God se Volk Verlos -

Wanneek die beskerming van menslike wette onttrek sal word aan diegene wat God se wet eer, sal daar in verskillende lande ‘n gelyktydige beweging vir hulle vernietiging wees. Namate die tyd van die dekreet nader, sal die mense saamsweer om die gehate sekte met wortel en tak uit te roei. Daar sal ‘n besluit geneem word om in een nag ‘n beslissende slag te slaan wat die stem van afkeuring en bestraffing vir ewig sal stilmaak.

Die volk van God, sommige in gevangenisse en sommige in eensame skuilplekke in die bosse en berge, sal nog om goddelike beskerming smeek, terwyl gewapende manne, aangehits deur leërskare van bose engele, aan alle kante klaarmaak vir hulle werk van vernietiging. Dit is nou, in die uur van hulle benoudheid, dat die God van Israel tussenbei tree om Sy uitverkorenes te verlos. Die Here sê: “Liedere sal julle sing soos in die nag as fees gevier word, en vrolik wees van hart soos die wat met die fluite loop, om te kom op die berg van die Here, na die Steenrots van Israel. En die Here sal Sy stem vol majesteit laat hoor en die neerdaling van Sy arm laat sien, met grimmige toorn en die vlam van ‘n verterende vuur, storm en stortreën en haelkorrels.” Jes.30: 29,30.

Met triomfkrete, spotredes en verwensings, begin skares van bose mense afstorm op hulle prooi; maar skielik word die aarde oorval met ‘n stikdonkerheid wat donkerder is as die donkerste nag. Daarna word daar ‘n reënboog gesien in die lug, blinkende met die heerlikheid van die troon van God, en dit skyn asof dit elke biddende groep omring. Die bose skare staan skielik stil. Hulle spottende stemme sterf weg. Die voorwerpe van hulle haat word vergeet. Met ontsettende voorgevoelens aanstaar hulle die simbool van God se verbond, en hulle een begeerte is om beskerm te word van die oormeesterende glans daarvan.

God se volk hoor ‘n stem, duidelik en welluidend wat sê, “Kyk op,” en hulle oë na die hemel opheffende, sien hulle die boog van belofte. Die grimmige swart wolke wat die uitspansel bedek het, gaan oop, en soos Stefanus kyk hulle op na die hemel en hulle sien die heerlikheid van God, en die Seun van die mens sittende op Sy troon. In die goddelike vorm sien hulle die merke van Sy vernedering; en van Sy lippe verneem hulle die versoek wat Hy rig aan Sy Vader en voor die heilige engele, “Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees.” Joh.17:24. Weer word daar ‘n stem gehoor, welluidend en oorwinnend, wat sê: “Hulle kom! Hulle kom! Heilig, argloos, en onbesoedeld. Hulle het die woord van My lydsaamheid bewaar; hulle sal onder die engele wandel;” en die bleek bewende lippe van diegene wat hulle geloof vasgehou het hef die oorwinningskreet aan.

Dit is middernag wanneer God Sy krag openbaar vir die verlossing van Sy volk. Die son verskyn in sy volle krag. Tekens en wonders volg vinnig op mekaar. Met vrees en verbasing aanskou die goddelose die toneel, terwyl die regverdiges met heilige vreugde die tekens van hulle verlossing sien. Dit skyn of alles in die natuur ontwrig is. Riviere vloei nie meer nie. Swaar donker wolke kom op, en hulle bots met mekaar. Maar in die middel van die onstuimige hemele is daar een helder oop plek van onbeskryflike heerlikheid, waaruit die stem van God gehoor word soos die geraas van baie waters, wat sê, “Dit is verby!” Openb.16:17.

Die stem skud die hemele en die aarde. Daar kom ‘n magtige aardbewing, “soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde is nie — so ‘n geweldige groot aardbewing.” Openb.16:18. Dit skyn of die uitspansel oop en toe gaan, en asof die heerlikheid van die troon van God daar deur blits. Die berge skud soos ‘n riet wat deur die wind beweeg word, en geskeurde rotse val aan alle kante. Daar word ‘n gedreun gehoor soos van ‘n geweldige wind. Die see bruis. Die gedruis van ‘n rukwind word gehoor soos die stemme van demone op hulle vernietigingswerk. Die aarde beweeg op en neer soos die bare van die see. Die oppervlakte daarvan breek op; dit skyn of die fondamente wegsak. Bergkettings sak weg. Bewoonde eilande verdwyn. Die hawestede wat soos Sodom geword het weens hulle goddeloosheid, word opgeswelg deur die woeste waters. Die grote Babilon is in gedagtenis voor God gebring, “om haar te gee die beker van die wyn van die grimmigheid van Sy toorn.” Openb.16:19,21. Groot haelstene van omtrent ‘n talent in gewig doen hulle vernietigings werk. Die trotsste stede van die aarde word verwoes. Die heerlike paleise waaraan die groot manne van die wêreld hulle rykdom bestee het om hulleself te verheerlik, lê in puin voor hulle oë. Gevangenis mure val om, en God se volk wat daar opgesluit was vir hulle geloof, word vrygestel.

Grafte word geopen, “en baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.” Dan.12:2. Almal wat in geloof in die derde engel se boodskap gesterf het, kom verheerlik voort uit die graf om God se verbond van vrede te hoor met diegene wat Sy wet onderhou het. “Ook hulle wat Hom deursteek het,” diegene wat Christus bespot en uitgeskel het in Sy doodsangs, en die geweldigste teenstanders van Sy waarheid en Sy volk, word opgewek om Hom in Sy heerlikheid te sien, en om die eer te aanskou wat die getroues en gehoorsames ontvang. (Openb.1:7.)

Donker wolke bedek nog die lug; maar die son breek nou en dan deur, en dit lyk soos die wraaknemende oog van Jehova. Kwaai blitse omhul die aarde in vuurvlamme. Bokant die vreeslike gedonder, word stemme, geheimsinnig en vreeslik, gehoor wat die verdoemenis van die goddelose uitspreek. Die woorde wat gespreek is word nie deur almal verstaan nie; maar hulle word duidelik verstaan deur die valse leraars. Diegene wat nog ‘n rukkie tevore so onverskillig, grootpraterig, en uitdagend was, en wat hulle so verheug het in hulle wreedheid teenoor God se gebooie bewarende volk, is nou oorweldig deur ‘n verskriklike, ontsettende vrees. Bokant die gedreun van die elemente, word hulle angskrete gehoor. Demone erken die godheid van Christus, en hulle bewe voor Sy mag, terwyl mense in die grootste vrees neerval en om genade smeek.

Toe hulle in ‘n heilige gesig die dag van God gesien het, het die profete van ouds dit as volg beskryf: “Huil julle, want die dag van die Here is naby; Hy kom as ‘n verwoesting van die Almagtige.” Jes.13:6. “Gaan in die rots en steek jou weg in die grond vanweë die skrik van die Here en om die heerlikheid van Sy majesteit ontwil. Die hoë oë van die mense sal verneder word, en die hoogheid van die manne neergebuig word; en die Here alleen sal in die dag verhewe wees. Want ‘n dag is daar vir die Here van die leërskare oor al wat trots en hoog is, en oor al wat verhewe is, sodat dit verneder kan word.” “In die dag sal die mens sy silwer afgode en sy goue afgode wat hy vir hom gemaak het om voor neer te buig, weggooi vir die molle en die vlermuise; om te gaan in die skeure van die rotse en in die klowe van die kranse vanweë die skrik van die Here en om die heerlikheid van Sy majesteit ontwil, as Hy Hom klaarmaak om die aarde te verskrik.” Jes.2:10-12,20,21.

Deur ‘n opening in die wolke skyn daar ‘n ster waarvan die glans viermaal vermeerder is in teenstelling met die duisternis. Dit spreek van hoop en vreugde tot die getroues, maar van hardheid en wraak teen die oortreders van God se wet. Diegene wat alles opgeoffer het vir Christus is nou veilig, weggesteek in die skuilplek van die Here se tent. Hulle is getoets, en voor die wêreld en die veragters van die waarheid het hulle hulle getrouheid getoon aan Hom wat vir hulle gesterf het. Daar het ‘n wonderbaarlike verandering gekom oor diegene wat hulle opregtheid gehandhaaf het in die teenwoordigheid van die dood. Hulle is skielik verlos van die donkerheid en die verskriklike tirannie van mense wat in demone verander is. Hulle aangesigte, wat kort gelede nog so bleek, angstig, en vervalle was, straal nou van verbasing, geloof, en liefde. Hulle sing ‘n oorwinningslied: “God is vir ons ‘n toevlug en ‘n sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef. Daarom sal ons nie vrees nie, al wankel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see. Laat sy waters bruis, laat hulle skuim; laat die berge bewe deur sy verheffing.” Ps.46:2-4.

Terwyl hierdie woorde van heilige vertroue opstyg tot God, open die wolke en die sterrehemel word gesien, onuitspreeklik heerlik in teenstelling met die swart en toornige uitspansel aan albei kante. Die heerlikheid van die Godstad stroom deur die halfoop poorte, en in die lig verskyn daar ‘n hand wat twee kliptafels wat toegevou is, vashou. Die profeet het gesê, “Die hemele verkondig Sy geregtigheid, want God staan gereed om te oordeel.” Ps.50:6. Daardie heilige wet, God se geregtigheid, wat te midde van donder en bliksem as lewensreël op Sinai verkondig is, word nou aan die mense geopenbaar as die maatstaf van die oordeel. Die hand vou die tafels oop, en die gebooie van die Dekaloog staan daar geskryf soos met ‘n pen van vuur. Die woorde is so duidelik dat alle mense hulle kan lees. Dit kom in herinnering, die duisternis van bygeloof en dwaalleer word weggeveeg uit alle harte, en God se tien woorde, kort en bondig en gesaghebbend, word geopenbaar aan al die aardbewoners.

Dit is onmoontlik om die verskrikking en wanhoop te beskryf van diegene wat God se heilige gebooie vertrap het. Die Here het Sy wet aan hulle gegee; hulle kon hulle karakters daaraan getoets en die gebreke gesien het terwyl daar nog geleentheid was vir bekering en hervorming; maar om die guns van die wêreld te win, het hulle die gebooie verwerp en ander geleer om ook te oortree. Hulle het pogings aangewend om God se volk te dwing om Sy Sabbat te ontheilig. Nou staan hulle veroordeel deur daardie wet wat hulle verag het. Met ontsettende helderheid besef hulle dat hulle sonder verskoning staan. Hulle het gekies wie hulle wou dien en aanbid. “Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie.” Mal.3:18.

Die vyande van God se wet, van die predikante tot by die minste onder hulle het nou ‘n nuwe begrip van waarheid en plig. Te laat sien hulle dat die Sabbat van die vierde gebod die seël van die lewende God is. Te laat besef hulle die ware aard van hulle valse sabbat, en die fondament van sand waarop hulle gebou het. Hulle ontdek dat hulle teen God geveg het. Godsdienstige leiers het siele tot die verderf gelei terwyl hulle voorgegee het om hulle na die poorte van die Paradys te lei. Eers in die dag van finale afrekening sal dit bekend word hoe groot die verantwoordelikheid is van diegene wat die heilige amp beklee, en hoe vreeslik die gevolge is van hulle ontrouheid. Eers in die ewigheid sal ons in staat wees om te besef wat die verlies van een enkele siel beteken. Vreeslik sal die verdoemenis wees van die aan wie God sal sê, Gaan weg van My, jou bose dienskneg.

Die stem van God word uit die hemel gehoor wat die dag en uur van Jesus se koms aankondig, en wat die ewige verbond aan Sy volk oorhandig. Soos die hardste donderslae dreun Sy woorde oor die aarde. Die Israel van God staan en luister met hulle oë omhoog. Hulle aangesigte is verlig met Sy heerlikheid, en hulle blink soos die gelaat van Moses toe hy van Sinai afgekom het. Die goddelose kan hulle nie aanskou nie. En wanneer die seën uitgespreek word op diegene wat God vereer het deur Sy Sabbat te heilig, word daar ‘n magtige oorwinningskreet gehoor.

Kort daarna verskyn daar in die ooste ‘n klein swart wolkie, omtrent so groot as ‘n man se hand. Dit is die wolk rondom die Heiland, en wat in die verte lyk asof dit in duisternis gehul is. Die volk van God weet dat dit die teken van die Seun van die mens is.

In plegtige stilte staan hulle en kyk terwyl dit nader aan die aarde kom, en steeds ligter en heerliker word totdat dit naderhand ‘n groot wit wolk is, die onderkant daarvan lyk soos ‘n verterende vuur, en daar bokant is die reënboog van die verbond. Jesus ry voort soos ‘n magtige oorwinnaar. Nou is Hy nie meer die “man van smarte nie,” om die beker van skande en ellende te drink nie; Hy kom nou, as oorwinnaar van hemel en aarde om die lewende en die dode te oordeel. “Getrou en waaragtig . . . en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.” “En die leërs in die hemel het Hom gevolg.” Openb.19:11,14. Met hemelse lofliedere vergesel die engele Hom — ‘n leërskare van engele wat ontelbaar is. Die uitspansel is bedek met heerlike gedaantes — tienduisendmaal tienduisend en duisende van duisende. Geen pen kan die toneel beskryf nie; Geen menseverstand kan die heerlikheid besef nie. “Sy majesteit bedek die hemel, en die aarde is vol van Sy lof. En glans soos sonlig is daar.” Hab.3:3,4. Namate die wolk steeds nader kom, sien elke oog die Vors van die lewe. Geen doringkroon skend nou Sy heilige hoof nie, maar Hy dra ‘n kroon van heerlikheid. Sy aangesig oortref die verblindende heerlikheid van die middag son. “En Hy het op Sy kleed en op Sy heup die naam wat geskrywe is: DIE KONING VAN DIE KONINGS EN DIE HERE VAN DIE HERE.” Openb.19:16.

Voor Sy aangesig, “is alle aangesigte in bleekheid verander;” diegene wat God se genade verwerp het, verkeer in ewige wanhoop. “Die hart versmelt, en knieë wankel, . . . en die aangesig van hulle almal word bleek.” Jer.30:6; Nahum 2:20. Die regverdiges roep bewend uit, “Wie kan bestaan?” Die engele hou op met sing, en daar is ‘n onheilspellende stilte. Daarna word die stem van Jesus gehoor, wat sê, “My genade is vir jou genoeg.” Die aangesigte van die regverdiges word verlig en vreugde vervul elke hart. Die engele sit hulle lied hoër in en begin weer sing terwyl hulle steeds naderaan die aarde kom.

Die Koning van die konings daal neer op ‘n wolk, in vuurvlamme gehul. Die hemele word toegerol soos ‘n boek, die aarde sidder voor Hom, en elke berg en elke eiland word uit hulle plekke verskuif. “Onse God kom en kan nie swyg nie. Vuur verteer voor Sy aangesig, en rondom Hom storm dit geweldig. Hy roep na die hemel daarbo en na die aarde om Sy volk te oordeel.” Ps.50:3,4.

“En die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van Sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” Openb.6:15-17.

Die gespot het opgehou. Leuenagtige lippe is stil. Die gekletter van wapens, en die rumoer van oorlog, “Met gedreun, en die kleed wat in bloed gerol is,” is stil.” Jes.9:4. Daar word nou niks gehoor nie behalwe stemme wat bid en mense wat ween en weeklaag. Van lippe wat so kort gelede nog gespot het, word die kreet nou gehoor, “Die groot dag van Sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” Die goddelose bid tot die rotse om hulle te bedek, liewer as om die aangesig te sien van Hom wat hulle verag en verwerp het.

Die stem wat selfs tot die ore van die dode deurdring, ken hulle. Hoe dikwels het daardie pleitende, tere stem hulle nie tot bekering geroep nie. Hoe dikwels is dit gehoor in die smekings van ‘n vriend, ‘n broeder, ‘n Verlosser. Vir die verwerpers van Sy genade is daar geen stem so vol veroordeling, en so vol afkeuring as die stem wat solank met hulle gepleit het, “Bekeer julle, bekeer julle van julle verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe.” Eseg.33:11. O dat dit vir hulle die stem van ‘n vreemdeling was! Jesus sê: “Omdat Ek geroep en julle geweier het, Ek My hand uitgestrek en niemand geluister het nie; en julle al My raad nie opgevolg en van My teregwysing nie wou geweet het nie, daarom sal Ek ook lag by julle ondergang, Ek sal spot as julle verskrikking kom.” Spreuke 1:24,25. Daardie stem bring dinge in herinnering wat hulle graag uitgedelg wil sien — waarskuwings wat verag is, uitnodigings wat geweier is, voorregte wat verwaarloos is.

Daar is diegene wat Christus bespot het in Sy vernedering. Met krag word hulle nou herinner aan die Lyer se woorde toe Hy, nadat Hy deur die hoëpriester besweer is, plegtig verklaar het, “Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.” Matt.26:64. Nou sien hulle Hom in Sy heerlikheid, en later sal hulle Hom sien sit aan die regterhand van krag.

Diegene wat Sy aanspraak bespot het dat Hy die Seun van God is, staan nou spraakloos. Daar staan die trotse Herodes wat Sy koninklike titel gehoon het, en sy soldate gebied het om Hom te kroon as koning. Daar staan die manne wat met duiwelse hande die purperkleed vir Hom aangetrek het, die doringkroon op Sy hoof geplaas het, en in Sy weerlose hand die spotsepter gegee het en wat met godslasterende gespot voor Hom neergekniel het. Die manne wat die Vors van die lewe geslaan en bespuug het, deins nou terug voor Sy deurdringende blik, en maak pogings om weg te vlug van die oorweldigende heerlikheid van Sy teenwoordigheid. Diegene wat die spykers deur Sy hande en voete geslaan het, die soldate wat Hom in die sy gesteek het, aanskou die merktekens met verskrikking en verwyt.

Met die grootste helderheid herinner die priesters en owerstes hulle die tonele op Golgota. Met grillende afsku onthou hulle hoe hulle uitgeroep het, terwyl hulle hulle hoofde met Sataniese vreugde geskud het: “Ander het Hy gered, Homself kan Hy nie red nie. As Hy die koning van Israel is, laat Hom nou van die kruis afkom, en ons sal in Hom glo. Hy het op God vertrou; laat Hy Hom nou red as Hy behae in Hom het.” Matt.27:42,43.

Helder kom nou voor hulle gees die Heiland se gelykenis van die landbouers wat geweier het om die vrugte van die wingerd aan hulle heer te lewer, en wat sy diensknegte mishandel het en sy seun gedood het. Ook kom die vonnis in herinnering wat hulle self uitgespreek het: naamlik die eienaar van die wingerd “sal hulle ‘n slegte dood laat sterwe.” In die sonde en die straf van daardie ontroue mense, erken die priesters en die ouderlinge hulle eie handelwyse en hulle eie regverdige verdoemenis. En nou word daar ‘n kreet van doodsangs gehoor, luider as die geroep toe hulle geskree het, “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” en wat op die strate van Jerusalem gehoor is; dit weergalm, ‘n wanhopige geweeklag, “Hy is die Seun van God! Hy is die ware Messias!” Hulle maak pogings om te vlug van die teenwoordigheid van die Koning van konings. In die diep skeure van die aarde, wat oopgeskeur is deur die botsende elemente, trag hulle tevergeefs om weg te kruip.

In die lewens van almal wat die waarheid verwerp, kom daar oomblikke wanneer die gewete wakkerskrik en wanneer die kwellende herinnering aan ‘n lewe van geveinsdheid helder voor die gees kom en die siel geteister word deur ‘n vergeefse gewetenswroeging. Maar wat is hierdie dinge vergeleke met die verwyte op daardie dag wanneer “verskrikking kom soos ‘n onweer, en julle ondergang soos ‘n stormwind”! (Spreuke 1:27.) Diegene wat Christus en Sy getroue volk wou uitroei, aanskou nou die heerlikheid wat op hulle rus. Temidde van hulle verskrikking hoor hulle die stemme van die heiliges wat met vreugde uitroep, “Kyk, dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos.” Jes.25:9.

Terwyl die aarde waggel, die weerligte uitslaan en die gedreun van donder gehoor word, roep die Seun van God die slapende heiliges te voorskyn. Hy kyk na die grafte van die regverdiges, en dan met Sy hande uitgestrek na die hemel roep Hy, “Staan op, staan op, staan op, julle wat in die stof slaap, staan op!” Oor die lengte en breedte van die aarde sal die dode Sy stem hoor; en hulle wat hoor sal lewe. En oor die hele aarde sal die voetstappe gehoor word van die groot skare bestaande uit alle nasies, en geslagte, en tale, en volke. Uit die gevangenis van die dood kom hulle, met onsterflike heerlikheid beklee, en roepende, “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?” 1 Kor.15:55. Dan verenig die lewende regverdiges en die opgewekte heiliges hulle stemme in ‘n groot, blye oorwinningskreet.

Almal kom uit hulle grafte voort met dieselfde grootte as toe hulle gesterf het. Adam, wat ook onder die verrese skare is, is lank en van pragtige liggaamsbou, maar hy is ‘n bietjie kleiner as die Seun van God. Hy vorm ‘n treffende teenstelling met die mense van later geslagte; en hierin kan die groot agteruitgang van die mens gesien word. Almal staan op in die lewenskrag van ewige jeug. Die mens is in die begin geskape in die ewebeeld van God, nie alleen wat karakter betref nie, maar ook in vorm en gelaatstrekke. Die sonde het die goddelike beeld geskend en byna uitgewis; maar Christus het gekom om te herstel wat verlore was. Hy sal ons vernederde liggame van gedaante verander om gelykvormig te word aan Sy verheerlikte liggaam. Die sterflike, verganklike vorm, sonder enige skoonheid, en wat eenmaal deur die sonde besoedeld was, is nou volmaak, heerlik, en onsterflik. Alle smette en gebreke word in die graf agtergelaat. Met vrye toegang tot die boom van die lewe in Eden wat so lank verlore was, sal die verlostes ontwikkel tot die volle grootte van die menslike geslag voor die sondeval. Die laaste spore van die vloek van die sonde sal weggeneem word, en die getroues van Christus sal verskyn in die heerlikheid van die Here onse God, en verstandelik, geestelik, en liggaamlik sal hulle die volmaakte ewebeeld van hulle Here weerkaats. O wonderbare verlossing! — die verlossing waarvan so lank gepraat is, waarop so lank gehoop is, en wat so lank verwag is, maar wat nooit ten volle begryp is nie.

Die lewende regverdiges word verander “in ‘n oomblik, in ‘n oogwink.” Op God se magwoord word hulle verheerlik; nou is hulle onsterflik, en saam met die verrese heiliges word hulle opgeneem, die Here tegemoet in die lug. Engele maak die uitverkorenes bymekaar uit die vier windstreke. Klein kindertjies word deur engele gedra na hulle moeders se arms. Vriende wat lank deur die dood geskei is, word herenig om nooit weer te skei nie, en met vreugdeliedere vaar hulle saam op na die Godstad.

Aan elke kant van die wa van wolke is daar vlerke, en onderaan lewende wiele; en terwyl die wa hemeltoe ry, roep die wiele uit, “Heilig,” en die vlerke, terwyl hulle beweeg roep ook, "Heilig,” en die gevolg van engele roep “Heilig, heilig, heilig, Here God Almagtig.” En die verlostes roep uit “Halleluja!” terwyl die wa voortry na die Nuwe Jerusalem.

Voordat hulle die Godstad binnegaan gee die Verlosser aan Sy navolgers die tekens van oorwinning, en Hy beklee hulle met die kentekens van hulle koninklike status. Die glinsterende geledere val in, in die vorm van ‘n vierkant, rondom hulle Koning wie se majestueuse gestalte die van die heiliges en die engele ver oortref, en wie se gelaat vol van liefde op hulle skyn. Die blik van die ontelbare leërskare van verlostes is op Hom gerig, en elke oog sien die heerlikheid van Hom van wie gesê is, “so misvormd was Sy voorkomste, geen mens meer nie, en Sy gestalte was nie soos die van ‘n mensekind nie.” Op die hoofde van die oorwinnaars plaas Jesus met Sy eie regterhand die kroon van heerlikheid. Vir elkeen is daar ‘n kroon met Sy eie “nuwe naam” daarop, en met die opskrif, “Heilig aan die Here.” Elkeen ontvang die oorwinnaarspalm en ‘n glinsterende siter. En wanneer die engele wat lei die snare aanraak, bespeel elke hand op behendige wyse sy siter, wat die heerlikste en soetste melodie voortbring. Elke hart verkeer in onuitspreeklike verrukking, en elke stem hef die danklied aan: “Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in Sy bloed en ons gemaak het konings en priesters vir Sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid.” Openb. 1:5,6.

Voor die verloste skare is die heilige stad. Jesus maak die pêrelpoorte wyd oop, en die nasies wat die waarheid bewaar het, gaan binne. Daar sien hulle die paradys van God, die tuiste van Adam in sy onskuld. Dan hoor hulle daardie stem, wat soeter klink as die heerlikste musiek wat die menslike oor nog ooit gehoor het, wat sê, “Julle stryd is op ‘n end.” “Kom, julle geseëndes van My Vader, beërf die koninkryk wat vir julle toeberei is van die grondlegging van die wêreld af.

Nou is die Verlosser se gebed vervul vir Sy dissipels, wat Hy gebid het, “Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees.” Christus stel diegene wat Hy met Sy bloed gekoop het, aan Sy Vader voor, “Sonder gebrek voor Sy heerlikheid met gejuig,” terwyl Hy sê, “Hier is Ek en die kinders wat U My gegee het.” “Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak.” O, die wonder van verlossende liefde! Die verrukking van daardie uur wanneer die ewige Vader die verlostes aanskou en Sy beeld in hulle sal sien; wanneer die wanklanke van die sonde weg is, die vloek daarvan verwyderd, en die mens weer in ooreenstemming is met God!

Met onuitspreeklike liefde verwelkom Jesus Sy getroue kinders in die vreugde van hulle Here. Die Heiland se vreugde bestaan in die aanskouing, in die koninkryk van heerlikheid, van die siele wat verlos is deur Sy lyding en vernedering. En die verlostes sal deel in Sy vreugde, wanneer hulle, onder die verlostes, diegene sien wat tot Christus gewin is deur hulle gebede, hulle arbeid, en hulle opoffering van liefde. Waar hulle om die groot wit troon vergader, sal hulle harte met onuitspreeklike blydskap vervul wees wanneer hulle diegene sien wat hulle tot Christus gewin het, en sien hoedat hulle weer ander gewin het, en daardie nog weer ander wat na die hawe van rus gebring is om daar hulle krone aan Jesus se voete neer te lê en Hom deur die ewigheid heen te loof.

Wanneer die verlostes in die Godstad verwelkom word, weergalm daar deur die lug die blye kreet van aanbidding. Die twee Adams staan op die punt om mekaar te ontmoet. Die Seun van God staan met uitgestrekte arms om die vader van ons geslag te ontvang — die wese wat Hy geskape het, wat teen Sy Maker gesondig het, en vir wie se sonde die Heiland die tekens van die kruisiging dra. Wanneer Adam die merktekens van die wrede spykers sien, val hy nie sy Here om die hals nie, maar in vernedering werp hy homself aan Sy voete neer, terwyl hy uitroep, “Waardig, waardig is die Lam wat geslag is!” Tederlik rig die Heiland hom op, en Hy gebied hom om weereens die Eden-tuiste te aanskou waaruit hy solank verban was.

Na sy verbanning uit Eden was Adam se lewe op die aarde met droefheid vervul. Elke blad wat verwelk het, elke offerdier wat geslag is, elke smet op die heerlike natuur, elke vlek op die reinheid van die mens, het hom opnuut herinner aan sy sonde. Groot was die sielsangs en wroeging waar hy die toenemende sonde gesien het, en toe sy waarskuwings met verwyte begroet is dat hy die oorsaak van die sonde was. Met geduldige ootmoed het hy vir byna ‘n duisend jaar die straf op die oortreding gedra. Getrou het hy hom van sy sonde bekeer en sy vertroue gestel in die verdienstes van die beloofde Verlosser, en hy het gesterf in die hoop op die opstanding. Die Seun van God het die mens se neerlaag en val vergoed; en nou, deur die versoening, is Adam herstel tot sy vorige heerskappy.

Weggevoer deur geluk, sien hy die bome wat eentyd sy vreugde was — daardie selfde bome waarvan hy die vrugte gepluk het in die dae van sy onskuld en vreugde. Hy sien die wingerde wat sy eie hande bewerk het, en dieselfde blomme wat Hy eentyd met vreugde versorg het. Sy verstand besef die werklikheid van die toneel; hy sien dat dit inderwaarheid die werklike herstelde Eden is, baie liefliker nou as toe hy daaruit verban is. Die Heiland lei hom na die boom van die lewe, pluk van die heerlike vrugte, en sê hy moet eet. Hy kyk rond en hy sien ‘n groot menigte van sy gesin wat verlos is, staande in die paradys van God. Hy gooi sy blink kroon aan Jesus se voete neer en hy omhels sy Verlosser. Hy begin sy goue siter te bespeel, en die hemel weergalm van die triomflied, “Waardig, waardig, waardig, is die Lam wat geslag is en weer lewe!” Die gesin van Adam begin saamsing, hulle werp hulle krone aan die Here se voete terwyl hulle in aanbidding voor Hom neerbuig.

Hierdie hereniging word deur die engele aanskou wat geween het by Adam se val, en wat hulle verbly het toe Jesus, na Sy opstanding, in die hemel opgevaar het nadat Hy die graf geopen het vir almal wat in Sy naam sou glo. Nou sien hulle die verlossingswerk voltooi, en saam hef hulle ‘n loflied aan.

Op die see van kristal voor die troon, daardie see van glas met vuur gemeng — so glinsterend is dit van die heerlikheid van God— is die skare vergader wat, “die oorwinnaars oor die dier en oor sy beeld en oor sy teken en oor die getal van sy naam,” is. Openb. 15:2. Die honderd-vier-en-veertig-duisend wat onder die mense verlos is, staan saam met die Lam op die berg Sion, met die siters van God; en daar is ‘n geluid gehoor soos die geluid van baie waters en soos van ‘n harde donderslag van siterspelers wat speel op hulle siters. (Openb. 14:1-5.) En hulle sing ‘n nuwe lied voor die troon. ‘n Lied wat niemand kan leer behalwe die honderd-vier-en-veertig-duisend nie. Dit is die lied van Moses en die Lam —‘n verlossingslied. Niemand behalwe die honderd-vier-en-veertig-duisend kan daardie lied leer nie, want dit is ‘n ondervindings lied —‘n ondervinding soos geen ander groep mense ooit gehad het nie. “Dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan.” Hierdie mense, na hulle verheerliking van die aarde, van onder die lewendes, word beskou as die “eerstelinge vir God en die Lam.” “Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom;” hulle het die tyd van benoudheid deurgemaak soos daar nie was vandat daar ‘n volk was nie; hulle het die angs van Jakob se benoudheid deurgemaak; en tydens die uitstorting van God se oordele op die aarde het hulle sonder middelaar gestaan. Maar hulle is verlos, omdat hulle “hulle klere gewas en hulle klere wit gemaak het in die bloed van die Lam.” “In hulle mond is daar geen bedrog gevind nie; want hulle is sonder gebrek voor die troon van God.” “Daarom is hulle voor die troon van God en dien Hom dag en nag in Sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal Sy tent oor hulle oopspan.” Openb. 7: 14-17. Hulle het gesien hoedat die aarde verwoes is deur hongersnood en pestilensies, hoedat die son die mense met groot hitte geskroei het, en hulle het self lyding, honger en dors verduur. Maar “hulle sal nie meer honger en meer dors hê nie, en nooit sal die son of enige hitte op hulle val nie; want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle lei na lewende waterfonteine en God sal alle trane van hulle oë afvee.” Openb. 7:16,17.

Deur die eeue heen is die Heiland se uitverkorenes opgevoed en gedissiplineer in die skool van beproewing. Hulle het die smal pad op die aarde bewandel; hulle is gelouter in die smeltkroes van beproewing. Vir die ontwil van Jesus het hulle teenstand, haat, en hoon verduur. Hulle het Hom deur swaar beproewings gevolg; hulle het selfverloëning en bitter teleurstellings verduur. Uit bittere ondervinding het hulle die afskuwelikheid van die sonde, en die krag en die skuld en die ellende daarvan leer ken en dit met verfoeiing beskou. ‘n Besef van die vreeslike prys wat daar betaal is vir die verlossing van die sonde, het hulle nederig gemaak en hulle harte vervul met ‘n dankbaarheid wat diegene wat nooit in die sonde geval het, nie kan verstaan nie. Hulle het baie lief omdat daar baie aan hulle gegee is. Omdat hulle deelgenote was van Christus se lyde, is hulle geskik gemaak om deelgenote te wees van Sy heerlikheid.

Die erfgename van God het gekom uit solders, pondokke, kerkers, galge, berge, woestyne, spelonke, en grotte. Op die aarde was hulle, gestenig, verdruk, mishandel. Miljoene is na die graf met hoon omdat hulle standvastig geweier het om toe te gee aan die verleidelike aansprake van Satan. In aardse howe is hulle skuldig bevind as die laagste misdadigers. Maar nou “staan God gereed om te oordeel.” Ps. 50:6. Nou sal die uitsprake van aardse howe omgekeer word. “Hy sal die smaad van Sy volk van die hele aarde af wegneem.” Jes. 25:8. “Hulle sal genoem word: Die heilige volk, die verlostes van die Here.” Jes. 62:12. Dit is beskik dat aan hulle gegee sal word “sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, ‘n gewaad van lof vir ‘n verslae gees.” Jes. 61:3. Nie meer is hulle swak, gekasty, verstrooi, en verdruk nie. Van nou af sal hulle altyd by die Here wees. Hulle staan voor die troon gekleed in gewaad wat heerliker is as die klere wat die geëerdstes van die aarde ooit gedra het. Hulle is gekroon met krone baie heerliker as wat nog ooit op die hoof van aardse konings geplaas is. Die dae van lyding en geween is vir ewig beëindig. Die Koning van heerlikheid het alle trane van hulle aangesigte afgevee; elke oorsaak van droefheid is verwyderd. Terwyl hulle met palmtakke waai, sing hulle ‘n loflied, helder, soet, en welluidend; elke stem neem deel, totdat die loflied deur die hemel weergalm, “Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!” En die bewoners van die hemel antwoord, “Amen! Die lof en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag en die sterkte aan onse God tot in alle ewigheid!” (Openb. 7:10,12.)

In hierdie lewe begin ons eers die wonderbare verlossing te verstaan. Met ons beperkte verstand mag ons die skande en die heerlikheid, die lewe en die dood, die geregtigheid en genade, wat die kruis as middelpunt het, oorpeins; maar nooit, met al ons verstandelike kragte, sal ons die volle betekenis daarvan besef nie. Die lengte en die breedte en die diepte en die hoogte van verlossende liefde word maar baie flou besef. Die verlossingsplan sal nie ten volle verstaan word selfs wanneer die verlostes kan sien soos hulle gesien word nie, en ken soos hulle geken is nie; maar deur die ewigheid sal daar gedurig nuwe waarhede ontplooi voor die verbaasde en blymoedige verstand. Hoewel die droefheid en pyn en versoekings van die aarde beëindig en die oorsake verwyder is, sal die volk van God steeds ‘n duidelike, intelligente kennis hê van wat hulle verlossing gekos het.

Die kruis van Christus sal die wetenskap en die lied wees van die verlostes deur die ewigheid heen. In Christus die verheerlikte sal hulle Christus die gekruisigde sien. Nooit sal hulle vergeet dat Hy, deur wie se krag die ontelbare wêrelde geskape en in die groot ruimtes in stand gehou word, die geliefde van God, die Majesteit van die hemel, wat deur heerlike gerubs en serafs aanbid word —Homself verneder het om die gevalle mens op te hef nie; dat Hy die skuld en die skande van die sonde gedra het, die verberging van Sy Vader se aangesig verduur het, totdat al die ellendes van ‘n verlore wêreld Sy hart verbreek het en Sy lewe aan die kruis van Golgota uitgepers het. Dat die Skepper van al die wêrelde, die Beskikker van alle lotgevalle, Sy heerlikheid afgelê het en Homself verneder het om die mens lief te hê, sal gedurig die verbasing en die aanbidding van die heelal uitlok. Waar die verlostes hulle Verlosser aanskou, en die heerlikheid van die Vader sien straal in Sy gelaat, waar hulle Sy troon sien wat van ewigheid tot ewigheid is, en weet dat Sy koninkryk nooit tot ‘n einde sal kom nie, hef hulle ‘n verruklike lied aan, “Waardig, waardig is die Lam wat geslag is en wat ons verlos het deur Sy eie dierbare bloed!”

Die verborgenheid van die kruis verklaar alle ander verborgenhede. In die lig wat straal van Golgota is die eienskappe van God wat ons eers met vrees en bewing vervul het nou heerlik en aantreklik. Ons sien hoedat genade, teerheid, en ouerlike liefde saamsmelt met heiligheid, geregtigheid, en krag. Terwyl ons die majesteit van Sy troon aanskou wat hoog en verhewe is, sien ons Sy karakter in al Sy heerlike openbarings, en ons besef soos nooit tevore nie, die betekenis van daardie dierbare naam, “Onse Vader.”

Daar sal gesien word dat Hy wat oneindig is in wysheid, geen ander plan vir ons verlossing kon uitgewerk het behalwe deur die opoffering van Sy Seun nie. Die vergoeding vir hierdie opoffering is die vreugde om die aarde te bevolk met verloste wesens, heilig en gelukkig en onsterflik. Die gevolg van die Heiland se stryd met die magte van duisternis, is vreugde vir die verlostes wat strek tot die heerlikheid van God deur die ewigheid heen. En so groot is die waarde van ‘n siel dat die Vader tevrede was om die prys te betaal; en Christus ook, waar Hy die vrugte van Sy groot opoffering aanskou, is tevrede.

Uittreksel uit "Die Groot Stryd" (Hoofstuk 40) - Laai die hele boek af in PDF formaat  (Oudio Hier)

Hoe moet ek my lewe inrig en lei om te deel in die vreugde wanneer Jesus terugkeer? ...