BOOSHEID! HARTSEER! WAAR IS GOD???

 

As God goed is, en as God liefde is, waarom is daar dan boosheid, hartseer, pyn en ellende? Hoekom maak Hy dan nie 'n einde daaraan of voorkom dit nie?

 

Vir duisende jare probeer filosowe en ander denkers 'n aanvaarbare verduideliking gee vir die verwarrende mengsel van goed en kwaad wat teenswoordig is in die wêreld. Hoe is dit dat roos knoppe sy aan sy langs mekaar staan met dorings aan? Hoekom val diere mekaar aan en vreet mekaar op? Hoekom het mense in sommige dele van die wêreld 'n oorvloed voedsel terwyl mense in ander dele sterf van honger? Hoekom sterf 'n onskuldige kind in 'n motor ongeluk terwyl die skuldige, 'n dronk bestuurder, ongedeurd daarvan afkom? Hoekom word genadelose mense ryk terwyl beskeie mense dikwels al dieper in armoede wegsink?

 

Filosowe bied 'n verskeidenheid antwoorde op hierdie vrae. Ateiste, wat meen dat die wêreld en alle vorms van lewe deur kans ontstaan het, voer aan dat goed en kwaad 'n soort "oorlewing van die sterkste" kompetisie is; uiteindelik sal net een oorleef. Ander denkers meen dat daar ten minste twee gode is wat oor die wêreld heers; een is goed, die ander, boos. Nog ander meen dat God magtig is maar nie almagtig om kwaad en boosheid uit te wis nie, daarom is goed en kwaad 'n soort dooiepunt. Die WARE verduideliking sal jy egter in God se Woord vind. Wanneer ons die Bybel bestudeer sien jy dat daar 'n stryd woed tussen God en Satan. Ons word bekend gestel aan hierdie stryd reeds vroeg in die Bybel: "Toe sê die HERE God aan die slang: Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die vee en al die diere van die veld. Op jou buik moet jy seil, en stof moet jy eet al die dae van jou lewe. En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt." Genesis 3: 14-15

Regdeur die Bybel kan ons hierdie stryd volg tot in die laaste boek van die Bybel waar God 'n finale einde maak aan Sy teëparty: "En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees. En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word." Openbaring 19: 20-21 tot 20: 1-3

Hierdie Groot Stryd het DIREK te make met die kwaad, pyn, armoede, hartseer, geweld en boosheid (sonde) wat die wêreld, deur die menslike geskiedenis heen, steeds teister. Elke mens word by hierdie stryd betrek. Die lewe maak sin sodra mens die boosheid van die lewe verstaan vanuit die konteks van hierdie stryd. Kry insig hoe en waar hierdie stryd begin het en hoe God besig is om hierdie stryd te gebruik om Sy teenstander(s) finaal te oorwin.

Lees die volgende uittreksel uit die boek genaamd "Die Groot Stryd" geskryf deur E.G. White (The Great Controversy) en wees verlig en geseënd!

Hoofstuk 29—Waarom is die Sonde Toegelaat ?

(Luister na die oudio hier)

(Kyk 'n video wat hierdie illustreer)


VIR vele is die oorsprong van die sonde en die bestaan daarvan iets wat baie moeilikhede oplewer. Hulle sien die boosheid, met die vreeslike gevolge van ellende en verwoesting, en die vraag ontstaan by hulle hoe al hierdie dinge kan bestaan onder die soewereiniteit van Een wat alwys, almagtig, en oneindig in liefde is. Hier het hulle te doen met ‘n verborgenheid waarvoor hulle geen verklaring kan vind nie. In hulle onsekerheid en vertwyfeling word hulle verblind vir die waarhede wat so duidelik in Gods woord geopenbaar is, en wat so nodig is vir die saligheid. Daar is diegene, wat in hulle vrae oor die bestaan van die sonde, trag om die dinge na te speur wat God nie geopenbaar het nie; daarom vind hulle geen oplossing van hulle moeilikhede nie; en diegene onder hulle wat geneig is om te twyfel en fout te soek, meen dat hulle hierin genoegsame rede vind vir die verwerping van die Heilige Skrifte. Ander weer, kan nie ‘n bevredigende oplossing van die probleem van die sonde vind nie, omdat tradisie en verkeerde skrifuitleg die leer van die Bybel aangaande die karakter van God, die aard van Sy regering, en die beginsels waarvolgens hy met die sonde handel, bedek.

Dit is onmoontlik om die oorsprong van die sonde te verklaar sodat daar ‘n rede vir die bestaan daarvan gegee kan word. Maar daar kan nogtans genoeg verstaan word aangaande die oorsprong en die finale uitdelging van die sonde, om die regverdigheid en goedheid van God in al Sy handelinge met die boosheid ten volle te openbaar. Daar is niks wat duideliker in die Skrifte geleer word as die feit dat God geensins verantwoordelik is vir die sonde nie; dat daar geen willekeurige onttrekking van goddelike genade en geen gebrek in die goddelike regering was wat rede kon gegee het vir die opstand in die hemel nie. Die sonde is ‘n indringer vir wie se bestaan geen rede gegee kan word nie. Dit is ‘n verborgenheid en onverklaarbaar; om ‘n verskoning daarvoor te maak, sou beteken om dit te verdedig. As daar ‘n verskoning daarvoor gevind kon word, of ‘n rede daarvoor, sou dit nie meer sonde wees nie. Ons enigste definisie van die sonde, is die wat daarvan gegee word in die woord van God: “Die sonde is die ongeregtigheid.” Dit is die uitwerking van ‘n beginsel wat in stryd is met die groot werk van liefde wat die grondslag van die goddelike regering is.

Voor die koms van die sonde, het daar vrede en vreugde geheers in die ganse heelal. Alles was in volkome ooreenstemming met die wil van die Skepper. Die liefde vir God het bo alles gestaan, en die liefde vir die naaste was onpartydig. Christus die Woord, die eniggebore van God, was een met die ewige Vader — een in natuur, in karakter, en in doel — en Hy was die enigste wese in die ganse heelal wat kon deel in al die raadsbesluite en planne van God. Deur Christus het die Vader al die hemelse wesens geskape. “In Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is . . . trone sowel as heerskappye en owerhede en magte;” en aan Christus, net soos aan die Vader, het die ganse hemel trou bewys. (Kol. 1: 16.) Omdat die wet van liefde [10 gebooie van God] die grondslag van Gods regering is, het die geluk van alle geskape wesens afgehang van volkome ooreenstemming met die groot beginsels van geregtigheid daarvan. God verwag van al Sy skepsels liefdesdiens —‘n liefde wat sy ontstaan het in ‘n intelligente besef van Sy karakter. Hy het geen behae in ‘n gedwonge liefde nie, en aan almal het Hy ‘n vrye wil gegee, sodat hulle Hom vrywillig kan dien.

Maar daar was een wat verkies het om hierdie vryheid te misbruik. Die sonde het sy ontstaan gehad by hom, wat naas Christus, deur God die hoogste vereer is, en wat in mag en heerlikheid die hoogste gestaan het onder die bewoners van die hemel. Voor sy val was Lucifer een van die gerubs wat beskut, heilig en onbesoedeld. “So spreek die Here HERE: Jy was die seëlring van eweredigheid, vol van wysheid en volmaak in skoonheid. Jy was in Eden, die tuin van God; allerhande edelgesteentes was jou bedekking.” “Jy was ‘n gerub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou so gemaak; jy was op die heilige godeberg; jy het gewandel tussen die vurige gesteentes. Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat ongeregtigheid in jou gevind is.” Eseg. 28: 12-15. Lucifer kon in die guns van God gebly het, bemin en vereer deur die engelskare, en hy kon sy edele kragte gebruik het tot seën van ander en verheerliking van sy Skepper. “Maar,” het die profeet gesê, “hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid verderwe weens jou glans.” Eseg. 28: 17. Trapsgewyse het Lucifer toegegee aan sy begeerte tot selfverheffing. “Jy het jou hart gemaak soos die hart van ‘n god.” “En jy het in jou hart gesê: Ek wil . . . my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die noorde. . . . Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!” Eseg. 28: 6; Jes. 14: 13, 14. In stede van die begeerte om God die hoogste plek te gee in die liefde en trou van Sy skepsels, het Lucifer ‘n poging gemaak om hulle diens en aanbidding vir homself te verkry. En begerende die eer wat die ewige Vader aan Sy Seun gegee het, het hierdie vors van die engele geywer om die mag wat alleen aan Christus gegee is, uit te oefen.

Vir die ganse hemel was dit ‘n vreugde om die Skepper te verheerlik en Hom te loof. Terwyl God op hierdie manier vereer is, het vrede en vreugde geheers. Maar nou het daar ‘n wanklank gekom in die hemelse harmonie. Die diens en verheffing van self, in stryd met die Skepper se plan, het vrees laat ontstaan in harte waarin die heerlikheid van God allesoortreffend was. Die rade van die hemel het met Lucifer gepleit. Die Seun van God het aan hom die grootheid en goedheid en regverdigheid van die Skepper voorgehou, asook die onveranderlikheid van Sy wet. God Self het die orde van die hemel bevestig; en deur daarvan af te wyk sou Lucifer sy Skepper onteer en sy eie ondergang bewerk. Maar hierdie raadgewing, wat geskied het in oneindige liefde en genade, het slegs ‘n gees van weerstand laat ontstaan. Lucifer het sy jaloesie teenoor Christus die oorhand laat kry, en hy het meer vasberade geword.

Hoogmoed weens sy eie heerlikheid het sy begeerte vir opperheerskappy gevoed. Die hoë eer wat aan Lucifer gegee is, is nie gewaardeer as ‘n gawe van God nie, en dit het geen dankbaarheid teenoor die Skepper by hom uitgelok nie. Hy het hom verlustig in sy heerlikheid en hoogheid, en hy het hom beywer om gelyk aan God te wees. Die hemelse leërskare het hom liefgehad en geëer. Dit het die engele behaag om sy bevele uit te voer, en hy het meer wysheid en heerlikheid as hulle almal gehad. Maar die Seun van God was die erkende vors van die hemel, een met die Vader in mag en gesag. Christus kon deelneem aan al die raadsbesluite van God, terwyl Lucifer nie toegelaat is om aan die goddelike planne deel te neem nie.

“Waarom,” het hierdie magtige engel gevra, “moet Christus hierdie oppergesag hê? Waarom moet hy bokant Lucifer vereer word?” Sy plek by die onmiddellike teenwoordigheid van God verlatende, het Lucifer voortgegaan  om  die gees  van  ontevredenheid onder die engele te versprei. Met groot geheimsinnigheid werkende, en sy ware doel vir ‘n tyd verbergende onder ‘n skyn van eerbied vir God, het hy getrag om ontevredenheid op te wek teenoor die wette waaronder die hemelse wesens gestaan het, en hy het beweer dat hulle onnodige beperkings opgelê het. Uitgaande van die standpunt dat hulle natuur heilig was, het hy aangevoer dat die engele die inspraak van hulle eie wil moes gehoorsaam. Hy wou medelyde vir homself opwek deur aan te voer dat God hom met onreg behandel het deur die hoogste eer aan Christus te gee. Hy het aangevoer dat hy in sy strewe na groter mag en eer nie na selfverheffing gemik het nie, maar dat hy getrag het om vryheid te verkry vir al die bewoners van die hemel, sodat hulle deur middel daarvan ‘n hoër lewe kon bereik.

In Sy groot genade was God lank geduldig met Lucifer. Hy was nie onmiddellik onthef van sy hoë posisie toe die gees van ontevredenheid die eerste maal deur hom geopenbaar is nie, en selfs ook nie toe hy sy valse aansprake aan die lojale engele bekendgemaak het nie. Nog lank het hy in die hemel gebly. Keer op keer is daar aangebied om hom te vergewe, op voorwaarde van bekering en onderwerping. Pogings soos alleen deur oneindige liefde en wysheid gemaak kon word, is aangewend om hom van sy dwaling te oortuig. Die gees van ontevredenheid was nooit voorheen bekend in die hemel nie. Lucifer self het nie dadelik gesien waarheen hy gevoer word nie; hy het nie die ware aard van sy gevoelens verstaan nie. Maar namate daar bewys is dat daar geen rede was vir sy ontevredenheid nie, is Lucifer oortuig dat hy verkeerd was, dat die goddelike aansprake regverdig was, en dat hy dit behoort te erken voor die ganse hemel. As hy dit gedoen het, sou hy homself en baie engele gered het. In hierdie tyd het hy nog nie ten volle sy trou aan God versaak nie. Alhoewel hy sy posisie as beskuttende gerub verlaat het, kon hy weer, as hy gewillig was om tot God terug te keer, die wysheid van die Skepper te erken, en met tevredenheid sy plek te beklee wat aan hom gegee is in Gods groot plan, tot sy vorige posisie herstel word. Maar hoogmoed wou hom nie toelaat om hom te onderwerp nie. Hardnekkig het hy die weg wat hy ingeslaan het, verdedig; hy het aangevoer dat hy nie bekering nodig het nie, en hy het hom heeltemal oorgegee tot die groot stryd teen sy Maker.

Al die kragte van sy meesterverstand het hy nou ingespan in die werk van bedrog om die medelyde te verkry van die engele wat onder sy bevel gestaan het.  Selfs Christus se waarskuwings en raadgewings het hy verdraai om sy eie verraderlike planne te bevorder. Aan diegene wat hom die meeste vertrou het, het Satan homself voorgestel as iemand wat ten onregte veroordeel is, dat sy posisie nie geag is nie, en dat sy vryheid beperk sou word. Van ‘n wanvoorstelling van die woorde van Christus, het hy oorgegaan tot verdraaiing en valsheid, en hy het die Seun van God beskuldig van ‘n plan om hom te verneder voor die hemelbewoners. Ook het hy probeer om die lojale engele vals te beskuldig. Almal wat hy nie kon oorhaal en heeltemal aan sy kant bring nie, het hy beskuldig van onverskilligheid teenoor die belange van die hemelse wesens. Hy het diegene wat getrou gebly het aan God beskuldig van dieselfde ding waarmee hy besig was. In ‘n poging om die beskuldiging van Gods onreg teenoor hom te bewys, het hy hom begewe tot ‘n verkeerde uitleg van die woorde en handelinge van die Skepper. Sy beleid was om die engele in verwarring te bring met listige argumente aangaande die planne van God.  Die eenvoudige dinge het hy in geheimsinnigheid gehul, en deur listige verdraaiings het hy twyfel verwek in verband met die duidelikste verklarings van Jehova. Sy hoë posisie, en sy noue verbinding met die goddelike administrasie het krag aan sy bewerings gegee, en baie is oorgehaal om met hom saam te staan in sy rebellie teenoor die gesag van die hemel.


In Sy wysheid het God Satan toegelaat om voort te gaan totdat die gees van ontevredenheid oorgegaan het tot werklike opstand. Dit was nodig om sy planne ten volle te laat ontwikkel sodat die ware aard en strekking daarvan deur almal gesien kon word. As gesalfde gerub was Lucifer baie hoog verhef; die hemelse wesens het hom baie liefgehad, en sy invloed oor hulle was baie groot. Onder Gods regering het nie alleen die hemelse wesens gestaan nie, maar ook al die wêrelde wat Hy geskape het; en Satan het gemeen dat as hy die engele van die hemel in sy opstand kon meevoer, hy dit ook sou kon oordra na die ander wêrelde. Op behendige wyse het hy sy kant van die saak voorgestel, en hy het drogredes en valsheid gebruik om sy doel te bereik. Sy mag om te bedrieg was baie groot, en deur ‘n mantel van valsheid te dra het hy groot voordeel gewin. Selfs die lojale engele kon nie ten volle sy ware karakter besef of die gevolge van sy werk vooruit sien nie.

Satan het so ‘n geëerde posisie beklee, en sy dade was so gehul in geheimsinnigheid, dat dit moeilik was om die ware aard van sy werk aan die engele te openbaar. Totdat dit eers ten volle ontluik het, sou die sondigheid van die sonde nie geopenbaar wees nie. Totnogtoe was die sonde onbekend in die heelal van God, en die heilige wesens het geen begrip gehad van die ontsettende aard daarvan nie. Hulle kon nie die vreeslike gevolge voorsien as gevolg van die verwerping van die goddelike wet nie. Aan die begin het Satan sy werk bedek onder die listige voorwendsel van getrouheid aan God. Hy het voorgegee dat hy daarop uit was om die eer van God te bevorder, Sy regering te bestendig, en die welsyn van die hemelbewoners te bewerk. Terwyl hy besig was om ontevredenheid te saai onder die engele onder hom, het hy op slinkse wyse probeer om dit te laat voorkom asof hy besig was om ontevredenheid uit die weg te ruim. Toe hy daarop aangedring het dat daar veranderinge gemaak moet word in die orde en wette van Gods regering, het hy voorgegee dat dit nodig was ten einde eenstemmigheid in die hemel te bewaar. In Sy handeling met die sonde, kon God alleen geregtigheid en waarheid laat geld. Satan kon dinge gebruik wat God nie kon gebruik nie — naamlik vleiery en bedrog. Hy het getrag om die woord van God te verdraai, en hy het Gods regering verkeerd aan die engele voorgestel, voorgewende dat God onregverdig gehandel het deur die hemelbewoners te onderwerp aan wette en reels; hy het aangevoer dat God, deur onderwerping en gehoorsaamheid te eis van Sy skepsels, maar net op selfverheffing uit was. Daar moes dus aan die hemelbewoners sowel as aan al die wêrelde bewys word dat Gods regering regverdig en Sy wette volmaak is. Satan het probeer om dit te laat blyk dat hy self daarop uit was om die welsyn van die heelal te bevorder. Die ware karakter van die indringer, en sy ware doel moes deur almal verstaan word. Hy sou geleentheid kry om homself te openbaar deur sy bose werke.


Satan het die regering van God beskuldig vir die onenigheid wat sy (Satan se) handelwyse in die hemel veroorsaak het. Hy het verklaar dat alle sonde die gevolg was van die goddelike administrasie. Hy het te kenne gegee dat dit sy doel was om te verbeter op die wette van Jehova. Dit was dus noodsaaklik dat hy geleentheid moes kry om die aard van sy aansprake te demonstreer en sy voorgestelde veranderinge in die goddelike wet uit te werk. Sy eie werk moes hom veroordeel. Van die begin af het Satan beweer dat hy nie ‘n opstandeling was nie. Die ganse heelal moes nou sien hoedat die bedrieër ontmasker word. Selfs toe daar besluit is dat hy nie langer in die hemel kon bly nie, het Ewige Wysheid besluit om Satan nie te vernietig nie. Aangesien liefdesdiens alleen by God aanneemlik is, moes die trou van Sy skepsels berus op ‘n oortuiging van Sy regverdigheid en goedheid. Die hemelbewoners en die bewoners van die ander wêrelde, omdat hulle nie die aard en die gevolge van die sonde kon besef nie, sou destyds nie die regverdigheid en genade van God verstaan het as Hy Satan sou verdelg het nie. As God hom dadelik sou vernietig het, sou hulle Hom uit vrees eerder as uit liefde gedien het. Die invloed van die bedrieër sou dan nie ten volle vernietig en die gees van opstand nie  volkome  verdelg  gewees  het nie.  Die  sonde  moes  toegelaat word om te ontwikkel. Vir die welsyn van die ganse heelal deur die ewigheid heen, moes Satan toegelaat word om sy beginsels ten volle uit te werk, sodat sy beskuldigings teen die goddelike regering in hulle ware lig deur al die geskape wesens gesien kon word, en sodat die regverdigheid en genade van God en die onveranderlikheid van Sy wet vir ewig bevestig kon word.

Satan se opstand sou ‘n les wees vir die heelal deur die eeue heen, ‘n gedurige getuienis van die aard en die vreeslike gevolge van die sonde. Die uitwerking van Satan se regering, op beide mense en engele, sou die gevolge aantoon van die tersydestelling van goddelike gesag. Dit sou bewys dat die welsyn van al Gods skepsels verbonde is aan die voortbestaan van sy regering en sy wet. Die geskiedenis van hierdie ontsettende opstand sou dus ‘n voortdurende vrywaring wees vir al die heilige wesens om te belet dat hulle bedrieg word wat betref die ware aard van oortreding, en om hulle te bewaar van die sonde en die straf daarop.

Selfs tot die einde van die stryd in die hemel het die groot bedrieër getrag om homself te regverdig. Toe daar aangekondig is dat hy met al sy aanhangers uit daardie salige oord verban sou word, het die aartsrebel reguit sy minagting vir die Skepper se wet verklaar. Hy het sy bewering herhaal dat die engele nie onderdanig behoort te wees nie, maar dat hulle moes vry wees om hulle eie wil te volg wat hulle altyd reg sou lei. Hy het die goddelike wette veroordeel as ‘n beperking van hulle vryheid, en hy het verklaar dat dit sy doel was om die afskaffing van wet te verkry, sodat die leërskare van die hemel, bevry van hierdie beperking, tot ‘n hoër en heerliker bestaan kon voortgaan.
Soos een man het Satan en sy navolgers alle blaam vir hulle opstand op Christus gewerp, en verklaar dat daar nooit opstand sou gewees het as daar geen teregwysing was nie. Hardnekkig en uitdagend in hulle ontrouheid, tevergeefs tragtende om die regering van God omver te werp, en nogtans op godslasterende wyse bewerende dat hulle die onskuldige slagoffers van verdrukking was, is die aartsrebel en sy aanhangers eindelik uit die hemel gewerp.

Dieselfde gees wat die rebellie in die hemel laat ontstaan het, veroorsaak nog rebellie op die aarde. Onder die mense volg Satan dieselfde beleid wat hy met die engele gevolg het. Sy gees heers vandag in die kinders van ongehoorsaamheid.  Net soos hy, trag hulle om die beperkings van Gods wet af te werp, en hulle beloof vryheid aan die mense deur oortreding van die gebooie. Bestraffing van die sonde verwek nog die gees van haat en weerstand. Waar mense oortuig word deur Gods boodskappe van waarskuwing, lei Satan hulle om hulleself te regverdig en om die medelyde van ander te soek in hulle sondige lewe. Pleks om hulle sondes te versaak, verwek hulle verontwaardiging teenoor die een wat hulle bestraf, asof hy die enigste oorsaak is van hulle moeilikheid. Van die dae van regverdige Abel af tot by ons tyd, is dit nog die gees wat geopenbaar word teenoor diegene wat dit durf om die sonde te bestraf. Deur dieselfde wanvoorstelling van die karakter van God as wat hy in die hemel gedoen het, naamlik om God voor te stel as ‘n harde en tiranniese meester, lei Satan die mens tot sonde. En omdat hy sover geslaag het, verklaar hy dat dit Gods onregverdige beperkings is wat tot die val van die mens gelei het, net soos dit ook die oorsaak was van sy eie opstand.

Maar die Ewige God Self verklaar Sy karakter: “HERE, HERE, ‘n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid hou vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie.” Exod. 34: 6, 7.

In die verbanning van Satan uit die hemel het God Sy regverdigheid verklaar en die eer van Sy troon gehandhaaf. Maar toe die mens gesondig het deur toe te gee aan die bedrieërye van hierdie afvallige gees, het God bewys gelewer van Sy liefde deur die opoffering van Sy eniggebore Seun om te sterf vir die gevalle mensdom. In die versoening word die karakter van God geopenbaar. Die magtige feit van die kruis openbaar aan die ganse heelal dat die regering van God nie verantwoordelik is vir die sondige weg wat Lucifer ingeslaan het nie.

In die ontmoeting tussen Christus en Satan tydens die Heiland se aardse bediening, is die karakter van die groot bedrieër geopenbaar. Niks kon op so ‘n doeltreffende wyse die liefde vir Satan uit die harte van die engele en die ander wesens wat getrou gebly het, weggeneem het soos sy wrede oorlog teen die Verlosser van die wêreld nie. Die ontsetttende godslastering wat geopenbaar is in sy versoek dat Christus aan hom hulde moes betoon, sy aanmatiging deur Hom na die bergtop en die dak van die tempel te neem, en die kwaadwillige plan wat hy voorgestel het toe hy by Christus aangedring het dat Hy Homself daarvandaan moes neerwerp, sy kwaadwillige vervolging van Christus van plek tot plek, sy oorreding van die priesters en die volk om Christus se liefde te verwerp en eindelik uit te roep, “Kruisig Hom, kruisig Hom!”—-dit alles het die verbasing en die verontwaardiging van die heelal uitgelok.

Dit is Satan wat verantwoordelik is vir die wêreld se verwerping van Christus. Die vors van boosheid het al sy kragte en liste ingespan om Jesus te vernietig; want hy het gesien dat die Heiland se genade en liefde, Sy ontferming en teerheid, die karakter van God aan die wêreld voorgestel het. Satan het elke aanspraak van die Seun van God bestry, en hy het mense gebruik as sy werktuie om die Heiland se lewe met lyding en droefheid te vervul. Die drogredes en valsheid waarmee hy getrag het om die werk van Jesus te verhinder, die haatdraendheid wat geopenbaar is deur die kinders van ongehoorsaamheid, sy wrede beskuldigings teen Hom wie se lewe ‘n voorbeeld van ongeëwenaarde goedheid was — dit alles was die gevolg van diepgewortelde weerwraak. Die verkropte nyd en kwaadwilligheid, haat en weerwraak, het op Golgota losgebars teen die Seun van God, terwyl die ganse hemel die toneel met stille afsku aanskou het.

Nadat Christus die groot offer gegee het, het Hy opgevaar en Hy het die aanbidding van engele geweier totdat Hy eers die versoek gerig het, “Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees.” Joh. 17: 24. Toe het die antwoord met onuitspreeklike liefde en krag van die Vader se troon gekom, “Al die engele van God moet Hom aanbid.” Heb. 1: 6. Daar was nie ‘n vlek aan Jesus nie. Sy vernedering beëindig en opoffering voltooi, is daar aan Hom gegee ‘n naam wat bo elke naam is. Nou  was  Satan  se  skuld bewys.  Hy het sy ware  karakter as leuenaar en moordenaar geopenbaar. Daar is gesien dat dieselfde gees wat hy geopenbaar het in sy beheersing van die mense wat onder sy mag is, ook geopenbaar sou gewees het as hy toegelaat was om die hemelbewoners te beheers. Hy het beweer dat die oortreding van Gods wet vryheid en verheffing sou bring; maar daar is getoon dat die uitwerking slawerny en verlaging is.

Satan se leuenagtige beskuldigings teen die goddelike karakter en regering is nou in hulle ware lig getoon. Omdat God onderdanigheid en gehoorsaamheid van Sy skepsels eis, het hy gesê dat God Homself maar wou verhef, en hy het beweer dat die Skepper, terwyl Hy selfverloëning van ander geëis het, self geen selfverloëning beoefen of enige opoffering gemaak het nie. Daar is nou gesien dat die Heerser van die heelal die grootste opoffering gemaak het wat daar kan gemaak word vir ‘n gevalle en sondige geslag; want “God het in Christus die wêreld met Homself versoen.” 2 Kor. 5: 19. Daar is ook gesien dat Lucifer uit ‘n begeerte vir eer en oppermagtigheid die deur oopgemaak het vir die sonde, terwyl Christus ten einde die sonde te vernietig, Homself verneder en gehoorsaam geword het tot die dood.

God het Sy afsku vir die beginsels van opstand geopenbaar. Die ganse hemel het ‘n openbaring van Sy regverdigheid gesien, beide in die veroordeling van Satan en die verlossing van die mens. Lucifer het verklaar dat as die wet van God onveranderlik, en die straf daarop onverbiddelik is, elke oortreder vir ewig die guns van die Skepper verbeur het. Hy het verklaar dat die sondige geslag nie verlos kon word nie, en dat hulle dus aan hom behoort. Maar die dood van Christus was ‘n argument ten behoewe van die mens wat nie weerlê kon word nie. Die straf van die wet het geval op Hom wat gelyk aan God was, en dit het vir die mens vrygestaan om die geregtigheid van Christus aan te neem, en deur ‘n lewe van boetvaardigheid en vernedering te oorwin, net soos die Seun van God oorwin het oor die mag van Satan. God is dus regverdig, terwyl Hy nogtans almal kan regverdig wat in Jesus glo.

Maar dit was nie alleen om die mens te verlos dat Christus na die aarde gekom het om te ly en te sterf nie. Hy het gekom om die wet groot en heerlik te maak, nie alleen sodat die aardbewoners die wet so mag beskou nie, maar om aan al die wêrelde te toon dat Gods wet onveranderlik is. As die eise van die wet tersyde gestel kon gewees het, sou dit nie nodig gewees het vir die Seun van God om sy lewe te gee om versoening te doen vir die oortreding daarvan nie. Die dood van Christus bewys die onveranderlikheid daarvan. En die opoffering wat ewige liefde die Vader en die Seun gedwing het om te maak vir die verlossing van sondaars, toon aan die ganse heelal — soos die verlossingsplan alleen kan toon -— dat geregtigheid en genade die grondslag van die wet en die regering van God is. In die uiteindelike oordeel sal daar gesien word dat daar geen verskoning vir die sonde is nie. Wanneer die Regter van die ganse aarde aan Satan sal vra, “Waarom het jy teen My gerebelleer en My beroof van die onderdane van My koninkryk?” sal die bewerker van die Sonde geen verskoning hê nie. Elke mond sal toe wees en die opstandige leërskare spraakloos staan.

Die kruis van Golgota, terwyl dit aantoon dat die wet van God onveranderlik is, verklaar ook aan die ganse heelal dat die loon van die sonde die dood is. In die Heiland se sterwingswoorde, “Dit is volbring,” is die doodsklok van Satan gelui. Die groot stryd wat solank aan die gang was, is toe beslis, en die uiteindelike verdelging van die sonde is verseker. Die Seun van God het deur die poorte van die graf gegaan, “Sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het — dit is die duiwel.” Heb. 2: 14. Lucifer se begeerte tot selfverheffing het hom gelei om te sê, “Ek wil my troon verhef bo die sterre van God. . . . Ek wil my gelykstel met die Allerhoogste!” Jes. 14: 13, 14; Eseg. 28: 18, 19. "Wanneer daardie dag aanbreek wat “brand soos ‘n oond. . . . Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid doen, ‘n stoppel wees; en die dag wat kom sal hulle aan die brand steek, sê die Here van die leërskare; sodat dit vir hulle geen wortel of tak sal oorlaat nie.” Mai. 4: 1.

Die ganse heelal sal dan getuies gewees het van die aard en gevolge van die sonde. Terwyl die uitdelging daarvan aan die begin oneer aan God sou gebring het en die engele laat vrees het, sal dit nou Sy liefde bewys en Sy eer bevestig voor al die wesens van die heelal wat behae daarin skep om Sy wil te doen en in wie se harte Sy wet is. Nooit weer sal die sonde geopenbaar word nie. Die woord van God sê, “Die benoudheid sal nie tweemaal opkom nie.” Nahum 1: 9. Die wet van God wat deur Satan bestempel is as ‘n juk van slawerny, sal geëer word as die wet van vryheid. ‘n Getoetste en beproefde skepping sal nooit weer afwyk van sy trou aan Hom wie se karakter so volkome aan hulle geopenbaar is as grenslose liefde en oneindige wysheid nie.

Hoe moet ek my lewe inrig en lei om te deel in die vreugde wanneer Jesus terugkeer? ...