top of page

24. DIE WEDERKOMS IN OPENBARING

OPENBARING SE GROOTSTE GEBEURTENIS


Openb 1:1       
“Die Openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het.”

Daar is sekere gebeure wat gou moet plaasvind. Waarom? Wat beplan God vir die toekoms?

Openb 1:3    
“Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.”

Ons moet lees, ons moet hoor en die profesie van die boek Openbaring in ons harte bewaar, want die TYD IS NABY! Die Tyd vir wat?

Openb 1:7    
“Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen!”

Die tyd vir die Wederkoms van Jesus is naby! Dit is die een groot gebeurtenis waarna die boek van Openbaring verwys. Jesus het ‘n spesiale taak om te verrig en Hy wil dit gou doen!

Openb 22:12       
“En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.”

Die Here wil kom en 'n einde aan sonde maak. Hy wil elkeen vergeld na sy werke, sodat Hy 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde kan skep waar mense in geregtigheid en vrede kan woon.   

Openb 22:20        
“Hy wat dit getuig, sê:  Ja, Ek kom gou.  Amen, ja, kom, Here Jesus!”

Reg aan die einde van die boek, getuig Jesus Self, dat Hy gou gaan kom. Jesus kom nie net om mense te vergeld vir hulle dade nie, maar Hy kom om sy kinders te haal. Johannes smeek Jesus as't ware om gou te kom.

DIE WEDERKOMS IS GEEN FABEL NIE
 
2 Pet 3:3,4    
“Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê:  Waar is die belofte van sy wederkoms?  Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.”

Spotters (van hulle is selfs predikante) sal die wederkoms aan die einde van Tyd afmaak as 'n fabel. Baie ewolusioniste glo glad nie in die skeppingsverhaal van die Bybel nie. Volgens die spotters is die mens deel van ‘n ewolusionêre proses van ontwikkeling. Volgens hulle is die skeppingsverhaal, soos in die Bybel opgeteken, net ‘n Joodse fabel oor die herkoms van die mens en is die wederkoms van Jesus net 'n bangmaakstorie deur Christene wat glo dat hul Verlosser op die wolke sal kom.

2 Pet 1:16       
“Want ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit.”

Die belofte van Jesus se wederkoms, is volgens ooggetuies, nie 'n Joodse feëverhaal nie! Die dissipels het die werklike mag en majesteit van Jesus beleef tydens Sy verheerliking op die berg (Matt 17:1,2). Dit het die goddelike aard van Jesus se ewige bestaan vir hulle geopenbaar. Die verlossingsplan, in Sy dood en opstanding, het nou meer sin gemaak en het hoop op verlossing van die dood, ‘n werklikheid gemaak.

Hebr 9:27,28        
“En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel, so sal Christus ook, nadat Hy een maal geoffer is om die sondes van baie weg te neem, vir die tweede maal sonder sonde verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid.”

Die Verlossingsplan vereis dat Christus vir 'n tweede maal moet verskyn. Dan sal Hy kom om Sy kinders uit 'n sondige wêreld weg te neem, sodat die belofte van die ewige lewe 'n werklikheid kan word vir diegene wat glo.

Joh 14:1-3    
“Laat julle hart nie ontsteld word nie;  glo in God, glo ook in My.  In die huis van my Vader is daar baie wonings;  as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het.  Ek gaan om vir julle plek te berei.  En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”

Jesus het SELF belowe dat Hy diegene wat in Hom glo, sal kom haal. So sal ons by Hom kan wees, vry van sonde en van Satan. Hy vra egter dat ons Hom sal vertrou tot die einde toe.

 

Gaan na die volgende studie:  TEKENS IN DIE NATUUR

bottom of page