top of page

SATAN SE AANSLAG OP DIE OORBLYFSEL WAT BESTAAN IN DIE TYD VAN DIE EINDE

Openb 12:17a
“En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge...”

Nadat Israel Jesus as Verlosser verwerp het, moes God ‘n nuwe oorblyfsel in die lewe roep. Die vroeë Christelike kerk het onder leiding van Jesus se eie apostels gestaan. Ongelukkig sou die Christelike kerk ook afvallig word en ‘n oorblyfsel sou vir 'n tyd lank "ondergronds" oorleef, gedurende die Tyd, Tye en ½Tyd (twee en veertig Maande / 1260 Jaar van Pouslike oorheersing).  

"Die kerk in die woestyn is die skakel tussen die Apostoliese Christendom en God se volk van vandag." B. C. Wilkenson, Truth Triumphant, bl 9.

Die oorspronklike Griekse woord vir nakomelinge is "spermaton," wat letterlik haar "saad" of "oorblyfsel" beteken. Die Vrou se saad, of ware nakomelinge (oorblyfsel), sou eers weer in die openbaar verskyn ná 1798 nC. M.a.w. dit sou eers weer verskyn aan die einde van die Heilsgeskiedkundige era - die “Tyd van die Einde.” Om ‘n Oorblyfsel te wees, beteken dat dit dieselfde eienskappe, of kenmerke as die oorspronklike kerk moet bevat. Dus sou dit die kenmerke van die hele kerklike bedeling van die Ou- en Nuwe Testamentiese Kerk bevat.

Openb 12:17    
“En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.”
 
Ons aandag word weer eens gevestig op twee baie belangrike kenmerke van God se oorblyfsel - hulle “wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.”

Gebooie van God –
Die Klein Horinkie het God se wet gewysig en vertrap en die hele wêreld geleer om dieselfde te doen. Om die rede is dit die oorblyfsel van God se taak om die gebooie van God hoog te hou en die wêreld die regte weg te wys. Gehoorsaamheid aan Jesus se gebooie dien as teken dat ons Hóm (Jesus) liefhet wat vir ons gesterf het (Joh 15:9,10; 1 Joh 3:21-24).

Getuienis van Jesus –
God se laaste oorblyfsel sal hul geloof in Jesus as Verlosser bo enigiets anders in hulle lewe stel (Openb 12:11;14:12). Die tweede betekenis hiervan is dat hulle die profetiese gawe in hulle midde het (Openb 19:10). Hierdie insig is nodig om hulle deur die komende krisis te help.
   
Hierdie oorblyfsel is deur God in die lewe geroep, net soos Israel van ouds - nie omdat hulle goed of volmaak is nie, maar omdat hulle gewillig is om die ontvangers en beskermers (houers) van God se teenswoordige waarhede, te wees.

Net soos Israel van ouds moet hulle die volke van die wêreld waarsku wat aan die Einde van Tyd leef. Hulle het dieselfde twee redes vir hulle bestaan - eerstens moet hulle die wêreld waarsku oor God se komende oordeel en vernietiging van die sondige wêreld en tweedens moet hulle die Verlossingswaarhede van die Skepper-God aan die wêreld bring (Openb 14:6-12).  

Openb 12:17 is nie ‘n oproep tot arrogansie nie, maar ‘n Goddelike oproep tot gehoorsaamheid en getrouheid aan God se  Waarhede wat aan die oorblyfsel toevertrou is. Die oorblyfsel sal dieselfde 11 eienskappe openbaar as Israel van ouds.  
 
Heelparty godsdienste van die wêreld mag vandag sommige van die eienskappe openbaar, maar slegs een godsdienstige groep sal aan ál 11 hierdie eienskappe kan voldoen - dit is die oorblyfsel / saad van die Vrou, wat deur God Self uitgekies is.
 
VERLOSSINGSWAARHEDE TOEVERTROU AAN OORBLYFSEL VAN DIE TYD VAN DIE EINDE

1.    Monoteïsme - Daar is slegs Een ware God. (Mark 12:29,30; Joh 17:3; 1 Kor 8:4,6)

2.    Die Skepping - Die Skepper-God het die hemel en die aarde in 6 letterlike dae geskape. (Joh 1:1-4; Kol 1:15-17; Openb 4:9-11)

3.    Die 10 Gebooie - Die Sedewet is steeds bindend op alle mense van alle tye en sal die standaard in God se oordeel wees. (Matt 5:17-32; Rom 3:19,20,31; Jak 2:10-13, Openb 22:14)

4.    Die Sewendedag Sabbat - God het die dag geseën en geheilig na sy ses dae van skepping.  Dit is ook die teken waarmee elkeen wat aan Hom behoort hulleself mee vereenselwig. (Matt 24:20;Mark 2:27,28; Hand 13:14,42,44,48, Hebr 4:4-11)

5.    Die Heiligdom en sy Verlossingsdienste - Die Aardse heiligdom was net ‘n skaduwee van die werklike hemelse heiligdom, waar Jesus besig is met sy Middelaarswerk vanaf 31 nC. en na 1844 nC. het die tweede fase van sy hemelse bediening ‘n aanvang geneem, nl. die hemelse oordeel. (Rom 8:26,27; Hebr 9:23-28; 1 Pet 4:17-19)

6.    Die Toestand van die Dode - Alle mense rus in die graf en wag vir die koms van Jesus waartydens elkeen sy loon sal ontvang, óf die ewige lewe, óf die ewige dood. (Joh 11:24-27; 1 Kor 15:22,23; 1 Thess 4:13-17; Hebr 11:8-10,13-15,39,40; Joh 5:28)

7.    Gesondheidsboodskap - Aangesien die menslike liggaam die tempel van die Heilige Gees verteenwoordig, sal hulle dit in die skoonste moontlike toestand vir hom hou, deur hulle te onthou van onrein voedsel, dwelms, slegte gedagtes en gewoontes. (Hand 10:1-20,28,29; 1 Kor 3:16,17; 6:19,20; Efe 4:29)

8.    Groot Stryd tussen God en Satan - Die Stryd tussen Goed en Kwaad word duidelik in die Skrif uiteengesit, veral in die boeke van Daniël en Openbaring. (Matt 4:1-11; Efe 6:11-18; Openb 12:7-17)

9.    Gawe van Profesie - Hulle aanvaar die profetiese Gawe soos uitgedruk in die kanon van die Bybel en beskou dit as hulle hoogste gesag en lewensreël. (Hand 13:1; Efe 4:11,12; 1Kor 14:1; Openb 22:9)
 
10.    Dag van Versoening - Na die reiniging van die Hemelse heiligdom, sal Satan, Sonde en sondaars uitgewis word, en sal God ‘n Nuwe hemele en aarde skep waarin geregtigheid woon. Hul boodskap aan die wêreld is: Die Oordeel kom, wend jou na jou Verlosser en word gered, voor dit te laat is. (Joh 5:24-29; Hand 17:30-33; 24:25; 1 Pet 3:17,18; Hebr 9:27,28; Openb 11:19)

11.    Koms van die Verlosser of Messias - Jesus as Messias het reeds aan die kruis vir die Wêreld se sonde gesterf en so die mens met God versoen. Hy sal vir ‘n tweede keer kom, nie vir sonde nie, maar om elkeen sy loon te gee. Dus, eers ‘n oordeel, dan Sy koms - dit moet aan alle volke, menigtes, nasies en tale verkondig word. (Matt 28:18-20; 1 Kor 15:1-26; 2 Pet 3:9-18; Openb 14:6,7)
 
Openb 18:4
“En Ek het ‘n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.”

Die Here waarsku sy kinders om uit Babilon se kookpot van afvalligheid pad te gee en deel van sy oorblyfsel te word - hulle wat die wet van God en die getuienis van Jesus Christus hou. Babilon sou eers na 1844 nC. Tot ‘n val kom, nadat die Christendom sy rug op God se teenswoordige Waarhede vir die “Tyd van die Einde” draai. Sommige van die Bybelse waarhede sluit in: Die Pousdom is en bly steeds die Antichris, die tweede fase van Jesus se hemelse bediening van oordeel in die hemelse Heiligdom en die spoedige koms van Jesus om elkeen sy loon te gee soos sy werk sal wees.

Openb 12:11    
“En hulle het hom [draak] oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie lief gehad nie.”

Die aanvaarding van Jesus se bloed (Sy geregtigheid) vir my sonde, gee ons die oorwinning oor die Draak en die sonde wat die nakomelinge van die vrou vervolg. Om net te glo, is egter nie genoeg nie. Geloof wat nie tot gehoorsaamheid oorgaan nie, is soos die geloof van duiwels - hulle weet God bestaan, maar hulle is in direkte rebellie teen Hom gekant. Hulle wat Jesus as hulle Verlosser erken, sal ook aan Hom gehoorsaam wees, al beteken dit ook vervolging, benoudheid en die dood.

 

IS U BEREID OM GOD TE VOLG WAARHEEN HY U OOKAL MAG LEI?

 

WIL U DEEL WEES VAN GOD SE OORBLYFSEL AAN DIE EINDE VAN TYD?


Gaan na die volgende afdeling:  16. Sopies uit die Beker van Babilon

bottom of page