top of page

GOD SE OORDEEL UITGESPREEK OP DIE ANTICHRIS

Dan 7:9-11    
“Ek het bly kyk totdat trone reggesit is en 'n Oue van dae gaan sit het;  sy kleed was wit soos sneeu en die hare van sy hoof soos skoon wol;  sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan 'n brandende vuur; 'n stroom van vuur het gevloei en voor Hom uit gegaan;  duisend maal duisende het Hom gedien, en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gestaan; die gereg het gaan sit, en die boeke is geopen.  Ek het toe bly kyk vanweë die stem van die groot woorde wat die horing gespreek het;  ek het bly kyk totdat die dier gedood en sy liggaam vernietig en aan die verbranding deur vuur oorgegee is.”

Die gereg sal sit en aan die einde van die Oordeel (gerig), sal die Dier en die Klein Horinkie wat uit hom voortspruit, met vuur vernietig word.


Dan 7:26        
“Maar die gereg sal sit, en hulle sal hom die heerskappy ontneem om dit vir goed te verdelg en te vernietig.”

Die Klein Horinkie belaster God, val die waarheid, God se volk en die Wet, aan. Die gereg sal egter op die bepaalde tyd sit, om die Antichris en die Dier te oordeel, te verdelg en te vernietig. God se plan behels die ewige en permanente vernietiging van alles wat boos is - nooit weer sal sonde na dié vernietiging kan verskyn nie.  

Openb 17:16,17    
“En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand. Want God het dit in hulle harte gegee om sy bedoeling uit te voer en een bedoeling uit te voer, en hulle heerskappy aan die dier te gee totdat die woord van God volbring is.”

Die hoer wat op die Dier (met sewe koppe en die tien horings) en op die baie waters sit, sal aan die Einde met vuur vernietig word, sodra  Gods woord vervul is, d.w.s. nadat God se oordeel afgehandel is.

Openb 18:8-10    
“Daarom sal haar plae op een dag kom: dood en droefheid en honger;  en met vuur sal sy verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel.  En die konings van die aarde wat met haar gehoereer en weelderig geleef het, sal oor haar ween en oor haar weeklaag wanneer hulle die rook van haar verbranding sien, terwyl hulle ver weg staan uit vrees vir haar pyniging en sê:  Wee, wee jou, o groot stad Babilon, o sterk stad, want in een uur het jou oordeel gekom!”
 
God sal die plae op een dag (een letterlike jaar) op Babilon uitstort en die Valse Sisteem van godsdienstige afvalligheid sal met vuur verbrand word.  
God het nie vergeet wat die goddelose aan Sy kinders deur die eeue gedoen het nie. Daarom sal haar plae verskriklik wees - dood, droefheid, honger en laastens, God se allerverskriklikste vuur wat alle spore van sonde sal vernietig! Dit sal ook hulle vernietig wat aan haar vasgeklou het (Openb 18:4,5).

Selfs die ekonomiese en politieke wêreld sal teleurgesteld wees oor haar vernietiging. Hulle vernietiging sal ook kom wanneer Jesus deur die wolke van die hemel breek (Sien Openb 19).

HOE RAAK DIE HEMEL SE OORDEEL MY TOEKOMS?

1 Joh 4:17-19    
“Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld.  Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.  Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.”

Geen ware en getroue kind van God het nodig om die hemelse oordeel te vrees nie. Jesus se liefde vir ons is reeds aan die Kruis gedemonstreer. Hy het die straf van die sonde in die plek van elke sondaar op Hom geneem. Jesus is nie net ons Regter nie, maar ook ons Verlosser en Advokaat / Middelaar in die Hemelse Oordeel.

Dan 8:27        
“En ek, Daniël, was gedaan en was dae lank siek; daarna het ek opgestaan en die werk van die koning gedoen;  en ek was verstom oor die gesig, maar niemand het dit gemerk nie.”

Die gebeure in die visioen van Dan 8, het die profeet diep geskok, dat hy dae lank siek was. Gabriel kon vir ‘n tydlank nie aan hom die begindatum vir die 2300 Aande-en-Môre Profesie kon gee nie. ‘n Redelike tyd sou eers verloop voordat Daniël genoegsaam herstel het van die skokkende visioen. Die engel sou weer terugkeer om aan Daniël die profesie te verduidelik.
 
In Dan 9 verskyn die engel weer aan Daniël. Die engel Gabriël het die begindatum van die 2300 Aande-en-Môre Profesie aan die hand van 'n kleiner profesie, die 70-Weke Profesie (Dan 9:24-27), aan Daniël bekend gemaak. Met hierdie leidraad sal ons in staat wees om die datum te bepaal vir die aanvang van God se Oordeel in die hemel.

Amos 3:7    
“Want die Here Here doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.”

God laat nooit Sy volk in die duister oor Sy planne vir die toekoms nie. God gebruik Sy eie profete om aan ons Sy planne bekend te maak. Ons hoef nie na die teekoppie, die sterre of die Gypsie lang die pad te gaan om God se toekomsplanne te weet nie.

Ons moet altyd bid en wag op die Here.  Hy sal ons nie teleurstel nie. Onthou, Hy wil Sy Volk red uit die kloue van die Draak, die Dier en die Valse Profeet, maar alles het sy bepaalde tyd. God weet wanneer om op te tree. Volgens Openbaring is Leidsaamheid (volharding) ‘n eienskap van God se kinders. Ons moet leer om geduldig te wag op Hom (Openb 14:12).

Hebr 12:1,2    
“Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof...”


In hierdie moeilike tye waarin ons leef, kan ons dit allermins bekostig om ons oë van Jesus af te neem. Ons gedagtes moet permanent op Hom gerig wees. Om die stormsee te aanskou, sal ons soos Petrus wegsink in die sondemassa. Jesus is ons Anker in dié tyd van dwaalleer en tradisies van mense wat ons ondervind.

Hebr 4:14-16    
“Terwyl ons dan 'n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie 'n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.  Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.”

Ten spyte daarvan dat Satan en sy gespuis probeer om die Plan van Verlossing in die wiele te ry, het ons steeds die versekering dat Jesus in die hemel optree as ons Middelaar en ons moet gedurig tot God, deur Hom (Jesus) gaan en hulp en genade vra om op die regte tyd gehelp te word, veral wanneer die versoekings op hul grootste is. Onthou, dat God Sy kinders liefhet, en dat Hy ons sal red uit hierdie verkeerde geslag waarin ons verkeer, as on saan Sy hand vashou.

 

WIL JY Hê DAT JESUS OOK VIR JOU MOET INTREE VOOR SY VADER, NIE NET NOU NIE, MAAR OOK IN DIE OORDEEL WAT IN DIE HEMEL PLAASVIND?


Gaan na die volgende afdeling:  13. Die Messias Waarborg die 2 300 Aande en Môre

bottom of page