top of page

DIE TYD VAN DIE EINDE

Dan 12:7        
“Toe hoor ek die man, met linne bekleed, wat bo-oor die water van die rivier was, en hy het sy regterhand en sy linkerhand na die hemel opgehef en gesweer by die Ewig-Lewende: 'n Tyd, tye en 'n halwe tyd, en as hulle die mag van die heilige volk geheel verstrooi het, sal al hierdie dinge vervul word.”

Ná die "Tyd, Tye en ½Tyd" (1260 Jaar of 42 Maande van Pouslike heerskappy) verstryk het, sou die "Tyd van die Einde" aanbreek. (Sien Dan. 7:25; 12:7; Openb 11:2,3; 12:6,14; 13:5 7)

Vanaf 538 nC. tot 1798 nC. was die heiliges van God vervolg en die waarheid vertrap deur die pousdom of Middeleeuse Antichris.  Ná hierdie verskriklike Tydperk verstreke is, sou die "Tyd van die Einde" aanbreek.  Die laaste fase van die wêreld se geskiedenis het begin. Dit is op die tydperk waarop Openbaring konsentreer.

Die "Tyd van die Einde" het ná 1798 nC. (na die dodelike wond van die Pousdom) 'n aanvang begin neem.  Vooruitgang is skielik gemaak in die Menslike Wetenskappe, die Industriële Rewolusie het aangebreek, Kapitalisme het begin hoogty vier en die menslike Filosofie (die Rede) het die menslike verbeelding vrye teuels gegee, ens.

Hierdie ongekende ontploffing in kennis, sou ook uitgebrei word na die godsdienstige wêreld, want die Bybel sou nou in ‘n ander lig gesien word.  Dinge wat voorheen duister voorgekom het, het nou helder uitgestaan, veral die profetiese tydperk van die “Tyd, Tye en ‘n halwe Tyd.” Deur die profesieë van Daniël te bestudeer, sou die mens se profetiese kennis ook vermeerder en die sentrale boodskap van die Boek Daniël sou duidelik word.
 
DIE SPESIALE BOODSKAP VAN DIE BOEK DANIËL

Wat was hierdie wonderlike boodskap wat al die studente van Bybelprofesie skielik ontdek het?


Daniël 2 -    
Die Rotskoninkryk (Wederkoms).

 
Daniël 7 -    

Die Seun van die Mens wat die koningskap aanvaar en die heiliges wat saam met Hom, die Ewige Koninkryk in besit sou neem  (Wederkoms).

Daniël 8 en 9 -     
Die Ondersoekende Oordeel dan die Wederkoms.


Daniël 11+12 -

Die Finale Stryd tussen die koning van die Noorde (Babilon) en die heiliges. Migael (Jesus Christus) verskyn om Sy volk te red (Wederkoms).

DIE SPESIALE BOODSKAP VAN OPENBARING 10

'n Vergelyking tussen Dan. 12:4-9 en Openb. 10:1-6, toon aan ons dat albei boeke verwys na [1] dieselfde Engel, [2] dieselfde dekreet en [3] dieselfde boodskap. Dus is die "Klein Boekie" in die hand van die engel, niks anders nie as die boek van Daniël, wat eers verseël was en nou geopen is.

Volgens die beskrywing in Openb. 10, sal die sentrale tema van die Wederkoms van Jesus, in en vanuit die konteks van die profesieë van die boek van Daniël verkondig word.

Volgens Openb. 10, staan 'n magtige Engel ná 1798 nC. met 'n geopende Boekie (Daniël) in sy een hand en sweer dat "Tyd nie meer sal wees nie." Die laaste tydprofesie in die Bybel is vervul. Dinge gaan nou vinnig gebeur!
 
Openb 10:5-7    
“En die engel wat ek op die see en op die land sien staan het, het sy hand na die hemel opgehef, en hy het gesweer by Hom wat tot in alle ewigheid lewe, wat die hemel geskape het en wat daarin is, en die aarde en wat daarin is, en die see en wat daarin is, dat daar geen tyd meer sal wees nie; maar in die dae van die stem van die sewende engel, wanneer hy met die basuin sal blaas, dan is die verborgenheid van God volbring, soos Hy die blye tyding verkondig het aan sy diensknegte, die profete.”

Hierdie engel sweer by die Skepper-God, dat die Verborgenheid van God verby sal wees sodra die 7de engel op sy Trompet gaan blaas. Dit is die aankondiging dat Jesus die koningskap aanvaar het ( Wederkoms) en elkeen sy loon sal gee. (1 Thess 4:15-17; 1 Kor 15:51-54, Openb 22:12, ens. Sien ook die slotgedeeltes van die lesings oor: “Die Sewe Gemeentes van Openbaring,” “Die Sewe Seëls van Openbaring" en “Die Sewe Trompette.”)

DIE GESKIEDENIS BEVESTIG OPENBARING 10

Vanaf 1800 nC. (na 1798 nC.) het daar 'n wêreldwye belangstelling ontstaan omtrent die profesieë van Daniël en die spoedige Wederkoms van Jesus.  

Die 16de, 17de en 18de eeue het elk 20 skrywers oor die boek Daniël opgelewer. Die eerste helfte van die 19de eeu alleen, het 109 skrywers oor die profesiëe van Daniël, opgelewer.   

In die 16de eeu het slegs 7 skrywers nagevors oor die 1260 Dae en 2300 Dae profesieë; 12 skrywers in die 17de eeu; 21 skrywers in die 18de eeu. In die 19de eeu alleen het meer as 100 skrywers die tydprofesieë van Daniël nagevors. Almal se fokus was gerig op die "Tyd van die Einde," en die spoedige Wederkoms van Christus. (Vir verder inligting lees L. E. Froom, The Prophetic Faith of our Fathers, Vol I tot IV., Review and Herald Publishing Association, Washington, D.C. 1946.)

 

Gaan na die volgende studie:  DIE GROOTSTE GODSDIENSTIGE ONTWAKING

bottom of page