top of page

Elk van God se Morele wette word op verskeie maniere in die samelewing vertrap en verbreek. Oortree ons een wet dan oortree ons al 10 gelyktydig volgens Jakobus 2:10: "Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword."

 

Terwyl ons Jesus Christus se genade, vergifnis en se geregtigheid nodig het om die ewige lewe te kan beerwe, is dit Christus se uitgesproke wil (Mat 5:17-19; Joh 14:15) dat diegene wat Hom as Verlosser en Koning aangeneem het Hom sal gehoorsaam wees uit eerbied, ontsag, respek, maar veral as 'n daad van liefde. Dit beteken dat ons Sy Morele wet sal wil eerbiedig uit 'n hart van ewige dankbaarheid. Dit beteken dat geen van Sy 10 Morelete wette moedswillig gebreek mag word nie.

 

God se Teëstander is van die vroegste tye besig om die mensdom te mislei weg van God se direkte wil af. Van die tyd dat die "Mens van Sonde" (2 Thessalonicense 3) op die toneel gekom het het hy dit reg gekry dat God se Rusdag Gebod (4de Gebod) op verskeie maniere oortree en vertrap word. Ons sonder hier dus die 4de Gebod af omdat dit (verkeerdelik) die aanvaarde Gebod is wat afgeskaf en uitgedien is.

 

Kyk wat maak die mensdom met dit wat God as perfek en heilig (eenkant / afgesonder) verklaar:

“Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie — jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.”

Gelowiges wat God gehoorsaam, wat Hom genoegsaam eer en daarom hulself aan Sy gesag onderwerp, word in die laaste boek van die Bybel, Openbaring, beskryf as "heiliges" wat "...Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar." Openb 14:12 en ook "Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad." Openb 22.14

Kyk mooi, die heiliges wat die wenpaal bereik, en die ewige lewe beerwe se lewens getuig van reddende geloof deur hul gehoorsaamheid aan God se gebooie. (Gehoorsaamheid is 'n vrug wat getuig van God se reddende krag in die gelowige se lewe. Gelowiges word nie deur gehoorsaamheid gered nie maar is gehoorsaam juis omdat hulle deur Christus, uit genade en deur geloof alleen gered is.)

 

Met die Vierde Gebod toets God sy volgelinge om daardeur hulle liefde teenoor God te bewys. Jesus Christus sê duidelik: "As julle My liefhet, bewaar my gebooie." Joh 14:15. Wie God liefhet sal Sy gebooie bewaar (gehoorsaam). Wie God liefhet wil vry wees van hulle sondige lewe en wil Hom liefhê uit hul hele hart en uit hul hele siel en uit hul hele krag en hele verstand (Lukas 10:27), en vir hulle gaan God teen die einde van tyd kom verseël met Sy Merk.


En ek het 'n ander engel sien opkom van die opgang van die son, met die seël van die lewende God; en hy het met 'n groot stem geroep na die vier engele aan wie dit gegee is om die aarde en die see te beskadig en gesê:  Moenie die aarde of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van onse God op hulle voorhoofde verseël het nie.” Openb 7:2,3

Bestudeer verder en verstaan hierdie belangrike seël van die lewende God waarmee God se engel Sy diensknegte gaan kom verseël (of "merk"). Daar is baie misleidings en misverstand rondom hierdie seël. Jou ewigheid hang daarvan af. 

Bestudeer Hoe om Jesus se Sewendedag Rusdag te vier.

bottom of page