Toewyding: [Volgens die Verkladerende Afrikaanse Woordeboek is: "Die geheel en al gee aan die belange van iemand of 'n saak, toewyding, oorgawe."]

Die belofte van God is: “Julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.” Jer. 29:13. Die hele hart moet aan God oorgegee word, of ons sal nooit in Sy ewebeeld herskep kan word nie. Van nature is ons vervreemd van God. Die Heilige Gees beskryf ons toestand in die volgende woorde: “Dood deur die misdade en die sondes...” Efe. 2:1. “Die hele hoof is siek en die hele hart is krank. Daar is geen heel plek aan nie.” Jes. 1:5, 6. Ons is in die strikke van Satan gevang waarin ons gehou is “om sy wil te doen”. 2 Tim. 2:26.
God wil ons genees en vrymaak. Maar aangesien dit beteken dat ons heeltemal verander moet word, dat ons geheel en al herskep moet word, moet ons onsself heeltemal aan Hom oorgee. Die stryd teen self is die felste stryd wat nog ooit gestry is. Die oorgawe van self, die oorgawe van die wil aan God, is ’n stryd; maar die siel moet aan God oorgegee word voordat dit in heiligheid herskep kan word.

Die regering van God, soos Satan ons wil wysmaak, berus nie op blinde onderwerping nie, en ook nie in onredelike oorheersing nie. Dit doen ’n beroep op ons verstand en gewete. “Kom nou en laat ons die saak uitmaak” is die uitnodiging van die Skepper aan ons. Jes. 1:18.
God dwing nie die wil van Sy skepsels nie. Hy kan nie aanbidding aanvaar wat nie bereidwillig en op intelligente wyse geskied nie. Gedwonge onderwerping sal die ware ontwikkeling van hart en karakter verhinder; dit sal van die mens ’n blote outomaat maak, en dis nie die doel van die Skepper nie. Hy verlang dat die mens, die pronkstuk van die skepping, die hoogs moontlike ontwikkeling sal bereik. Hy stel ons voor die hoë doel wat Hy deur Sy genade vir ons wil bereik. Hy versoek ons om onsself aan Hom oor te gee sodat Hy Sy wil in ons kan volbring. Ons moet self besluit of ons van die sonde vrygestel wil wees om die heerlike vryheid van die seuns van God deelagtig te word.

In ons oorgawe aan God moet ons noodwendig alles prysgee wat ons van Hom kan skei. Daarom sê die Heiland: “So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, My dissipel wees nie.” Luk. 14:33. Alles wat ons toewyding aan God kan verhinder moet afgelê word. Mammon is die afgod van baie mense. Liefde vir geld, die hunkering na rykdom, is die goue ketting wat hulle aan Satan bind. Reputasie en wêreldse eer word weer deur ’n ander klas aanbid. ’n Lewe van selfsugtige gemak sonder verantwoordelikheid is die afgod van ander. Maar al hierdie slaafse bande moet verbreek word. Ons kan nie aan God en ook aan die wêreld behoort nie. As ons nie aan God behoort nie, is ons nie Sy kinders nie. Daar is diegene wat voorgee om God te dien, terwyl hulle op hulle eie krag staatmaak om Sy wet te gehoorsaam, onselfsugtig karakters te vorm en die saligheid deelagtig te word. Hulle harte is nie verander deur die liefde van Christus nie, maar hulle probeer om die pligte van die Christelike lewe na te kom as iets wat God deur Sy genade van hulle verwag om die hemel te verdien. Sulke godsdiens beteken niks. As Christus in die hart woon sal die siel so vol van Sy liefde, en so vol van die vreugde van gemeenskap met Hom wees, dat hy aan Hom sal vaskleef. Deur Hom te aanskou, sal self vergeet word. Liefde vir Christus sal die dryfveer wees van alle dade. Diegene wat die dringende liefde van God ondervind, vra nie hoe min hulle moet gee om aan die eise van God te voldoen nie; hulle vra nie wat is die laagste peil nie, maar streef daarna om volkome volgens die wil van hulle Verlosser te lewe. Met die grootste bereidwilligheid gee hulle alles oor, en hulle belangstelling is volgens die waarde van die doel wat hulle nastreef. ’n Belydenis van Christus, sonder hierdie groot liefde, is sommer net woorde, nuttelose vormdiens en slawerny.

Voel u dat dit ’n te groot opoffering is om alles aan Christus oor te gee? Stel uself die vraag: “Wat het Christus vir my gegee?” Die Seun van God het alles gegee; Hy het gely, Sy lewe en liefde gegee, vir ons verlossing. En kan dit wees dat ons, onwaardige voorwerpe van so ’n groot liefde, ons harte aan Hom sal weier? Elke oomblik van ons lewe, deel ons in die seëninge van Sy genade; en dis juis om hierdie rede dat ons nie die dieptes van onkunde en ellende kan besef waarvan ons verlos is nie. Kan ons Hom aanskou wat as gevolg van ons sondes deurboor is, en nogtans Sy liefde en opoffering versmaai? As ons dink aan die groot vernedering wat die Here van die heerlikheid moes ondergaan, sal ons dan nog kla omdat ons die ewige lewe moet ingaan deur stryd en selfvernedering? Menige trotse hart vra: “Waarom moet ek my verootmoedig en verneder voordat ek die versekering kan hê dat God my aangeneem het?” Ek wys u op Christus. Hy was sondeloos, en nog meer, Hy was die Vors van die hemel; maar nogtans het Hy die sonde van die mensdom op Hom geneem. “Hy was saam met die oortreders getel, terwyl Hy die sonde van baie gedra het en vir die oortreders gebid het.” Jes. 53:12.

Maar wat gee ons as ons alles gee? Net ’n sonde-besoedelde hart vir Jesus om deur Sy eie bloed te reinig en deur Sy grenslose liefde te red. En nogtans dink die mens dat dit swaar is om alles prys te gee! Ek skaam my om dit te hoor en ek is skaam om dit neer te skryf. God verwag nie dat ons enigiets sal prysgee wat vir ons goed is nie. In al Sy handelinge dra Hy ons belange op die hart. Ek wens dat almal wat Christus nog nie aangeneem het nie, kon besef dat Hy iets oneindig beter het om te gee as wat hulle vir hulself soek. Wanneer die mens teenstrydig met die wil van God dink en optree, berokken hy homself onberekenbare skade. Geen vreugde kan gevind word op die weg wat verbied is deur die Een wat beter weet as ons en wat gedurig die beste vir Sy skepsels soek nie. Die weg van die oortreder is die weg van ellende en die dood.

Ons begaan ’n fout as ons dink dat God daarin behae skep om Sy kinders te sien ly. Die ganse hemel stel belang in die geluk van die mens. Ons hemelse Vader versper nie die weg van vreugde vir Sy skepsels nie. God wil slegs hê dat ons die dinge sal vermy wat lyding en teleurstelling veroorsaak en wat die deur van geluk en die hemel vir ons sal sluit. Die Verlosser van die wêreld neem sondaars aan soos hulle is, met al hulle behoeftes, gebreke en swakhede; en Hy is nie slegs gewillig om van sonde te reinig en verlossing deur Sy bloed te skenk nie, maar Hy sal voldoen aan die begeertes van almal wat bereid is om in Sy juk te trek en Sy las te dra. Dit is Sy doel om rus en vrede te skenk aan almal wat na Hom kom vir die brood van die lewe. Hy verwag dat ons net daardie dinge sal doen wat ons groter geluk sal verseker - iets wat ongehoorsaamheid nooit aan ons sal kan gee nie. Die ware vreugde van die siel is om Christus gestalte te laat kry in die hart - Christus die hoop op die heerlikheid.

Baie vra: “Hoe moet ek myself aan God oorgee?” U begeer om uself aan Hom te gee, maar u is swak, ’n slaaf van onsekerheid, en sondige gewoontes wat die oorhand kry. U beloftes en voornemens is waardeloos. U kan u gedagtes en drifte en luste nie beheers nie. Die gedagte aan u gebroke beloftes en geloftes wat u nie nagekom het nie, verswak u geloof in u eie opregtheid, en laat u voel dat God u nie sal aanneem nie, maar u hoef nie moedeloos te word nie. Wat u nodig het, is om die ware krag van die wil te besef. Dit is die heersende krag in die hart van die mens; dit laat hom besluit en kies. Alles hang af van die regte gebruik van die wil. God het aan alle mense die vermoë gegee om te kies; hulle moet daardie krag beoefen. U kan u hart nie verander nie, u kan God nie uit u eie liefhê nie; maar u kan kies om Hom te dien. U kan u wil aan Hom onderwerp; Hy sal dan in u werk om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae. Op hierdie manier sal u hele natuur onder die beheer van die Gees van Christus kom; u liefde sal in Hom sy middelpunt vind en u gedagtes sal in ooreenstemming met Hom wees.

Om te verlang om goed en heilig te wees, is goed in ’n sekere mate; maar as u daar ophou, sal dit niks baat nie.
Baie wat maar net verlang en gehoop het om Christene te word, sal verlore gaan. Hulle het nooit by die plek gekom waar hulle hulself oorgee aan die wil van God nie. Hulle kies nie om Christene te wees nie. Deur die regte beoefening van u wil kan u hele lewe verander word. Deur u wil aan Christus oor te gee, verbind u uself met ’n mag wat sterker is as al die owerhede en magte. U sal krag van omhoog ontvang om u standvastig te maak, en dus sal u, deur ’n gedurige oorgawe aan God, in staat gestel word om die nuwe lewe te leef, ja die lewe van geloof.

Bron: Uittreksel uit "Skrede na Christus", hoofstuk 5 (E G White).

Hoe moet ek my lewe inrig en lei om te deel in die vreugde wanneer Jesus terugkeer? ...