top of page

GEBOD OP GEBOD, REËL OP REËL, HIER ‘N BIETJIE, DAAR ‘N BIETJIE

Jes 28:9,10    
“Vir wie wil hy dan kennis leer en vir wie wil hy die openbaring verstaanbaar maak?  Vir die wat van die melk gespeen, wat van die moederborste weggeneem is?  Want dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie.”

Hier word ‘n duidelike instruksie gegee oor hoe om die geheime van God se Profetiese Woord te ontrafel  “gebod op gebod, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie.”  Hierdie metode om die profesieë van die Bybel te verstaan, vereis dat ons sal beweeg van Openbaring na Jesaja, na Daniël, Genesis, terug na Openbaring, ens. Beteken dit dan nie dat ‘n mens die Bybel enigiets kan maak sê soos jy wil nie?  Beslis nie!  Want, God se Woord is soos ‘n legkaart aanmekaar gesit.  Daardie stukke in Openbaring, Jesaja, Daniël of Genesis, wat oor dieselfde onderwerp handel, moet bymekaar geplaas word om die volle prentjie te kan sien.  

Deur die legkaart se stukke aanmekaar te pas, word die geheelbeeld al hoe duideliker. Indien ‘n teksgedeelte buite sy konteks gebruik sou word, sal ‘n ander teksgedeelte wat oor dieselfde onderwerp handel, ons gou weer op die regte spoor (Bybelse spoor) plaas. (Presies net soos die regmatige legkaartstuk van ‘n sekere posisie op die prent sy plek van ‘n verkeerd geplaasde stuk sou terugeis!)

Hierdie beginsel word duidelik in die vier Evangelies waargeneem.  Elke skrywer vertel dieselfde verhaal van Jesus, maar elkeen sien iets anders raak wat die ander nie oor skryf nie.  Hul gesamentlike getuienis bevestig dat Jesus Christus die Verlosser van die Wêreld is, en dat Hy aan die Kruis, die prys vir die verlossing van sondaars betaal het.
 
Baie mense dink ons het vandag niks meer nodig as net die Nuwe Testament (NT) nie.  Volgens diesulkes het die Ou Testament (OT) geen doel meer nie.  Daar is egter ‘n uitdrukking wat sê: “Die NT is in die OT verbloem (verberg, weggesteek, geheim gehou) en die OT is in die NT onthul (geopenbaar, vertoon, bekend gemaak).
 
Petrus het dieselfde metode van “gebod op gebod, reël op reël, ens.” in sy eie preke gebruik.  Tydens die Pinksterfees (soos opgeteken in Hand 2:1436) gebruik hy verskeie aanhalings en verwysings uit verskeie dele van die Bybel om Jesus as die beloofde Verlosser aan te wys, en die seëninge wat met geloof in Jesus gepaard gaan, te verduidelik, nl: (Hand.2:17); Joël 2:28-32 (v.20);  Joël 2:1,2,9,10); (v.23); Jes. 53:10; (v.25-28); Ps. 16; (v.30); Ps. 116:11; (v.34); Ps. 110:1

Jesus Self het die metode van “gebod op gebod, reël op reël, ens.” gebruik om die Emmaüsgangers, en later, die dissipels, te oortuig dat Hy die opgestane Verlosser is:

Luk. 24:27
“En Hy het begin van Moses en al die profete af  en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.”

Luk 24:44,45    
“En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het, toe ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die Wet van Moses en die profete en die Psalms, vervul moet word.  Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.”

Jesus het begin by die eerste vyf boeke van Moses (Gen., Exod., Lev., Num. en Deut.) en toe die profete aangehaal.  Daarna het Hy die Psalms aangehaal.
 
Het Jesus alles vir hulle uitgelê?  Nee, slegs dit wat op Hom as Verlosser betrekking gehad het.  Met die “gebod op gebod, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie” reël het Jesus sy doel na die aarde verduidelik. - Sy doel?  

Die Verlossing van die mens uit sonde, wat insluit, Sy geboorte (eerste koms), Sy bediening, Sy Kruisdood, Opstanding en hemelvaart, Sy Hoëpriesterskap, die Oordeel en Sy belofte van sy spoedige Wederkoms!

Net soos die dissipels, moet ons ook toelaat dat Jesus, deur die werking van die Heilige Gees en die Bybel, ons verstande open, sodat Hy sy toekomsplanne aan ons bekend kan maak.  
Ons sal ook dié Bybelse metode van “gebod op gebod, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie,” gebruik om Openbaring te bestudeer.

Ons eie opinies omtrent Bybelprofesieë tel nie.  Want, “Geen profesie is ‘n saak van eie uitleging nie, want geen profesie ooit deur die wil van ‘n mens (enkelvoud) voortgebring nie, maar deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense (meervoud), van God gespreek.”
    

GOD SE PROFETIESE METODE: DIE OPENBARING VAN JESUS

Openb 1:1    
“Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur...”

Let wel, hierdie is nie die openbaring van die Antichris, of die Dier nie, maar die openbaring van Jesus Christus.

Indien ons wil weet hoe pragtig ‘n glinsterende diamant vertoon, dan moet ons dit teen ‘n swart fluweelagtige agtergrond vertoon.  Sodoende word die ware karakter van die diamant na vore gebring.

Dieselfde beginsel word in Openbaring gebruik. Die karakter van Christus word  teen die donker agtergrond van die magte van die duisternis (die karakter van die Draak, die Dier en die Valse Profeet) geopenbaar.

As ons weet hoe die Duisternis funksioneer om die wêreld te regeer, dan is ons meer in staat om te weet wie die blink Môrester is en sal ons met graagte Jesus Christus wil dien.  

‘N PROFETIESE VIDEO

Openb 1:1,2    
“Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur...”

Die woord "toon" [om te wys] verwys na 'n panoramiese beeld of filmvertoning (dieselfde as om vandag films of videos te kyk).  Openbaring, is dus God se "Videovertoning" van toekomstige gebeure.  Hy het die toekoms aan Johannes deur visioene (gesigte) bekend gemaak.  Die visioene van Openbaring, is om dieselfde rede in simboliese taal geskryf as die lesse wat Jesus in gelykenisse vertel het.  
 
Luk 8:10
“Aan julle is dit gegee om die verborgenhede van die koninkryk van God te ken; maar aan die ander deur gelykenisse, sodat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie verstaan nie.”
 
Openbaring is spesiaal met simbole en tekens beklee sodat die wat opreg na Geestelike Waarheid soek, en gewillig is om deur die Heilige Gees gelei te word, dit sal kan verstaan.  

Diegene wat gou kennis wil opdoen, sal die grootste Skat van Openbaring mis.  Die geheim van Openbaring lê weggesteek in ‘n verbintenis met die wêreld se persoonlike Verlosser, Jesus Christus en gehoorsaamheid aan die leiding wat die Heilige Gees verskaf.

Simboliese taal word terselfdertyd gebruik om God se vyande te ontmasker.  Indien Openbaring in gewone taal geskryf was, sou Satan en sy navolgers God se kinders en die Boek wat hulle misleidings verraai, lankal vernietig het.

OORDRA VAN PROFETIESE INLIGTING

Openb 1:1,2
“Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het, wat getuig het van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus alles wat hy gesien het.”

Daar is vyf stappe in die oordra van Openbaring se inligting.  Die profesieë van Openbaring het hul oorsprong vanaf God, ons hemelse Vader.  Nadat Jesus dit in ontvangs geneem het, gee Hy dit aan sy engel, wat dit weer op sy beurt aan Johannes, Jesus se profeet oorhandig.  Dit is dan Johannes se verantwoordelikheid om die inligting met God se volk te deel.

Amos 3:7    
“Want die Here Here doen niks tensy Hy sy raadsbesluite aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.”
 
Die Here sal sy kinders nooit in die duister laat met dit wat Hy beplan nie.  Hy verskaf eers die inligting aan sy knegte, die profete, sodat hulle sy kinders vroegtydig kan inlig oor die dinge wat gaan gebeur.  God wil nie dat sy kinders onkant betrap word nie en wil hê dat hulle vroegtydige reëlings kan tref om komende rampe die hoof te bied.

 

Gaan na die volgende studie:  BYBELSLEUTELS VIR PROFETIESE SLOTTE

bottom of page