top of page

DIE TERUGKEER VAN DIE OORBLYFSEL

Twee gemeenskappe van Geloof en Waarheid, word in die Heilsgeskiedenis vir ons opgeteken. Slegs hulle dra die naam “Oorblyfsel” van alle godsdienste van die wêreld. Albei weet wat die uiteindelike prys is om te betaal vir waarheid.

Gen 4:25        
“En Adam het sy vrou weer beken, en sy het ‘n seun gebaar en hom Set genoem.  Want, het sy gesê, God het my ‘n ander kind geskenk in die plek van Abel, omdat Kain hom doodgeslaan het.”

Twee aparte sade van Geloof het uit Eva gevloei - die gemeenskap van Set en die gemeenskap van Kain. Dit sou twee strome in die menslike geskiedenis verteenwoordig - die van die oorblyfsel (hulle wat getrou aan God sou bly) en die van Rebellie (hulle wat ontrou aan God sou wees). Die werklike saad van die vrou, wat waarheid en gehoorsaamheid aan God sou voorstaan, het die saad van Set geword.
 
Openb 12:17    
“En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.”

Die Draak maak oorlog met die Oorblyfsel van die Vrou. Dit wat Satan met Abel gedoen het, deur Kain, dit sal hy met elke goeie saad probeer doen wat uit die vrou voortkom, van die begin van die aarde se geskiedenis, tot en met die einde daarvan.

Gen 6:5-8    
“Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die Here berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart.  En die Here sê: ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg...  Maar Noag het genade gevind in die oë van die Here.”

Boosheid het verskriklike afmetings aangeneem op die Voorvloedse aarde. God sou dit moes vernietig. Maar Noag was geroep om ‘n oorblyfsel te wees. Die saad van die vrou, het die saad van Noag geword. Na die Sondvloed word Noag smoordronk en sy seun Gam, bespot hom, terwyl hy naak op sy bed lê (Gen 9:18-23).


Die oorblyfsel word nie die oorblyfsel omdat hulle regverdig is in hulle eie oë, of volmaak is nie. Hulle word die oorblyfsel omdat hulle ‘n gewilligheid toon om ontvangers of houers van God se Waarheid te wees. Hulle beskerm huidige waarheid. In die tyd van Noag was huidige waarheid: “Die aarde is boos, maak gereed om julle God te ontmoet. Hy gaan die huidige aarde met ‘n vloed vernietig.”

Gen 12:1-3    
“En die Here het aan Abram gesê: Gaan uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys.  En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees.  En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”
 
Na die Sondvloed het die mensdom weer in boosheid verval met die bou van die toring van Babel waarmee hulle die belofte van die Here - dat Hy die aarde nie weer met ‘n sondvloed sou verdelg nie - uitgetart het. Die saad van die vrou het die saad van Abraham geword.
 
Ismael en Isak was beide die saad van die vrou, maar die draak sou oorlog voer teen die saad van Abraham in Isak. Ismael was die vrug van Hagar, die Egiptiese slaaf wat Sarai verafsku het voor die geboorte van Isak. Weer moes God Self ‘n oorblyfsel in die lewe roep. Deur ‘n wonderwerk van God het Abraham en sy egte vrou Sara, op hulle ouderdom ‘n kind in die lewe gebring - Isak. Isak was weer die vader van Jakob en Esau. Die saad van die vrou, het die saad van Jakob geword. Die draak het Jakob die oorblyfsel vervolg in Esau wat geen erns in die belofte van die eersgeboorte reg gehad het nie, maar die wêreld nagejaag het en heidense vroue vir homself geneem het.

Gen 45:4,5    
“Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my.  En toe hulle nader kom, sê hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het.  Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie.  Want om lewens te behou, het God my voor julle uitgestuur.”

Josef sê self dat God hom voor sy familie uitgestuur het om ‘n oorblyfsel in die lewe oor te hou. Die draak het gepoog om Josef, wat ‘n liefde vir God se waarhede gehad het, te vernietig, maar God hou ‘n oorblyfsel van Waarheid in die lewe.

Ex 2:23-25    
“En in daardie lang tyd het die koning van Egipte gesterwe.  En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny.  En hulle het geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God.  En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy Verbond met Abraham, met Isak en met Jakob.  En God het die kinders van Israel aangesien, en God het hulle geken.”
 
Dit wat ‘n hawe van veiligheid moes wees vir Abraham se nasate, het ‘n tronk van slawerny geword. Die res van die wêreld se koninkryke het intussen ook van die ware God afvallig geword en God moes ‘n oorblyfsel in die lewe roep. D.m.v. Moses (Ex 3-13) het God Israel as oorblyfsel van die volke van die wêreld geroep om Sy teenswoordige Verlossingswaarhede in die lewe te hou. God het Israel nie gekies vir wie húlle was nie, maar vir wie Hy was (Deut 7:6,7).

Hy het die verbond met hulle vaders (wat lankal reeds dood is, onthou). God het hulle ook nie gekies omdat hulle ‘n regverdige volk was nie, om die waarheid te sê, hulle was hardkoppig! (Deut 9:6). God het hulle liefgehad omdat hy sy verbond met Abraham onthou het (Deut 7:8).  

Om deur God gekies te word, is anders as wat ons onder verkiesing verstaan. Instede daarvan dat die verkiesing andere uitsluit, is dit juis om andere in te sluit.  Instede daarvan om andere te verwerp as minder belangrik, is God se verkiesing daarop gemik om almal te bereik. Israel se keuse as oorblyfsel, was om die hele wêreld te bereik en daarom het hy hulle op die hoofweg van die handelsroete geplaas om Sy Verlossingswaarhede aan almal te demonstreer, wat daar verby sou beweeg.

Joh 4:22    “Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode.

Jesus maak dit baie duidelik aan die Samaritaanse vrou dat verlossing in die Jode, as Oorblyfsel, gesetel was. Uit hulle sou die Saad van die Belofte verskyn wat tot redding van al die nasies sou wees.

Ons moet vergeet van menslike redenasies soos “God is liefde en ons moet mekaar net liefhê.” Verlossing is gesetel in die oorblyfsel wat Hy uitgekies het, nie in jou en my idee van watter kerk, of godsdiens, die regte een is nie.  
 
Buddisme was nog altyd verkeerd. Katolisisme is steeds verkeerd, al is daar christelike waarhede daarin gesetel.  Ekumenisme is ewe eens verkeerd, al sê hulle: Alle paaie lei na die Bergtop (na God) toe.” Baie mense dink ons kan God skei van Waarheid, God skei van Leerstellings, of God skei van Liefde, maar dit is onmoontlik, want al hierdie dinge saam, is deel van God se karakter. Daar is slegs een pad wat lei na Verlossing, en daardie pad was aan die Joodse Volk as oorblyfsel, toevertrou. Wat was daardie waarheid wat God aan Israel toevertrou het?

VERLOSSINGSWAARHEDE AAN JODE AS OORBLYFSEL TOEVERTROU

1.    Monoteïsme - Daar is slegs Een ware God teenoor Politeïsme waarin baie gode aanbid word. (Deut 6:4; Pred 12:11; Jes 45:5)

2.    Die Skepping - Al die ander godsdienste van hulle tyd het die “Eluma Elish” verhaal waarin die gode in die hemel oorlog maak en andere weer uit hulle slaap gesteur word, en so die aarde ontstaan het. (Gen 1:1; Ps136; Jes 40:25-28; 42:5)

3.    Die 10 Gebooie - Dit is die enigste en eenvoudigste 10 Reëls wat allesinsluitend en volmaak is. (Ex 20:3-17; Ps 19; Jes 8:20)

4.    Die Sewendedag Sabbat - Dit het sy oorsprong in die Skeppingsverhaal van die Bybel en geen astrologiese of ander rede kan vir die siklus van die week deur enige ander godsdiens gegee word nie. (Gen 2:1-3, Ex 20:8-11; Jes 58:13,14; 66:22,23)

5.    Die Heiligdom en sy Verlossingsdienste - Heidense gelowe het heiligdomme, maar is belaai met prostitusie en kinderofferhandes. Die offerhandes van Israel was ‘n geslagte lam wat die sonde van die wêreld wegneem en was verkondig vanaf die Tuin van Eden. (Gen 3:15,21; Gen 22:9-14; Lev 1-7; Jes 53)
 
6.    Die Toestand van die Dode - Die Jode was enigste wat geglo het dat dooies in hulle grafte slaap tot die Opstanding in Laaste dag. Alle heidense gelowe glo in die onsterflike siel en in Reïnkarnasie. (Gen 3:3,19; Job 19:25-27; Pred 9:5,6; Dan 12:2,13)

7.    Gesondheidsboodskap - Hulle het onder leiding van God ‘n onderskeiding gemaak tussen rein en onrein diere as voedsel. Alle ander Heidense godsdienste glo dat ‘n mens enigiets mag eet. (Gen 7:2-9; Lev 11, Jes 65:2-4; 66:16,17)

8.    Groot Stryd tussen God en Satan - Die Stryd word veral beskryf in die boek van Job. Ander godsdienste verwys na gode in die hemel wat maak net soos hulle wil. Slegs die Jode het die Waarheid omtrent die Groot Stryd verstaan. (Gen 3:1-15;  Job 1, 2; Dan 10:13,20,21)
 
9.    Gawe van Profesie - Hulle het profete, manlik en vroulik, in Kanon ingelyf, wat nie ingelyf was nie. Dit vorm vandag die basis van die Judeo-Christelike geloof. Heidene het oorvloed valse profete gehad, wat die mens agter duiwels aangetrek het. Die Skepper-God gee profete as houers van Waarheid om die hele wêreld na Hom te trek. (Gen 20:7; 1 Sam 3:19-21; Dan 9:2,6)

10.    Dag van Versoening - Die finale reiniging van die Heelal van Sonde en sy Aanstigter, Satan. Geen ander godsdienstige filosofie het iets wat enigsins naby dit kom nie. Israel se boodskap was: Die Oordeel kom, draai na Verlosser en word gered, voor dit te laat is. (Gen 3:15; Lev 16; Eseg 28:18,19; Dan 7:10)
 
11.    Koms van die Verlosser of Messias - Israel was ‘n spesifieke opdrag gegee om die koms van die Verlosser aan die hele wêreld uit te dra. Hulle moes hulself en die wêreld voorberei vir die heuglike gebeurtenis. Israel het beide Sy komste geken (Jes 53; Ps 22; Dan 9; Jes 66; Dan 2 -12; Mal 4, ens).
 
12.    Vanaf die Tuin van Eden se hekke, het God ‘n Oorblyfsel gehad om die boodskap te verkondig van die Saad van die Vrou wat geoffer sou word om die sonde van die wêreld weg te neem en so die hele wêreld uit die mag van die Slang, Satan, te red.

Joh 1:11    
“Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het hom nie aangeneem nie.”

Wat ‘n jammerte - Israel as volk, het Hom nie aangeneem toe Hy gekom het nie. As die Jode Jesus aangeneem het, sou ‘n ander oorblyfsel nie nodig gewees het nie. Tog was individuele Jode bekend met sy koms.

Hand 4:10    
“Laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan.”

Verlossing is slegs moontlik deur Jesus Christus - dit is die samevatting van alle waarheid wat aan die oorblyfsel oorgelewer is om in bewaring te hou. Indien die oorblyfsel in gebreke bly om die waarhede aan die mensdom oor te dra, sal God verplig wees om ‘n nuwe oorblyfsel daar te stel.
 
Gal 3:13,14    
“Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word - want daar is geskrywe;  Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang - sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang.”

As daar ‘n oorblyfsel aan die begin van die Heilsgeskiedenis was, sal God nie ook ‘n oorblyfsel aan die einde van die Heilsgeskiedkundige era hê nie? [Die heilsgeskiedenis is die geskiedenis van God se betrokkenheid by die wêreld.]

 

Gaan na die volgende studie:  SATAN SE AANSLAG OP DIE OORBLYFSEL

bottom of page