top of page

2. DIE LAMP IN ‘N DONKER WÊRELD

WAAROM ‘N STUDIE VAN PROFESIEË?


Baie mense het die verskoning dat hulle die ou storie van Verlossing by die Kruis al gehoor het.  Die meeste mense stel vandag belang in die dinge wat hulle nuuskierigheid prikkel, en profesie is een daarvan.  Sommige spits hulle toe op die profesieë van Nostradamus, óf Siener van Rensburg, óf Mary EddieBaker, Hayda Ellekes, en ‘n hele string ander. Ons stel egter belang in die profesieë van die Bybel omdat dit die wêreld se grootste probleem aanspreek: die GROOT STRYD tussen Goed en Kwaad.  Bybelse profesieë het dit ten doel om die mens se geloof te versterk in ‘n Skepper, verlossing uit sonde en ‘n spoedige wederkoms.  Sommige profesieë, veral die profesieë van Daniël en Openbaring is Eindtyd profesieë en ons glo dat dit beslis op ons en ons tyd van toepassing is.  

SIENINGS T.O.V. PROFETIESE VERTOLKING: PERSOONLIKE vs BYBELSE SIENING

2 Pet 1:20,21
“Terwyl julle veral dit moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.”
 
Geen profesie is ‘n saak van persoonlike vertolking nie.  Baie stemme gaan deesdae op en elkeen wil sý of háár uitlegging van die profesieë aan ons gee.  Elkeen vertel wie húlle dink die Antichris is, wie húlle dink die Dier van Openbaring is, en wat húlle dink die merkteken van die Dier is, ens.  

Die apostel Petrus maak dit duidelik dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitleg (vertolking) is nie, want die profesieë van die Bybel is nie deur ‘n mens (enkelvoud) voortgebring nie.   Maar soos die Heilige Gees gelei het, só het die heilige mense (meervoud) in die Bybel gespreek.  God is die Outeur van Bybelprofesie nie ‘n mens nie en God het besluit om deur baie mense (meervoud), baie getuies, Sy openbaringe in die Bybel bekend te maak.

Openb 1:1
“Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het.”

Die boek Openbaring is Jesus se eie profesie aan die Christelike Kerk.  Johannes het Openbaring in opdrag van Jesus geskryf, wat dit dus ‘n integrale deel van die Bybel se Profetiese Eenheid maak.  

Daar is deesdae ‘n neiging om die boek Openbaring te vertolk asof dit afgesonderd van die res van die Bybel is.  Baie mense vind Openbaring moeilik om te verstaan. ‘n Sekere groep in die V.S.A. stel selfs voor dat Openbaring uit die Bybel gehaal moet word!  

Hulle besef nie dié belangrike feit nie, Openbaring bestaan uit 404 verse, waarvan 276 (68% plus) letterlik woordelikse aanhalings, parafrases, verwysings, en of wenke van die res van die Bybel (OT) is.  Baie gedagtes daaruit, het hul oorsprong direk uit die boek Daniël.

Moderne teoloë neig om die boek Daniël te verwerp as vals want sy profesieë is TE akkuraat vervul.  Volgens hulle was hy ‘n ooggetuie van al die gebeure (±164 vC.).  Met dit as agtergrond het hy dus die profesieë opgemaak asof hulle 300 jaar vroeër geskryf was (±539 vC.)  Hulle vergeet wat Daniël self gesê het:

Dan 2:27,28    
“Daniël het in teenwoordigheid van die koning geantwoord en gesê: Die geheim waarna die koning vra, kan die wyse manne, die besweerdes, die geleerdes, die waarsêers nie aan die koning te kenne gee nie.  Maar daar is ‘n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadnesar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur.”

God is die Openbaarder van alle geheime. Baie moderne geleerdes wat Daniël verwerp, dra hul mensgemaakte teorieë in hul artikels en boeke, oor aan die man op straat.  Dit is dan ook geen wonder dat die boek Openbaring as ‘n geslote boek beskou word nie!  Indien ons Openbaring wil verstaan, móét ons God se hele Woord in ag neem, insluitende die boek Daniël.

WÊRELDSE vs GEESTELIKE SIENING

1 Kor 2:12-14
“Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het.  Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.”

‘n Mens kan nie een ding met homself vergelyk nie.  Slegs twee of meer dinge kan met mekaar vergelyk word.  Dit is ook onvanpas om twee dinge wat nie met mekaar verband hou nie, soos bv. ‘n vliegtuig en ‘n padda, met mekaar te vergelyk,. Paulus is daarvan oortuig dat ‘n mens die geestelike (Bybelse) dinge met geestelike (Bybelse) dinge moet vergelyk.  
 
Baie maak die fout om geestelike (Bybelse) dinge met die wêreldse (hedendaagse, algemene) dinge te vergelyk.  ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die sogenaamde Bybelkode om geheime profesieë mee te ontrafel.  Hedendaagse gebeurtenisse word gekoppel aan die skommeling, of opeenvolging van elke soveelste letter. (Bv.: “The Bible Code”).  

In dié geval het die “profetiese vertolking” van die eerste vyf boeke van Moses deur die sogenaamde “kode,” niks met Bybelse Verlossingstemas (geestelike dinge) te doen nie, dit handel meestal oor algemene wêreldpolitiek en wêreldleiers. Al hierdie dinge is sensasionele middele om die vleeslike mens “geestelik” besig te hou.
 
Volgens Paulus moet geestelike dinge liewer met geestelike dinge vergelyk te word.  Die Bybel moet toegelaat word om homself te verklaar, sonder beïnvloeding van sensasiesoekende menslike sienings en teorieë.  

Vir die rede sê Petrus dat Profesie nie gekom het deur die wil van een mens (enkelvoud) nie.  Ons kan nie ‘n gevolgtrekking maak van dit wat slegs een mens sê nie.  Ons moet let op dit wat ál die heilige mense (meervoud) in die Bybel oor ‘n spesifieke onderwerp te sê het.  Omdat hulle almal onder inspirasie van dieselfde Heilige Gees gespreek het, dien dit as beskerming teen wêreldse sienings.

VOLGEHOUE BYBELSTUDIE ‘N MOET

Jes 28:9
“Vir wie wil hy dan kennis leer en vir wie wil hy die openbaring verstaanbaar maak?  Vir die wat van die melk gespeen, wat van die moederborste weggeneem is?
 
Die Joodse leiers was ongelukkig omdat Jesaja met hulle praat asof hulle kinders is.  Hulle het gedink hulle wandel nog op die Goddelike weg.  Maar, mense wat nie gehoorsaam is aan die Woord van God nie, kan nie groei nie, en bly geestelike babatjies.

Hebr 5:12-14
“Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie.  Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is.  Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur gewoonte geoefen, om goed van kwaad te ondeskei.”

Babas en kinders hou hulle besig met die elementêre eerste beginsels van Christenskap.  Om gespeen te wees, beteken dat die verstand deur gewoonte geoefen moet word.  Om ‘n volwasse Christen te bly, verg geestelike inspanning en dit word slegs deur Bybelstudie en gebed verkry.  Let op wat word van die Bereane gesê:

Hand 17:11
“En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessalonika; hulle het die Woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.”

Soos die Bereane behoort ons ook elke dag tyd in te ruim om die Heilige Skrifte (Bybel) te ondersoek want dit hou ons geoefen in die leer van Christus en maak ons volwasse Christene. Dit is in staat om ons teen valse leraars en misleiding te beskerm. 

 

Gaan na die volgende studie:  GEBOD OP GEBOD, REËL OP REËL,HIER ‘N BIETJIE, DAAR ‘N BIETJIE

bottom of page