top of page

DIE DIENSTE VAN DIE HEILIGDOM

Hebr 9:6,7    
“En nadat hierdie dinge so ingerig was, het die priesters wel gedurig in die eerste tabernakel ingegaan om die dienste te vervul, maar in die tweede die hoëpriester alleen, een maal in die jaar, nie sonder bloed nie, wat hy offer vir homself en vir die sondes van die volk uit onwetendheid begaan.”
 

VOORSTELLING VAN DIE TABERNAKEL EN SY MEUBLEMENT

Daar was twee verskillende dienste in die heiligdom gelewer, naamlik ‘n daaglike diens en ‘n jaarlikse diens.
 
1.  DAAGLIKSE DIENS

Hierdie diens was daagliks beskikbaar en verrig vir wanneer iemand gesondig het. Die dienende priester het die bloed in die Heilige Vertrek (eerste vertrek) van die tabernakel (later die tempel) ingeneem, waar  die bloed sewe maal vóór die Voorhangsel (gordyn) gesprinkel was. Die Priester moes ook van die bloed aan die Reukoffer-altaar smeer en die orige bloed aan die voet van die Brandoffer-altaar uitgiet. (Sien Lev 4-8 vir verdere inligting).

Wat die sondaar betref, was sy sonde vergewe en afgeskryf en hy het met ‘n skoon gemoed huiswaarts gekeer. Maar wat God betref, was daardie sonde nog steeds in die heiligdom teenwoordig en is die Heiligdom daardeur "besoedel." Hierdie “besoedeling” het ‘n tweede diens noodsaaklik gemaak.

2.  JAARLIKSE DIENS

Hierdie diens was net een maal in die Jaar waargeneem en het die simboliese reiniging van die Tabernakel of Tempel, beteken. Die sondes wat simbolies in die Heiligdom opgehoop het, word tydens hierdie spesiale diens uit die Heiligdom verwyder.

Met die jaarlikse diens was net die Hoëpriester alleen toegelaat om in die Allerheiligste Vertrek in te gaan. Hy het dan die Verbondsark met die bloed van die bok wat vir die Here gekies en geslag is, besprinkel. Daarna is ook elke ander meubelstuk besprinkel om dit ook te reinig van die sonde wat in die heiligdom "opgehoop" het.

 

Die Hoëpriester moes dan die sondes oordra na 'n bok wat vir Asasel (Satan) gekies is. Die bok was nie geslag nie, (en was dus nie 'n offer nie), maar moes in die woestyn losgelaat word. Vir die Volk van God het hierdie gebeurtenis van die Groot Versoendag (Yom Kippur) wat slegs een maal in die Jaar plaasvind, as 'n Oordeel bekend gestaan.  Indien iemand  sy sondes nie na die Heiligdom gebring het nie, is daar nie versoening vir sy sondes gedoen nie, en was dit op sy eie hoof. So 'n persoon moes dan self die straf daarvoor dra (Sien Lev 16 vir 'n volledige bespreking van die diens en die offerdiere wat gebruik was).
 
Indien die sondaar sy sondes na die priester gebring het gedurende die jaar, dan was daardie sondes met die Versoendag "verwyder van die boeke," deur dit uit die Heiligdom weg te neem. Selfs al was ‘n persoon afvallig deur die hele jaar, maar hy het ‘n offer gebring net voor dié jaarlikse diens waargeneem is, dan was hy as deel van God se volk beskou, en sy sondes wat in die Tabernakel ingeneem was, was vergewe.  

Die sondaar wat weens onverskilligheid, egter in gebreke bly om ‘n offer te bring (en sodoende sy sonde nie na die Tabernakel oordra nie), vóór die jaarlikse diens ‘n aanvang neem, hy moet  sy sondes en die vloek daarop, dra. Dit was nie “opgeteken” en “opgeneem” in die Tabernakel nie. So ‘n persoon was dan van die volk van God afgesny. Slegs hulle wie se sonde in die heilgdom ingeneem was deur die priester, hulle sondes is vergewe.

DIE PROFETIESE BETEKENIS VAN DIE HEILIGDOM EN SY DIENSTE

Hebr 9:23,24    
“Dit was dus nodig dat die afbeeldinge van die dinge in die hemele deur hierdie offers gereinig moes word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie.  Want Christus het nie ingegaan in 'n heiligdom met hande gemaak, 'n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn.”

Die aardse Heiligdom was 'n simbool van die ware Hemelse Tabernakel waar Jesus nou vir almal wat Hom aanroep, intree.

Hebr 10:10-12    
“Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.  En elke priester staan wel dag vir dag om die diens waar te neem en dikwels dieselfde slagoffers te bring wat tog nooit die sondes kan wegneem nie; maar Hy het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God.”

Sedert Sy hemelvaart in 31 nC., tree Jesus vir die mens as Voorspraak op in die Hemelse Heiligdom. Hy bedien Sy eie bloed (wat Hy eens en vir altyd gestort het vir die sondige wêreld) voor God se troon (Hebr 10:10,14; 1 Kor 5:7; Joh 1:29).
 
Die Daaglikse Diens van bemiddeling in die aardse Tabernakel, kom ooreen met die 1ste Fase van Jesus se hemelse bediening van voorspraak vir almal wat Hom aanneem.

Hebr 10:12,13    
“...maar Hy het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God en wag nou verder totdat sy vyande gemaak is 'n voetbank van sy voete.”

Terwyl Jesus besig is met die 1ste Fase van sy hemelse bediening, (optrede as Middelaar) is Hy terselfdertyd besig om te wag dat die tyd moet aanbreek waarin Sy vyande die “voetbank van Sy voete” (aan Hom onderworpe) gemaak sal word. Dit sou plaasvind sodra die tyd aanbreek om met die oordeel te begin. Tot en met hierdie tyd het Jesus nog net opgetree as Middelaar en Voorspraak (1ste Fase van Sy hemelse bediening) vir almal wat Hom aangeneem het. Hy het nog nie as Regter (2de Fase van sy hemelse bediening) begin optree nie.
 
‘N HEMELSE WENK

Hoe weet ons dat ons in hierdie profesie met die tweede Fase van Jesus se hemelse bediening te doen het? Watter wenk gee die engel aan Daniël om hom te maak verstaan, dat hy nie sy aandag moet toespits op die heidense koninkryke nie, maar op die heiligdom se tweede fase van priesterlike bediening wat daarmee gepaard gaan?

Dan 8:20,21    
“Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die koning van die Meders en Perse.  En die harige bok is die koning van Griekeland; en die groot horing wat tussen sy oë was, dit is die eerste koning.”

In ‘n vorige lesing (“Die Antichris van Openbaring ontmasker” volgens Dan 7), het ons gemeld dat God met die mense in die taal wat hulle ken, kommunikeer. Met koning Nebukadnesar van Babilon (Dan 2) het Hy gepraat in die taal van beelde en afgode. Met Daniël as ‘n Joodse banneling in Babilon (Dan 7), het Hy gepraat in die taal van onrein diere wat heidense nasies voorgestel het, wat die wêreld opeenvolgens sou oorheers.
 
Maar hier in Dan 8 verwys die engel na twee rein diere wat twee onrein nasies voorstel. Waarom die skielike verandering. Die klem van die profesie in Dan 8, draai egter nie om die twee heidense nasies wat in stryd met mekaar is nie. Die klem van die profesie val op die werking van die Klein Horinkie wat ‘n aanval op die heiliges van God sou loods, die waarheid teen die grond sou vertrap en die heilige woning en sy dienste sou neerwerp.

Die beskrywing van die twee rein diere, ‘n skaapram en ‘n bokram, wil egter ons aandag op iets heel anders vestig as op heidense nasies. Die engel gee aan Daniël ‘n wenk t.o.v. die tabernakel en sy dienste, spesifiek die tweede diens wat net een maal in die jaar plaasvind. Die twee rein diere was albei offerdiere wat gebruik was tydens die eenmalige of Jaarlikse diens van die tabernakel.

Hierdie diens het bekend gestaan as die Oordeelsdiens of “Yom Kippur.” ‘n Spesifieke tydperk, “2300 aande en môres,” sou verloop, voor God sou optree teen die Klein Horinkie Mag wat die Heiliges vervolg, die waarheid teen die grond vertrap en die tabernakel en sy dienste neerwerp. (Meer hieroor later in die lesing)

Die Jaarlikse Diens (Yom Kippur) van oordeel en reiniging van die aardse Tabernakel, kom ooreen met die 2de Fase van Jesus se hemelse bediening (Hy sou dan optree as Regter). Die hemelse oordeel sou op ‘n bepaalde tyd ‘n aanvang neem, soos deur die profesieë van Dan 8 en 9 en Openb 10 en 14 voorspel is.

 

Gaan na die volgende studie:  ANTICHRIS SE AANSLAG OP JESUS SE HEMELSE BEDIENING

bottom of page