top of page

10. JESUS SE TWEE GETUIES


(SPESIALE INSETSELS)

Tussen die 6de Seël (Drie spesiale natuurtekens voor die Wederkoms) en die 7de Seël (Stilte in die hemel - Wederkoms van Jesus) soos beskryf in Openb 6 tot 8, het Johannes ‘n insetsel (Openb 7 - Die Verseëling), geplaas. (Sien studie oor “Die Sewe Seëls van Openbaring”)

Maar met verwysing na die Trompette, het Johannes twee insetsels (Openb 10 en Openb 11:1-13) geplaas tussen die 6de Trompet (Val van Konstantinopel - Oosterse Romeinse Ryk) en die 7de Trompet (Hemelse Oordeel en Jesus aanvaar die koningskap - Wederkoms). In hierdie lesing gaan ons ons aandag vestig op die tweede insetsel (Openb 11:1-13).

Hierdie insetsels (tussen die 6de en 7de Seëls en tussen die 6de en 7de Trompette) moet dien as vertroosting vir God se volk. Johannes wil hê dat ons moet onthou dat God steeds in beheer is van die wêreld se geskiedenis. Niks vind plaas sonder dat Hy bewus is van elke beweging wat die Bose, regerings, volke en die mens in besonder, maak nie.

DIE TEMPEL WORD GEMEET

Openb 11:1    
“En ‘n riet soos ‘n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid.”


Die engel wil hê Johannes moet die tempel, die altaar, en sy aanbidders, meet. Om “te meet” beteken om te bepaal of iets aan die voorgestelde standaard, voldoen. Dus beteken “om te meet” dieselfde as om te oordeel.  Die engel wil ons aandag vestig op die werk wat in die hemelse heiligdom aan die gang is. Die “meet” (oordeel) het te doen met die 2de Fase van Jesus se hemelse bediening - die reiniging van die hemelse Tabernakel, ook genoem die ondersoekende oordeel. (Sien lesing oor “Die Antichris se aanval op God se Verlossingsplan” en ook die lesing oor “God waarborg die Oordeel van Geregtigheid.”) Wat is God se standaard in die oordeel?

DIE STANDAARD IN DIE OORDEEL

Pred 12:13,14    
“Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense. Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg.”

Die maatstaf waarteen almal gemeet sal word, is die Tien Gebooie. Die Morele Wet verteenwoordig die karakter van God. In teenstelling daarmee, staan die sonde wat Satan se karakter verteenwoordig.

Dit is ook tydens dié oordeel, soos beskryf in Dan 7, dat die Dier en die Klein Horinkie geoordeel sal word (Dan 7:8-11,21,22).

VALSE AANBIDDING

Openb 11:2    
“Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap.”

‘n Spesifieke deel van die tempel, die voorhof, moet nie gemeet word nie. Hoekom nie? Want dit is aan die heidene gegee. Die term “heidene” stel diegene voor wat die ware Skepper-God, weens ongehoorsaamheid, nie vereer in hulle aanbidding nie. Hulle godsdiens is vals en onder die misleidings van Satan doen hulle nie ondersoek na die ware godsdiens wat in die Skepper se wil geanker is en waardeur hulle van die sonde gered kan word nie. Hierdie valse aanbidders word toegelaat om die heilige stad vir ‘n tydperk van 42 maande lank te vertrap. Wat beteken die “heilige stad?”

Hebr 12:22,23    
“Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges.”

Die “heilige stad” in die geval, staan vir die volk van God, net soos “Sion,” ook vir die volk van God staan (Jes 51:16). Die heidene (valse en ongehoorsame aanbidders) gaan die volk van God vir ‘n tydperk van 42 maande vertrap (verdruk en vervolg).  
 
Die tydperk van “vertrapping” kom ooreen met dié van die Klein Horinkie (Antichris / Pousdom) wat God se volk vir 42 maande, ‘n Tyd, Tye en ½Tyd en 1260 dae sou verdruk. Die Pousdom het die Christelike kerk oorheers vanaf 538 nC. tot 1798 nC. (Sien die lesing oor “Die Dier met die sewe koppe en die tien horings” vir ‘n meer volledige bespreking van die 1260 dae tydperk)

Volgens die Jaar/dag Beginsel (Eseg 4:6; Num 14:34) is die tydperk van 42 maande = 1260 profetiese dae of 1260 letterlike jare. Volgens God is die godsdiens wat die Antichris bedryf, dieselfde as die wat die heidene bedryf. Wat se soort van aanbidding is dit?

1 Sam 15:22,23    
“Daarop sê Samuel: Het die Here behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die Here? Kyk, om gehoorsaam te wees, is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.  Want wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens.  Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.”

Enige aanbidding, hoe opreg dit ookal bedoel word, wat in stryd met God se geopenbaarde wil is, word beskou as afgodediens (heidens). Dit is daarom treffend dat God diegene wat heidense praktyke en gewoontes onder die Naam van Christelikheid bedryf, as heidene beskou. Aan hulle is die voorhof van die tempel oorgegee.  

Net soos die leiers van die volk van Israel ‘n verlossing deur werke voorgestaan het en Jesus laat kruisig het onder die voorwendsel dat hulle die wil van God doen, net so het die afvallige kerk (Pousdom) ‘n valse verlossing deur werke voorgestaan en die ware navolgers van Jesus vervolg onder die voorwendsel dat hy die wil van God doen.

DIE TWEE GETUIES

Openb 11:3    
“En Ek sal aan my twee getuies gee, dat hulle, met sakke bekleed, duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank sal profeteer.”
 
Hier word na twee getuies verwys wat deur God daar gestel is om gedurende “1260 dae” te profeteer.  Weereens het ons met dieselfde tydperk (42 maande) soos bo, te doen. Dit stel ons in staat om die tydperk te identifiseer as die tydperk van Pouslike oorheersing (538 tot 1798 nC.). Gedurende die tyd waarin die Pousdom oor die Christelike Kerk regeer het, moes God se twee getuies onder ‘n donker kleed van Tradisie en valse leringe, aanhou om te profeteer. Wie is die twee getuies van God?

Joh 5:36,39    
“Maar Ek het ‘n groter getuienis as die van Johannes, want die werke wat die Vader My gegee het om te volbring, die werke self wat Ek doen, getuig van My dat die Vader My gestuur het...  Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig.”

Die eerste getuie is die Ou Testamentiese Geskrifte wat voorspel dat God ‘n Verlosser (Messias) nl. Jesus Christus sou stuur wat die mens van sonde sou kom verlos.

Die tweede getuie vir God se waarheid, is die Nuwe Testament wat die vervulling van daardie beloftes aandui.  Dit beeld ook die krag van die evangelie uit wat die lewe en verlossingswerk van Jesus in die harte van mense verrig.

Hierdie twee getuies, die Ou- en die Nuwe Testamente (saam die Bybel genoem) sou gedurende hierdie tyd van verdrukking en vervolging en vertrapping van die waarheid, aanhou om te profeteer.

Openb 11:4    
“Hulle is die twee olyfbome en die twee kandelaars wat voor die God van die aarde staan.”

Hierdie is ‘n verwysing na die profesie van Sag 4:11-14 waarin die twee olyfbome beskryf word as die Boodskappers van God. Sodra die Woord van God aangeneem word, gee dit lig en lewe (verlossing) aan hom wat dit gehoorsaam.  

Ps 119:105    
“U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig op my pad.”


God se Woord verlig ons weë om die regte weg van waarheid, te midde van al die verleidings van Satan, te bewandel. (Sien Ps 85:13;  Hand 20:32; 2 Tim 3:16,17, en die lesing.)

Openb 11:5,6    
“En as iemand hulle wil beskadig, gaan daar vuur uit hulle mond en verslind hulle vyande; en as iemand hulle wil beskadig, moet hy op dieselfde manier gedood word. Hulle het mag om die hemel te sluit, sodat daar in die dae van hulle profesie geen reën val nie; en hulle het mag oor die waters, om dit in bloed te verander en om die aarde te tref met allerhande plae so dikwels as hulle wil.”


God se Woord is in staat om die opstandiges skade aan te doen. Op die Woord van God, het Elia vuur uit die hemel op twee afdelings van koning Ahasia van Samaria, se soldate laat neerreën. Dit was omdat die koning afgode geraadpleeg het en die gesalfde van die Here gevange wou neem. Die Bybel maak dit ook duidelik dat vuur die goddelose aan die einde van die wêreld se geskiedenis sal uitwis (Mal 4:1-3; Matt 25:41,46; Openb 20:9,15).  

Deur die Woord van God het Elia gebid en daar het vir 3½ jaar geen reën op die aarde geval nie (1 Kon 17 en 18; Jak 5:17,18).  

Deur die Woord van God het Moses die riviere en waterstrome in bloed verander (Ex 7:14-25). God se Woord is waar en deur Moses het Hy aan ons ‘n voorbeeld gegee van die Seëninge wat sal rus op die mens wat gehoorsaam is aan die geopenbaarde wil van God en die Vloeke wat sal rus op die wat ongehoorsaam is aan die Woord van die Here (Deut 11:13,14, 26-29; 31; 32; Openb 16 tot 19:3; 20:8,27). 

 

Gaan na die volgende studie:  GEESTELIKE VERVAL

bottom of page