top of page

14. GOD SE OORDEEL BEVESTIG DEUR ‘N WÊRELDWYE GODSDIENSTIGE HERLEWING

OORSIG OOR DANIËL 8 EN 9


Volgens Dan 7 en 8 sou die Klein Horinkie (en in Openb 13 en 17 Babilon), daarop uit wees om Christus se middelaarswerk in die hemelse Heiligdom te verduister, die waarheid teen die grond te vertrap, probeer om die wet van God te verander en die heiliges te vervolg. Hoe lank sou God vir Satan en sy assistente, die Antichris en die Valse Profeet en hul goddeloosheid duld?

Dan 8:13,14    
“Toe hoor ek ‘n heilge spreek; en ‘n ander heilige het aan die een wat spreek gesê: Hoe lank sal die gesig duur - van die voortdurende offer en die ontsettende goddeloosheid - sal die heiligdom sowel as die leër aan vertrapping oorgegee word?  En hy het vir my gesê:  Tweeduisend-driehonderd aande en môres, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word.”

Volgens die gesprek tussen die persone in die visioen kon Daniël aflei dat God wel van plan was om met die Klein Horinkie en sy gruweldade af te reken. Volgens die Jaar / Dag Beginsel (Eseg 4:6) is 2300 profetiese dae dieselfde as 2300 letterlike jaar. Daniël het die visioen nie verstaan nie, en gedink dat die Joodse volk se ballingskap wat net 70 jaar sou wees, verleng sou word met 2300 jaar. God het toe die engel Gabriël gestuur om die visioen van die 2300 Jaar aan die hand van ‘n kleiner profesie, die 70-Weke (490 jaar) Profesie te verduidelik.

DIE DOEL VAN DIE 70-WEKE PROFESIE

1.    Om die begindatum vir die 2300 Jaar profesie vas te stel - Die dekreet van koning Artasasta van Medo-Persië, is in 457 vC. gegee.

2.    Om die toekoms van die Joodse Volk bekend te maak- Die Joodse Volk is 490 jaar gegun om Jerusalem te herbou en hulle maatbeker van sondes vol te maak, en die Messias te aanvaar óf te verwerp.

3.    Om die Tyd vir die verskyning van die Messias en Sy verbond met die Joodse Volk bekend te maak - Hy sal verskyn in 27 nC., versoening doen vir sonde in 31 nC. (sterf aan die Kruis in die helfte van die 70ste week, en sal slagoffer en spysoffer laat ophou) en sou ewige geregtigheid deur Sy volmaakte lewe beskikbaar stel vir die mens.

4.    Die vervulling van die 70-Weke profesie sou dien as waarborg vir die vervulling van die 2300 Jaar profesie wat ver in die toekoms sou strek.

5.    Om die Tyd bekend te maak wanneer God se Oordeel sou begin en waarin die Klein Horinkie in gedagtenis gebring sou word. Deur 2300 Jaar by 457 vC. (begindatum ) te tel, bring ons by 1844 nC. (Onthou om 1 jaar by te tel, want daar is nie 'n jaar "0" nie)

Die tydperk afgesny vir die Joodse volk, van die 2300 Jaar Profesie, was 490 Jaar. Dus, bereken vanaf 457 vC.(Begindatum) + 490 Jaar (70-Weke) = 34 nC. (Onthou om 1 jaar by te tel, want daar is nie 'n jaar "0" nie). Daar sou dus nog 1810 Jaar verloop voor die 2300 Jaar Profesie in 1844 nC. vervul sou word. (Sien lesing oor “Messias waarborg 2300 Aande-en-môre Profesie.”)
 

TABEL VIR DIE 2300 JAAR PROFESIE INSLUITENDE DIE 70-WEKE PROFESIE WAT VIR DIE JOODSE VOLK AFGESNY IS

DIE GEOPENDE BOEKIE

Terwyl die Oordeel van God in die hemel in 1844 nC. ‘n aanvang sou neem, het daar op aarde ‘n groot godsdienstige beweging aan die begin van die 1800's verskyn. Die Beweging sou die mensdom tot bekering en gereedheid roep vir die komende Oordeel.

Openb 10:1,2,5-8    
“En ek het 'n ander sterk engel uit die hemel sien neerdaal, bekleed met 'n wolk, en 'n reënboog was oor sy hoof, en sy aangesig was soos die son, en sy voete soos pilare van vuur; en in sy hand het hy 'n geopende boekie gehad, en hy het sy regtervoet op die see gesit en sy linkervoet op die land; En die engel wat ek op die see en op die land sien staan het, het sy hand na die hemel opgehef, en hy het gesweer by Hom wat tot in alle ewigheid lewe, wat die hemel geskape het en wat daarin is, en die aarde en wat daarin is, en die see en wat daarin is, dat daar geen tyd meer sal wees nie; maar in die dae van die stem van die sewende engel, wanneer hy met die basuin sal blaas, dan is die verborgenheid van God volbring, soos Hy die blye tyding verkondig het aan sy diensknegte, die profete.  En die stem wat ek uit die hemel gehoor het, het weer tot my gespreek en gesê:  Gaan, neem die geopende boekie in die hand van die engel wat op die see en op die land staan.”

Hierdie Engel het 'n geopende boekie in Sy hand. Met Sy hand opgehef na die hemel, sweer Hy, met die Skepper as Getuie, dat “Tyd” nie meer sal wees nie. Die langste Tydprofesie in die Bybel, die 2300 Jaar Profesie, is vervul. Geen “tyd” wat die uitgerekte stryd tussen Goed en Kwaad verder kon vertraag, bestaan meer nie. Van nou af, sal wêreldgebeure vinnig op mekaar volg.

Openb 1:1    
“Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur...”

Jesus sê dat dit wat nou uitgewys gaan word, gou moet gebeur.

Openb 22:12    
“En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.”

Jesus se koms is voor die deur. Hy kom om aan elkeen sy loon te gee, óf die ewige lewe, óf die ewige verderef.

Openb 10:1,2    
“En ek het 'n ander sterk engel uit die hemel sien neerdaal, bekleed met 'n wolk, en 'n reënboog was oor sy hoof, en sy aangesig was soos die son, en sy voete soos pilare van vuur; en in sy hand het hy 'n geopende boekie gehad.”

Die feit dat die Boekie óóp in die Engel se hand lê, dui daarop dat dit voorheen geslóte was. Dit was beslis nie die Boek van Openbaring nie! Selfs die naam Openbaring dui op iets wat oop gemaak word.
 
Openb 22:10    
“En hy het vir my gesê: Moenie die woorde van die  profesie van hierdie boek verseël nie , want die tyd is naby.”

Die Boek Openbaring moet oop bly, sodat ons in staat sal wees om die vinnige verloop van die wêreld se gebeure te kan volg, net soos God dit in sy Woord aan ons openbaar.

Joh 14:29    
“En nou het Ek dit aan julle gesê voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur.”

Jesus het sy dissipels vroegtydig gewaarsku oor sy komende kruisdood, nog voor dit sou plaasvind. Hierdie profetiese woorde moes dien om die geloof in Jesus as Verlosser te bevestig. Net so is die profesieë van Openbaring voor die tyd aan ons gegee, sodat ons ook in Jesus sal glo, wanneer hierdie dinge plaasvind.

As dit dan nie die boek van Openbaring is wat verseël is nie. Watter ander boek kan dit dan wees? Daar is slegs één Boek wat deur God, as verseël, verklaar was.    

Dan 12:4,9    
“En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe;  baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder.  En hy het gesê:  Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe.”

God het gesê dat die Boek Daniël verseël sal wees tot die "Tyd van die Einde” toe. Met vermeerdering in kennis sou die verstandiges die profesieë kon ontsyfer.

 

Gaan na die volgende studie:  DIE TYD VAN DIE EINDE

bottom of page