening en reiniging (oordeel) doen in die tweede of Allerheiligste afdeling van die aardse heiligdom. Vanaf 1844 nC. het Jesus die tweede Fase van Sy hemelse bediening in die hemelse Heiligdom, begin. Nou sou Hy nie net Middelaar wees nie, maar ook Regter! Nou sou God begin om uitspraak teen Sonde te gee en die Klein Horinkie en die Dier te oordeel (Dan 7:8-14).  (Sien lesing oor “Die Antichris se aanval op God se Verlossingsplan.”)

Hand 17:30,31    
“God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy 'n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur 'n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.”
 
God het die herrese Jesus aangestel as Regter in die Hemelse Oordeel, om die wêreld in geregtigheid te oordeel. Nou sou God begin om op te tree, om die werk van die Klein Horinkie ongedaan te maak.  

Soos Satan deur agente werk om goddeloosheid te laat versprei, so het God ook agente - die nakomelinge van die ware kerk van Openbaring 12, hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar. (Sien lesing oor “Die Antichris se aanslag op God se Verlossingsplan,” asook die lesings oor “Die eerste Engel-,” en “Die Tweede Engel-,” en “Die Derde Engel se Boodskap.”)

DANIËL EN DIE OORDEEL

Dan 7:24-26    
“En die tien horings - uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan, en 'n ander een sal ná hulle opstaan, en hy sal verskillend wees van die voriges en drie konings neerwerp.  En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende 'n tyd en tye en die helfte van 'n tyd.  Maar die gereg sal sit, en hulle sal hom die heerskappy ontneem om dit vir goed te verdelg en te vernietig.”

Die Klein Horinkie sou heerskappy voer vir “'n Tyd, Tye en ½Tyd.” Vanaf 538 nC. sou die Pousdom vir 1260 jaar heerskappy voer oor die heiliges van God, tot en met 1798 nC. Gedurende die tyd sou hy teen God in opstand kom, Sy waarheid teen die grond vertrap en Jesus se Middelaarswerk in die hemel verduister met misleiding en bedrog.  Ná die Tydperk sou die Hemelse Oordeel 'n aanvang neem en op die bepaalde tyd (1844 nC.), begin om te kyk na die werksaamhede van die Klein Horinkie. Aan die einde van die Hemelse Oordeel sal die horing gestraf en vernietig word, en so ook alle boosheid. (Sien Dan 7; Openb 16 tot 18).
 
Dan 12:4-9    
“En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder.  En ek, Daniël, het gesien, en kyk daar het twee ander gestaan, die een duskant op die wal van die rivier en die ander oorkant op die wal van die rivier.  En een het aan die man, met linne bekleed, wat bo-oor die water van die rivier was, gesê:  Hoe lank sal die einde van die wonderbaarlike dinge uitbly?  Toe hoor ek die man, met linne bekleed, wat bo-oor die water van die rivier was, en hy het sy regterhand en sy linkerhand na die hemel opgehef en gesweer by die Ewig-Lewende: 'n Tyd, tye en 'n halwe tyd, en as hulle die mag van die heilige volk geheel verstrooi het, sal al hierdie dinge vervul word.  En ek het dit gehoor, maar nie verstaan nie; daarom het ek gesê:  My heer, wat is die uiteinde van hierdie dinge?  En hy het gesê:  Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe."

Twee keer word daar in die gedeelte verwys na die “Tyd van die Einde.” Hierdie “Tyd van die Einde” sou eers ‘n aanvang neem ná die “Tyd, Tye en ½Tyd” (1260 jaar van Pouslike heerskappy) tot ‘n einde gekom het. Die Antichris moes eers daardie gruweldade verrig, waarvan die profesiëe gespreek het, voordat hy met volkome sekerheid geïdentifiseer kon word en die betekenis van die profesiëe (God se oordeel oor hom en sy misleidings van sonde) verstaan kon word.

Hierdie teksgedeelte is ‘n bewys dat die Bybel self, die Historiese Metode van Bybelvertolking voorstaan. Sodra die profesie vervul is, sal ons in staat wees om ‘n korrekte vertolking daarvan te maak. Dus sou ons nie nodig hê om ons tot spekulatiewe vertolkings omtrent die Antichris, d.m.v. Preterisme en Futurisme, te wend nie.

2 Pet 1:19    
“En ons het die profetiese woord wat baie vas is en waarop julle moet ag gee soos ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môre-ster opgaan in julle harte.”
 
Ten spyte van wat in die wêreld om ons aan die gang is, is God nog steeds in beheer van sake. Sy profetiese Woord (die Bybel) staan vas en behoort vir ons ook ‘n bron van sekerheid te wees in hierdie tye van spekulasie en valse leringe wat die rondte doen.

 

GLO U DAT GOD SE WOORD U ENIGSTE GIDS VAN WAARHEID IS?

 

IS U OORTUIG DAT GOD STEEDS IN BEHEER VAN SAKE IS, AL LYK DIT VIR DIE BLOTE OOG NIE SO NIE?

 

IS U GEWILLIG DAT JESUS U STEEDS VERDER MOET LEI NA WAARHEID?

 

IS U GEWILLIG OM HOM AL DIE PAD TE VOLG, KOM WAT WIL?


Gaan na die volgende afdeling:  14. God se Oordeel Bevestig deur Wêreldwye Godsdienstige Herlewing

bottom of page