top of page

23. WAAR IS DIE DOOIES VAN OPENBARING?
 
DIE MENSDOM SE GROOTSTE VREES?


In die vorige lesing (1000 Jaar van Openbaring) het ons verwys na die terme, “Dood” en “Tweede Dood.” Wat beteken hierdie terme? Wat gebeur met 'n mens sodra hy doodgaan, wat word van hom of haar? Almal wil graag die antwoord op die tergende geheim hê, want daar is niks wat die mens méér vrees, as die dood nie.  

Die Dood tref alle mense, alle rasse, alle godsdienste, rykes en armes. Geen mens is immuun daarteen nie.  Dit is 'n wrede monster wat 'n gelukkige huisgesin in 'n oomblik tot vernietiging kan skok.  

Job 14:10    
“Maar 'n mens sterwe en is magteloos; ja, 'n mens blaas die asem uit en - waar is hy?”

Die vraag van Job dui op die hartverskeurende oproep van die hele mensdom, heiden en Christen: "Waar is ons ontslape (dooie) geliefdes?" Hy self het tien volwasse kinders op een dag verloor, toe Satan ‘n stormwind op die huis laat neerkom het, waar hulle vir ‘n fees bymekaar was (Job 1:18,19). Waarheen gaan mense wanneer hulle sterf? Die mees populêre siening vandag, is dat amper almal wat sterf, hemel toe gaan.

VYF MINUTE NA DIE DOOD

‘n Vrou vertel hoedat sy op 'n operasietafel sterf en in 'n donker tonnel in beweeg. Sy voel hoe sy die aarde verlaat en die ondervinding is so wonderlik. Voor in die tonnel is daar 'n lig wat al hoe helderder word. Hemelse stemme is duidelik hoorbaar en hulle roep na haar.

(Intussen spartel die mediese span om haar weer aan die lewe te kry. Na enkele minute begin haar hart weer klop.) Sy vertel hoedat sy ewe skielik in die donker tonnel teruggesuig word aarde toe. Sy herwin haar bewussyn! Sy is terug by die werklikheid - wat 'n teleurstelling!

TERGENDE VRAE:

 

  • IS DAAR LEWE NA DIE DOOD IN 'N ANDER WêRELD?

  • KAN DOOIES SIEN, HOOR EN VOEL?

  • KAN ONS MET DIE DODE KOMMUNIKEER?

  • AS 'N GOEIE MENS STERF, GAAN HY DADELIK HEMEL TOE?

  • WIE HET DIE ANTWOORD?

 

Openb 1:17,18
“En toe ek Hom sien, val ek soos 'n dooie aan sy voete; en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.”

Indien daar iemand is wat die antwoord oor die Dood het, dan moet dit Jesus wees, want Hy het gesterf, was drie dae dood en het volgens die Skrif, op die derde dag uit die dood opgestaan en aan verskeie van Sy volgelinge verskyn (1 Kor 15:3-18).  

Hier in Openb 1:17 en 18 sê Jesus selfs aan Johannes dat Hy die sleutels van die Dood en die Doderyk het. Deur die Heilige Skrifte gee Jesus raad aan sy volgelinge, omtrent die dood.

Jes 8:19,20    
“En as hulle vir julle sê:  Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel - moet 'n volk nie sy God raadpleeg nie;  moet vir die lewendes die dooies gevra word?  Tot die wet en tot die getuienis!  As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle 'n volk wat geen dageraad het nie,”

Deur die profeet Jesaja, maak die Here dit baie duidelik dat ons nie "geeste van afgestorwenes" moet raadpleeg nie. Dit is duiwels en bose geeste wat die mense verlei. (Lev.19:31; 20:27; Deut 18:10-14; Hand 16:16-18).  

Ons word vermaan om eerder die Wet en die Getuienis (die Bybel) te raadpleeg. Die Bybel is God se woord van waarheid en is bedoel om ons in die hele waarheid te lei, selfs met betrekking tot dit wat met ‘n mens gebeur wanneer hy doodgaan.

DIE BYBEL EN DIE OORSPRONG VAN DIE MENS

Gen 2:7        
“En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas.  So het dan die mens 'n lewende siel geword.”

Die mens is uit die stoflike elemente van die aarde gemaak. Daarna het God lewe (asem van die lewe) aan die mens gegee. Die mens het hierna 'n lewende siel geword.

Stof + Asem (Lewe) = Lewende Siel (Wese - Nuwe Afr. Vertaling). Let daarop dat die mens nie ‘n “onsterflike siel” ontvang het nie, maar ‘n lewende siel gewórd het.

BYBELSE GEBRUIK VAN ASEM, GEES EN SIEL

Job 27:3        
“Want my asem is nog heeltemal in my, en die lewensasem van God is in my neus.”


Asem = Lewensasem van God. Job maak dit duidelik dat die asem nie ‘n “onsterflike siel” is nie, maar lewensenergie, wat van God kom.

Pred 3:19    
“Want die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere:  hulle het een en dieselfde lot;  soos die een sterwe, so sterwe die ander, en hulle almal het dieselfde asem, en 'n voorkeur van die mens bo die veediere is daar nie;  want alles is tevergeefs.”

Salomo, die wysste man wat ooit geleef het, verklaar dat mens en dier dieselfde asem (lewensenergie) van God ontvang het.

Jes 42:5        
“So sê God, die Here, wat die hemele geskape en hulle uitgesprei het, die aarde uitgespan het saam met wat daaruit voortkom, wat aan die aardbewoners die asem gee en die gees aan wie daarop wandel.”

Die profeet Jesaja gebruik die terme asem en gees as sinonieme (dieselfde betekenis) - lewe of lewensenergie.

Ps 104:29    
“U verberg u aangesig, hulle word verskrik; U neem hulle asem weg, hulle sterwe en keer terug tot hul stof.”

Indien God die asem (lewensenergie) van lewende wesens wegneem, keer hulle weer terug tot stof (die elemente van die aarde) waaruit hulle gemaak was.

Ons sien dus dat Adam en Eva (dit geld u en my ook) nie “onsterflike siele" ontvang het nie, maar lewende siele geword het, toe God “lewe” aan hulle geskenk het. Die “lewe” of “lewensenergie,” het nie 'n identiteit op sy eie nie, maar vorm saam met die liggaam 'n menslike wese met sy karakter.
 
Ps 89:49
“Watter mens leef daar wat die dood nie sal sien nie, wat sy siel sal kan red uit die mag van die doderyk?”


Die siel stel die hele persoon voor, in liggaam en lewensasem. Die dood laat die hele menslike wese verdwyn.

Eseg 18:4,20    
“Kyk, al die siele is myne;  soos die siel van die vader, so die siel van die seun - hulle is myne;  die siel wat sondig, dié moet sterwe.  Die siel wat sondig, dié moet sterwe;  die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie;  die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees.”

Die mens as 'n persoonlike wese, met 'n verstand en karakter word beskryf as 'n "siel." Die mens (siel) wat sonde doen, moet sterwe. Die Bybel erken nie so iets soos 'n "onsterflike siel" nie. As die konsep van ‘n “onsterflike siel,” nie van God af kom nie, waar kom dit dan vandaan?

Gen 3:3,17,19    
“maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê:  Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. ...En aan die mens het Hy gesê:  Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie - vervloek is die aarde om jou ontwil;  met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe.  In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem.  Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”

Adam en Eva het voorwaardelike onsterflikheid ontvang. Solank hulle God se gebod sou gehoorsaam, sou hulle bly lewe.  Maar sodra hulle sondig, moes hulle sterwe.

 

Gaan na die volgende studie:  DIE MENS IS STERFLIK

bottom of page