Jakob se benoudheid.jpg

Die Tyd van Benoudheid -


EN in die tyd sal Migael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het tot op die tyd nie; maar in die tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan” (Dan. 12: 1).

Wanneer die derde engel se boodskap afgesluit word, sal daar nie meer genade wees vir die skuldige aardbewoners nie. Die volk van God het hulle werk afgehandel. Hulle het “die laat reëns,” “tye van verkwikking van die aangesig van die Here,” ontvang en hulle is berei vir die beproewingsuur voor hulle. Engele haas heen en weer in die hemel. ‘n Engel wat terugkeer van die aarde kondig aan dat sy werk klaar is; die eindtoets is aan die wêreld gegee, en almal wat hulle getrou betoon het aan die goddelike gebooie het die “seël van die lewende God” ontvang. Nou staak Jesus Sy voorbidding in die heiligdom daarbo. Hy hef Sy hande op, en met ‘n luide stem sê Hy, “Dit is verby;” die leërskare van engele haal hulle krone af terwyl Hy die volgende plegtige aankondiging doen: “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word” (Openb. 22: 11). Elke saak is beslis vir die lewe of die dood. Christus het versoening gedoen vir Sy volk, en hulle sondes uitgedelg. Die getal van Sy onderdane is vol; “Die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel” sal binnekort gegee word aan diegene wat die saligheid beërf het, en Jesus sal regeer as Koning van die konings en Here van die here. Wanneer Hy die heiligdom verlaat, bedek donkerheid die aardbewoners. In daardie vreeslike tyd moet die regverdiges voor ‘n heilige God leef sonder ‘n middelaar. Die bedwang wat die goddelose weerhou het, is nou opgehef en Satan het volkome beheer oor die verharde onboetvaardiges. God se lankmoedigheid is beëindig. Die wêreld het Sy genade verwerp, Sy liefde versmaai, en Sy wet vertrap. Die goddelose het die grense van hulle genadetyd oorskry; die Gees van God, wat hulle so hardnekkig weerstaan het, is eindelik onttrek. Sonder die beskerming van goddelike genade, is daar vir hulle geen beskerming teen die bose nie. Satan sal nou die aardbewoners in die laaste groot stryd dompel. Namate die engele van God die woeste winde van menslike drifte los, sal al die elemente van stryd vry woed. Die hele wêreld sal gewikkel word in ‘n verwoesting baie erger as die van Jerusalem van ouds.

Een engel het al die eersgeborenes van Egipteland vernietig en die land in rou gedompel. Toe Dawid teen God gesondig het deur die volk te tel, het een engel daardie ontsettende verwoesting aangerig wat gekom het as straf op sy sondes. Dieselfde verwoestende krag van die heilige engele, wat geskied het op bevel van God, sal uitgeoefen word deur bose engele wanneer God hulle toelaat. Reeds nou is daar magte gereed, hulle wag net op goddelike bevel, om orals verwoesting aan te rig.

Diegene wat God se wet vereer, word beskuldig dat hulle die oorsaak is van die oordele wat die wêreld tref, en ook sal hulle beskou word as die oorsaak van die verskriklike stuiptrekkings van die natuur en die stryd en bloedvergieting wat die aarde met ellende vervul. Die krag waarmee die laaste waarskuwing gepaard gegaan het, het die bose woedend gemaak; hulle woede bars los teen diegene wat die boodskap aangeneem het, en Satan sal die gees van haat en vervolging tot groter heftigheid aanblaas.

Toe God sy teenwoordigheid eindelik aan die Joodse volk onttrek het, het die priesters en die volk dit nie besef nie. Hoewel hulle onder beheer van Satan gestaan het, en besiel was met die afskuwelikste en kwaadwilligste drifte, het hulle hulleself nogtans beskou as die uitverkorenes van God. Die diens in die tempel het voortgegaan; brandoffers is geoffer op die besoedelde altare, en daagliks is die goddelike seën afgesmeek op ‘n volk wat skuldig was aan die bloed van God se geliefde Seun, en wat steeds getrag het om Sy diensknegte en apostels om die lewe te bring. En so ook, wanneer die onherroeplike besluit in die heiligdom aangekondig en die lot van die wêreld vir ewig beslis is, sal die aardbewoners dit nie weet nie. Die volk aan wie die Gees van God finaal onttrek is, sal voortgaan met hulle vorm godsdiens; en die sataniese ywer waarmee die vors van die bose hulle besiel om sy kwaadwillige planne uit te voer, sal die skyn van ywer vir God dra.

Wanneer die Sabbat die spesiale twispunt geword het deur die ganse Christendom, en die godsdienstige en burgerlike owerhede verenig het om die viering van Sondag verpligtend te maak, sal die hardnekkige weiering van ‘n klein minderheid om gehoor te gee aan die algemene vereiste, hulle die spesiale voorwerpe maak van algemene verfoeiing. Daar sal aangevoer word dat die paar wat in stryd is met ‘n instelling van die kerk en ‘n wet van die staat, nie geduld moet word nie; en dat dit beter sou wees vir hulle om te ly as dat al die volke tot verwarring en wetteloosheid sou oorgaan. Dieselfde argument is agtienhonderd jaar gelede teen Christus aangevoer deur die “owerstes van die volk.” Dit is voordelig vir ons, het die listige Kajafas gesê, “dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie omkom nie” (Joh. 11: 50). Hierdie argument sal oortuigend skyn; en daar sal eindelik ‘n dekreet uitgevaardig word teen diegene wat die Sabbat van die vierde gebod heilig, wat hulle sal veroordeel as diegene wat die swaarste straf verdien, en wat na ‘n tyd, met die goedkeuring van die volk, gedood sal word. Romanisme in die Ou Wêreld, en afvallige Protestantisme in die Nuwe, sal dieselfde weg inslaan teenoor diegene wat die goddelike gebooie eerbiedig.

Die volk van God sal dan gedompel word in  daardie tonele van lyding en ellende wat deur die profeet beskryf word as die tyd van Jakob se benoudheid. “So sê die Here: Ons het ‘n stem van verskrikking gehoor; daar is vrees en geen vrede nie! ... Waarom ...is alle aangesigte in bleekheid verander? Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jer. 30: 5-7).

Jakob se nag van benoudheid, toe hy in die gebed geworstel het vir verlossing uit die hand van Esau, is ‘n voorstelling van wat God se volk sal deurmaak in die tyd van benoudheid. (Gen. 32: 24-30.) Weens die bedrog wat hy gepleeg het om die seën van sy vader te verkry wat vir Esau bedoel was, moes Jakob vir sy lewe vlug, omdat hy bang was vir die vreeslike dreigemente van sy broer. Nadat hy baie jare in ballingskap deurgebring het, het hy op God se bevel die terugreis aanvaar met sy vrouens en kinders, kleinvee en grootvee, na sy geboorteland. Toe hy die grense van die land bereik, is hy met vrees vervul deur die tyding van Esau se aantog aan die hoof van ‘n kommando, ongetwyfeld met die doel om wraak te neem. Jakob se gevolg, ongewapend en weerloos, sou die magtelose slagoffers van geweld word, soos dit gelyk het. En by hierdie groot angs en vrees het nog die verpletterende gewig van selfverwyt gekom; want dit was sy eie sonde wat hom in hierdie gevaar gebring het. Sy enigste hoop was op die genade van God; sy enigste verdediging moes hy nou in gebed soek. Maar hy het niks nagelaat wat hy kon doen om die onreg aan sy broer goed te maak en om die dreigende gevaar af te weer nie. So ook moet die navolgers van Christus, namate hulle die tyd van benoudheid nader, alles in hulle vermoë doen om hulleself in die regte lig te stel voor die volk, vooroordeel te verwyder, en die gevaar af te weer wat hulle gewetensvryheid bedreig.

Nadat hy sy gesin weggestuur het sodat hulle nie sy ellende mag aanskou nie, het Jakob alleen agtergebly om met God te pleit. Hy het sy sonde bely, en met dankbaarheid die genade wat God aan hom bewys het, erken, terwyl hy met die grootste ootmoed die verbond met sy vaders gepleit het, asook die beloftes wat aan hom gemaak is in daardie naggesig op Betel en in die land van sy ballingskap. Die krisis van sy lewe het gekom; alles was op die spel. In die duisternis en eensaamheid bid en verneder hy hom steeds voor God. Skielik word daar ‘n hand op sy skouer geplaas. Hy dink dat dit ‘n vyand is wat hom wil doodmaak, en met wanhoopskrag worstel hy met sy aanvaller. Toe die dag begin breek, het die vreemdeling bomenslike krag gebruik; nou het dit geskyn of die sterk man verlam is, en hy val neer, ‘n hulpelose, wenende smeker, voor sy geheimsinnige teenstander. Jakob het nou besef dat dit die Verbondsengel is met wie hy worstel. Hoewel hy magteloos was en die grootste pyn gely het, het hy nie moed opgegee nie. Lank het hy lyding, gewetenswroeging, en moeilikheid verduur vir sy sonde; nou moet hy die versekering kry dat dit vergewe is. Dit het gelyk asof die goddelike besoeker wou vertrek; maar Jakob het hom vasgehou en om ‘n seën gesmeek. Die engel sê, “Laat my gaan, want die dag het gebreek;” maar die patriarg roep uit, “Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën.” Watter vertroue, watter onwrikbaarheid en volharding, sien ons hier! As dit ‘n vermetelde, aanmatigende eis was, sou Jakob oombliklik gedood gewees het; maar dit is gedoen met die versekering van een wat sy swakheid en onwaardigheid bely het, maar wat nogtans vertrou het op die genade van ‘n Verbonds-God.

Hy het met die Engel geworstel en die oorhand gekry” (Hosea 12:5). Deur verootmoediging, berou, en selfoorgawe, het hierdie sondige, dwalende sterweling die oorhand gekry by die Majesteit van die Hemel. Met bewende hande het hy die beloftes van God aangeneem, en die hart van Ewige Liefde kon nie die gesmeek van die sondaar afwys nie. As bewys van sy oorwinning en as bemoediging vir ander om sy voorbeeld na te volg, is sy naam verander van ‘n naam wat hom gedurig herinner het aan sy sonde, tot een wat ‘n gedenknaam was van sy oorwinning. En die feit dat Jakob die oorhand gekry het by God was ook ‘n versekering dat hy die oorhand sou kry by mense. Hy was nie langer bang vir sy broer se woede nie; want die Here was sy beskutting.

Satan het Jakob voor die engele van God beskuldig en aanspraak gemaak op die reg om hom weens sy sonde te vernietig; hy het Esau beweeg om teen hom op te trek; en gedurende die patriargse lang nag van worsteling wou Satan hom onder ‘n besef van sy skuld bring ten einde hom te ontmoedig en om hom los te maak van God. Jakob was byna tot wanhoop gedryf; maar hy het besef dat hy, sonder hemelse hulp, sou vergaan. Hy het opregte berou gehad oor sy groot sonde, en hy het hom beroep op die genade van God. Hy sou nie van sy doel afgedwing word nie, maar het die engel vasgehou, en met ernstige angskrete gebid totdat hy oorwin het.

Net soos Satan Esau beïnvloed het om teen Jakob op te trek, so sal hy ook die goddelose opwek om God se volk in die tyd van benoudheid te vernietig. En net soos hy Jakob beskuldig het, sal hy ook sy beskuldigings teen God se volk inbring. Hy beskou die aardbewoners as sy onderdane; maar die klein klompie wat God se gebooie hou, weerstaan sy heerskappy. As hy hulle maar net van die aarde kon uitdelg, sou sy oorwinning volkome wees. Hy sien dat heilige engele hulle beskerm, en daaruit lei hy af dat hulle sondes vergewe is; maar hy weet nie dat hulle sake reeds afgehandel is in die heiligdom daarbo nie. Hy het ‘n noukeurige kennis van al die sondes wat hy hulle verlei het om te pleeg, en die stel hy baie vergroot aan God voor, en hy voer aan dat hierdie mense in dieselfde mate as hy verdien om van God se guns uitgesluit te word. Hy voer aan dat God nie in regverdigheid hulle sondes kan vergewe, terwyl God hom en sy engele sal verdelg nie. Hy maak op hulle aanspraak as sy prooi, en hy eis dat hulle in sy hande oorgegee moet word sodat hy hulle kan vernietig.

Terwyl Satan die volk van God aankla weens hulle sondes, laat die Here hom toe om hulle tot die uiterste toe te beproef. Hulle vertroue in God, hulle geloof en standvastigheid sal swaar beproef word. As hulle aan die verlede dink, sak hulle hoop; want in hulle hele lewe kan hulle nie veel goeds sien nie. Hulle is volkome bewus van hulle swakheid en onwaardigheid. Satan probeer om hulle bang te maak met die gedagte dat hulle saak hopeloos is, en dat hulle besoedeling nooit uitgewis kan word nie. Hy hoop om hulle geloof te vernietig, sodat hulle sal toegee aan sy versoekings en hulle trou aan God sal versaak.

Ofskoon God se volk omring sal wees van vyande wat op hulle vernietiging uit is, is die angs wat hulle deurmaak egter nie ‘n vrees vir vervolging oor die waarheid nie; hulle vrees is dat alle sondes nie uitgedelg is nie, en dat hulle, deur die een of ander fout in hulleself, nie die volgende belofte van die Heiland verwesenlik sal sien nie: “Ek sal jou ook bewaar vir die uur van beproewing wat oor die wêreld kom” (Openb. 3:10). As hulle maar net die versekering van vergifnis kon hê, sou hulle nie terugdeins vir marteling of die dood nie; maar as hulle onwaardig bevind word, en hulle lewens moet prysgee weens hulle eie karaktergebreke, sou God se heilige naam gesmaad word.

Aan alle kante hoor hulle van sameswerings tot hoogverraad, en sien hulle rebellie; en in hulle ontstaan daar ‘n sterk begeerte, ‘n sielsverlange, dat die groot afval tot ‘n einde moet kom, en dat daar ‘n einde gemaak moet word aan die goddelose en goddeloosheid. Maar terwyl hulle God smeek om die werk van  rebellie teen te hou, doen hulle dit met ‘n diepe besef van selfverwyt dat hulle opsigself nie meer krag het om die magtige vloedgolf van boosheid te weerstaan en terug te slaan nie. Hulle voel dat as hulle altyd al hulle vermoëns aan die diens van Christus sou bestee het, en van krag tot krag voortgegaan het, die magte van Satan minder krag sou gehad het om hulle te oorwin.

Hulle verootmoedig hulle siele voor God terwyl hulle verwys na die bekering van hulle sondes in die verlede en aanspraak maak op die Heiland se belofte, “Hulle moet My beskutting aangryp, vrede met My maak, vrede met My maak” (Jes. 27:5). Hulle versaak nie hulle geloof omdat hulle gebede nie onmiddellik verhoor word nie. Hoewel hulle in die grootste angs, vrees, en ellende verkeer, staak hulle nie hulle voorbidding nie. Hulle neem die krag van God beet net soos Jakob die Engel beetgeneem het; en die taal van hulle hart is, “Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seen.

As Jakob hom nie voorheen bekeer het van sy sonde van bedrog in verband met die geboortereg nie, sou God nie sy gebed verhoor en sy lewe gespaar het nie. So ook in die tyd van benoudheid; as daar sondes teen God se volk staan wat nie bely is nie, terwyl hulle in die tyd van benoudheid gefolter word deur vrees en angs, sou hulle oorweldig word; wanhoop sou hulle geloof vernietig, en hulle sou geen vrymoedigheid hê om tot God te bid om verlossing nie. Maar terwyl hulle ‘n diepe besef het van hulle onwaardigheid, is daar nie bedekte sondes wat geopenbaar moet word nie. Hulle sondes het vooruitgegaan na die gereg, en dit is uitgedelg; dit kan nie weer in herinnering gebring word nie.

Satan bring mense daartoe om te glo dat God hulle ontrouheid in die klein dingetjies sal oorsien; maar in Sy handeling met Jakob het die Here getoon dat Hy geensins sondes sal toelaat of verduur nie. Almal wat trag om hulle sondes te bedek of verskoning daarvoor te maak, en wat daardie sondes in die boeke van die hemel laat bly, nie bely en nie vergewe nie, sal deur Satan oorwin word. Hoe groter hulle lig is en hoe meer verhewe die posisie wat hulle beklee, hoe erstiger beskou God hulle sondes, en hoe sekerder die oorwinning van hulle groot vyand. Diegene wat nalaat om voor te berei vir die dag van God, sal dit nie kan doen in die tyd van benoudheid of enige tyd daarna nie. Die sake van al die sulkes is hopeloos.

Daardie belydende Christene wat onvoorberei kom tot die laaste groot stryd, sal in hulle wanhoop, hulle sondes in die grootste angs bely, terwyl die bose hulle verheug oor hulle ellende. Hulle belydenis van die sonde is van dieselfde soort as die van Esau en Judas. Diegene wat die belydenis doen, is jammer oor die gevolge van hulle oortreding, maar nie oor hulle sonde self nie. Daar is nie ware berou en geen afsku van die sonde nie. Hulle bely hulle sonde uit vrees vir die straf; maar, soos Farao van ouds, sou hulle weer hulle uitdagende houding teen die Hemel aanneem as die oordele van God verwyder sou word.

Jakob se geskiedenis is ‘n versekering aan ons dat God nie diegene sal verwerp wat bedrieg, versoek, en tot die sonde verlei is nie, maar wat in ware bekering tot Hom teruggekeer het. Terwyl Satan trag om hierdie klas te vernietig, sal God Sy engele stuur om hulle te vertroos en te beskerm in die tyd van gevaar. Die aanslae van Satan is woedend en vasberade, en sy verleidings is ontsettend; maar die oog van die Here is oor Sy volk, en Sy oor hoor hulle roepstem. Hulle lyding is groot; dit lyk of die vlamme van die smeltkroes hulle wil verswelg; maar die Een wat hulle louter, sal hulle te voorskyn bring soos goud wat deur vuur beproef is. God se liefde vir Sy kinders gedurende die tyd van hulle grootste beproewing is net so sterk en teer as in die dae van hulle grootste voorspoed; maar dit is nodig dat hulle in die smeltkroes moet gaan; hulle aardse skuim moet verteer word, en hulle moet die beeld van Christus volkome weerkaats.

Die tyd van ellende en angs wat voor ons is, vereis ‘n geloof wat vermoënd is, vertraging, en honger sal verduur —‘n geloof wat nie sal verflou nie hoe heftig die beproewing ook is. Die genadetyd word aan almal toegestaan om hulle vir daardie tyd te berei. Jakob het oorwin omdat hy volhardend en vasberade was. Sy oorwinning is ‘n bewys van die krag van volhardende gebed. Almal wat aanspraak maak op God se belofte soos hy, en wat so ernstig en volhardend is as hy, sal oorwin soos hy oorwin het. Diegene wat onwillig is om self te verloën, om in sielsangs tot God te bid, en lank en vurig te smeek om Sy seën, sal dit nie verkry nie. Worstel met God — hoe min is daar wat weet wat dit beteken! Hoeveel is daar wat met hulle ganse hart en met die vurigste begeerte en met alle kragte tot God bid? Wanneer golwe van wanhoop, wat nie in woorde beskryf kan word, teen die smeker slaan, hoeveel is daar wat met ‘n onwrikbare geloof aan die beloftes van God sal vasklem?

Diegene wat nou min geloof het, loop gevaar om onder die invloed van Sataniese bedrog te kom, asook die dekreet om die gewete te dwing. En as hulle die toets kan deurmaak, sou hulle in die tyd van benoudheid in nog groter angs en ellende gedompel word, omdat hulle nie die gewoonte aangekweek het om op God te vertrou nie. Die lesse van geloof wat hulle verwaarloos het, sal hulle moet leer onder vreeslike druk en ontmoediging.

Ons behoort God nou te leer ken deur Sy beloftes aan te neem. Die engele skryf elke ernstige en opregte gebed op. Ons behoort hewig die bevrediging van self te versaak as om gemeenskap met God te verwaarloos. Die grootste armoede, die grootste selfverloëning, is met God se seën beter as rykdom, eer, gemak, en vriende sonder Sy goedkeuring. Ons moet tyd neem om te bid. As ons toelaat dat ons harte deur wêreldse belange in beslag geneem word, mag die Here ons tyd gee deur ons afgode van goud, of huise, of vrugbare landerye weg te neem.

Die jongmense sal nie tot die sonde verlei word as hulle sou weier om  enige  ander pad te  bewandel as die een waarop hulle Gods seën kan vra nie. As die boodskappers wat die laaste plegtige boodskap aan die wêreld gee, om die seën van God sou bid, nie op ‘n kille, lustelose en luie manier nie, maar vurig en in geloof soos Jakob, sou daar baie gevalle wees waar hulle kan sê, “Ek het God gesien van aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered” (Gen. 32:30). Die hemel sou hulle beskou as prinse, wat krag by God en by die mense het.

Die “tyd van benoudheid soos daar nie gewees het nie,” sal gou aanbreek; en daarvoor sal ons ‘n ondervinding nodig hê wat ons nie nou het nie, en wat vele te lui is om te verkry. Dikwels is dit die geval dat moeilikheid wat ons verwag groter skyn as wat dit werklik is; maar dit is nie die geval met die krisis voor ons nie. Die treffendste woorde sal nie die grootheid van die benoudheid kan beskryf nie. In daardie tyd van beproewing sal elke siel alleen moet staan voor God. “Al was Noag, Daniel en Job daarin,” naamlik in die land, “sowaar as Ek leef! spreek die Here HERE: Hulle sou geen seun of dogter red nie; hulle sou net hulle eie siel deur hulle geregtigheid red” (Eseg. 14:20).

Nou, terwyl ons groot Hoëpriester versoening vir ons doen, behoort ons te soek na volmaaktheid in Christus. Ons Heiland het selfs nie deur ‘n enkele gedagte toegegee aan die krag van versoeking nie. In menslike harte vind Satan die een of ander plekkie waar hy kan vatkans kry; die een of ander gekoesterde sondige begeerte waardeur hy sy versoekings kan laat werk. Van Homself het Christus gesê, “Die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie” (Joh. 14:30). Satan kon niks in die Seun van God vind waardeur hy die oorwinning kon behaal nie. Hy het Sy Vader se gebooie bewaar, en daar was geen sonde in Hom wat Satan tot sy voordeel kon gebruik nie. Dit is die toestand waarin diegene moet verkeer wat in die tyd van benoudheid staande wil bly.

Dit is in hierdie lewe dat ons die sonde moet versaak deur geloof in die versoenende bloed van Christus. Ons dierbare Heiland nooi ons om onsself met Hom te verenig, ons swakheid met Sy krag, ons onkunde met Sy wysheid, en ons onwaardigheid met Sy verdienstes. Die voorsienigheid van God is die skool waarin ons die nederigheid en ootmoed van Jesus moet leer. Die Here stel gedurig voor ons, nie die weg wat ons graag kies nie, die aangenamer en makliker weg nie, maar die ware doel van die lewe. Dit hang van ons af of ons sal saamwerk met die werktuie wat die Hemel gebruik in die werk om ons karakters te vorm volgens die goddelike model. Niemand kan hierdie werk nalaat of afstel sonder die grootste gevaar vir sy siel nie.

In ‘n gesig het die apostel Johannes ‘n luide stem in die hemel hoor uitroep, “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openb. 12:12). Vreeslik is die tonele wat die hemelse stem hierdie woorde laat uitroep het. Namate die tyd van Satan korter word, neem sy woede toe, en sy werk van bedrog en verwoesting sal sy toppunt bereik in die tyd van benoudheid.

Vreeslike verskynsels van ‘n bonatuurlike aard sal binnekort in die hemele geopenbaar word as ‘n teken van die wonderwerkende mag van demone. Die geeste van duiwels sal na die konings van die aarde en die hele wêreld gaan, om hulle te bedrieg en hulle oor te haal om met Satan te verenig in sy laaste poging teen die regering van die hemel. Deur hierdie werktuie word sowel regeerders as onderdane bedrieg. Daar sal persone verskyn wat voorgee dat hulle Christus Self is, en hulle sal aanspraak maak op die titel en aanbidding wat die wêreld se Verlosser alleen toekom. Hulle sal wonderwerke van gesondmaking verrig, en hulle sal voorgee dat hulle openbarings uit die hemel ontvang het wat die getuienis van die Skrifte weerspreek.

As kronende toneel in die groot drama van bedrog, sal Satan hom voordoen as Christus. Lank reeds het die kerk uitgesien na die koms van die Heiland as die verwesenliking van sy hoop. Die groot bedrieër sal dit nou laat skyn asof Christus werklik gekom het. In verskillende dele van die aarde sal Satan homself onder die mense openbaar as ‘n majestueuse wese van skitterende heerlikheid, wat voldoen aan die beskrywing van die Seun van God soos deur Johannes in Openbaring gegee (Openb. 1: 13-15). Die heerlikheid waarmee hy omring is, is onoortreflik — sterwelinge het nog nooit so iets aanskou nie. ‘n Triomfkreet weergalm deur die lug. “Christus het gekom! Christus het gekom!” Die mense val in aanbidding voor hom neer, onderwyl hy sy hande ophef en ‘n seën op hulle uitspreek net soos Christus Sy dissipels geseën het toe Hy op aarde was. Hy het ‘n sagte, dog soet klinkende stem. In sagte, medelydende woorde verkondig hy sommige van dieselfde heerlike, hemelse waarhede wat die Heiland gespreek het; hy genees die siektes van die mense, en dan, in sy aangenome karakter van Christus, beweer hy dat hy die Sabbat verander het tot Sondag, en hy gebied almal om die dag te heilig wat hy geseën het. Hy verklaar dat diegene wat volhard in die heiliging van die sewende dag sy naam laster deur te weier om te luister na sy engele wat hy gestuur het met lig en waarheid. Dit is die groot, byna onweerstaanbare bedrog. Net soos die Samaritane wat deur Simon die towenaar bedrieg is, luister die skare, groot en klein, na hierdie towerye, en hulle sê, “Dit is die groot krag van God” (Hand. 8:10).

Maar die volk van God sal nie mislei word nie. Die leerstellings van hierdie valse christus stem nie ooreen met die Skrifte nie. Sy seën word uitgespreek op die aanbidders van die dier en sy beeld, juis die klas op wie, volgens die Bybel, God se ongemengde wraak uitgestort sal word.

En wat meer is, Satan word nie toegelaat om die wyse van Christus se koms na te maak nie. Die Heiland het Sy volk gewaarsku teen bedrog op hierdie punt, en Hy het die wyse van Sy koms duidelik voorspel. “Daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was ook die uitverkorenes te mislei. . . . Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. As hulle dan vir julle sê: Kyk, hy is in die woestyn — moet nie uitgaan nie. Kyk, hy is in die binnekamer — moet dit nie glo nie. Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook wees die koms van die Seun van die mens.” (Matt. 24:24-27, 31;25:31; Openb. 1: 7; 1 Thess. 4: 16, 17). Dit is onmoontlik om hierdie koms na te maak. Dit sal oor die hele wêreld bekend wees — deur almal gesien word.

Alleen diegene wat ywerige studente van die Skrifte is, en wat die liefde vir die waarheid aangeneem het, sal beskerm word teen die magtige bedrog wat die wêreld sal oorval. Deur die getuienis van die Bybel sal hulle die bedrieër in sy vermomming herken. Almal sal getoets word. Deur die sifting van versoeking sal die opregte Christen geopenbaar word. Is die volk van God nou so onbeweeglik bevestig op God se woord dat hulle nie sal toegee aan die getuienis van hulle sintuie nie? Sal hulle, in so ‘n krisis, vasklem aan die Bybel, en die Bybel alleen? Indien moontlik sal Satan hulle belet om die voorbereiding te maak sodat hulle kan staande bly in daardie dag. Hy sal sake so reel dat hulle weg versper word; hy sal hulle verstrik met aardse skatte, hulle swaar en vermoeiende laste laat dra, sodat hulle harte beswaar kan word met die sorge van hierdie lewe en dat die dag van beproewing hulle kan oorval soos ‘n dief.

Wanneer die dekrete wat uitgevaardig word deur die verskillende owerhede van die Christendom die beskerming van die regering sal onttrek aan diegene wat die gebooie bewaar, en hulle oorgee aan diegene wat hulle wil vernietig, sal die volk van God wegvlug uit die stede en dorpe, en hulle sal in groepies saamkom en op afgeleë plekke gaan woon. Baie sal skuiling vind in bergvestings. Soos die Christene van die Piedmont valleie sal hulle van die hoë plekke van die aarde heiligdomme maak, en hulle sal God dank vir “die rotsvestings” (Jes. 33: 16). Maar baie van die volke van alle klasse, hoog en laag, ryk en arm, swart en wit, sal in die onregverdigste en wreedste slawery geknel word. Die geliefdes van God sal langvermoeiende dae moet deurmaak in kettings gebind, in tronke opgesluit, tot die dood gevonnis, sommige om miskien uitgehonger te word in afskuwelike donker kerkers. Geen menslike oor hoor hulle gekreun nie; geen menslike hand word uitgesteek om hulle te help nie.

Sal die Here Sy volk in hierdie uur van beproewing vergeet? Het hy getroue Noag vergeet toe die oordele die mense tydens die Sondvloed getref het? Het Hy Lot vergeet toe vuur uit die hemel neergedaal het om die stede van die vlakte te verwoes? Het Hy Josef vergeet toe hy in Egipte deur afgodedienaars omring was? Het Hy Elia vergeet toe Isebel gesweer het om hom die lot van die Baáls profete te laat deel? Het Hy Jeremia vergeet in die vieslike donker kuil waarin hy gewerp was? Het Hy die drie Hebreërs in die brandende vuuroond vergeet? of vir Daniël in die leeukuil?

Sion sê: Die Here het my verlaat en die Here het my vergeet! Kan ‘n vrou haar suigeling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ek jou nie vergeet nie! Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer.” Die Here van die leërskare het gesê, “Wie julle aanraak, raak Sy oogappel aan” (Jes. 49:14-16; Sag. 2:8).

Ofskoon vyande hulle in die tronk stop, kan die tronkmure hulle nie afsny van gemeenskap met Christus nie. Een wat hulle swakheid sien, wat bekend is met al hulle beproewings, staan hoër as alle aardse magte; en engele sal hulle besoek in hulle eensame selle, en die lig en vrede van die hemel aan hulle bring. Die gevangenis sal soos ‘n paleis wees; want diegene wat ryk is in geloof woon daar, en die sombere mure sal verlig word met ‘n hemelse lig, net soos toe Paulus en Silas gebid en lofsange gesing het te middernag in die tronk op Filippi.

God se oordele sal diegene tref wat soek om Sy volk te verdruk en te vernietig. Sy groot lankmoedigheid teenoor die goddelose verstout hulle in hulle oortreding, maar hulle straf is desnieteenstaande nie minder gewis en verskriklik omdat dit lank uitgestel word nie. “Die Here sal Hom gereed maak soos by die berg Pérasim; Hy sal aanstorm soos in die dal van Gibeon om Sy werk te doen — vreemd is Sy werk!” (Jes. 28: 21). Vir ons genadige God is die uitoefening van straf ‘n vreemde daad. “Sowaar as Ek leef! spreek die Here HERE: Gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie” (Eseg.33:11). Die Here is “‘n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou. . . . Wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe.” Maar Hy sal die skuldiges “nooit ongestraf laat bly nie.” “Die Here is lankmoedig, maar groot van krag en nooit laat die Here ongestraf bly nie” (Exod. 34:6,7; Nahum1:3). Deur vreeslike dinge in geregtigheid sal die Here die gesag van Sy vertrapte wet wreek. Die ontsettende vergelding wat op die oortreder wag, blyk uit die Here se huiwering om die reg uit te voer. Die volk wat Hy lank verdra en wat Hy nie wil straf totdat die beker van hulle ongeregtigheid vol is nie; sal uiteindelik die beker van God se wraak moet drink wat ingeskink is sonder genade.

Wanneer Christus Sy voorbidding in die heiligdom staak, sal die wraak van God ongemeng uitgestort word op diegene wat die dier en sy beeld aanbid en sy merkteken ontvang. (Openb. 14:9,10.) Die plae wat Egipte getref het net voordat God Israel verlos het, stem ooreen met die nog verskrikliker en uitgebreider oordele wat die wêreld sal tref net voor die finale verlossing van God se volk. Waar Hy hierdie vreeslike gésels beskryf, sê Johannes: “Kwaai en bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het.” Die see “het bloed geword soos van ‘n dooie, en al die lewende wesens in die see het gesterwe.” Die riviere en die waterfonteine “het bloed geword.” Vreeslik soos hierdie strawwe is, is God se oordele volkome regverdig. Die engel van God het verklaar: “Ja, Here God, die Almagtige, waaragtig en regverdig is U oordele. Want hulle het die bloed van heiliges en profete vergiet, en U het vir hulle bloed gegee om te drink, want hulle het dit verdien” (Openb.16:2-6,8,9). Deur die volk van God op die aarde tot die dood te veroordeel, het hulle net so gewis die skuld op hulle hals gehaal asof hulle met hulle eie hande die bloed vergiet het. Net so ook het Christus die Jode van Sy tyd skuldig verklaar aan die bloed van al die heiliges wat vergiet is van die dae van Abel af; want hulle was besiel met dieselfde gees, en hulle het getrag om dieselfde werk te doen as die moordenaars van die profete.

In die plaag wat volg, word daar krag aan die son gegee “om mense met vuur te skroei. En die mense is geskroei met ‘n groot hitte” (Openb. 16:8). Die profete beskryf die toestand van die aarde gedurende daardie vreeslike tyd, as volg: “Die veld is verwoes, die aarde treur; . . . Al die bome van die land het verdor; want verwelk het die vreugde, weg van die mensekinders.” “Die graankorrels het weggekrimp onder die kluite, die voorraadkamers is verwoes. . . .Hoe sug die vee! Die troppe beeste is onrustig, want daar is geen weiveld vir hulle nie. . . . Die waterstrome het opgedroog, en ‘n vuur het die weivelde van die woestyn verteer.” “En die liedere van die paleis sal in die dag weeklaag, spreek die Here HERE: ‘n menigte lyke gooi hulle oral neer in stilte” (Joël 1:10-12, 17-20; Amos 8:3).

Die plae is nie algemeen nie, anders sou die aardbewoners almal uitgeroei word. Hulle is nogtans die vreeslikste gésels wat sterwelinge ooit geken het. Voor die afsluiting van die genadetyd, was al die oordele van God op die mense met genade vermeng. Die pleitende bloed van Christus het sondaars beskerm teen die volle straf op hulle sonde; maar in die eindoordeel word die grimmigheid van God uitgestort sonder genade.

In daardie dag sal menigtes smag na die genade van God wat hulle solank verag het. “Kyk daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek ‘n honger in die land stuur, nie ‘n honger na brood nie, en nie ‘n dors na water nie, maar om die woorde van die HERE te hoor. En hulle sal swerwe van see tot see en rondslinger van noord na oos om na die woord van die Here te soek, maar hulle sal dit nie vind nie” (Amos 8:11,12).

Die volk van God sal nie vry wees van lyding nie; maar hoewel hulle vervolg word en in ellende verkeer, en terwyl hulle ontberings sal ly en voedsel gebrek sal hê, sal hulle nie verlaat word om te sterf nie. Die God wat vir Elia gesorg het, sal nie een van Sy selfopofferende kinders verbygaan nie. Hy wat die hare van hulle hoof tel, sal vir hulle sorg; en in die tyd van hongersnood sal hulle versorg word. Terwyl die goddelose sterf van honger en die pes, sal engele die regverdiges beskerm en in hulle behoeftes voorsien. Aan hom wat in geregtigheid wandel is die belofte, “Sy brood word hom gegee, sy water is gewis.” “Die ellendiges en behoeftiges soek water, maar daar is nie; hulle tong verdroog van dors; Ek, die Here, sal hulle verhoor; Ek, die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie” (Jes. 33:15,16; 41:17).

“Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraalverdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie;” nogtans sal diegene wat die Here vrees “juig in God”—die God van hulle heil (Hab. 3:17,18).

Die Here is jou bewaarder; die Here is jou skaduwee aan jou regterhand. Die son sal jou bedags nie steek nie, nog die maan by nag. Die Here sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar.” “Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes. Hy sal jou dek met Sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; Sy trou is jou skild en pantser. Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie, vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie! Al val daar duisend aan jou sy en tienduisend aan jou regterhand — na jou sal dit nie aankom nie. Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien. Want U, HERE, is my toevlug. Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak. Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie” (Ps. 121:5-7; 91:3-10).

Uit ‘n menslike oogpunt beskou, sal dit lyk of die volk van God spoedig hulle getuienis met hulle bloed sal moet verseël net soos die martelare voor hulle. Selfs hulle begin vrees dat die Here hulle oorgelaat het aan die genade van hulle vyande. Dit is ‘n tyd van verskriklike sielsangs. Dag en nag roep hulle tot God om verlossing. Die goddelose is verheug en honend vra hulle, “Waar is nou julle geloof? As julle werklik God se volk is, waarom verlos Hy julle nie uit ons hande nie?” Maar hierdie wagtendes onthou hoedat Jesus aan die kruis van Golgota gesterf het, en hoedat die owerpriesters en owerstes spottend gesê het, “Ander het Hy gered, Homself kan Hy nie red nie. As Hy die Koning van Israel is, laat Hom nou van die kruis afkom, en ons sal in Hom glo” (Matt. 27:42). Soos Jakob, worstel almal met God. Die tekens van hulle innerlike stryd kan op hulle gelaat gesien word. Elke gesig is bleek. Maar nogtans hou hulle nie op met hulle smeking nie.

As die oë van die mense kon geopen word, sou hulle groepe magtige engele rondom diegene sien wat die woord van Christus bewaar het. Met medelydende teerheid het die engele hulle ellende gesien en hulle gebede gehoor. Hulle wag nou op bevel van hulle Aanvoerder om die mense uit hulle gevaar te red. Maar hulle moet nog ‘n bietjie langer wag. Die volk van God moet die beker drink, en met die doop gedoop word. Juis die talming wat vir hulle so swaar is, is die beste antwoord op hulle gebede. In hulle poging om met vertroue te wag op die Here om te werk, moet hulle hulle geloof, hoop, en lydsaamheid beoefen — dinge wat hulle so min beoefen het in hulle Christelike lewe. Maar vir die ontwil van die uitverkorenes sal die tyd van benoudheid verkort word. “Sal God dan nie reg doen aan Sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie? . . . Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen” (Lukas 18: 7,8). Die einde sal spoediger kom as wat die mense verwag. Die koring sal bymekaargemaak en in gerwe gebind word vir die skuur van God; die onkruid sal in bondeltjies gebind word vir die vure van verwoesting.

Die hemelse wagters, hou steeds getrou wag. Hoewel ‘n algemene dekreet die tyd bepaal het waarop die bewaarders van die gebooie gedood moet word, sal hulle vyande in sommige gevalle voorbarig optree en voor die bepaalde tyd probeer om die mense dood te maak. Maar nie een van hulle sal kan verbykom by die magtige wagters rondom elke gelowige siel nie. Sommige word aangeval terwyl hulle uit die stede en die dorpe vlug; maar die swaarde wat teen hulle opgehef word, sal verbreek word en soos ‘n strooitjie val uit die hande van diegene wat hulle hanteer. Ander word deur engele in die gedaante van krygsliede beskerm.

Deur die eeue heen het God deur heilige engele gewerk vir die bewaring en verlossing van Sy volk. Hemelse wesens het ‘n aktiewe rol gespeel in menslike sake. Hulle het verskyn in klere wat blink soos die weerlig; hulle het gekom in die vorm van manne gekleed as reisigers. Engele het in menslike gedaante verskyn aan die kinders van God. Hulle het, soos mense wat moeg is, in die middag koelte van akkerbome gerus. Hulle het die gasvryheid van mense aangeneem. Hulle het opgetree as gidse vir verdwaalde reisigers. Met hulle eie hande het hulle die vuur op die altaar aangesteek. Hulle het die deure van gevangenisse oopgemaak en God se diensknegte vrygestel. In die gewaad van die hemel het hulle gekom om die klip voor die Heilandse graf weg te rol.

In die vorm van mense verskyn engele dikwels op die byeenkomste van die regverdiges, ook besoek hulle vergaderings van die goddelose, soos byvoorbeeld toe hulle na Sodom gegaan het om aantekeninge te maak van die Sodomiete se dade ten einde vas te stel of hulle die grens van God se verdraagsaamheid oorskry het. Die Here het behae in genade; en vir die ontwil van die paar wat Hom in opregtheid dien, hou Hy rampe terug en Hy laat die vrede van die menigtes voortduur. Hoe min besef sondaars dat hulle hulle eie lewens te danke het aan die paar getroues wat hulle so graag bespot en verdruk.

Hoewel die regeerders van hierdie wêreld onbewus is daarvan, het engele dikwels in hulle raadsvergaderings opgetree as sprekers. Menslike oë het hulle gesien; menslike ore het geluister na hulle oproepe; menslike lippe het hulle voorstelle bestry en hulle raad verag; menslike hande het hulle beledig en mishandel. In die raadsaal en geregshowe het hierdie hemelse boodskappers ‘n intieme kennis aan die dag gelê van die menslike geskiedenis; hulle het bewys gelewer dat hulle beter in staat is om die saak van die verdruktes te bepleit as die bekwaamste en welsprekendste verdedigers. Hulle het planne in die war gestuur en onheile verhoed wat die werk van God baie sou benadeel, en groot lyding sou veroorsaak het aan Sy volk. In die uur van gevaar en ellende, trek die engel van die Here “‘n laerrond om die wat Hom vrees, en red hulle uit” (Ps. 34:8).

Verlangend wag God se volk op die tekens van hulle komende Koning. Waar daar aan die wagter gevra word, “Wat van die nag?” kom die antwoord, “Die môre kom, en ook die nag” (Jes. 21:11,12). Bokant die wolke op die bergtoppe breek die lig deur. Binnekort sal Sy heerlikheid geopenbaar word. Die Son van Geregtigheid sal gou in volle heerlikheid skyn. Die môre en die nag is op hande — die aanbreking van die eindelose dag vir die regverdiges, en die koms van die ewige nag vir die goddelose.

Waar die kinders van God in gebed met Hom worstel, skyn dit of die gordyn wat hulle van die onsienlike skei, byna weggetrek is. Die hemele gloei met die aanbreking van die ewige dag, en soos die melodie van engel liedere word die woorde gehoor, “Staan onwrikbaar in jou getrouheid. Hulp kom.” Christus, die almagtige Oorwinnaar, reik aan Sy afgematte soldate ‘n kroon van onverganklike heerlikheid, en Sy stem word gehoor deur die half-oop poorte: “Kyk, Ek is met julle. Moenie vrees nie. Ek is bekend met al julle droefheid; Ek het julle droefheid gedra. Julle veg nie teen onbekende vyande nie. Ek het die stryd vir julle gestry, en in My naam is julle meer as oorwinnaars.

Die dierbare Heiland sal hulp stuur juis wanneer ons dit nodig het. Die weg na die hemel is geheilig deur Sy voetspore. Elke doring wat ons voete steek, het Syne verwond. Elke kruis wat ons moet dra, het Hy reeds voor ons gedra. Die Here laat stryd toe om die siel te berei vir vrede. Die tyd van benoudheid is ‘n groot beproewing vir God se volk; maar dit is die tyd wanneer elke ware gelowige na bo moet kyk, sodat hy deur geloof die boog van belofte kan sien.

So sal dan die losgekooptes van die Here teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry; kommer en gesug vlug weg. Ek is dit wat julle troos! Wie is jy, dat jy bevrees is vir die mens wat moet sterwe, en vir die mensekind wat oorgegee word soos gras? Dat jy vergeet die Here wat jou gemaak het, . . . Dat jy gedurigdeur die hele dag bewe vir die grimmigheid van die verdrukker as hy dit daarop toelê om te verwoes? Waar is dan die grimmigheid van die verdrukker? Die geboeide word gou losgelaat en sal nie sterwend in die kuil neerdaal nie, en sy brood sal nie ontbreek nie. Maar Ek is die Here jou God wat die see in beroering bring, sodat Sy golwe bruis; Here van die leërskare is Sy Naam! En Ek het My woorde in jou mond gelê en in die skaduwee van My hand jou verberg" (Jes. 51: 11-16).

"Daarom hoor tog dit, ellendige, en jy wat dronk is, maar nie van wyn nie! So sê die Here, die Here, en jou God wat die saak van Sy volk verdedig: Kyk, Ek neem die beker van bedwelming uit jou hand, die kelk van My grimmigheid; jy sal dit verder nie meer drink nie. Maar Ek sal dit in die hand gee van die wat jou droefheid aandoen, wat vir jou gesê het: Buig, dat ons oor jou kan gaan; en jy moes jou rug maak soos die grond, en soos ‘n straat vir die wat daaroor gaan” (verse 21-23).

Die oog van God, deur die eeue heen kykende, is gevestig op die krisis waardeur Sy volk moet gaan wanneer aardse magte teen hulle sal opstaan. Soos ‘n banneling sal hulle ‘n honger dood en ‘n geweld dood vrees. Maar die Heilige wat die pad deur die Skelf See gemaak het vir Israel, sal Sy mag openbaar en hulle verlos. “Hulle sal My tot ‘n eiendom wees, sê die Here van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelyde hê soos ‘n man met sy seun wat hom dien, medelyde het” (Mal. 3: 17). As die bloed van Christus se getroue getuies in hierdie tyd moes vergiet word, sou dit nie soos die bloed van die martelare soos saad wees wat ‘n oes vir God sou afwerp nie. Hulle getrouheid sou nie getuig om ander van die waarheid te oortuig nie; want die verharde hart het die strome van genade so baie keer geweier dat hulle nooit meer sal terug kom nie. As die regverdiges nou die prooi sou word van hulle vyande, sou dit ‘n oorwinning wees vir die vors van duisternis. Die Psalmis sê, “Hy steek my weg in Sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van Sy tent; Hy verhef my op ‘n rots” (Ps. 27:5). En Christus sê: “Kom, My volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir ‘n klein oomblik totdat die grimmigheid verbygaan. Want kyk, die Here sal uit Sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor hulle te besoek” (Jes. 26:20,21). Heerlik sal die verlossing wees van diegene wat geduldig gewag het op Sy koms, en wie se name geskryf staan in die boek van die lewe.


Uittreksel uit "Die Groot Stryd" (Hoofstuk 39) - Laai die hele boek af in PDF formaat  (Oudio Hier)
 

"The Time of Jacobs's Trouble" - Pastor Stephen Bohr

Hoe moet ek my lewe inrig en lei om te deel in die vreugde wanneer Jesus terugkeer? ...