top of page

DIE TWEE GETUIES HERLEEF

Openb 11:11,12    
“En ná die drie en ‘n halwe dag het ‘n gees van die lewe uit God in hulle ingegaan, en hulle het op hulle voete gaan staan, en ‘n groot vrees het geval op die wat hulle aanskou het.  En hulle het ‘n groot stem uit die hemel vir hulle hoor sê: Kom op hierheen!  En hulle het opgevaar na die hemel in die wolk, en hulle vyande het hulle aanskou.”  

Hierdie 3½ dae (3½ jaar) periode was die tydperk waarin die Christelike godsdiens in Frankryk deur ‘n dekreet verwerp was. Op 26 November 1793, tydens die sitting van die Raad van die Parys Kommune, was alle godsdiens, behalwe die aanbidding van die Rede, verbied. Hierdie beperkinge was eers op 17 Junie 1797, presies 3½ jaar later, deur ‘n spesiale resolusie van dieselfde Raad, ter syde gestel, sonder enige teenstem.  Verdraagsaamheid teenoor die Bybel en die Christelike geloof, was aanvaar. Elke persoon kon God nou aanbid in die vryheid van sy eie gewete.
 
Die Franse Rewolusie het uit radeloosheid die Heilige Geskrifte van God verhoog. Na die vreeslike ontaarding wat plaasgevind het waarin die Woord van God aan bande gelê (gedood) is, het die regering besef dat die mens nie sonder sy Skepper sal kan leef nie. Indien ons aan onsself en aan die Satan oorgelaat word, sal ons onsself uitwis.  

Die waarde van God se Woord vir die mensdom, is terdee begryp en in 1806 nC. is die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap gestig vir die vertaling en verspreiding van die Bybel in die moedertale van die verskillende volke van die wêreld. In 1816 nC. is die Amerikaanse Bybelvereniging vir dieselfde doel gestig en was die Bybel alreeds in meer as 1000 Tale en Dialekte vertaal en versprei. God se Getuies het uit die dood opgestaan en herleef!
 
DIE GROOT AARDBEWING

Openb 11:13    
“En in dié uur het daar ‘n groot aardbewing gekom, en ‘n tiende van die stad het geval, en seweduisend mense het in die aardbewing omgekom, en die ander het bevrees geword en aan die God van die hemel heerlikheid toegebring.”

Die Groot Aardbewing word vertolk as die wyse waarop die Franse Rewolusie, Frankryk se ondersteuning van die Pousdom onttrek het. Dit is belangrik om daarop te let dat Frankryk die eerste koninkryk was, wat die politieke mag van die Pousdom tot stand gebring het en die enigste koninkryk wat nie omvergewerp was nie. Die nuwe Franse Republiek het Rome, as vyand van die mensdom, nie vergeet nie. Slegs 8 maande nadat die Bybel in ere herstel is, het Napoleon generaal Berthier op 10 Februarie 1798 nC., opdrag gegee om die Pous gevange te neem en as banneling in Valenco laat opsluit. Die politieke gesag van die Pousdom is terselfdertyd van hom ontneem. Dit sou ‘n welkome verligting bied vir diegene wat God in vryheid van gewete, en gehoorsaamheid aan die Skrif, wou dien. Die mens kon nou heerlikheid aan die God van die hemel bring.  

GEE AAN GOD DIE HEERLIKHEID
 
Openb 14:6,7    
“En ek het ‘n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met ‘n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke.  En hy het met ‘n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van Sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat hemel en aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.”

Die eerste van God se laaste drie boodskappe aan ‘n verloregaande wêreld, doen ‘n beroep op al die bewoners van die aarde om aan God, eer en heerlikheid te bewys. Twee redes word hiervoor verskaf. Eerstens: Die uur van God se oordeel het aangebreek, en tweedens: Hy is die Skepper van die hemel en die aarde en see en waterfonteine, wat Hom aanbiddingswaardig maak. Hierdie laaste sinsnede, is ‘n direkte aanhaling uit die hart van die Tien Gebooie wat God se maatstaf in die hemelse oordeel sal wees.

In die lesing het Jesus aan ons geopenbaar dat die Twee Getuies van God (die Ou- en die Nuwe Testamente) ons enigste Bron van Lig en Waarheid is en dat ons goed sal doen as ons hulle gesag in ons lewens aanvaar.
    

IS U GEWILLIG DAT SY TWEE GETUIES U OP DIE WEG VAN WAARHEID MOET LEI?

 

IS U GEWILLIG OM DIT AS HOOGSTE GESAG IN U LEWE TE AANVAAR?

 

Gaan na die volgende afdeling:  11. Die Antichris se Aanslag op God se Gesag

bottom of page