top of page

BYBELSLEUTELS VIR PROFETIESE SLOTTE

Ons gaan in Openbaring met baie simbole te doen kry.  Die Bybel het spesiale sleutels om profetiese slotte (simbole en tekens) mee oop te sluit, en verstaanbaar te maak vir die ywerige Bybelstudent.  Watter betekenis heg die Bybel aan sommige van Openbaring se simbole?

VRAAG: Wat is die simboliese betekenis van 'n DIER, soos opgeteken in die profesie van Openb 13:1,11?

Openb 13:1,11
“En ek het ‘n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe ‘n naam van godslastering... En uit die aarde het ek ‘n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ‘n lam en het gepraat soos ‘n draak.”

ANTWOORD: Dan 7:23 “Só het hy gesê: Die vierde dier - die vierde koninkryk sal op die aarde wees...”

Dan 8:21,22
“En die harige bok is die koning van Griekeland;  en die groot horing wat tussen sy oë was, dit is die eerste koning.  En dat dit gebreek is en vier in sy plek ontstaan het - vier koninkryke sal uit sy volk ontstaan...”
 
Diere in simboliese taal beteken koninkryke (regerings / magte) en horings beteken konings of koninkryke.

VRAAG: Wat is die simboliese betekenis van WATER, soos opgeteken in die profesie van Openb 17:1?
 
Openb 17:1
“En een van die sewe engele met die sewe skale het gekom en met my gespreek en vir my gesê:  Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit.”

ANTWOORD: Openb 17:15 “En hy sê vir my: Die waters wat jy gesien het, waar die hoer op sit, is volke en menigtes en nasies en tale.”

In simboliese taal beteken water mense uit alle volke, nasies en tale.

VRAAG: Wat is die simboliese betekenis van ‘n dag, soos opgeteken in die profesie van Openb 12:6?

Openb 12:6
“En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy ‘n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou duisend-twee-honderd-en-sestig dae lank.”

ANTWOORD: Eseg 4:6 “En as jy met hierdie dae klaar is, moet jy, vir die tweede keer, op jou regterkant gaan lê en die ongeregtigheid van die huis van Juda dra, veertig dae lank: vir elke jaar lê Ek jou een dag op.”

In profetiese taal beteken een profetiese dag, een letterlike jaar.  Dus is 1260 profetiese dae = 1260 letterlike jare.

Sien u hoe maklik dit is om sekere simbole te verstaan wanneer die Bybel toegelaat word om sy eie Profetiese Vertolker te wees.  Onthou egter dat Skrif altyd met Skrif vergelyk moet word.  Ons moet versigtig wees om nie ons eie idees en teorieë aan die Skrif toe te dig nie.

SEWE BEGINSELS OM DIE BYBEL BETER TE VERSTAAN
 
Matt 5:6
“Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.”

Hier is ‘n belofte van Jesus Self. Hulle wat smag na geestelike waarheid sal deur die Gees van waarheid (Joh 16:13) gelei word na die Bron van alle waarheid en kennis. Wie vir Jesus en Sy woord plek maak, sal Sy liefde smaak en vrede ondervind.

Efe. 1:17,18
“[Ek bid] dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is.”

Ons moet God altyd vra vir die leiding van die Heilige Gees.  Dit is Sy taak om ons geestelike vermoëns te verskerp, sodat ons geestelike dinge kan begryp en God se doel vir ons lewens kan verstaan.
 
2 Tim 3:15    
“[Sorg] dat jy van kleins af die Heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot die saligheid deur die geloof in Christus Jesus.”

Elke mens moet vir homself die Skrifte leer ken, want deur die Skrifte verkry ons kennis en geloof in Jesus wat tot ons redding dien.  Dié geloof kan geen mens jou skenk nie.  God skenk dit deur sy Heilige Gees wat deur die Bybel tot ons harte spreek.

Hand 17:11    
“En hierdie mense was edelmoediger as die in Thessalonika: hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.”

Soos die Bereane moet ons alle leringe en teorieë eers toets aan dit wat die Bybel leer, en nie aan dit wat mense vir ons opdis nie.

Openb 1:3    
“Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.”
 
Ons moet die dinge wat Jesus in die boek Openbaring (en die hele Bybel) met ons deel, nie net lees of aanhoor nie, maar ons moet dit ook in ons harte bewaar.  Ons moet die waarhede daarin vervat, oordink, bepeins en uitleef.

Jak 1:22        
“En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.”

Die Bybel is nie gegee vir ontspanning nie, sy doel is eerstens die oopvlekking van Satan se misleidings en bedrog!  Tweedens gaan dit oor die redding van die mens, deur hom met sy Skepper te versoen. Wat is die nut van waarheid as dit nie toegepas word nie?
 
Matt 7:21,23    
“Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is... En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie.  Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk.” (julle wat die wet oortree - NAV)

Ons moet gewillig wees om ons Hemelse Vader se wil te doen soos dit aan ons geopenbaar word.  Om Sy wil te verontagsaam, beteken eintlik dat ons Satan se wil in ons lewens volbring.  Dit is direkte rebellie teen God en maak dat ons die ewige lewe verloor.

 

Gaan na die volgende studie:  BRONNE VAN VALSE EN MISLEIDENDE KENNIS

bottom of page