top of page

3. OPENBARING IN DIE LIG VAN DANIëL 2

 

GOD OPENBAAR DIE TOEKOMS

Matt 24:15    
“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom - laat hy wat lees, oplet.”

Jesus raai ons aan om na die profeet Daniël te gaan as ons die tyd van die einde wil verstaan.  Deur Sy profeet, wou God die wêreld inlig oor die koms van die Antichris en die Tyd van die Einde.  Onthou dat die profesieë van Daniël die agtergrond vir die boek van Openbaring voorsien. As Jesus soveel vertroue in Daniël gehad het, behoort ons ook op Daniël se profesieë ag te slaan.

Amos 3:7    
“Want die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.”

Die Here waarsku eers die mens deur Sy profete, voor Hy groot dinge doen.  Sodoende kan die mens God nie verantwoordelik hou vir rampe wat hulle tref omdat hulle God se waarskuwings verwerp nie.

'N ONTSTELLENDE DROOM

Daniël 2:1,2    
"En in die tweede jaar van die regering van Nebukadnésar, het Nebukadnésar 'n droom gehad, sodat sy gees onrustig geword het en dit met sy slaap gedaan was. Toe het die koning bevel gegee om die geleerdes en die besweerders en die towenaars en die Chaldeërs te roep, om vir die koning sy droom uit te lê.”
 
Nebukadnesar van Babilon was oortuig dat dit geen gewone droom was nie en het daarom al die geleerdes in sy land wat kontak met die gode het, beveel om die droom en sy uitleg aan hom bekend te maak.

Daniël 2:5,9    
“Die koning het geantwoord en aan die Chaldeërs gesê:  Die saak staan by my vas:  as julle die droom en sy uitlegging nie aan my bekend maak nie, sal julle in stukke gekap en van julle huise mishope gemaak word...  Want as julle die droom my nie bekend maak nie, is julle vonnis een en dieselfde; julle het naamlik afgespreek om 'n leuenagtige en bedrieglike woord voor my te spreek totdat die tyd weer verander; daarom, vertel my die droom, dan sal ek weet of julle my sy uitlegging kan te kenne gee.”

God het gemaak dat die koning sy droom moes vergeet, maar dat die indruk daarvan by die koning sou bly en hom sou verontrus.  

Die onnatuurlike versoek dat die wyse manne eers die droom moes verduidelik, het die belangrikheid van die goddelike droom beklemtoon.  Hulle wat met die gode in die hemel in aanraking was, moes nou die antwoord vir die goddelike droom verskaf.

Daniël 2:10,11    
“Die Chaldeërs het voor die koning geantwoord en gesê:  Daar is geen mens op die aardbodem wat die koning se saak sou kan te kenne gee nie; daarom het dan ook geen koning, groot of magtig, ooit so iets van enige geleerde of besweerder of Chaldeër verlang nie.  Ja, die saak wat die koning verlang, is swaar, en daar is niemand anders wat dit voor die koning sou kan te kenne gee nie, behalwe die gode wie se woning nie by die vlees is nie.”

Die wyse manne moes tot die besef gebring word dat hulle nie in staat was om die droom uit te lê nie. God het bewys dat heidense profete, wat afgode aanbid, nie die toekoms kan voorspel nie.  God wou hê dat die koning moes sien dat hulle g’n kontak met die gode het nie!
 
Daniël 2:12,13    
“Hieroor het die koning toornig en baie kwaad geword en bevel gegee om al die wyse manne van Babel om te bring.  Toe die bevel uitgevaardig is en die wyse manne gedood sou word, het hulle ook Daniël en sy metgeselle gesoek om gedood te word.”

In so 'n ernstige saak soos dié, is wyse manne nodig wat kontak met die gode het. Verskonings en misleiding kan nie nou bekostig word nie.  Die koning was woedend en hy beveel dat al die wyse manne in Babel gedood word, insluitende Daniël en sy drie vriende.

Daniël 2:16-18    
“Daarop het Daniël ingegaan en die koning versoek dat hy hom tyd moes gee om die uitlegging aan die koning te kenne te gee. Toe gaan Daniël na sy huis en maak aan Hanánja, Mísael en Asárja, sy metgeselle, die saak bekend, en dat hulle barmhartigheid van die God van die hemel moes afsmeek oor hierdie geheim, sodat hulle Daniël en sy metgeselle saam met die orige wyse manne van Babel nie sou ombring nie.”

Daniël rig dieselfde versoek van “tyd” as die van die wyse manne.  Sy versoek word toegestaan.  Daniël en sy vriende sou hul eie God wat in die hemel woon raadpleeg.  Het Daniël kontak met die gode?

GOD SE DIENAARS OP DIE PROEF GESTEL

Daniël 2:19-23    
“Daarop is in 'n naggesig die geheim aan Daniël geopenbaar.  Toe het Daniël die God van die hemel geloof. Daniël het toe gespreek en gesê:  Mag die Naam van God geprys word van ewigheid tot ewigheid, want die wysheid en die krag is syne.  Hy tog verander die tye en die geleenthede;  Hy sit konings af en stel konings aan;  Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het; Hy openbaar ondeurgrondelike en verborge dinge;  Hy weet wat in die duisternis is, en die lig woon by Hom.  U, God van my vaders, loof en prys ek, want U het my wysheid en krag verleen, en nou het U my bekend gemaak wat ons van U afgesmeek het, want die saak van die koning het U ons bekend gemaak.”

Daniël en sy vriende het hulle tot die ware God in die hemel gerig.  Afgode is dooie hout-, klip- en ysterbeelde wat geen hulp kan verleen nie.  Die lewende God wat in die hemel woon wou sy eie profeet gebruik om aan die koning die toekoms te vertel.  In 'n droom is die koning se geheim en sy uitleg aan Daniël bekend gemaak.  

Soos Daniël, moet ons ook die eer en lof aan God gee, want Hy alleen besit wysheid.  In Sy almag stel Hy konings en regeerders aan of af soos Hy wil.  Hy alleen openbaar verborge (geheime) dinge aan Sy profete. Aan Daniël is die geheim van die koning se droom geopenbaar.  Niemand ken die toekoms nie, behalwe die Skepper (God van die hemel).  Wil u die geheime van die toekoms verstaan?  Laat die Bybel, die Woord van die God van die hemel, u lei.

DIE GOD VAN DIE HEMEL OPENBAAR DIE TOEKOMS

Daniël 2:27,28    
“Daniël het in teenwoordigheid van die koning geantwoord en gesê:  Die geheim waarna die koning vra, kan die wyse manne, die besweerders, die geleerdes, die waarsêers nie aan die koning te kenne gee nie.  Maar daar is 'n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadnésar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur.  U droom en die gesigte van u hoof op u bed was dit:..."

Geen valse profeet kan goddelike dinge openbaar of vertolk nie.  Slegs die Lewende God wat in die hemel woon, kan geheime openbaar.  Hy sou aan die koning bekend maak wat aan die einde van die dae sal gebeur, dinge wat ook sy eie koninkryk sou raak.


Daniël 2:29,30    
“Wat u betref, o koning, u gedagtes op u bed het opgestyg oor wat hierna sal gebeur, en die Openbaarder van die geheime het u bekend gemaak wat sal gebeur.  En wat my betref, hierdie geheim is my geopenbaar, nie deur 'n wysheid wat in my sou wees meer as in al die lewendes nie, maar met die bedoeling dat die uitlegging aan die koning bekend gemaak sal word en u die gedagtes van u hart kan ken.”

Daniël erken sy eie onvermoë om self ‘n openbaarder van geheime te wees. Slegs die God van die hemel kan geheime openbaar.  Nebukadnesar was bekommerd oor sy koninkryk.  Die droom is gegee sodat die koning berusting vir sy hart kon vind.  Die droom is ook bedoel vir ons wat aan die Einde van Tyd leef.

 

Gaan na die volgende studie:  NEBUKADNESáR SE DROOM

bottom of page