top of page

DIE LAM IS AANBIDDINGSWAARDIG

Openb 5:8-10    
“En toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge voor die Lam neer, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is.  Toe sing hulle 'n nuwe lied en sê:  U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.”

Die 24 Oudelinge en die 4 Lewende Wesens aanbid die Lam voor God se troon. Die Lam is waardig om die Boek te neem en sy seëls te breek want Hy het sondaars losgekoop met Sy eie bloed, uit elke stam, taal, volk en nasie. Hy maak hulle konings en priesters. Om dié rede is Hy aanbiddingswaardig.
 
Hebr 2:9,10    
“Maar ons sien Hom, naamlik Jesus, wat vir 'n kort tydjie minder as die engele gemaak is, vanweë die lyde van die dood met heerlikheid en eer gekroon, sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak.  Want dit het Hom betaam, ter wille van wie alle dinge en deur wie alle dinge is, as Hy baie kinders na die heerlikheid wou bring, om die bewerker van hulle saligheid deur lyde te volmaak.”
 
Deur God se genade, het Jesus die straf van die dood in die sondaar se plek ervaar. Sy leiding en dood het verlossing vir sondaars bewerkstellig. Om dié rede is Hy aanbiddingswaardig.

Hebr 5:7,8    
“Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs - Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het.”

Deur volmaakte gehoorsaamheid aan Gods wil, het Jesus gekwalifiseer om ons Verlosser te wees. Dáárom ís Hy aanbiddingswaardig.

Hebr 2:14,15,17    
“Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het - dit is die duiwel - en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was...  Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy 'n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen.”


Deur 100% Mens te word, te leef (sonder sonde), te sterf en op te staan uit die dood, bevry Jesus ons van die mag van sonde (vrees vir die dood). Satan se aansprake op sondaars is verbreek. Enige sondaar kan hom nou op die Lam van God beroep om genade, en dit sál hom toegestaan word. Dáárom ís die Lam, aanbiddingswaardig.

1 Pet 1:18-20    
“Omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van 'n lam sonder gebrek en vlekkeloos, wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil.”
 
Ons is nie met wêreldse ruilmiddels (goud en silwer) losgekoop van sonde nie, maar met die kosbare bloed van die Lam, die enigste en eie Seun van God, wat vlekkeloos en sonder gebrek (sonder sonde) was. Dáárom ís Hy aanbiddingswaardig.

Rom 5:6,8,9    
“Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe...  maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.  Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn.”

Christus het vir die goddelose gesterf - vir ú en mý, nié vir volmaakte wesens nie. Hy is God se Versoening met die gevalle mensdom. Dáárom ís Hy aanbiddingswaardig.

2 Kor 5:18,19    
“En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou.”

Hierdie versoening tussen God en die mens, is God se eie inisiatief en is bewerkstellig deur Jesus se kruisdood. Deur Jesus, het God Homself met alle sondaars versoen. Ons hoef nie meer vir God weg te hardloop nie, maar Hy wil hê dat ons met Hom sal vrede sluit. Die Lam het dit vir jóú gedoen. Dáárom ís Hy aanbiddingswaardig.

Openb 5:11-14    
“Toe sien ek, en ek hoor 'n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tienduisende van tienduisende en duisende van duisende; en met 'n groot stem het hulle gesê:  Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof. En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê:  Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! En die vier lewende wesens het gesê:  Amen!  En die vier-en-twintig ouderlinge het neergeval en Hom aanbid wat lewe tot in alle ewigheid.”

Almal in die heelal erken dat Hy waardig is om lof, eer, heerlikheid en krag te ontvang, omdat Hy in die plek van sondaars gesterf het. God en die Lam word saam aanbid en geloof vir sondaars se verlossing.

 

Gaan na die volgende studie:  DIE BOEK VAN DIE LAM

bottom of page