top of page

DIE BOEK VAN DIE LAM

Openb 5:5    
“Toe sê een van die ouderlinge vir my:  Moenie ween nie;  kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek.”

Die Verseëlde Boek word nie 'n naam gegee nie. Die Lam het egter die reg om die Verseëlde Boek in besit te neem en dit oop te maak, want Hy het Satan en die sonde oorwin.  

Openb 5:9    
“Toe sing hulle 'n nuwe lied en sê:  U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie.”

Die Boek behoort aan die Lam, want Hy het daarvoor betaal met Sy eie lewe. Die Boek blyk die wetlike dokument te wees van almal wat losgekoop is van die straf van die sonde, nl. die ewige dood.
 
Lukas 10:20    
“Maar julle moenie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderworpe is nie, maar wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskrywe is.”


Ons name word in hierdie uiters belangrike Boek opgeteken wanneer ons Jesus as ons Verlosser, volgens God se wil aanneem.

Openb 3:5    
“Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele.”

Elkeen kan die sonde oorwin deur geloof in Jesus, waarna hy met Sy geregtigheid beklee sal word. Die Boek van die Lam vorm deel van die Oordeel. Dit bepaal wie gered en wie verlore is. Dit is dus baie belangrik dat ons name in die Boek van die Lam verskyn, sodat Jesus ons in God se Groot Oordeel kan verteenwoordig (Ex. 32:32,33; Hand 17:30,31; Openb 14:6,7; 20:12,15; 22:27; Hand 17:30,31).

Openb 21:27    
“En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie;  maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam.”

Dit is lewensnoodsaaklik dat ons naam verskyn in die Boek van die Lewe van die Lam, anders kan ek die Heilige stad nie binnegaan nie.

Openb 20:15    
“En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”

Ons name word nie per ongeluk uit die Boek van die Lewe uitgewis nie. Indien ons weier om van sonde te skei, óf Jesus se plan om hom te red, verwerp, sal so ’n persoon uiteraard die merkteken van die Dier ontvang en die toorn van God beleef (Sien Openb 14:6-12).
 
MY VERHOUDING TOT DIE LAM
 
2 Kor 5:21    
“Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”

Christus is soos 'n sondaar behandel. Die straf wat die sondaar toekom, is op Hom geplaas. So word ons in staat gestel om Christus se sondelose lewe te kan verkry. Sy sondelose lewe word ons s’n sodra ons Jesus deur die geloof as ons Verlosser aanneem. Ons hoef nie te wag tot ons goed genoeg is, voor ons Hom aanneem nie.

Hand 10:43    
“Aangaande Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergifnis van sondes deur sy Naam ontvang.”

Al die profete getuig van vergifnis van sonde deur te glo in Hom wat sou sterf. Selfs die Ou Testament erken net hierdie een verlossingsmetode - geloof in die komende Verlosser.

1 Joh 3:2,3    
“Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie;  maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.  En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.”

Elkeen wat glo in Jesus wat weer sal kom, word alreeds beskou as ‘n kind van God. Die kennis van kindskap deur die reiniging van Jesus se bloed, bring ‘n verandering van karakter mee (heiligmaking).  
 
Openb 19:7,8    
“Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.  En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.”
 
Die Bruid (kerk - die wat glo in Jesus) maak haar gereed vir Jesus se wederkoms. Haar Bruidsrok (geregtigheid van Jesus) word toegeskryf aan die heiliges wat Jesus deur geloof aangeneem het. Om hierdie rede word die Nakomelinge van die vrou van Openb 12, gekenmerk deur die onderhouding van God se gebooie en die geloof in Jesus Christus. (Openb 12:17; 14:12; 22:14)

Openb 12:11    
“En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.”


Die oorwinning oor die draak (duiwel en die sonde waarvoor hy staan) is slegs moontlik deur die bloed van die Lam. Ons moet egter ‘n getuienis gee, van ons geloof in die Lam as ons Verlosser. Christus is ons alles, selfs ons lewe.

GOD SE UITNODIGING

Openb 22:17    
“En die Gees en die bruid sê:  Kom!  En laat hom wat hoor, sê:  Kom!  En laat hom wat dors het, kom;  en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”

Die Heilige Gees en Bruid (Kerk van Jesus) nooi ons om die water van die lewe verniet te neem. Die Lam sal daardie behoefte in u vervul, aanvaar slegs die uitnodiging!

 

AANVAAR JY DAT DIE LAM, JESUS CHRISTUS VIR JOU PERSOONLIK GESTERF HET, EN WIL JY JOU NAAM IN DIE BOEK VAN DIE LEWE GESKRYF Hê?

 

Gaan na die volgende afdeling:  6. Die Sewe Seëls van Openbaring

bottom of page