top of page

DIE GEHEIME WEGRAPINGTEORIE

Terwyl die Milleriete Beweging die wêreld aan die brand gehad het, het ‘n ander prediker in Brittanje, ‘n ander Metode van Bybelvertolking voor gestaan. Edward Irving het kort voor hy die Katolieke Apostoliese Kerk in 1832 gestig het, ‘n reeks byeenkomste gehou. Gedurende die profetiese byeenkomste het hy die “Wegrapingteorie" voorgestel. Hierdie nuwe siening het reg in die Katolieke dogma van Ribera se Futuristiese Metode van Bybelvertolking, geval.
 
Die “Wegrapingteorie” het nie veel welslae in die kansels van die Christelike Kerke gehad nie. Maar toe tref ‘n ramp die geestelike wêreld. Jesus kom nie in 1844 nC., soos die Milleriete voorspel het nie. As gevolg van dié “Bitter Teleurstelling,” het baie hul rug op die betroubare Historiese Metode van Bybelvertolking gedraai. ‘n Nuwe Metode om die Bybel te vertolk, was dringend nodig - iets wat as vertroosting vir dié teleurstelling kon dien.  

Die “Wegrapingteorie” van Irving, gemeng met Ribera se Futurisme, het menige verleë predikant se “eer” gered en die moderne sisteem geword waarmee alle profesiëe voortaan geïnterpreteer sou word. Vir die eerste keer, sedert die Hervorming, kon Rome haar hand oor die kloof uitsteek en dié van haar eiesinnige kinders vasgryp. Rooms-Katolisisme het met haar bedwelmende wyn, die oorwinning oor Protestantisme behaal.

Ribera se Metode van Bybelvertolking (Futurisme) het Daniël 9:24-27 (70-Weke Profesie) se 70ste week, aangeskuif tot in die laaste 7 jaar van die wêreld se geskiedenis. In plaas daarvan om God te verheerlik en Jesus Christus as die Messias te identifiseer, het Ribera Daniël 9 gebruik om die “toekomstige” Antichris te identifiseer en so die Dier verheerlik.

Volgens Ribera en Irving se gesamentlike siening, sou Jesus nie sigbaar vir sy kinders verskyn nie, maar wel in die geheim, en hulle “wegraap” voor die groot verdrukking deur die Antichris sou plaasvind. Twee verskillende metodes van Bybelvertolking het nou oop voor die mensdom gelê. (Sien Tabel van Twee Metodes hieronder.)

WAS DIE ADVENTBEWEGING VAN GOD?

Alhoewel daar 'n fout met die vertolking van die betekenis van die 2300 Jaar Profesie (Dan 8:14) gemaak was, was dit egter steeds God se beweging, 'n profetiese beweging wat op die regte tyd plaasgevind het, want:

[1] Die beweging vind plaas ná 1798 nC. (einde van Pouslike heerskappy) en aan die begin van die "Tyd van die Einde,"

[2] Dit begin in die eerste deel van die 19de eeu met die vermeerdering van kennis (1800 nC.),

[3] Dit val saam met die 2300 Jaar Profesie wat in 1844 geëindig het,

[4] die begin van Jesus se 2de Fase van Sy hemelse bediening, bevestig (Ondersoekende Oordeel in die hemel).

Sien Lev 16 en lesings oor “Die Antichris se aanslag op God se Verlossingsplan” en “Messias waarborg die 2300 Aande-en-Môre Profesie.

Sonder om dit te besef, het die Tweede Adventbeweging (1800 - 1850) die werk van die 1ste Engel van Openb 14:6,7 gedoen. Dit het die wêreld voorberei vir die Oordeel van God wat in die hemel ‘n aanvang geneem het.

Openb 14:6,7    
“En ek het 'n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met 'n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke.  En hy het met 'n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom;  en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.”

 

DIAGRAM VAN 70 WEKE EN UUR VAN SY OORDEEL BOODSKAP

VERGELYK DIAGRAM VAN 70 WEKE SOOS VERANDER DEUR DIE FUTURISTIESE- OF GAPINGSTEORIE

Van nou af sou die woord uitgaan: Aanbid die Skepper, want "die uur van Sy oordeel het gekom." Nie eens die groot  Hervormingsbeweging van die 16de eeu kon dié spesiale boodskap verkondig nie.  Hierdie was 'n eiesoortige boodskap vir diegene wat lewe in die "Tyd van die Einde," vanaf 1800 nC., ‘n tydperk waarin kennis sou vermeerder.

Met die bitter teleurstelling dat Jesus nie gekom het nie, het baie hul geloof in die Bybel verwerp. Uit die eens magtige beweging sou daar slegs 'n klein groepie oorbly, "hulle wat die Gebooie van God en die Geloof in Jesus bewaar."   Die res sou almal, stadig maar seker ingesluk word deur die magtige Babilon, wat die nasies dronk sou maak deur die bedwelmende wyn van haar hoerery (Openb 17:4; 18:2,3).

DIE FOUT IS ONTDEK!

Op 23 Oktober 1844 is die fout met die vertolking van die 2300 Jaar profesie opgespoor en die bitter teleurstelling is opgelos. Twee nuwe leerstellings is terselfdertyd in die Bybel ontdek - die werklike Hemelse Heiligdom (met sy ware bedieninge) en die Sewendedag Sabbat, as seël van die Lewende God.

Let op wat Hiram Edson (Metodis) te sê het oor die betekenis van die reiniging van die heiligdom van Daniël 8:14. Hy was besig om deur ‘n koringland te stap om ander Milleriete te gaan troos: “Ek het omtrent in die middel [van die land] tot stilstand gekom. Ek het duidelik en helder gesien dat instede daarvan dat ons Hoëpriester uit die Allerheiligste van die Hemelse Heiligdom na hierdie aarde toe moes kom, op die tiende van die sewende maand, aan die einde van die 2300 dae [die algemene verwagting van baie Milleriete], dat Hy vir die eerste keer op daardie dag, die twééde afdeling van die Hemelse Heiligdom betree het; en dat Hy ‘n werk gehad het om te verrig in die Allerheiligste [2de Fase van Sy hemelse bediening - oordeel], voordat Hy na die aarde sou kon terugkom.”

George R. Knight, Milennial Fever and the end of the World, Pacific Press Publishing Association, Ontario, 1993, bl. 305.
 
“Hahn en Edson het tot die gevolgtrekking gekom dat hulle ontdekkings dit was ‘wat die oorblyfsel nodig gehad het.’ As gevolg daarvan het Edson en Crosier ooreengekom om die onkoste vir die drukwerk te deel, indien Crosier [‘n artikel oor] ‘die onderwerp van die heiligdom sou skryf.’ Volgens Edson het Crosier begin om hul gesamentlike studie vroeg in 1845 in die ‘Day Dawn,’ te publiseer.”

“Op 7 Februarie, 1846 is hulle ontdekkings in die Day Star Extra gepubliseer onder die titel: ‘Die Wet van Moses.’ ...Deur Bybelstudie het Crosier en sy kollegas antwoorde verskaf tot vrae soos: Wat het gebeur op 22 Oktober 1844? en Wat was die heiligdom wat gereinig moes word?”

“Hul belangrikste gevolgtrekkings, soos gepubliseer in die ‘Wet van Moses,” kan as volg opgesom word:

(1) ‘n Letterlike heiligdom bestaan in die hemel.

(2) Die Hebreeuse heiligdomstelsel was ‘n volledige sienbare verteenwoordiging van die plan van verlossing, wat ‘n afbeelding was van die hemelse heiligdom.

(3) Net soos die aardse priesters ‘n twee-fase bediening in die heiligdom in die wildernis gehad het, so het Christus ook ‘n twee-fase bediening in die hemelse [heiligdom]. Die eerste fase het begin in die Heilige Afdeling, met Jesus se hemelvaart; die tweede het begin op 22 Oktober 1844, toe Christus beweeg het van die eerste afdeling van die hemelse heiligdom, na die tweede afdeling. Dus het die Antitipiese of hemelse Dag van Versoening op daardie datum plaasgevind.

(4) Die eerste fase van Jesus se bediening het gehandel oor vergifnis; die tweede handel oor die uitwissing van sonde en die reiniging van beide die heiligdom en die individuele gelowiges.

(5) Die reiniging van Dan 8:14, was ‘n reiniging van sonde en was daarom deur bloed voltooi, eerder as met vuur.

6) Christus kan nie terugkeer [met Sy wederkoms] alvorens Sy tweede afdeling [van die hemelse heiligdom] se bediening nie voltooi was nie.”  


“Dus het die gekombineerde studie van Edson, Crosier en Hahn, Edson se 23 Oktober [1844] ‘visioen,’ bevestig. Deur intensiewe studie van boeke soos Hebreërs en Levitikus, in verband met Daniël 7 tot 9, en die boek van Openbaring, het hulle gekom tot ‘n verduideliking van beide die “reiniging” én die “heiligdom” wat gereinig moes word.” Ibid., bl. 306, 307.
 
Die probleem was opgelos, maar min wou dit geglo. Die meeste Milleriete het geglo hulle is op pad huistoe, en kon dié boodskap nie aanvaar nie. Vir hulle sou Jesus enige oomblik deur die wolke breek, en hulle wegneem. Maar Jesus het nie in 1844, 1845 of selfs later gekom nie, al het baie bly hoop.

Openbaring 10:11    
“En hy het vir my gesê:  Jy moet weer profeteer oor baie volke en nasies en tale en konings.”

'n Spesiale opdrag word na 1844 gegee. "Profeteer wéér oor baie volke en nasies en tale en konings." Die "Oorblyfsel" van Openb 10 se Tweede Adventbeweging, sou weer 'n magtige Sendingbeweging word en aan almal vertel wat in 1844 nC. plaasgevind het. Hulle moes weer die wêreld waarsku dat Jesus wel gaan terugkom (ná die Oordeel), soos voorspel (Openb 22:12), al ken ons nie die uur, dag of datum nie. Hierdie Sendingbeweging sou ook twee verdere Engele-boodskappe verkondig (Openb 14:8-12), wat die 1ste Engel se boodskap van Openb. 14:6,7 sou ondersteun.

 

Gaan na die volgende studie:  GOD SE LAASTE WAARSKUWING AAN DIE WÊRELD

bottom of page