top of page

27. HOE OM JESUS SE SEWENDEDAGSABBAT TE VIER
 
DIE INDELING VAN DIE WEEK


Ex 20: 8-11

“Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig.  Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewendedag is die Sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie - jy of jou seun of jou dogter of jou dienskneg of jou diensmaagd of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie.  Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewendedag het Hy gerus.  Daarom het die Here die sabbatdag geseën en dit geheilig. ”

Die rede vir die bestaan van die sewendedag, is die skepping. God het ‘n sewe dae siklus vir die aarde ingestel, tydens die skepping. Daar is ses dae in die week gegee waarin ‘n mens werk mag verrig, maar die sewende dag, is “die Sabbat van die Here jou God.” Die dag se naam is “Sabbat” en beteken “rus.”  

Die eerste woorde wat God uiter omtrent die Sabbat, in die Sedewet, is dat ons dit moet gedenk. Om te “gedenk,” beteken “om te onthou.” Wat moet ons onthou, en waarom? God as Skepper het die dag opsy gesit as ‘n gedenkteken van die Skepping en van Sy eienaarskap oor alles wat Hy geskep het, ons as mens, inkluis. God het die Sabbat geseën en geheilig. Om te “heilig,” beteken om “opsy te sit vir ‘n spesiale en goddelike doel.” Volgens God se bevel, mag ‘n mens nie op die Sabbatdag enige werk verrig nie, want om te werk is om die doel van die Sabbat te mis.

Lev 23:3

“Ses dae lank kan werk gedoen word, maar op die sewende dag is dit ‘n dag van volkome rus, ‘n heilige vierdag; géén werk mag julle doen nie - dit is ‘n sabbat van die Here in al julle woonplekke.”
 
Die Skepper maak dit duidelik dat ‘n mens ses dae het, waarin jy al jou werk moet doen. Die sewendedag Sabbat is nie ‘n dag vir los tuinwerkies om die huis nie, nee, dit is ‘n dag van volkome rus! Dit is ‘n vierdag, ‘n spesiale vakansiedag elke sewendedag van die week, wat God opsy gesit het om te rus! God wil aan ons tyd gee om oor Hom as Skepper en Onderhouer van die aarde te dink. God is jaloers. Hy wil nie verdeelde aandag hê nie - of alles of niks!

Luk 23:54-56

“En dit was die dag van voorbereiding, en die sabbat wou aanbreek.  En die vroue wat saam met Hom van Galiléa gekom het, het ook gevolg en die graf gesien en hoe sy liggaam neergelê was.  Daarop het hulle teruggegaan en speserye en salf berei en op die sabbat gerus volgens die gebod.”

Die eerste vyf dae in die week, volgens die Bybel, word getalle dae genoem, 1ste, 2de, 3de, 4de, en 5de dag.  Die 6de dag word altyd die Voorbereidingsdag genoem. Die Voorbereidingsdag word so genoem omdat dit die dag is waarop alle voedsel voorberei word, en werk afgehandel word, voor die Sabbat van die Here aanbreek.  Die 7de dag word God se Sabbatdag genoem. Let op, die dag word nêrens in die Bybel die “Joodse Sabbat” genoem nie!

Luk 24:1

“En baie vroeg in die môre, op die eerste dag van die week, het hulle en ander saam met hulle by die graf gekom en die speserye gebring wat deur hulle toeberei was.”

Volgens die Bybel, was die opstandingsdag van Jesus steeds beskou as net die 1ste werksdag van die week. Daar was geen spesiale seën oor die dag uitgestort of oorgedra, met Jesus se opstanding nie. Die boek Lukas is ± 61 nC. geskryf en meld geen viering van 1ste dag van die week, as opstandingsdag nie. Die 1ste dag van die week (algemeen bekend as Sondag) was ‘n gewone werksdag, soos al die ander getalle dae van die week.

DIE DAG VAN VOORBEREIDING

Mark 15:42

“En toe dit aand geword het, omdat dit die voorbereiding was, dit is die voorsabbat...”
 
Slegs die 6de en 7de dae van die week het name gehad in die tyd van die Israeliete en die vroeë Christene van die Ou en Nuwe Testament. Die dag wat ons algemeen ken as Vrydag, was aan die Jode en vroeë Christene bekend as die “Voorsabbat,” die dag voor die heilige Sabbat van die Here.

Luk 23:54-56; 24:1

“En dit was die dag van voorbereiding, en die sabbat wou aanbreek.  En die vroue wat saam met Hom van Galiléa gekom het, het ook gevolg en die graf gesien en hoe sy liggaam neergelê was.  Daarop het hulle terug gegaan en speserye en salf berei en op die sabbat gerus volgens die gebod.  En baie vroeg in die môre, op die eerste dag van die week, het hulle en ander saam met hulle by die graf gekom en die speserye gebring wat deur hulle toeberei was.”

Die dag waarop Jesus gekruisig was, was genoem: “die dag van voorbereiding.” Die 6de dag van die week (die dag wat aan ons bekend is as Vrydag) het die Jode in Jesus se tyd geken as die dag van voorbereiding vir die Sabbat van die Here.

Selfs die balseming van ‘n dooie, wat ons sou beskou as ‘n belangrike taak, word nie op die Sabbat toegelaat nie, volgens die gebod van die Here. Hierdie was nie ‘n Farisese stipulasie nie, maar ‘n direkte bevel van die Here Self in die vierde gebod van die Sedewet. Selfs balseming moet wag tot ná die Sabbat verby is. (Om te dink, daar was nie koelkamers, soos vandag nie)

Ex 16:3-31

“Toe sê die Here vir Moses : Kyk, Ek sal vir julle brood uit die hemel laat reën; dan kan die volk uitgaan en die dagmaat van elke dag insamel, sodat Ek hulle kan beproef, of hulle in my wet wandel of nie.  En op die sesde dag, as hulle berei wat hulle inbring, sal dit dubbel soveel wees as wat hulle daagliks insamel. ...Daarop sê Moses : Dit sal gebeur as die Here julle in die aand vleis gee om te eet en in die môre volop brood, omdat die Here julle murmureringe hoor wat julle teen Hom murmereer. ...Ek het die murmureringe van die kinders van Israel gehoor; spreek met hulle en sê: Teen die aand sal julle vleis eet en in die môre met brood versadig word; en julle sal weet dat Ek die Here julle God is.  En in die aand het daar kwartels opgekom en die laer oordek.  En in die môre was daar ‘n doulaag rondom die laer.  En nadat die doulaag opgetrek het, het daar oor die woestyn iets gelê wat fyn en korrelrig was, fyn soos ryp op die grond...   Daarop sê Moses vir hulle : Dit is die brood wat die Here julle gee om te eet.  Dit is die saak wat die Here beveel het: Samel daarvan in, elkeen na sy behoefte: ‘n gomer vir elke persoon volgens julle sieletal; elkeen moet dit neem vir die wat in sy tent is.  En die kinders van Isreal het so gedoen: hulle het ingesamel. Die een baie en die ander min.  Maar toe hulle dit met die gomer meet, het hy wat baie ingesamel het, niks oorgehad nie; en hy wat min ingesamhel het, nie te min nie.  Elkeen na sy behoefte het hulle ingesamel.  En Moses het vir hulle gesê: Niemand moet daarvan laat oorbly tot môre toe nie.  Maar hulle het nie na Moses geluister nie: sommige het daarvan laat oorbly tot die môre toe.  Toe kom daar wurms in en dit bederwe.  Daarom het Moses baie kwaad geword vir hulle.  En hulle het dit môre vir môre ingesamel, elkeen na sy behoefte; en as die son warm word, smelt dit weg.  En op die sesde dag het hulle ‘n dubbele porsie brood ingesamel, twee gomers vir elkeen.  En al die owerstes van die vergadering het gekom en dit aan Moses vertel.  Toe sê hy vir hulle: Môre is dit rusdag, ‘n heilige sabbat van die Here.  Wat julle wil bak, bak dit; en wat julle wil kook, kook dit; en bêre tot die môre toe.  En hulle het dit gebêre tot die môre toe, soos Moses beveel het; en dit het nie bederwe nie, en daar het geen wurms in gekom nie.  Toe sê Moses: Eet dit vandag, want dit is vandag die sabbat van die Here.  Vandag sal julle dit nie in die veld kry nie.  Ses dae lank moet julle dit insamel, maar op die sewende dag is dit sabbat en dan sal dit daar nie wees nie.  En op die sewende dag het van die mense uitgegaan om in te samel, maar hulle het niks gekry nie.  Toe sê die Here vir Moses: Hoe lank weier julle om my gebooie te onderhou?  Kyk, omdat die Here julle die sabbat gegee het, daarom gee Hy julle op die sesde dag brood vir twee dae.  Laat elkeen bly waar hy is; laat niemand op die sewende dag van sy woonplek af weggaan nie.  So het die volk dan op die sewende dag gerus.”

Voor die volk van Israel nog by Sinai gekom het, het Hy alreeds Sy heilige Sabbat aan hulle bekend gemaak. Die Sabbat was ‘n toets vir die volk, om te sien of hulle aan Sy Gebooie gehoorsaam sou wees. Net soos die moderne mens, het die Israeliete ook nie die erns van Sabbatsonderhouding ingesien nie. Nou, aan die einde van die wêreld se geskiedenis, het die Sabbat weer die toets van getrouheid en gehoorsaamheid geword. Gaan ons die toets deurstaan, of gaan ons die res van die wêreld navolg in sonaanbidding op die Pouslike Sondag - die dag van Satan die draak.

God moes sy volk leer wat die betekenis van die Sabbat eintlik behels - rus! Rus van álle daaglikse werk, selfs om te bak en te kook! Watter ma rus ooit wanneer dit by voorbereiding van drie maaltye per dag kom. Moeders, hier is ‘n geheim wat die Here aan u bied. Kook en bak en brou dubbel soveel op die voorbereidingsdag (6de dag, Vrydag), dan hoef selfs jy nie te werk op die heilige Sabbat van die Here (die sewendedag, Saterdag), nie. Dieselfde beginsel wat vir Israel van ouds getel het, het nog nooit verander nie (Ex 16:23). God is, en bly steeds die Skepper van hemel en aarde, en daarom sal die onderhouding van God se Sabbat ook nie verander nie. Soos God die manna vars gehou het vir twee dae, sal die Here vandag steeds die voedsel vars hou vir twee dae (ons het darem yskaste en vrieskaste - Israelitiese moeders het nie sulke luukshede gehad nie).

God moes Israel weer die ritme van die sewedae siklus van die week aanleer, ná hulle in Egipte in afgodery verval het. Egipte was ‘n land wat Sonaanbidding voorgestaan het, met die eerste dag van die week as aanbiddingsdag.

Deur manna net op die ses werksdae van die week te laat val, (en op die sesde dag, ‘n dubbel porsie), het die Here Israel in ritme met die res van die heelal gebring. Vir 40 jaar het die Here Israel die siklus van die week ingedril, sodat hulle vandag nog steeds as getuie vir die wêreld kan dien, van watter dag die sewendedag of Sabbat van die Here is.
 
Gen 1:31, 2:1-3

“Toe sien die God alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.  En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.  So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag.  En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het.”

Die Bybel se siklus en die van die moderne en afvallige mens, is nie dieselfde nie. Ons bereken middernag as die begin van die volgende dag. M.a.w. Saterdagnag 12:00 (middernag) breek Sondag aan. Tydens die skeppingsverhaal maak die Here dit egter duidelik dat Hy van aand tot aand bereken, wanneer die volgende dag begin. Volgens die Here het die vorige aand alreeds die begin van die volgende dag, beteken. Dus, as dit Vrydaggaand is, is dit alreeds Saterdag, volgens God se berekening. Anders gestel, sodra dit aand word op ‘n Vrydag (die Voorbereidingsdag / Voorsabbat) dan breek die Sabbat aan en dit bly Sabbat, tot die volgende aand, met die aanbreek van die 1ste dag van die week (die dag wat ons as Sondag ken). Let op hoe die Here selfs die onderhouding van die seremoniele sabbatte beskou het:

Lev 23:32

“‘n Dag van volkome rus moet dit vir julle wees, en julle moet jul verootmoeding.  Op die negende van die maand in die aand, van aand tot aand moet julle sabbat hou.”

Dit maak nie saak na watter dag van die week ons wil verwys nie, of dit nou ‘n seremoniele sabbat, enige werksdag, of die Heilige Sabbat van die Here wat weekliks geskied nie, God bereken die dae van aand tot aand. Weens die afvalligheid van die wêreld na die sonde en misleiding van die Pousdom, bereken die res van die wêreld, hulle dae vanaf middernag. Maar God vra van sy getroue kinders, om die Sabbat van aand tot aand te vier, in eerbied aan Hom wat ons geskape en verlos het. Wie het die meeste gesag, God, die Skepper van Hemel en aarde, of die wêreld? God het! Is jy ‘n kind van God? Natuurlik! Jy het Jesus Christus dan deur die geloof aangeneem as jou persoonlike Verlosser en Saligmaker! Volg Hom dan na.

 

Gaan na die volgende studie:  WAT LAAT DIE HERE MY NIE TOE OM OP DIE SABBAT TE DOEN NIE?

bottom of page