top of page

15. DIE GROOT STRYD TUSSEN DIE VROU, HAAR NAKOMELINGE EN DIE DRAAK

WAAR IS GOD SE KERK?


Baie mense raak radeloos in hul soektog na die ware kerk. Daar is deesdae honderde genootskappe en sektes in die wêreld. Almal maak daarop aanspraak om God se ware kerk te wees. In die boek Openbaring beskryf Jesus sy kerk so duidelik, dat sodra u weet wat Jesus sê, u Sy kerk so maklik sal uitken soos u landsvlag.

DIE VROU BEKLEED MET DIE SON

Openb 12:1,2    
“En 'n groot teken het in die hemel verskyn: 'n vrou wat met die son bekleed was, en die maan was onder haar voete, en op haar hoof 'n kroon van twaalf sterre; en sy was swanger en het uitgeroep in haar weë en barendsnood.”

Die kerk van Jesus word in die profesie voorgestel as 'n vrou wat met die son bekleed is, met die maan onder haar voete. Sy dra ook 'n kroon van 12 sterre.

Volgens Openb 17, word die Afvallige kerk, Babilon, vergelyk met 'n onrein vrou, ‘n hoer,  beklee met rooi en purper en versier met allerhande versierings van goud, pêrels, ens. Daar is dus ‘n baie duidelike verskil tussen die twee vroue (kerke).

2 Kor 11:2    
“Want ek is jaloers oor julle met 'n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as 'n reine maagd aan Christus voor te stel.”
 
Paulus verwys na die Kerk van God as 'n rein maagd wat gereed maak om haar bruidegom te ontmoet. Om rein te wees, beteken om nie te hoereer nie, letterlik en geestelik. Net soos ons nie ons liggame moet besoedel met vleeslike hoerery, deur ons aan baie te verbind nie, so moet ons geestelik ook nie met valse leringe besoedeld wees en ons aan baie valse gode bind nie. Ons is veronderstel om net aan Christus alleen verbind te wees, want Hy alleen is ons Verlosser.   

Jes 51:16    
“En Ek het my woorde in jou mond gelê en in die skaduwee van my hand jou verberg; om die hemel te plant en die aarde te grond en aan Sion te sê:  My volk is jy!”

God se volk (kerk in die OT) word ook Sion genoem. Wat beteken Sion?

Hebr 12:22,23    
“Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges.”

Sion is die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes. Dit is die ware Kerk van Christus, diegene wat Jesus bely as hulle Here en Verlosser en Hom alleen aanbid en gehoorsaam!

DIE BRUID SE VOORKOMS

Openb 12:1a    
“En 'n groot teken het in die hemel verskyn: 'n vrou wat met die son bekleed was...”

Die simboliese vrou (die kerk) was met die son beklee, wat beteken dat sy helder geblink het. Wat is die betekenis daarvan?
 
Openb 19:7,8    
“Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.  En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.”

Die kleed van die vrou word voorgestel as die regverdige dade van die heiliges. Regverdigheid beteken om vry van sonde te wees. Hoe het die heiliges (kerk) die fyn linnekleed ontvang?

Jer 23:5,6    
“Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek vir Dawid 'n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land.  In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon;  en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word:  DIE HERE ONS GEREGTIGHEID.”

Jesus is die Kneg van God wat ons van sonde losgekoop het met Sy bloed. Sy volmaakte lewe (geregtigheid) het die vereistes van God se Wet volbring. Sy Naam is: "die Here, ons Geregtigheid," want Sy geregtigheid word vir die berouvolle sondaar geskenk as ‘n vrye gawe, sodra hy Hom as Verlosser en Meester aanvaar.

1Kor 1:30    
“Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.”

Ware kennis, wat tot die lewe dien, is net in Jesus Christus te vind - Hy is die Bron van ware wysheid.  Sondaars ontvang Jesus se geregtigheid slegs deur die geloof, wanneer hulle Hom as Verlosser van die sonde  aanneem.   

Jesus is ook die sondaar se Heiligmaking. Die sondaar word deur die geloof ook die Heilige Gees deelagtig met die wedergeboorte. Dit is die werk van die Heilige Gees om die sondaar in ooreenstemming met die karakter van sy Verlosser te bring. Dus is beide Geregtigheid en Heiligmaking, ‘n gawe van God, sonder verdienste. Die kleed, die regverdige dade van Jesus, word nou die regverdige dade van die heiliges, deur die inwonende Heilige Gees. Om die rede skyn die kleed van die bruid soos die son in sy heerlikheid  (Jesus se geregtigheid - Mal 4:2; Joh 1:1-14).

Maar Christus is ook die kerk se verlossing! Daar is niks wat die mens kan doen om uit die wêreld van sonde te ontsnap nie. Lig beweeg 7½ keer om die aarde in een sekonde. Ons naaste ster (buiten ons eie son), Alfa Centauri, is 4000 ligjaar van ons af weg. Dit is dus vir die mens onmoontlik om uit hierdie gevangenis van sonde, op jou eie, te ontsnap. Slegs wanneer Jesus op die wolke verskyn, sal Hy ons op ‘n bonatuurlike wyse uit die sondehok kan laat ontvlug na ons ewige tuiste wat Hy vir ons voorberei het. Ja, selfs vir finale verlossing van die Sonde, moet ons geheel en al op Hom staatmaak. (Sien ook Joh. 14:1-3; 1 Thess 4:13-18; Matt 24:29-31; Mark 13:24-27, ens)

Openb 12:1a,b    
“En 'n groot teken het in die hemel verskyn: 'n vrou wat met die son bekleed was, en die maan was onder haar voete,”

Die vrou staan bo-op die maan. Die maan skyn met geleende lig van die son. Dit is ‘n verwysing na die Ou Testamentiese bedeling, as ‘n voorafskaduwing van Jesus se geregtigheid.

Hebr 10:1    
“Want die wet, wat 'n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie.”

Die Ou Testament met die Wet van Moses, bestaande uit die Seremoniële Stelsel van Offerhandes, die Besnydenis, die aardse Heiligdom en sy dienste en die Seremoniële Sabbatsfeeste, was alles net weerkaatsings (Kol 2:14,16 - skaduwees) van die ware Lig van die Evangelie - Jesus Christus, die Ware Paaslam en Hoëpriester (Hebr 8:5,6; Joh 1:29; 5:39-47; Gal 4:10,11; Rom 14:15. Sien die lesing: Die Antichris se aanslag op God se Gesag).

Openb 12:1    
“En 'n groot teken het in die hemel verskyn:  'n vrou wat met die son bekleed was, en die maan was onder haar voete, en op haar hoof was 'n kroon van twaalf sterre.”

Die Vrou het 'n kroon van 12 sterre gedra. Die sterre verteenwoordig die leiers van die kerk, nl. die 12 aartsvaders wat die 12 stamme van Israel en die profete in die OT-kerk verteenwoordig. Dit dien ook as die kerk van die NT, met haar leiers (12 apostels) wat deur Jesus self gekies is, nadat sy geboorte aan haar manlike Kind geskenk het. Ons kan dus sê, dat die simbool van die son, maan en sterre, die somtotaal van die hele kerk, met haar leiers, voor en na die kruis verteenwoordig.

Efe 2:19,20    
“So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is.”

Die volkskerk van die Ou Testament, het plek gemaak vir ‘n groter universele kerk van die Nuwe Testament. Die Nuwe Testamentiese kerk sou beide Jood en Heiden insluit wat Jesus Christus as Verlosser sou aanvaar. Die profete van die OT en die apostels van die NT vorm saam die fondasie en pilare van die nuwe kerk, terwyl Jesus self die Hoeksteen, die Anker en die Rots daarvan is (Rom 9:33, 1 Kor 10:4; 1 Pet 2:7).

Hooglied 6:10    
“Wie is dit wat daar opkom soos die dageraad, mooi soos die maan, rein soos die son, verskriklik soos slagordes met vaandels?”
 
Die kerk van die Here word gesimboliseer as 'n mooi vrou wat die evangelie van Jesus eers deur die maan (O.T. Bedieninge en Offerstelsel) en nou in die son beklee (N.T. Bedieninge van Jesus se lewe, Kruisdood en Opstanding) uitdra, aan 'n wêreld wat in duisternis woon. Sy voer as't ware oorlog teen die bose met die lig van die Evangelie (Jesus se geregtigheid). (Sien die lesing: Die sewe Seëls van Openbaring)

 

Gaan na die volgende studie:  DIE MANLIKE KIND

bottom of page