1. Ek is die Here jou God -

 

Wat is die eerste van die 10 Gebooie? Klink dalk na ‘n snaakse vraag, maar dit is nie. Sien, Jode en Christene gee verskillende antwoorde. Die rede is dat die 10 Gebooie in die oorspronklike Hebreeuse teks, die “10 stellings” genoem is. Omdat die Hebreeuse teks die oorspronklike is, begin ons met die eerste “stelling”:

“Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.”

Hierdie stelling is sò belangrik dat geeneen van die ander Gebooie daarsonder sin maak nie.

1. Eerstens, stel dit dat God hierdie Gebooie gee, nie Moses of enige ander mens nie.

2. Tweedens, God is die een wat jou uit slawerny bevry het – weer eens was dit geen mens nie, selfs nie Moses nie! Daarom het ons ‘n verpligting teenoor God! En wat is daardie verpligting? Dat ons sal leef volgens die volgende nege Gebooie.

 

Dit is die begin van wat beskryf word as “etiese Monoteïsme”, die grootste, wêreld-veranderende innovasie van die Hebreeuse Bybel.

 

Die woord het twee betekenisse:

  • Die “Een God” (Monoteïsme) is “die bron van Etiek en Moraliteit” (etiek: sedelike gedrag en waardes). “Moraliteit” is ‘n objektiewe kode van reg en verkeerd wat nie voortspruit uit menslike opinies nie, maar wel uit God voortspruit en daarom is Moraliteit verhewe bo menslike opinies.

  • Die tweede betekenis van “etiese Monoteïsme” is dat wat God die meeste van ons verlang, is dat ons ander mense moreel reg sal behandel! Geen van die 10 Gebooie gaan oor wat mense “vir” God moet doen nie. Gebooie wat gegee is voor die 10 Gebooie, het almal tedoen gehad met wat die mens “vir” hulle gode moes doen, byvoorbeeld: om hulle kos te gee; om selfs mense vir hulle te offer. Maar nou, danksy die 10 Gebooie het die mensdom geleer dat wat God wil hê, is dat ons ons medemens goed sal behandel. Selfs die Gebooie wat handel oor “nie valse gode aanbid nie” en “nie God se naam ydellik gebruik nie” handel uiteindelik oor moraliteit. Dit wat ons “vir” God kan doen, is om al Sy ander kinders ordentlik te behandel. Elke ouer kan hiermee identifiseer: Ouers, oftewel goeie ouers, het oneindige vreugde as hul kinders liefdevol teenoor mekaar optree en onbeskryflike hartseer wanneer hulle sien hulle kinders maak mekaar seer. So-ook is God, wat as ons Hemelse Vader beskryf word, besorgd oor hoe ons teenoor ander mense optree, want almal is Sy kinders.

 

3. Die derde kritiese punt van die eerste stelling “Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het”, is die belangrikheid en betekenis van VRYHEID! Neem kennis dat God nie hier aan die begin van die 10 Gebooie sê dat Hy die wêreld geskep het, en DAAROM moet ons vir Hom luister nie. Dit sou wel indrukwekkend wees as God Homself so bekendstel voordat die 10 Gebooie gegee word maar nee, die een ding wat God verklaar, is dat Hy die kinders van Israel uit die huis van slawerny bevry het en na vryheid uitgelei het – dit is hoeveel God slawerny haat, en hoe belangrik God VRYHEID beskou. Die stigters van Amerika het hul totale uitkyk van Amerika op hierdie geloof gebaseer, dat God ons vry wil hê. Dit is hoekom daar op die mees ikoniese simbool van die Amerikaans revolusie, die “Vryheidsklok” (Liberty Bell) net een sin  gegraveer is, ‘n vers van die Hebreeuse Bybel “En julle moet … ’n vrylating in die land aan al sy bewoners uitroep.”

 

Maar daar is een ander belangrike les aangaande VRYHEID wat deur die openingsvers van die 10 Gebooie vir ons leer: WAT VRYHEID BETEKEN. Die Gewer van die 10 Gebooie sê in realiteit: “Ek het jou uit slawerny na vryheid geneem en hierdie 10 Gebooie is die manier hoe om ‘n vry beskawing te verseker. Jy kan nie ‘n vry beskawing wees as jy doen wat ookal jy wil doen nie.” Nee, vryheid kom met morele selfbeheersing – daar is geen ander manier om vryheid te bewerkstellig nie!

4. Vierdens, en laastens: deur vir ons te sê dat Hy die Hebreeuse slawe bevry het, het God dit duidelik gemaak dat dit indrukwekkend is om die wêreld te maak, maar wat die meeste saakmaak is nie net dat daar ‘n Skepper is nie, maar dat die Skepper OMGEE vir Sy skepping.