top of page

DIE ROTS-KONINKRYK
 
Daniël 2:44,45    
“Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel 'n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar 'n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan - net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande 'n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur;  en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.”
 
Let wel, 'n Klip sou sonder die toedoen van mensehande losraak!  Dit sal die werk van God wees!  Dit sal God se eie koninkryk wees.  Dit sal alle aardse koninkryke vernietig en self vir ewig bestaan.  

Dit is die volgende groot gebeurtenis waarop ons wag.  Jesus het 2000 jaar gelede gekom en Sy koninkryk van genade gestig.  Nou wag ons vir Sy koninkryk van Geregtigheid wat vir ewig sal bestaan.

2 Pet 3:11-13    
“Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? - julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt.  Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en 'n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.”
 
Hierdie aarde met al sy ongeregtigheid sal verbrand en smelt, voordat God 'n nuwe hemel en aarde skep.  Daardie nuwe hemel en aarde sal deur geregtigheid regeer word - geen sonde sal dan bestaan nie.

SPOTTERS IN DIE LAASTE DAE

In die laaste dae sal daar baie mense wees wat sê dat die Jesus-storie bog is en dat die wederkoms nie sal plaasvind nie.  Hulle is valse profete!

2 Pet 3:3,4    
“Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê:  Waar is die belofte van sy wederkoms?  Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.”
 
Wanneer?  Aan die einde van die dae!  Dit is mense wat hul eie begeertes najaag en die Woord van God nie in erkentenis bring nie.  

Matt 24:36-39    
“Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.  En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.  Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.”

Net soos dit in die tyd van Noag was, so sal dit ook wees in die laaste dae van die wêreld se geskiedenis, net voor Jesus op die wolke verskyn om Sy koninkryk op te rig. Omdat hulle geen geestelikheid het nie, leef hulle volgens die vleeslike begeertes van hulle sondige harte, net soos in Noag se tyd (Gen 6:5-7).
 
2 Pet 3:9        
“Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”

God het sy eie tyd. Hy laat Hom nie voorskryf nie, tog is Hy lankmoedig oor die mensdom en wil soveel mense as moontlik red deur Sy Genade.  Maar vir baie sal Sy koms steeds onverwags wees.

Baie staan onverskillig teenoor God se waarskuwings.  Andere is mislei omdat hulle hul ore uitgeleen het vir valse profete wat diensknegte van Satan was.  Hulle het die leiers nie getoets aan die Woord van God nie en het maar vertrou op andere se insig.
 
2 Pet 3:17    
“Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie.”

Terwyl ons hierdie dinge weet, moet ons op ons hoede wees teen die dwalings van sedelose mense, en nie ons geloof in Jesus as Verlosser verloor nie.

DIE SLEUTEL VIR DIE TOEKOMS

Die profesie van die groot beeld verskyn aan die begin van die boek Daniël.  Die belangrike tydsverloop, vanaf die tyd van Babilon (en die ballingskap in 605v.C.) tot en met die wederkoms van Jesus, vorm die grondslag vir alle tydprofesieë wat sou volg.

God vra konsekwente Bybelstudente wat sal bou op die bekende, om sodoende die onbekende toekoms met die hulp van Gods Woord te lees, te verstaan en in hul harte te bewaar.
Net so seker as wat Babilon 'n wêreldryk was, en toe Medo-Persië en daarna Griekeland, net so seker het die sterk Ysterryk van Rome in 476n.C. geval.  Volgens profesie sou dit as 'n verdeelde wêreldryk voortduur, totdat die einde aanbreek. Jesus gaan weer kom. Geen mens kan dit keer nie, maar ons kan voorberei daarvoor!
 
Joh 14:1-3    
“Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het.  Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”
 
Jesus vra dat ons geloof in Hom en Sy Vader nie sal verflou nie.  Hy het Sy woord gegee. Hy gaan weer terugkom.  Elkeen wat aan Hom en Sy Woord getrou bly, sal gered word.

 

WIL U GEREED WEES?

 

Gaan na die volgende afdeling:  4. Die Sewe Gemeentes van Openbaring

bottom of page