top of page
LIEFDE.png

DIE 10 GEBOOIE SPEL LIEFDE UIT -

Hoe leer die Tien Gebooie ons hoe om lief te hê? Baie belydende gelowiges dink die Tien Gebooie is deel van die Ou Verbond en is nie van toepassing op Christene nie. Hulle redeneer dat Christene onder die Nuwe Verbond is en al wat ons moet doen is om mekaar lief te hê.

Die belangrike vraag wat ons moet vra is, "Hoe het jy God en ander lief?" Is ons veronderstel om net ons gevoelens te gehoorsaam of net na ons hart te luister? Indien ons gaan liefhê volgens ons eie standaarde en definisies, dan gaan ons opeindig deur op verskillende maniere lief te hê. Ons het 'n standaard nodig waarop ons ons definisie van liefde kan baseer.

Hoekom? Want as ons ons eie gevoelens en hart vertrou, dan mislei ons onsself. Jeremia 17:9 is duidelik: "Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?"

Sien jy, om jou hart te volg, is misleidend en boos, en is gevaarlik. So, watter standaard moet ons volg? Dit is waar die Tien Gebooie inkom.

DIE TIEN GEBOOIE REFLEKTEER GOD SE LIEFDE!

Ons lees in die Bybel "God is liefde". Maar, instede van 'n wasige en geheimsinnige gevoel, definieer God baie duidelik Sy liefde teenoor ons. Hy definieer Sy liefde deur die Tien Gebooie.

Toe Jesus gevra is wat die grootste gebod is het Hy gereageer in Mattheus 22:37-40 met "Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat."

Jesus het nie 'n nuwe wet hier bekendgestel nie. Die feit is Jesus het die Ou Testament aangehaal toe Hy geantwoord het (Sien: Deut 6:5; Lev 19:18). As jy mooi kyk sien jy dat Christus 'n opsomming van die Tien Gebooie gegee het. Die eerste vier gebooie wys ons hoe om God lief te hê en die oorblywende ses gebooie wys ons hoe om mekaar lief te hê.

So? Hoe leer die Tien Gebooie ons hoe om lief te hê?

EERSTE GEBOD

"Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie."

(Exodus 20:3)

Hierdie vers wys ons hoe ons nie ander gode moet hê behalwe ons Hemelse Vader nie. Dit leer ons om lojaal aan God te wees en afgodery te vermy wat ons maklik op 'n dwaalspoor laat opeindig.

TWEEDE GEBOD

"Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is 'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou."

(Exodus 20:4-6)

Die Tweede Gebod leer ons om God te respekteer en nie Sy eer aan uitgekapte beelde te gee nie. Dit herinner ons om die Skepper te aanbid en nie die skepping nie. Om God te beperk in mensgemaakte beelde verdraai ons perspektief van God en skaad ons verhouding met Hom.

DERDE GEBOD

"Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie."

(Exodus 20:7)

Die Derde Gebod herinner ons om God se naam en Sy gesag te eer. Dit leer ons dat om God lief te hê ook insluit om Hom te respekteer en om erns met Sy gebooie en wette te maak.

VIERDE GEBOD

"Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie — jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die sabbatdag geseën en dit geheilig."

(Exodus 20: 8-11)

Die Vierde Gebod beveel ons om 'n spesifieke dag opsy te sit waarin ons onthou dat ons Hemelse Vader ons Skepper en God is. Dit herinner ons dat die lewe nie alles gaan oor ons fisiese begeertes en ambisies nie, maar dat ons nie ons Hemelse Vader sal vergeet nie. Om die Sabbat elke week te onderhou gee ons meer tyd saam met God, met ons geestelike en fisiese familie, en met Sy Woord.

VYFDE GEBOD

"Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee."

(Exodus 20:12)

Die eerste gebod wat ons leer oor liefde teenoor ander is die Vyfde Gebod. Dit leer ons om ons ouers te eer. Deur te leer hoe om ons ouers by die huis te eer, leer ons ook hoe om met mense buite die huis oor die weg te kom, hulle te eer en te respekteer.

SESDE GEBOD

"Jy mag nie doodslaan nie."

(Exodus 20:13)

Die Sesde Gebod leer ons oor hoe kosbaar die lewe is. Die lewe behoort gerespekteer en gewaardeer te word. Ons mag nie die lewe van 'n ander neem nie. Om "dood te slaan" beteken nie net om letterlik dood te maak nie, maar sluit ook in haatlike en bitter vyandigheid, en onregmatige haat teenoor andere.

 

SEWENDE GEBOD

"Jy mag nie egbreek nie."

(Exodus 20:14)

 

Die Sewende Gebod is gemaak om die huweliksverbond te beskerm, wat 'n belangrike instelling is met 'n groot impak op die samelewing. God weet dat families baie belangrik is en deur egbreek te pleeg word baie mense baie seergemaak.

Nodeloos om te sê, gebroke gesins verhoudings het gelei tot baie probleme, nie net op persoonlike vlak nie maar op 'n globale skaal. So, om egbreek te vermy is 'n kragtige manier om jou liefde teenoor ander te toon.

 

AGTSTE GEBOD

"Jy mag nie steel nie."

(Exsodus 20:15)

 

Die Agtste Gebod help ons om te weet hoe om ander mense se eiendom te respekteer asook hul regte. Jy mag dalk reeds weet hoe dit voel as iemand iets van jou gesteel het. Mens voel verontwaardig, dit is frustrerend en ook ontstellend. So, as jy regtig iemand anders liefhet dan moet jy verhoed om ander mense se eiendom te steel.

 

NEGENDE GEBOD

"Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie."

(Exodus 20:16)

 

Die Negende Gebod leer ons oor eerlikheid. Onthou dat God waarheid is en Satan die vader van leuens. Wanneer ons waarheid en eerlikheid beoefen dan openbaar ons dieselfde karakter van God. Wanneer ons leuenaars word berokken ons nie net skade aan onsself nie, maar ons skaad ook ander mense deur valse inligting, kennis, en nuus.

 

TIENDE GEBOD

"Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie."

(Exodus 20:17).

 

Die Tiende Gebod spreek tot die hart en verstand van elke mens. Jy sien, hebsug begin in die hart. Dit is iets wat jy nog nie letterlik gedoen het nie. Jy het nog nie daarop gereageer nie. Deur ons te beveel om nie te begeer nie help God ons om 'n klomp sondes te vermy selfs voor dit realiseer.

Nou, die Tiende Gebod sê spesifiek vir ons om nie ander mense se eiendom en huweliksverhoudings te begeer nie. Wanneer ons begeer vernietig dit nie net ons verstand nie maar verhoed ons om werklik ander mense lief te kan hê.

 

DIE TIEN GEBOOIE DEFINIEER GOD SE LIEFDE

Soos jy kan sien, die Tien Gebooie help ons om te leer hoe om God lief te hê en om ander lief te hê. Nie net dit nie, die Tien Gebooie openbaar die ware karakter van God. Dit wys ons hoe God Homself aan ons toon en hoe Hy verwag dat enigeen wat Hom volg self sal optree.

Die Bybel sê duidelik "Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar."

(1 Joh 5:2).

Nou, as jy steeds glo dat die Nuwe Verbond God se wet afgeskaf het, dan my vriend is ek jammer maar jy glo ook die leuens van Satan wat hy van lankal af versprei. Die Tien Gebooie definieer God se liefde vir ons. Waarom sal God ontslae raak van Sy Gebooie indien dit ons help om te leer hoe om lief te hê?

Iets om oor na te dink.

Meer oor die Tien Gebooie - Gaan na Gebod 1. Ek is die Here jou God -

Sien ook:

.

bottom of page