top of page

DIE MANLIKE KIND

Openb 12:5    
“En sy het 'n manlike kind gebaar, wat al die nasies met 'n ystersepter sou regeer;  en haar kind is weggeruk na God en sy troon.”

Die Kind waaraan die vrou (kerk) geboorte geskenk het, kan net op Jesus van toepassing wees, die "Saad van die vrou" - die eerste belofte aan die mensdom in die tuin van Eden (Gen 3:15; Gal 3:16).  

Jesus is mag gegee om die nasies met 'n ystersepter te regeer - te oordeel (Ps 2:6-12; Dan 7:13,14) omdat Hy die oorwinning oor die sonde, as Mens en namens die mens behaal het (Hebr 2:14-18; Openb 2:27; 19:15).

Jesus is weggeruk uit die sondige planeet met sy hemelvaart. Hy is na die hemel waar Hy gaan sit het aan die regterkant van die troon van God en waar Hy nou vir die mens as Middelaar optree (Hand 1:9-11; Rom 8:34; Efe 1:20; Hebr 6:19,20; 9:24; 1 Joh 2:1).

DIE DRAAK SE AANSLAG TEEN DIE OU TESTAMENTIESE KERK

Openb 12:3,4    
“En 'n ander teken het in die hemel verskyn, en daar was 'n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone; en sy stert het die derde van die sterre van die hemel meegesleep en hulle op die aarde gegooi.  En die draak het gestaan voor die vrou wat op die punt was om te baar, sodat hy haar kind sou verslind sodra sy gebaar het.”


Die Draak is die Duiwel (v.9). Satan is van die begin af teen God en Sy Seun, Jesus, gekant. Hy is ook terdeë bewus van die belofte wat God aan Eva gemaak het, nl. dat haar “Saad” (Jesus, as Waarheid, wat as mens gebore sou word - Gal 3:16; Joh 1:14) die slang (Satan) se kop sou vermorsel.

Satan werk nooit alleen nie, maar altyd deur menslike agente. Die sewe koppe van die Draak stel die 7 wêreldmagte voor deur wie Satan werk om die “saadlyn,” die kerk (uit wie Jesus en Sy navolgers, gebore sou word) te vervolg, nl. [1] Egipte, [2] Assirië [3] Babilon, [4] Medo-Persië, [5] Griekeland en dan [6] Rome. Die 10 horings is ook 'n aanduiding van die 10 koninkryke wat sou ontstaan met die verbrokkeling van die Romeinse Ryk. [7] Laastens stel die 7de kop die Pousdom voor, gewond en herrese.

In die visioen staan die Draak gereed om Jesus te vermoor sodra Hy gebore word - Dit stel beslis Rome in sy heidense fase voor. Vanaf Jesus se geboorte (Herodus), tot en met Sy dood (Pilatus), het Rome geveg om Jesus dood te maak:

1.    Dit was onder die Romeinse bevel van keiser Augustus, dat Josef en Maria na Betlehem moes gaan om as belastingpligtiges te registreer (Luk 2:1).

2.    Dit was Herodus, 'n Romein, wat Jesus as babatjie om die lewe wou bring, toe hy hoor van die nuwe koning wat gebore is. Hy het alle Joodse babatjies van 2 jaar en jonger laat vermoor (Matt 2:1-16).

3.    Dit was Pilatus, 'n Romein wat Jesus se dood deur Romeinse kruisiging goedgekeur het, deur "sy hande in onskuld te was" (Matt 27:20-31).

4.    Dit was 'n Romeinse seël wat oor die opening van Jesus se graf geplaas was en deur Romeinse soldate bewaak was, om te keer dat Hy uit die graf sou “verdwyn” (Matt 27:62-66).
 
Hierdie wrede plan van Satan, teen die Seun van God, sou egter nie slaag nie - Jesus sou die Slang se kop vermorsel na Sy kruisdood. Met Sy opstanding uit die dood, het Jesus die finale oorwinning oor Satan en die Dood behaal. Vanaf 31 nC. sit Hy aan die regterhand van God, waar Hy as Middelaar vir die mens intree en waar Hy gewag het vir die tyd om aan te breek wanneer sy vyande aan Hom onderwerp sal word tydens God se Oordeel (Efe 1:20-22; Fil 2:9-11; Hebr 1:13; 10:12,13).

Vanaf 1844 het Jesus met die tweede fase van sy Hemelse bediening, begin, nl. die reiniging van die Hemelse Heiligdom, wat as ‘n oordeel bekend staan. Jesus tree Self op as Regter van die mens en die Draak, die Klein Horinkie en die Valse Profeet.

SATAN SE AANSLAG TEEN GOD SE TROON

Openb 12:7-10    
“En daar het oorlog in die hemel gekom:  Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie.  En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.  Toe hoor ek 'n groot stem in die hemel sê:  Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag.”


Satan het nie net op aarde stryd gevoer nie, hy het ook probeer om die hemel in te palm. Dit wou hy doen deur een derde van die hemelse engele agter hom te verenig en ‘n hemelse staatsgreep uit te voer. Satan kon egter nie oorwin teen Migael die Aartsengel (Jesus) nie. Hy het nou 'n dubbele nederlaag teen Jesus gelei - in die hemel, sowel as op die aarde. Van nou af was hy ook verbied om die mens by God te kon aankla, omdat die mens nou ‘n beter verteenwoordiger in die hemel het - Jesus Christus, die Godmens Verlosser.
 
Openb 12:12    
“Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon;  wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.”

Satan en sy bose engele is uit die teenwoordigheid van God in die hemel, uitgewerp na die aarde toe. Die sondige aarde word deur hom beskou as sy koninkryk en hoofkwartier, omdat haar eertydse koning en koningin (Adam en Eva) hulle aan Satan se bedrog skuldig gemaak het en die saad van Sonde deur hulle, na al die geslagte van die aarde versprei is.

DIE DRAAK SE AANSLAG TEEN DIE NUWE TESTAMENTIESE KERK

Openb 12:13    
“En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het.”

Vanaf die tyd van keiser Nero tot keiser Deocletianus het die Romeinse Ryk die Christelike Kerk wreed vervolg. Gedurende dié tydperk van 250 jaar het Heidense Rome meer as 3,000,000 Christene om die lewe gebring.

Satan sou egter sy taktiek verander. Met die bekering van keiser Konstantyn, sou hy die kerk binnedring met afvallige leringe en gebruike. Die kerk was skielik mode en duisende heidene het met hul heidense idees, die kerk onbekeerd ingestroom. Dit was 'n groter terugslag vir die kerk, as die vervolging wat sy moes verduur.

Openb 12:6,14    
“En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy 'n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou duisend-twee-honderd-en-sestig dae lank. ...maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, 'n tyd en tye en 'n halwe tyd.”
 
Die ware Christen en navolger van Jesus kon nie die afvalligheid van die kerk in die Donker Eeue aanvaar nie. Die Saad van die waarheid, hulle wat God se Woord bo Tradisies en Leringe van mense verkies het, sou weer vervolg word. Hulle moes na die woestyn (afgeleë plekke) vlug met groot haas, om die wreedaardige vervolging van Pouslike Rome te ontkom.  

Die wêreldheerskappy van die Pouse, wat Tradisie bokant die Woord verkies het, sou vir 1260 jaar, vanaf 538 tot 1798 nC. regeer (1260 profetiese dae, Tyd, Tye en ½Tyd, 42 maande). Die ware kerk, hulle wat aan die Woord van God getrou bly, sou "ondergronds" gaan. Afgeleë plekke soos berge, bosse, valleie en wildernis gebiede van Europa het eeue lank ‘n tuiste gebied vir Jesus se volgelinge gedurende die 1260 jaar van Pouslike vervolging. Die Draak en die Antichris, kon die lig van waarheid nie uitblus nie.  

God het Sy kerk gevoed en versterk in moeilike tye. Groepe soos die Hussiete, Albigense, Waldense, ens. is vervolg vir hulle geloof in die Woord van God as hul enigste gesag. "God is nooit uit die geskiedenis afwesig nie.... Selfs in hierdie middernagtelike duisternis het die sterre geblink aan die hemelruim; en selfs toe, net soos in die tyd van Elia die profeet, was daar duisende wat nie die knie voor Baäl gebuig het nie." Phillip Schaff, History of the Christian Church, Vol 4, bl 281.

"Deur middel van die Waldensiese Kerk wat sedert die vyfde eeu, om nie eens te praat van 'n vroeëre oorsprong nie [derde en vierde eeu), bestaan waar dit nou nog bestaan,... word ons verbind met die REINHEID VAN DIE OORSPRONKLIKE KERK." (George Farber, An Inquiry into the History & Theology of the Ancient Valdenses & Albigenses, bl 593, 594.).  

“Terwyl die Roomse [Kerk] die Wet van God gewysig en verbreek het, het die Waldensiërs die GEBOOIE VAN GOD gehou.' "...omdat hulle op die SEWENDE DAG aanbid het, was hulle uitgeskel vir Jode, net soos daar met die Sabbatariërs dikwels gedoen word." General History of the Baptist Denomination, Vol 2, bl 414.
 
“Hulle het ook die GELOOF IN JESUS gehad. Lodewyk XII het 'n Kommissie van Ondersoek gelas op sekere aanklagte teen die Waldensiërs en hulle verslag het as volg gelui:” "In teenstelling, hulle hou Saterdag as Sabbat, bedien die sakrament van die doop soos die vroeë Christene [onderdompeling] en leer hulle kinders die Christelike geloof en die gebooie van God." William Jones, History of the Christian Church, Vol II, bl 71,72.

“Ons moet egter by die treurige einde van die Waldensiese gemeentes kom... Talle Waldense word deur die Kathare opgeneem, veral in Suid-Frankryk en Bo-Italië, Languedoc en Lombardye. Enkeles vlug ook na die onbegaanbare valleie van die Alpe, en dit geluk hulle om die verskrikkinge van die Albigense-oorlog te oorleef.” G S Wegener, Die Lewende Kerk, Human en Rousseau, Kaapstad, 1965, bl 131.

"Selfs in Indië het die lig van waarheid geskyn. Toe Roomse priesters Indië in 1503 binnegaan, moes hulle tot hul verbasing ontdek, dat daar honderde Christelike kerke gevestig was. Toe die Indiërs uitgevra was oor die eienaarskap van die kerke, het hulle gevra: "Wie is die Pous? Ons het nog nooit van hom gehoor nie." Facts of Faith, bl 155, soos aangehaal in 'n lesing aangebied deur Ron Thompson, (MA) "The Woman in White" - The True Historic Church, bl 5.

Openb 12:15,16    
“En die slang het uit sy bek water soos 'n rivier agter die vrou aan uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier.  En die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier opgesluk wat die draak uit sy bek uitgegooi het.”

Baie water = Volke en menigtes en nasies. Satan wou die sogenaamde "ketters" uitwis deur 'n vloedgolf van mense te gebruik in haar Kruistogte, die Inkwisisie en nuwe valse leringe o.a. die Misoffer. Die tydperk van pouslike heerskappy was amper op 'n einde en die aarde het die vrou te hulp gesnel in die vorm van die Protestantse prinse van Duitsland, wat Martin Luther en andere met die Hervorming ondersteun het.
 
Net toe dit skyn of die ware kerk uitgewis gaan word, het die aarde God se kerk letterlik te hulp gesnel deur die ontdekking van die twee Amerikaanse kontinente. In 1620 vlug die Pelgrimvaders na New England (VSA) met die Mayflower. Teen 1642 was daar alreeds meer as 20,000 vlugtelinge, die meeste a.g.v. godsdienstige oorwegings.


Die Suidpunt van Afrika het ook 'n heenkome gebied. Kort op die hakke van Jan van Riebeeck en die Kaapse kolonie in 1652, het die Franse Protestante in 1688 aan wal gestap. Hulle was gevolg deur die 1820 Setlaars. Godsdiensvryheid was gewaarborg in Suid-Afrika. In Franschoek is 'n spesiale Monument (Hugenote Monument), tot hul eer opgerig. Australië was ook ontdek. Protestante kon 'n heenkome vind in die "nuwe wêreld" om hulle geloof in vrede en vryheid uit te leef. Dit sou egter van korte duur wees. Die gees van Rome, binne Protestantisme, is sterk verteenwoordig deur haar valse leringe wat nie deur die Hervorming afgeskud is nie. Met die Ekumeniese Beweging, is daar weer ‘n naderbeweeg aan Rome, deur haar dogters. ‘n Algehele breuk met Rome was noodsaaklik.

 

Gaan na die volgende studie:  DIE TERUGKEER VAN DIE OORBLYFSEL

bottom of page