top of page

GEBEURE AAN DIE BEGIN VAN DIE 1000 JAAR

Laat ons stap vir stap deur die 1000 Jaar van Openbaring 20 beweeg om vas te stel wat alles vóór, gedurende en ná die 1000 jaar gebeur, en waarom? A.g.v. die baie valse teorieë wat daar bestaan oor die 1000 Jaar (Futurisme, Whitbyanisme, Geheime Wegraping, Dispensasionalisme, ens.), gaan ons weereens die Bybel toelaat om self vir ons die vertolking van die gebeure vóór, tydens en ná die 1000 Jaar te gee.
 

6de TABEL OOR DIE 1000 JAAR

1.  DIE REGVERDIGES EN DIE BEGIN VAN DIE 1000 JAAR

1 Thess 4:15-17    
 “Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal voor wees nie.  Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God;  en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.  Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug;  en so sal ons altyd by die Here wees.

Jesus se Wedekoms gaan gepaard met die geroep van die stem van ‘n aartsengel (Migael - Dan 12:1-3; Openb 12:7) en met die geklank van die trompet van God (Openb 11:15 - 7de Trompet, Jesus wat die koningskap aanvaar, sien Dan 7:14; 1 Kor 15:51,52). Die regverdige dooies (die wat in Christus gesterf het) word opgewek en saam met die lewende regverdiges (die regverdiges wat lewe tot by die wederkoms - 144,000) ontmoet hulle vir Jesus in die lug. Maar iets het intussen met hulle gebeur...

1 Kor 15:51-54   
“Kyk, ek deel julle 'n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.  En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning.”


Dit is tydens Jesus se Wederkoms dat al die regverdiges onverganklikheid (die Ewige Lewe) ontvang. Die skuld (die Ewige Dood) wat Jesus vir die mens met sy eie bloed aan die kruis vereffen het, het terselfdertyd redding (Ewige Lewe) gekoop vir elke berouvolle sondaar. By die Wederkoms word daardie geskenk nou ‘n werklikheid vir die verlostes.

Openb 20:6      
“Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”

Almal wat deel in die Eerste Opstanding (wat tydens die Wederkoms plaasvind) is onaantasbaar deur die tweede dood. Hulle sal vir die hele tydperk van 1000 jaar, saam met Christus as konings regeer.

Hebr 11:13,16    
“In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was...  Maar nou verlang hulle na 'n beter een, dit is 'n hemelse.  Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle 'n stad berei.”
 
Al die aartsvaders het uitgesien na die Stad waarvan God die Boumeester en Oprigter is (Nuwe Jerusalem). Gelowiges van alle eeue het uitgesien na die hemelse tuiste waarin oorwinnaars oor die sonde, sal woon. Die godstad hou baie meer in as aardse skatte wat tydelik van aard is, wat deur mot en roes verniel, en deur diewe gesteel kan word. Die godstad is heilig en ewig. Geen sonde, siekte en dood sal daar gedy nie.
 
Hebr 11:39,40    
“En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie, omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie.”

Die Bybel sê nêrens dat gelowiges wat sterwe, onmiddelik hul erfenis (die Nuwe Jerusalem) in besit neem nie. Daar bestaan nie so iets dat gelowiges wat doodgaan, reguit hemel toe gaan, of dat die goddelose reguit hel toe gaan nie. (Sien die lesing "Waar is die dooies van Openbaring" hieroor). Die hemelse oordeel sal elke persoon se lot beslis.

God is regverdig. Al die heiliges sal die Erfenis wat deur Jesus vir hulle voorberei is, gelyktydig ontvang wanneer Jesus tydens die Wederkoms op die wolke van die hemel verskyn (Openb 22:12).

Slegs ‘n paar mense is reeds in die hemel, maar hulle is O.T. tipes wat volgens spesiale goddelike ingryping hemeltoe geneem is, as voorbeelde vir die res van die Mensdom. Henog ('n voorvloedse regverdige), Moses ('n dooie regverdige wat opgewek is), Elia ('n regverdige wat lewend na die hemel is) en die 24 ouderlinge (die vervulling van die Eerstelingsgerffees) is alreeds op spesiale wyse opgeneem in die hemel, om aan te toon, hoe die res van die verlostes tydens die Wederkoms hemeltoe geneem sal word.

2.  DIE GODDELOSE EN DIE BEGIN VAN DIE 1000 JAAR

Openb 19:11    
 “Toe het ek die hemel geopend gesien;  en daar was 'n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.”


Jesus sal tydens sy Wederkoms oorlog voer teen die lewende goddelose wat teen Hom in opstand is en wat sy volk vervolg. Deur die regverdiges saam te neem hemeltoe en die goddelose dood agter te laat, is om ‘n skeiding (oordeel) uit te voer tussen die regverdige en die goddelose (gelykenis van die “Skape en die Bokke”).
 
Openb 19:15,21    
En uit sy mond gaan daar 'n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan;  en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.  En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees.”

Die Wederkoms is deel van die toorn van God wat met die sewe laaste plae gepaard gaan. Met die sewende plaag hoor ons die woorde: “Dit is verby.” Terselfdertyd breek Jesus deur die wolke en regerings en magte wat in die groot stede van die wêreld hul heerskappy voer, word vernietig. Die heerlikheid van Jesus as oordeel oor die lewende goddelose (die swaard uit Sy mond) laat hulle almal sterwe.

Jer 25:31    
“Oorlogsrumoer het gekom tot by die einde van die aarde, want die Here het 'n twis met die nasies, Hy hou gerig oor alle vlees.  Die goddelose - aan die swaard het Hy hulle oorgegee, spreek die Here.”

God fel 'n oordeel oor die goddelose deur hulle met die swaard wat uit Sy mond uitgaan, dood te maak (Openb 19:21). Die Woord van God (die Bybel) is soos ‘n tweesnydende swaard wat deurdring tot murg en been (Hebr 4:12). Omdat die wêreld die geopenbaarde wil van God soos in Sy Woord uitgedruk, verwerp, sal Hy hulle verwerp tydens sy Wederkoms.

Jes 11:4    
“Maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel; maar Hy sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak.”

Deur die oordeel te fel met die woorde van sy mond, nl. dat die lewende goddelose nie gered is nie, sal Jesus die goddelose laat sterf deur sy heerlikheid (asem).
 
Jes 24:5,6
“Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners; want hulle het die wette oortree, die insetting geskend, die ewige verbond verbreek.  Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy bewoners boet;  daarom word die bewoners van die aarde deur 'n gloed verteer en bly daar min mense oor.”
 
Die goddelose word met 'n gloed vernietig. God kom voor soos ‘n verterende gloed (vuur) in die teenwoordigheid van sonde (Hebr 12:29). God se heiligheid en geregtigheid sal die goddelose laat sterwe. Die “min mense” wat oorbly, is die heiliges van God (144,000), hulle wat gereed is om saam met die dooie heiliges wat nou opgewek sal word, Jesus in die lug te ontmoet.

2 Thess 1:7-10    
“...en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoosaam is nie.  Hulle sal as straf ondergaan 'n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte, wanneer Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo, in daardie dag;  want ons getuienis het by julle geloof gevind.”

Tydens Jesus se Wederkoms, sal die goddelose deur vuur en vlam (Jesus se heerlikheid en majesteit - Matt 24:30; 25:31) vernietig word.

2 Thess 2:7-10    
“Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie.”

Die goddelose sal net soos die Antichris (Pousdom) deur die asem van God en die verskyning van Sy heerlikheid vernietig word. Dit is daarom dat die goddelose wanhopig tot die berge en rotse roep om hulle te verberg vir God se toorn (Openb 6:12-17), want hul bestaansreg word bedreig!

3.  SATAN EN SY DUIWELS AAN DIE BEGIN VAN DIE 1000 JAAR

Openb 20:1-3  
“En ek het 'n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en 'n groot ketting in sy hand.  En hy het die draak gegryp - die ou slang wat die duiwel en die Satan is - en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie.  Daarna moet hy dan 'n kort tydjie ontbind word.”

Satan word aan die begin van die 1000 Jaar (tydens Jesus se Wederkoms) gebind met 'n ketting (van omstandighede). God het hom en sy engele beperk tot planeet Aarde. Hy mag die hemelruim nie meer betree nie. Vir 6 duisend jaar het hy en sy bose engele die mensdom mislei, nou is daar skielik niemand meer oor om te mislei nie. Die regverdiges is in die hemel by Jesus, en die goddelose lê dood op die aarde.

Judas 1:6  
“En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar.”

Volgens Openb 20:1 word die Satan met ‘n groot ketting gebind. Hier word Satan en sy engele met ewige boeie ingeperk en bewaar in duisternis vir die uitvoering van God se groot Oordeel. Dit is onmoontlik dat staal of tungsten kettings geestelike wesens soos duiwels sal kan boei. Hier word eerder na goddelike omstandighede verwys, waarmee Satan geboei of ingeperk sal wees. Wat is die inperking? Daar is niemand op die aarde om te verlei nie - die goddelose op die aarde is almal dood (weens die heerlikheid van die Here tydens die wederkoms) en al die regverdiges is saam met Jesus na die hemel om fees te vier en te regeer as konings en priesters.

4. DIE TOESTAND VAN DIE AARDE AAN DIE BEGIN VAN DIE 1000 JAAR

Openb 16:17-21    
 “En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug, en 'n groot stem het uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat gesê het: Dit is verby!  En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het ’n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie – so ‘n geweldige groot aardbewing. En die groot stad is in drie dele verdeel en die stede van die nasies het geval. En die groot BAbilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn. En alle eilande het gevlug, en berge is daar nie gevind nie; en groot hael, omtrent ‘n talent swaar, het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was.”

Net voor die Wederkoms, tydens die 7de plaag, tref die grootste aardbewing nog, die wêreld. Die aarde en al die stede daarop word verwoes, berge en eilande verdwyn a.g.v. sy geweldige krag. Die hele oppervlakte van die aarde is omgekeer en groot hael slaan alles fyn.

Net voor die skepping, was die aarde woes en leeg. Die sewe laaste plae (soos die sondvloed) moet dien vir die ontskepping van die bose wêreld, sodat dit weer woes en leeg (chaoties) kan wees. Die “afgrond” (“abyssos”) is dieselfde as die “put van die afgrond” (Openb 9:1,2) waar die Mohammedaanse stamme onder die vyfde trompet uitgekom het. Dit stel ‘n dorre, ongenaakbare en chaotiese landskap voor, nou, vernietig deur die sewe laaste plae. Dit is hier waar Satan sy tuiste vir 1000 jaar sal hê.
 
Jes 24:1,19,20
“Kyk, die HERE maak die aarde leeg en verwoes dit, en Hy keer sy oppervlakte om en verstrooi sy bewoners. 19Die aarde word geheel en al verbreek, die aarde is geheel en al aan wankel, die aarde word geheel en al geskud. 20Die aarde waggel geheel en al soos ‘n dronkaard en swaai heen en weer soos ‘n naghut; en sy oortreding is swaar op hom; en hy sal val en nie weer opstaan nie.”

Tydens die Wederkoms word die hele oppervlakte van die aarde verwoes en omgekeer. Dit blyk asof Jesus se Wederkoms en al die gebeure wat daarmee gepaard gaan, die as en rotasie van die aarde aangetas het, sodat dit skud en waggel soos ‘n stadig draaiende tol wat enige oomblik op sy sy gaan neerslaan.
 

TABEL 7 OOR DIE 1000 JAAR

bottom of page