top of page

5. DIE VERSEëLDE BOEKROL EN DIE LAM VAN OPENBARING

WIE IS WAARDIG OM DIE BOEK OOP TE MAAK?

DIE TROONKAMER


Openb 4:1,2    
“Ná hierdie dinge het ek gesien - kyk, 'n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos 'n basuin met my hoor spreek het, het gesê:  Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur.  En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan 'n troon in die hemel en Een sit op die troon.”

 

Jesus toon aan Johannes 'n toneel vanuit die Troonkamer van God, die hoofkantoor van die Heelal.

Openb 4:3,5,6    
“En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius;  en rondom die troon was 'n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos 'n smarag.  En daar het weerligte en donderslae en stemme uit die troon uitgegaan, en sewe vuurfakkels wat die sewe Geeste van God is, het voor die troon gebrand;  en voor die troon was daar 'n see van glas soos kristal, en in die middel van die troon en rondom die troon vier lewende wesens vol oë van voor en van agter.”

Dit is God Self wat op die troon sit.  Bokant Sy Hoof hang 'n Reënboog, 'n teken van die verbond wat God met die mens alreeds in die tyd van Noag gemaak het. (Sien Eseg 1:22,25-28 - Die verskyning van die Heerlikheid van die Here / Sien Jes 11:1,2,10 - Heilige Gees)
 
Openb 4:4    
“En rondom die troon was daar vier-en-twintig trone, en op die trone het ek die vier-en-twintig ouderlinge sien sit, bekleed met wit klere; en hulle het goue krone op hulle hoofde gehad.”

Die 24 Ouderlinge het wit klere (simbool van Christus se geregtigheid) en sit op trone. Elkeen het 'n oorwinnaarskroon op sy hoof.  Dit is diegene wat saam met Jesus, na Sy opstanding, as eerstelinge na sy Vader geneem is.

Matt 27:52,53    
“En die grafte het oopgegaan en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan.  En ná sy opstanding het hulle uit die grafte uitgegaan en in die heilige stad ingekom en aan baie verskyn.”


Hierdie heiliges het na Jesus se opstanding uit die grafte uitgegaan en van Jesus se opstanding in Jerusalem getuig.

Ps 68:19        
“U het opgeklim na die hoogte, U het gevangenes weggevoer, U het geskenke geneem onder die mense;  ja, ook wederstrewiges om daar te woon, o Here God!”

Hierdie profesie van Jesus se hemelvaart, maak dit duidelik dat Hy sondaars (mense) saam met Hom hemel toe sou neem.  Dit is egter nie baie duidelik wanneer die opgestane heiliges na die hemel vertrek het nie, moontlik tydens sy hemelvaart. (Sien Matt 28:9,10,16-20; Mark 16:9-14; Luk 24:13-53).  

Elkeen van die sewe godsdienstige feeste van Israel vorm ‘n vooraf-skaduwing van ‘n spesifieke deel van die Verlossingsplan.  So is die Fees van die Eerstelingsgerf (waartydens die eerste ryp graan in ‘n gerf voor die Here beweeg was) die simbool van die belofte van ‘n groot oes wat nog sal volg (Lev 23:5-11).
 
Efe 4:8
“Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die mense gegee."

Toe Jesus hemel toe is, het hy mense saam met Hom geneem, maar terselfdertyd geestelike gawes d.m.v. die Heilige Gees, aan die Kerk uitgedeel.

Openb 4:6-10    
“En voor die troon was daar 'n see van glas soos kristal, en in die middel van die troon en rondom die troon vier lewende wesens vol oë van voor en van agter.  En die eerste lewende wese was soos 'n leeu, en die tweede lewende wese was soos 'n kalf, en die derde lewende wese het 'n gesig gehad soos 'n mens, en die vierde lewende wese was soos 'n arend wat vlieg.  En die vier lewende wesens het elkeen vir homself ses vlerke gehad, en hulle was rondom en van binne vol oë; en hulle het sonder ophou dag en nag gesê:  Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom!  En elke keer as die lewende wesens heerlikheid en eer en danksegging gee aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, val die vier-en-twintig ouderlinge neer voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe, en werp hulle krone voor die troon en sê:...”

Die vier Lewende Wesens voor God se troon het elk ses vlerke en is 'n verwysing na Serafs (Jes 6:1-3).  Die gesigte van die serafs blyk verteenwoordigend wees van die verskillende lewensvorme wat onder die vloek van sonde gebuk gaan; mense, mak en wilde diere en voëls.

Openb 4:11    
“U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.”
 
Om twee redes word daar aan God heerlikheid, eer en danksegging gegee –
(a)    God lewe tot in ewigheid en Hy is die Skepper van alles in die heelal, siende en onsiende, en
(b)    Hy is waardig om lof te ontvang want Hy hou alles in stand. Sonder Sy instandhoudende krag sou alles wat in die heelal bestaan, nie kon bly bestaan nie.
 
1 Tim 6:13-16    
“Ek gebied jou voor die aangesig van God wat aan alle dinge die lewe gee, en van Christus Jesus wat voor Pontius Pilatus die goeie belydenis betuig het, dat jy die gebod onbevlek, onberispelik bewaar tot by die verskyning van onse Here Jesus Christus, wat op sy eie tyd vertoon sal word deur die salige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here, wat alleen onsterflikheid besit en 'n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag.  Amen.”

God is Alleenbesitter van onsterflikheid. Alles wat lewe, het hul bestaan aan Hom te danke. Daar is niks wat onafhanklik van die Skepper-God kan bestaan nie. So besit ook geen mens ‘n onsterflike siel nie, want slegs God alleen besit Onsterflikheid as ‘n karaktereienskap.  Die term “onsterflike siel” is ‘n heidense en Sataniese leuen wat selfs vir Adam en Eva onkant gevang het! (Gen 3:4)

Jes 40:21,22    
“Weet julle nie?  Hoor julle nie?  Is dit julle nie van die begin af bekend gemaak nie?  Het julle nie op die fondamente van die aarde gelet nie?  Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane; Hy span die hemele uit soos 'n dun doek en sprei dit uit soos 'n tent om in te woon.”

Die troon van God is bokant alles in die Heelal.  Hy het alles Self geskape, en Hy aanskou dit vanuit die hemel, vanwaar Hy sy skeppingswerk ook instandhou.
 
Jes 40: 25-27    
“By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees?  sê die Heilige. Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie. Waarom sê jy dan, o Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is vir die Here verborge, en my reg gaan by my God verby?”


God is Almagtig.  Hy ken elke ster, elke planeet en elke wese by sy naam, want Hý het hulle geskape!  God vra sy skepsele:  Hoe kan daar mense wees wat dink dat Hy hulle sou vergeet?  Ons welsyn is eerste op God se prioriteitslys van belangrike sake in die heelal, want ons is (1) na Sy beeld geskape en (2) ons is in sonde vasgevang!

Jes 40:28-31    
“Weet jy dit nie?  Of het jy dit nie gehoor nie?  'n Ewige God is die Here, Skepper van die eindes van die aarde;  Hy word nie moeg of mat nie;  daar is geen deurgronding van sy verstand nie.  Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.  Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs;  maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag;  hulle vaar op met vleuels soos die arende;  hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.”

God is die Skepper van alles.  Hy is die Ewiglewende God van die hemel en is 'n Onuitputlike Bron van Kennis.  Slegs Hy kan in die behoeftes van Sy skepsels voorsien. Almal wat na Hom kom, ontvang krag om hoë hoogtes in hul stoflike en geestelike lewens te bereik.  

Let wel - As gevolg van hierdie almag van God, is Hy aanbidding, lof en eer waardig.
 

Gaan na die volgende studie:  WIE IS WAARDIG OM DIE BOEK TE OPEN?

bottom of page