top of page

8. DIE ANTICHRIS VAN OPENBARING ONTMASKER

WIE IS DIE ANTICHRIS?


Daar heers vandag groot belangstelling omtrent die Antichris. Ons word gewaarsku teen sy merk, naam en beeld. Maar wie is die Antichris? Hoe kan ons hom uitken? Waar kom hy vandaan? Hoe raak hy my lewe?

DIE BETEKENIS VAN "ANTI-"

Die Griekse voorsetsel "Anti" beteken in die algemeen, "om teen iets te wees." Die dominante betekenis van "Anti," is om "in die plek van," óf om "plaasvervangend" van iets anders te wees.  

Die woord "Antichris," beteken dus "iets wat in die plek van God en sy waarheid is", óf om "Christus as Verlosser te vervang."

2 Thess 2:3,4    
“Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.”

Die Bybel sê dat die Antichris binne die Kerk werksaam sal wees en sal voorgee dat hy God is, terwyl hy eintlik die "Teenstander" van God en Waarheid is.  
 
Die Antichris is nie 'n ideologie van Marxisme of Ateïsme nie, maar 'n godsdienstige sisteem wat die Christelike geloof binne dring deur ‘n oorname en afvalligheid na ‘n ander valse godsdienstige sisteem toe.

Openb 13:1-4    
“En ek het 'n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe 'n naam van godslastering. En die dier wat ek gesien het, was soos 'n luiperd, en sy pote soos dié van 'n beer, en sy bek soos die bek van 'n leeu; en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag. En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was, en sy dodelike wond is genees. En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aangegaan. En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê:  Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?”

Die Antichris se hele strategie is om die plek van God in aanbidding oor te neem. So verkry die Draak (Satan), self ‘n geskape wese, eer en aanbidding, wat die Skepper-God alleen toekom.

Openb 14:6,7    
“En ek het 'n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met 'n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke. En hy het met 'n groot stem gesê:  Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom;  en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.”

Die eerste van drie engele-boodskappers bring ‘n ewige evangelie aan die mensdom. Terselfdertyd waarsku hy die bewoners van die aarde, dat God diegene wat roekeloos voortgaan met hul sondige weë, sal oordeel.  Hy roep ook die wêreld terug na Skepperaanbidding. ‘n Tweede boodskapper sou hom volg en verkondig dat Babilon (die samestelling van godsdienstige afvalligheid) geval het. ‘n Derde boodskapper sou volg en die wêreld waarsku teen die Dier, sy Beeld en merk (Openb 14:9-11).
 
Die finale stryd in die wêreld sal handel oor aanbidding!  Die groot vraag is: Wie aanbid u?

2 Thess 2:9    
“Hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen.”

Die Antichris werk met Satan se strategie. Sy doel is om die mensdom te mislei met kragtige dade, tekens en wonders van die leuen. Dit is veral aan die einde van tyd, dat hierdie wonders, tekens en kragtige dade gebruik sal word. Deur die misleidende wonders te aanvaar (dit aan God toe te gedig), aanbid ons Satan, onder die wanindruk dat ons God aanbid.

SLEUTELS TOT PROFETIESE SIMBOLE

Eseg 4:4-6    
“Gaan lê ook op jou linkerkant, en sit daarop die ongeregtigheid van die huis van Israel; volgens die getal dae dat jy daarop lê, moet jy hulle ongeregtigheid dra.  En Ek lê jou die jare van hulle ongeregtigheid op volgens die getal dae, drie-honderd-en-negentig dae, dat jy die ongeregtigheid van die huis van Israel moet dra.  En as jy met hierdie dae klaar is, moet jy, vir die tweede keer, op jou regterkant gaan lê en die ongeregtigheid van die huis van Juda dra, veertig dae lank:  vir elke jaar lê Ek jou een dag op.”

Een profetiese dag = Een letterlike jaar. (Sien ook Num 14:34)

Jer 4:11-13,16        
“In dié tyd sal aan hierdie volk en aan Jerusalem gesê word:  'n Gloeiende wind van die kaal heuwels in die woestyn op pad na die dogter van my volk, nie om te wan of te suiwer nie!  'n Wind te sterk vir hierdie dinge sal vir My kom; nou sal Ek ook oordele teen hulle uitspreek.  Kyk, soos wolke kom hy op, en soos 'n stormwind is sy strydwaens; sy perde is vinniger as arende.  Wee ons, want ons is verwoes!  Vermeld dit aan die nasies!  Kyk, laat dit hoor teen Jerusalem! Beleëraars kom uit 'n ver land en het hulle stem verhef teen die stede van Juda.”

Winde / stormwinde = Oorlog. (Sien ook Jer 49:35-37)

Openb 17:15    
“En hy sê vir my:  Die waters wat jy gesien het, waar die hoer op sit, is volke en menigtes en nasies en tale.”

Baie waters en see = Volke, menigtes, nasies en tale. (Jes 17:12,13)

Dan 7:17,23,24    
“Hierdie groot diere wat vier is - vier konings sal uit die aarde opstaan; Só het hy gesê:  Die vierde dier - die vierde koninkryk sal op die aarde wees, wat verskil van al die koninkryke en die hele aarde sal verslind en dit sal vertrap en dit verbrysel.  En die tien horings - uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan, en 'n ander een sal ná hulle opstaan, en hy sal verskillend wees van die voriges en drie konings neerwerp.”

Diere en Horings = Konings en koninkryke.

Hab 1:6-8    
“Want kyk, Ek gaan die Chaldeërs opwek, daardie kwaai en onstuimige nasie wat trek deur die wydtes van die aarde, om wonings in besit te neem wat aan hom nie behoort nie.  Verskriklik en gedug is hy, van homself gaan sy reg en hoogheid uit.  En vinniger as luiperds is sy perde en gouer as aandwolwe;  en op 'n galop kom sy ruiters, ja, ruiters!  Van ver kom hulle aangevlieg net soos 'n arend wat op sy prooi neerskiet!”

Vlieg met arendsvlerke = Spoed!
 
Openb 12:9    
“En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.”

Draak = Slang, Duiwel of Satan.
 

Gaan na die volgende studie:  OP SOEK NA DIE ANTICHRIS

bottom of page