top of page

WIE IS WAARDIG OM DIE BOEK TE OPEN?

Openb 5:1    
“En ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit, 'n boek gesien, van binne en van buite beskrywe en met sewe seëls goed verseël.”

In die hand van die Skepper-God is daar 'n boekrol, aan albei kante beskrywe en met sewe seëls volmaak verseël. Hierdie boekrol bevat baie spesiale inligting.

Openb 5:2-4    
“En ek het 'n sterk engel gesien wat met 'n groot stem uitroep:  Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek?  En niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde kon die boek oopmaak of daarin kyk nie.  En ek het baie geween, omdat daar niemand waardig bevind is om die boek oop te maak en te lees of daarin te kyk nie.”
 
Wie is waardig om die verseëlde boek oop te maak? Die feit dat ‘n sterk engel die vraag vra, wys daarop dat fisiese sterkte en krag, nie 'n kwalifikasie is om die boek oop te maak nie. Dit blyk eerder dat die persoon se karakter hom sal kwalifiseer vir die taak.  

Hierdie boek bevat lewensbelangrike inligting. Die grootste tragedie is egter dat daar niemand in die hemel en op aarde is, wat kwalifiseer om die boek oop te maak nie. Johannes ween bitterlik want lewensbelangrike inligting wat die mens raak, kan nie bekend gemaak word, as die seëls nie gebreek kan word nie.

Openb 5:5    
“Toe sê een van die ouderlinge vir my:  Moenie ween nie;  kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek.”
 
Een van die ouderlinge vertroos Johannes, want hy het die antwoord. Dit is die Leeu van Juda en die Wortel van Dawid, wat oorwin het - oorwinning in die geval, behels karakter, nie brute krag nie.

Openb 22:16    
“Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig.  Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester.”

Jesus verwys na Homself as die Wortel en geslag van Dawid wat deur die profesieë voorspel was, waarop die hele skepping gehoop het.

Gen 49:9,10    
“Juda is ‘n jong leeu; van die roof af het jy opgeklim, my seun.  Hy buig hom, hy gaan lê soos ‘n jong leeu en soos ‘n leeuin; wie sal hom opjaag?  Die septer sal van Juda nie wyk nie, nóg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan hom sal die volke gehoorsaam wees.”

In die profesie wat Jakob oor sy seuns geprofeteer het, word Juda beskryf as 'n jong leeu. Silo, "die Rusgewer," (Jesus - Matt 11:28-30) sou uit Juda se nageslag kom (Matt 1:2).
 
Jes 11:1,2,10    
“Maar daar sal ‘n takkie uitspruit uit die stomp van Isai, en ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra; en op Hom sal die Gees van die Here rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die Here...  En in dié dag sal die nasies vra na die wortel van Isai, wat daar staan as ‘n banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees.”


Daar sal 'n Takkie of Loot uit Isai verskyn, en die Sewevoudige Gees van die Here sal op Hom rus. Paulus verklaar dat Jesus daardie Wortel van Isai is wat sou verskyn (Rom 15:8-13). Petrus en Johannes meld dat Jesus gesalf is met die Heilige Gees (Hand 10:37,38).
 
Matt 11:28    
“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.”

Jesus nooi almal wat vermoeid en belas is deur die sorge en sonde van die lewe, om na Hom toe te kom. Hy is die Een wat deur God beloof is en wat aan ons rus en gemoedsvrede sal verskaf.

Die "Leeu... en die Wortel... het oorwin," verwys direk na Christus se oorwinning oor die Satan in die Groot Stryd.  Hierdie oorwinning gee Jesus die reg om die Boek oop te maak en sy seëls te breek. Niemand anders in die heelal kon dit doen nie (v.3).

'n Engel kon nie Christus se plek inneem nie, want die basis van die Groot Stryd handel oor die karakter van God, wat in Sy Wet uitgedruk word. Geen mens en geen engel kon hierdie verdediging namens God hanteer nie, want almal is aan daardie Wet onderworpe.

Slegs Christus, gelyk aan die karakter van God, kon die karakter van God verdedig. Omdat ‘n geskape wese, Satan,  God aankla, kon Hy Homself net verdedig, indien Jesus in die gestalte van 'n geskape wese, die beginsels van God se Gebooie sou uitleef. Onder dieselfde toestande waarin die sondige mens verkeer, met die moontlikheid om Self te sondig, moes Hy die oorwinning oor sonde behaal, ondergeskik aan die Wet en sonder om dit Self te oortree. (Gal 4:4,5)

DIE LAM WAT GESLAG IS
 
Openb 5:6,7    
“En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar 'n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde.  Hy het gekom en die boek geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit.”
 
Binne-in die troon verskyn daar 'n Lam wat lyk asof Hy geslag is. Sonder om iets te sê, neem Hy die boek uit die hand van die Skepper. Hy ís waardig gevind om die boek te neem en sy seëls oop te maak!

Jes 52:13-15    
“Kyk, my Kneg sal voorspoedig wees, Hy sal hoog en verhewe, ja, baie hoog word.  Soos baie hulle oor U verstom het - so misvormd was sy voorkoms, geen mens meer nie, en sy gestalte was nie soos dié van 'n mensekind nie - so sal Hy baie nasies laat opspring, konings sal hulle mond oor Hom toehou; want wat aan hulle nie vertel is nie, sien hulle;  en wat hulle nie gehoor het nie, word hulle gewaar.”

Die Kneg van die Here gaan 'n verskriklike ding doen, so erg sal dit wees, dat selfs konings verstom sal wees oor die gebeurtenis.
 
Jes 53:4-7    
“Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte - dié het Hy gedra;  maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.  Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel;  die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom. Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos 'n lam wat na die slagplek gelei word en soos 'n skaap wat stom is voor sy skeerders - ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie.”

Die Kneg van die Here (Jesus, God se eie en enigste Seun), is ter wille van ons sondes deurboor. Hy is a.g.v. ons ongeregtighede verbrysel en soos 'n lam, sonder teëstribbeling, na die slagplek gelei.
 
Jes 53:8-12    
“Uit die druk en uit die strafgerig is Hy weggeneem; en onder sy tydgenote - wie het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes?  Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom.  En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee;  en by 'n ryke was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie.  Maar dit het die Here behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel 'n skuldoffer aangebied het, sal Hy 'n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die Here sal deur sy hand voorspoedig wees.  Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word;  deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak;  en Hy sal hulle skuld dra. Daarom sal Ek Hom 'n deel gee onder die grotes, en met magtiges sal Hy buit verdeel; omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het.”


Jesus, die beloofde Kneg van God het baie se skuld (die oortreding van God se Gebooie) gedra. Hy is afgesny en begrawe (gestraf vir sonde - gedood), terwyl Hy Self géén sonde gedoen het nie! Sy volmaakte gehoorsaamheid aan God se Gebooie, sal aan elke sondaar wat Hom as Verlosser aanneem, sonder verdienste, geskenk word.

Joh 1:29        
“Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê:  Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”
 
Johannes die Doper het Jesus herken as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.  

1 Kor 5:7        
“Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle 'n nuwe deeg kan wees - soos julle inderdaad ongesuurd is - want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus.”


Paulus erken dat Jesus die ware Paaslam was wat geslag is en waarvan die Paasfees die simbool was. Ons moet in Hom wedergebore mense word, skoongemaak van die sonde - tot God se eer.
 
Matt 20:28    
“Net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as 'n losprys vir baie.”

Jesus het gekom om Sy lewe te gee as 'n losprys vir sondaars.  Die prys van sonde, is die bloed van die oortreder (Hebr 9:22-26). Jesus het daardie prys vir en in jou plek betaal.

 

Gaan na die volgende studie:  DIE LAM IS AANBIDDINGSWAARDIG

bottom of page