top of page

- SPESIALE LEIDRAAD 9 -

Openb 13:3,4    
“En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was, en sy dodelike wond is genees.  En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan.  En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk?  Wie kan teen hom oorlog voer?”    

Die 1ste Dier uit die see (Antichris), se wond wat tot die dood moes lei, het gesond geword. Die gebeurtenis het die hele wêreld met bewondering gevul. So wonderlik was sy herstel, dat die hele wêreld die dier navolg.  Hierdie navolging van die Dier, is volgens die Bybel, niks anders as aanbidding nie. Hy wat die Dier aanbid, aanbid terselfdertyd ook die Draak (Satan)! Dit is die Draak wat die Dier weer uit die “dood” laat opstaan het, en hom mag gegee het.

a.    Op 11 Februarie 1929, het Mussolini die Vatikaanstad, met volle politieke gesag, aan die Pousdom terug oorhandig.  Verskeie ambassadeurs sit weer in haar poorte. Die Pousdom se aansien in die godsdienstige en politieke wêreld, is weer besig om by die dag te versterk.
b.    Die Pousdom het ± 1,6 biljoen lidmate wat sy gesag erken, uitgesluit ander gelowe (asook sekere Protestantse denominasies) wat hom erken as hoof van die "Christelike Kerk."

- SPESIALE LEIDRAAD 10 -

Openb 13:18    
Hier kom die wysheid te pas.  Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van 'n mens;  en sy getal is seshonderd-ses-en-sestig.

Die GETAL van die DIER is 666 en dit is die GETAL VAN 'N MENS. Die getal van die Antichris simboliseer sy gesag, net soos die getal 7, die gesag van God (as Skepper en Volmaakte) openbaar.  

Baie pogings is al aangewend om die betekenis van die getal 666 te ontsyfer. Manne soos Adolf Hitler, Gorbachef, Henry Kissinger, ens. se name is al voorgestel, selfs die van ‘n rekenaar, maar nie een van hulle voldoen aan die vorige nege kenmerke van die ware Antichris nie. Daar is NET EEN op wie die getal van toepassing kan wees.  
 
Ons almal weet dat die Ou Romeinse letters getalwaardes het. Let daarop hoe dat die Titel "VICARIUS FILLII DEI" die Bybelse Antichris (die Pousdom), duidelik laat uitstaan as die ware Antichris.

 

Getal van dier

Hierdie kan geen toeval wees nie. Die Bybel sê dat hierdie mag wat tussen die Ryke sou ontstaan, wat drie van die Tien sou neerwerp en woorde teen die Allerhoogste sou spreek; se getal kan bereken word, en sy getal is 666. Die Antichristiese Sisteem met 'n menslike getal, het 'n mens op die troon - die biskop van Rome / die Pous.

GOD HET DIE ANTICHRIS NIE VERGEET NIE

Dan 7:26,11,12    
“Maar die gereg sal sit, en hulle sal hom die heerskappy ontneem om dit vir goed te verdelg en te vernietig...  Ek het toe bly kyk vanweë die stem van die groot woorde wat die horing gespreek het; ek het bly kyk totdat die dier gedood en sy liggaam vernietig en aan die verbranding deur vuur oorgegee is.  Ook aan die ander diere is hulle heerskappy ontneem, en verlenging van die lewe is aan hulle gegee tot op tyd en uur.”
 
God vergeet nooit - Die “gereg” (God se Oordeel in die hemel) sal op die bestemde tyd sit en die loon van die Antichris bepaal. Sy loon sal die verbranding met vuur wees (die Tweede Dood van Openb 19:20; 20:10,14), nl. die Poel van Vuur wat sonde verbrand en vernietig.
 
Hand 17:30,31    
“God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy 'n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur 'n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.”

God het 'n dag bepaal wanneer die Hemelse Oordeel gaan sit. Dan sal Hy die wêreld oordeel, dit sluit die Antichris en sy onderdane in. Hierdie is nie net bangmaak praatjies nie. Die teken wat Hy aan die mensdom gegee het, as bewys hiervan, is die opstanding van Jesus uit die dood! As ons in die opstanding van Jesus glo, is ons ook verplig om aandag te skenk aan die hemelse oordeel!

Openb 14:6,7    
“En ek het 'n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met 'n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke.  En hy het met 'n groot stem gesê:  Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom;  en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.”

Die engel waarsku die bewoners van die aarde, dat die uur van God se hemelse oordeel aangebreek het, en dat die mensdom moet kies wie hulle gaan aanbid, of die Dier, of die Skepper wat hemel en aarde en see en waterfoneine gemaak het (Gen 1:1; Ex 20:8-11; Openb 4:11). (Sien die "2300 Aande-en-môre" Profesie lesing, vir die datum vir die aanvang van God se oordeel)
 
Dan 7:13,14    
“Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van 'n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom.  En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koninskap;  en al die volke en nasies en tale het Hom vereer;  sy heerskappy is 'n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.”
 
Aan die einde van die hemelse oordeel, sal die Seun van ‘n Mens (Jesus) Sy ewige Koninkryk in besit neem, terwyl Sy vyande veroordeel en vernietig sal word.

Dan 7:27        
“Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is 'n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees.”

Nadat die Seun van ‘n Mens (Jesus) Sy koningskap aanvaar het, sal die heiliges van die Allerhoogste, vir ewig daarin kan gaan woon. Wie is hierdie heiliges? Hulle wat vir duisende jare lank deur die Draak vervolg was en tot aan die einde van die wêreld se geskiedenis nie die Draak wou aanbid nie.    

Openb 12:17    
“En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God en die getuienis van Jesus Christus hou.”

Na die tydperk van die 1260 jaar (m.a.w. ná 1798 nC.) sou die Draak (Satan) weer probeer om teen God se heiliges oorlog te voer. Wie word as die heiliges beskou? Diegene wat die Gebooie van God en die getuienis van Jesus hou.    
 
Openb 12:11    
“En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.”

Ons kan die Satan en sy handlanger, die Antichris, oorwin! Hoe? Deur die Bloed van die Lam (Jesus se geregtigheid deur die geloof te aanvaar) en deur die woord van ons getuienis (gehoorsaamheid aan die wil van God soos uitgedruk in sy wet uit te leef). Dit beteken dat ons met die duiwel en die wêreld ook geen kompromie vir ons lewe sal aangaan nie. Instede daarvan sal ons eerder bereid wees om ons lewens vir die waarheid af te lê, as om ‘n kompromie met die draak en sy valsheid aan te gaan.

Hoekom Die Anthchris Nie ISLAM Is Nie

 

GLO U DAT DIE GEREGTIGHEID VAN JESUS U S'N IS DEUR DIE GELOOF?

 

IS U GEWILLIG OM DIE WIL VAN GOD DEUR U GETUIENIS UIT TE DRA?

 

IS U BEREID OM EERDER TE STERF VIR JESUS EN SY WAARHEID, AS OM 'N KOMPROMIE MET SATAN EN DIE ANTICHRIS AAN TE GAAN?


Gaan na die volgende afdeling:  9. Die Dier met die Sewe Koppe en Tien Horings

bottom of page