top of page

Die Voorreg van Gebed (Hoofstuk 11 van "Skrede na Christus")

Lees hierdie kragtige en eenvoudige boekie of Luister na die oudio boek hier


God spreek tot ons deur die natuur en deur Sy Woord, deur Sy voorsienigheid en deur die invloed van Sy Gees. Maar hierdie dinge is nie genoeg nie; ons moet ook ons hart voor Hom uitstort. Teneinde geestelike lewe en krag te hê moet ons werklike gemeenskap met ons hemelse Vader beoefen. Ons mag oor Hom dink; ons mag Sy werke, Sy barmhartigheid, en Sy seëninge bepeins; maar dit beteken nie in die ware sin van die woord om met Hom gemeenskap te hé nie. Om met God gemeenskap te hê, moet ons met Hom oor ons lewe kan praat.

 

Gebed is die uitstorting van ons hart tot God soos tot ’n vriend. Nie dat dit nodig is om vir God te sê wat ons is nie, maar om ons instaat te stel om Hom aan te neem. Gebed bring God nie af na ons toe nie, maar dit neem ons op na Hom toe. Toe Jesus op die aarde was, het Hy Sy dissipels geleer hoe om te bid. Hy het hulle geleer om hulle daaglikse behoeftes aan God bekend te maak, en al hulle sorge op Hom te werp. En die versekering wat Hy aan hulle gegee het dat hulle gebede sou verhoor word, is ook ons versekering.

 

Jesus self het dikwels gebid terwyl Hy op aarde onder die mense gewandel het. Ons Heiland het Hom met ons behoeftes en swakhede vereenselwig deur vir ons in te tree, en van die Vader nuwe krag te ontvang vir Sy werk en die beproewing wat Hy moes deurmaak. Hy is ons voorbeeld in alle dinge. Hy is ’n broeder in ons swakhede, en was “in alle opsigte versoek net soos ons, maar sonder sonde,” maar as die een wat sondeloos was, het Hy ’n afkeer gehad aan die kwaad; en in ’n wêreld van sonde moes Hy ’n groot sielestryd deurmaak. Sy menswording het gebed ’n noodsaaklikheid en ’n voorreg gemaak. Hy het troos en blydskap gevind in gemeenskap met Sy Vader. En as die Verlosser van die mens, die Seun van God, behoefte gehad het aan gebed, hoeveel te meer behoort swakke, sondige sterwelinge hulle behoefte aan vurige, aanhoudende gebed te besef.

Ons hemelse Vader wag om die volheid van Sy seëninge op ons uit te stort. Dit is ons voorreg om diep te drink uit die fontein van Sy oneindige liefde. Hoe verbasend dat ons so min bid! God is bereid en gewillig om die opregte gebed van die nederigste van Sy kinders te verhoor, en tog is daar so ’n traagheid van ons kant om ons behoeftes aan Hom bekend te maak. Wat moet die engele van die hemel dink van arme, hulpelose mensekinders wat blootgestel is aan versoeking en tog so min bid en so min geloof het, terwyl die hart van God, vol oneindige liefde, verlang na hulle, en bereid is om aan hulle tegee meer as wat hulle ooit kan bid of dink? Die engele skep behae daarin om hulle voor God neer te buig; hulle wil graag naby Hom wees. Hulle beskou gemeenskap met God as hulle hoogste genot; en nogtans skyn dit asof die kinders van die aarde wat die hulp, wat net van God kan kom, so nodig het, tevrede is om sonder die lig van Sy Gees en die gemeenskap van Sy teenwoordigheid te wandel.

 

Die duisternis van die Bose bedek diegene wat nalaat om te bid. Die influistering van die vyand verlei hulle tot sonde; en dit net omdat hulle nie gebruik maak van die voorregte wat God hulle deur gebed wil skenk nie. Waarom moet die seuns en dogters van God traag wees om te bid, terwyl gebed die sleutel in die hand van die gelowige is wat die skatkamers van die hemel oopsluit, waar die onbeperkte rykdom van die Almagtige gebêre is? Sonder gedurige gebed en waaksaamheid, loop ons gevaar om agterlosig te word en van die regte pad af te dwaal. Die teenstander is gedurig daarop uit om die weg tot die genadetroon te versper sodat ons nie deur vurige gebed en geloof genade en krag kan ontvang om versoeking te weerstaan nie.

 

Daar is sekere voorwaardes waarvolgens ons kan verwag dat God ons gebede sal verhoor. Die eerste is dat ons ons behoefte aan Sy hulp sal besef. Hy het belowe, “Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond”. Jes. 44:3. Diegene wat honger en dors na geregtigheid, wat verlang na God, kan seker wees dat hulle versadig sal word. Die hart moet oopgestel word vir die invloed van die Gees, of anders kan God se seën nie ontvang word nie. Ons groot behoefte is in sigself ’n pleidooi wat op die welsprekendste wyse vir ons pleit. Maar die aangesig van die Here moet gesoek word om hierdie dinge vir ons te doen. Hy sê, “Bid, en vir julle sal gegee word”. Matt. 7:7. “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy ook nie saam met Hom ons alles genadiglik skenk nie?” Rom. 8:32.

 

As ons ongeregtigheid in ons hart koester, as ons vasklem aan iets wat ons weet sonde is, sal die Here ons nie verhoor nie. Maar die gebed van ’n boetvaardige, gebroke hart word altyd verhoor. As ons al die verkeerde dinge waarvan ons bewus is, reggemaak het, kan ons glo dat God ons gebede sal verhoor. Ons eie verdienste sal ons nie by God aanbeveel nie; dit is die verdienste van Jesus wat ons sal red, en Sy bloed wat ons sal reinig, maar ons moet die voorwaardes van aanneming nakom.

 

’n Ander vereiste vir gebedsverhoring is geloof. “Hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek.” Heb. 11:6. Jesus het aan Sy dissipels gesê, “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit ontvang, en julle sal dit verkry”. Markus 11:24. Neem ons Hom op Sy woord? Die versekering is omvattend en onbeperk, en Hy wat dit beloof het is getrou. As ons nie dadelik ontvang wat ons gevra het nie, moet ons nogtans glo dat die Here ons verhoor en dat Hy ons gebede sal beantwoord. Ons is so sondig en kortsigtig dat ons soms dinge vra wat ons nie tot seën sal strek nie, maar in Sy liefde skenk ons hemelse Vader ons net die dinge wat vir ons die beste sal wees, juis wat ons self sou begeer het as ons sake kon sien soos hulle werklik is. Wanneer dit skyn asof ons gebede nie verhoor word nie, moet ons aan die belofte vasklou; want die antwoord sal gewis kom en ons sal die seën ontvang wat ons die nodigste het. Maar om te dink dat ons gebede sekerlik verhoor sal word, en dat ons juis die dinge sal ontvang waarvoor ons gevra het, en langs die weg wat ons gereken het, is vermetelheid. God is te wys om ’n fout te begaan en te goed om enige goeie ding te weerhou van diegene wat opreg wandel voor Hom. Moenie bang wees om die Here te vertrou nie, al sien u nie dadelik die antwoord op u gebede nie. Steun op Sy onwankelbare belofte, “Bid, en vir julle sal gegee word”. Matt. 7:7.

 

As ons toegee aan vrees en twyfel en probeer om alles te verstaan voordat ons glo, sal ons net ons moeilikhede groter en erger maak. Maar as ons tot God kom, ons hulpeloosheid en afhanklikheid besef en in ootmoedige geloof ons behoeftes bekend maak aan Hom wat alwys is en alles sien en alles bestuur, sal Hy ons roepstem verhoor en Sy lig in ons harte laat skyn. Deur opregte gebed tree ons in verbinding met die Ewige. Ons mag op die oomblik geen bewys hê dat die aangesig van ons Verlosser ons in liefde en ontferming betrag nie; maar dit is tog so. Ons mag nie voel dat Hy ons aanraak nie, maar Sy hand rus op ons in liefde en medelydende teerheid.

 

As ons tot God kom en om genade en seëninge vra, moet daar ’n gees van liefde en vergewensgesindheid in ons eie harte wees. Hoekan ons bid, “Vergeef ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe,” Matt. 6:12, en nogtans ’n gees van onvergewensgesindheid koester? As ons verwag dat ons gebede verhoor moet word, moet ons andere vergewe op dieselfde wyse en in dieselfde mate as wat ons verwag om vergifnis te ontvang.

 

Volharding is een van die voorwaardes van gebedsverhoring. Ons moet gedurig bid as ons geestelik wil groei. Ons moet “volhard in die gebed”, en daarin waak met danksegging. Rom. 12:12; Kol. 4:2. Petrus vermaan die gelowiges: “Wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid”. 1 Pet. 4:7. Paulus skryf, “Laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God”. Filip. 4:6. “Maar julle, geliefdes,” sê Judas, “moet... in die Heilige Gees bid en julleself bewaar in die liefde van God”. Judas 20:21. Onophoudelike gebed beteken ononderbroke gemeenskap van die siel met God, sodat die lewe van God in ons lewe kan instroom, en daar uit ons lewe weer reinheid en heiligheid kan terugvloei tot God.

 

Daar is behoefte aan ywer in ons gebede; laat niks u hinder nie. Doen alles in u vermoë om die gemeenskap tussen u siel en Jesus ongestoord te hou. Maak gebruik van elke geleentheid om na die gewone bidplek te gaan. Diegene wat waarlik gemeenskap met God soek, sal by die biduur gesien word, getrou om hulle plig te doen, en sal gretig en ernstig wees om die seëninge te ontvang. Hulle sal elke geleentheid benut om te gaan waar hulle die ligstrale uit die hemel kan ontvang. Ons behoort by die huisaltaar te bid, en gebed moet veral nie in die binnekamer verwaarloos word nie, want dit is die asem van die siel. Dit is onmoontlik vir die siel om vordering te maak as die gebedslewe verwaarloos word. Om saam met die gesin en in die openbaar te bid is nie voldoende nie. In ons privaat gebede moet die versugtinge van die hart aan die alwetende God bekendgemaak word. Sulke persoonlike gebede is net bedoel vir die God wat ons verhoor. Dit staan niemand vry om na sulke smeekbede te luister nie. In ’n afgesonderde plek is die siel vry van die invloede van die omgewing en van spanning. Kalm, dog vurig sal hy tot God roep. Soet en blywend is die invloed wat uitgaan van Hom wat die geheime van die hart verstaan, wie se oor oop is vir die gebed wat uit die diepte van die hart kom. Deur kalme, eenvoudige geloof, hou die siel gemeenskap met God en maak die strale van goddelike lig sy eie, om hom in die stryd teen Satan te versterk en te ondersteun.

 

Bid in u binnekamer, en laat u hart dikwels in die werkplek tot God opgehef word. So het Henog met God gewandel. Sulke stilgebede gaan soos wierook op tot die genadetroon. Satan kan die hart wat so op God vertrou, nie oorwin nie.

 

Ons kan enige tyd en op enige plek tot God bid. Daar is niks wat ons kan verhinder om ons hart deur ernstige gebed tot God op te hef nie. Net soos Nehemia sy versoek aan koning Artasasta gerig het, kan ons ook ’n gebed tot God opstuur in die gewoel van die straat of in ons besigheid. Ons kan orals in gemeenskap met God verkeer. Die deur van ons hart behoort gedurig oop te wees, sodat ons Jesus kan nooi om in ons hart te kom woon.

 

Al word ons omring van ’n verderflike atmosfeer, hoef ons nie daaraan deel te hê nie, maar ons kan ons in die rein atmosfeer van die hemel verlustig. Ons kan al die sondige verbeeldingsvlugte en onrein gedagtes verban, as ons deur opregte gebed in die teenwoordigheid van God vertoef. Diegene wat ontvanklik is vir die seën en hulp van God, sal in ’n heiliger atmosfeer wandel as dié van hierdie wêreld, en hulle sal gedurig in verbinding wees met die hemel.

 

Ons moet Jesus beter leer ken, en groter waarde heg aan die ewige waarhede. God se kinders behoort deelgenote te wees van die sieraad van heiligheid; en om dit te ondervind behoort ons onsself te beywer om hemelse onthullings beter te verstaan.

 

Laat ons na die hoogtes reik sodat God ons ’n voorsmaak kan gee van die hemelse atmosfeer. Ons kan so na aan God lewe dat ons onsself, in elke toevallige beproewing, so spontaan tot Hom sal wend soos ’n blom wat na die son toe draai.

 

Maak u behoeftes, u vreugde, u droefheid, u sorge en u vrees aan God bekend. U kan Hom nie daarmee belas of vermoei nie. Hy wat die hare van u hoof tel, is nie onverskillig omtrent die behoeftes van Sy kinders nie. “Die Here is vol medelyde en ontferming.” Jak. 5:11. Ons smarte, ja selfs om dit aan te hoor, pynig Sy liefdevolle hart.

Neem al u probleme na Hom. Niks is te groot vir Hom om te dra nie, want Hy hou die wêrelde in stand en Hy heers oor die ganse heelal. Niks wat ons vrede aantas, is te gering vir Hom om op te merk nie. Daar is geen hoofstuk in ons lewe wat vir Hom te duister is om te lees nie. Daar is geen uitdaging te groot vir Hom om op te los nie. Geen ramp kan die geringste van Sy kinders tref nie, geen angs kan hulle kwel nie, geen blydskap kan hulle bemoedig nie, geen opregte gebed kan hulle lippe ontval nie, waarvan ons hemelse Vader nie kennis neem nie, of waaraan Hy nie onmiddellik aandag gee nie. “Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde.” Ps. 147:3. Die Here se belangstelling in elke siel is so volkome asof daar geen ander siel op aarde is wat Sy sorg nodig het, of vir wie Hy Sy geliefde Seun gegee het nie.

 

Jesus het gesê, “In daardie dag sal julle in my Naam bid; en Ek sê nie vir julle dat Ek die Vader aangaande julle sal vra nie; want die Vader self het julle lief.” “Ek het julle uitverkies... sodat wat julle ook al die Vader mag vra in my Naam, Hy julle dit kan gee.” Joh.16:26, 27; 15:16. Maar om in die naam van Jesus te bid, beteken meer as om slegs daardie naam te noem aan die begin en einde van die gebed. Dit beteken om met die gesindheid en gees van Jesus te bid, terwyl ons Sy beloftes aanneem, op Sy genade steun, en Sy werke doen.

 

God wil nie hê dat ons kluisenaars of monnike moet word nie, of dat ons ons van die wêreld moet onttrek om ons met aanbidding seremonies besig te hou nie. Ons lewe moet soos die lewe van Christus wees - tussen die berg en die mense. Hy wat niks anders doen as om te bid nie, sal gou ophou om te bid, of sy gebede sal ontaard in ’n formele roetine. Wanneer mense hulself van die gemeenskap afsonder - buite die bereik van die aanspraak wat Christelike diens op hulle maak, en die kruis wat hulle moet opneem - wanneer hulle ophou om met toewyding vir hul Meester te werk wat so getrou vir hulle gewerk het, verloor hulle alles waarvoor hulle behoort te bid. Daar bly mettertyd geen motivering  oor om  godsdiens  in  die  ware  sin  van  die  woord te beoefen nie. Hulle gebede word persoonlik en selfsugtig. Hulle kan nie bid vir die behoeftes van die mensdom, of om die koninkryk van Christus op te bou, of om selfs krag daarvoor te ontvang nie.

Ons ly geestelik daaronder as ons nie van die voorreg gebruikmaak om in die diens van God by mekaar te staan, mekaar te versterk en te bemoedig nie. Die waarhede van Gods Woord verloor hulle besieling en belangrikheid. Ons hart word nie meer verlig en aangevuur deur hulle veredelende invloed nie, en ons gaan op geestelike gebied agteruit. In ons omgang met andere verloor Christene baie deur gebrek aan medelyde met mekaar. Hy wat homself in homself terugtrek vul nie die plek wat God vir hom bedoel het nie. Die behoorlike ontwikkeling van die sosiale sy van ons lewe help ons om medelyde te hê met ander, en dra daarbenewens by tot ons geestelike ontwikkeling en die vermoë om in die diens van die Here te staan.

 

As Christene meer omgang met mekaar sou  hê, met mekaar oor die liefde van  God en die heerlike waarhede sou praat, sou hulle eie harte verkwik word en sou hulle mekaar opbeur. Ons kan daagliks meer van ons hemelse Vader leer en Sy genade opnuut beleef; ons sal graag oor Sy liefde praat, en namate ons dit doen sal ons harte verwarm en bemoedig word. As ons meer oor Jesus praat, aan Hom dink, en minder aan onsself, sal ons meer bewus raak van Sy teenwoordigheid.

 

As ons net so dikwels aan God dink as wat ons bewyse van Sy beskerming het, sal Hy gedurig in ons gedagtes wees, en sal ons ons daarin verbly om Hom te loof en van Hom te praat. Ons praat oor die tydelike dinge omdat ons daarin belang stel. Ons praat oor ons vriende omdat ons hulle liefhet - omdat ons saam die vreugde een die leed van die lewe deurmaak. Nogtans het ons oneindig meer rede om God lief te hê as ons aardse vriende; en ons moet Hom vanselfsprekend die eerste plek in ons gedagtes laat inneem, en van Sy goedheid en almag getuig. Die kosbare gawes waarmee Hy ons toebedeel het is nie veronderstel om ons aandag en liefde so in beslag te neem dat ons niks sal hê om aan Hom te gee nie; hulle moet ons altyd aan Hom laat dink en ons met bande van liefde en dankbaarheid aan ons hemelse Weldoener bind. Ons leef te na aan die aarde. Laat ons ons oë ophef na die oop deur van die heiligdom daarbo, waar die lig van God se heerlikheid gesien kan word in die aangesig van Christus, wat “volkome red die wat deur Hom tot God gaan”. Heb. 7:25.

 

“Laat hulle die Here loof om Sy goedertierenheid en om Sy wonderdade aan die mensekinders.” Ps. 107:8. Ons godsdiens moet nie net daarin bestaan om te vra en ontvang nie. Laat ons nie gedurig dink aan ons behoeftes, en nooit aan die gawes wat ons ontvang nie. Ons bid moontlik dikwels, maar ons sê nie genoeg dankie nie. Ons ontvang gedurig die seëninge van God, maar hoe min toon ons ons dankbaarheid; hoe min loof ons Hom vir wat Hy vir ons doen.

 

In die ou dae, toe Israel bymekaargekom het, het God gesê, “En daar moet julle voor die aangesig van die Here julle God eet en vrolik wees, julle en jul huisgesinne, oor alles waar julle jul hand aan slaan waarin die Here jou God jou geseën het”. Deut. 12:7. Wat ons doen ter ere van God moet met blymoedigheid gedoen word, met lofliedere en danksegging en nie met swaarmoedigheid en neerslagtigheid nie.

 

Ons God is ’n tere, barmhartige Vader. Sy diens moet nie beskou word as iets wat die hart treurig maak en ontstel nie. Dit behoort ’n genot te wees om die Here te aanbid en deel te neem aan Sy werk. Die Here wil nie hê dat Sy kinders, wat Hy so duur gekoop het, moet handel asof Hy ’n harde, veeleisende heer is nie. Hy is hulle beste vriend, en as hulle Hom aanbid, sal Hy by hulle wees om hulle te seën, te vertroos en hulle harte met vreugde en liefde te vul. Die Here verlang dat Sy kinders vertroosting in Sy diens sal vind, asook meer genot as ontbering in Sy werk. Hy wil hê dat diegene wat kom om Hom te aanbid, die diens sal verlaat en blye gedagtes van sorg en liefde saam met hulle sal neem, sodat hulle hul dagtaak blymoedig sal aandurf en genade ontvang om in elke opsig eerlik en getrou te wees.

 

Ons moet ons rondom die kruis skaar. Christus die gekruisigde moet die onderwerp van ons oorpeinsing en gesprekke wees, en ons vreugdevolste belewenis. Ons moet elke seën wat ons van God ontvang in gedagte hou, en as ons besef hoe groot Sy liefde vir ons is, behoort ons gewillig te wees om alles aan Hom toe te vertrou wat vir ons aan die kruis genael was.

 

Op die vleuels van danksegging kan die siel nader aan die hemel kom. In die hemelse howe word God aanbid met gesang en musiek, en waar ons ons dankbaarheid betuig, stem ons aanbidding in ’n mate ooreen met die van die hemelse leërskare. “Die een wat dankoffer, eer My.” Ps. 50:23. Laat ons dan met eerbiedige vreugde tot ons Skepper nader met “danksegging en die klank van liedere”. Jes.51:3.

 

Hoe moet ek my lewe inrig en lei om te deel in die vreugde wanneer Jesus terugkeer? ...

 

bottom of page