top of page

DIE HOOFSTAD VAN DIE WÊRELD - ROME

Openb 17:18
“En die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde.”

Die groot stad wat in Johannes se tyd oor die konings van die aarde regeer het, was Rome; en daardie stad met sewe heuwels het sy naam aan die mag gegee wat sy gesag oorgeërf het. Hierdie mag, of Afvallige Godsdienstige Stelsel, word voorgestel deur die groot Hoer, die Kerk van Rome, wat deur die Moderne Pousdom of Moderne Antichris regeer word.  

Openb 17:8-10

Die dier wat jy gesien het, was en is nie en sal uit die afgrond opkom en na die verderf vaar; en die bewoners van die aarde wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe geskryf is nie, sal hulle verwonder as hulle die dier sien wat was en nie is nie, alhoewel hy is.  Hier kom die verstand wat wysheid het, te pas. Die sewe koppe is sewe berge waar die vrou op sit.  En hulle is sewe konings:  vyf het geval en een is;  die ander een het nog nie gekom nie;  en wanneer hy kom, moet hy 'n kort tydjie bly.”

Weer eens word daar verwys na die dier wat uit die afgrond kom - ‘n direkte verwysing na ‘n Sataniese oorsprong (Judas 1:6; 2 Pet 2:4, Openb 9:1-3; Sien die lesing “Die Sewe Trompette van Openbaring”).

Dit is interessant om daarop te let dat Rome deur sewe letterlike heuwels ondersteun word, nl. (1) Palatine, (2) Capitoline, (3) Aventine, (4) Quirinal, (5) Viminal, (6) Esquiline en (7) Caelian.  
 
Maar die 7 koppe is eintlik 7 simboliese berge. Hierdie berge beteken eintlik konings of koninkryke (v10). Bereken vanaf die tydperk van Johannes, is die beskrywing van die sewe koninkryke as volg:

Vyf koppe (koninkryke) wat was - (1) Egipte, (2) Assirië, (3) Babilon, (4) Medo-Persië en (5) Griekeland (Al die belangrike wêreldryke wat met Israel as God se volk of oorblyfsel, te doene gehad het), en een kop (koninkryk) wat nou is - (6) die Romeinse Ryk. Die een kop (koninkryk) wat nog nie is nie (nog nie verskyn het nie), is (7) die Pousdom, maar as hy kom, moet hy 'n kort tydjie bly.

Die feit dat die dier wat was en nie is nie, self ook die agtste is, wys op (8) die herrese Moderne Pousdom, na sy dodelike wond genees is (Sien Openb 13:3).  

Al die koninkryke het ‘n invloed op God se kerk gehad, van haar geboorte in die Ou Testament, regdeur die Nuwe Testament, tot en met die Tyd van die Einde, waar ons, onsself nou bevind.

Grafies sou ons dit as volg kon voorstel:

 

  • VYF WAT WAS:


1.    EGIPTE (Geboorte en Uittog)

2.    ASSIRIE (Ballingskap van 10 Stamme van Israel)

3.    BABILON (Ballingskap van Juda en Benjamin)

4.    MEDO-PERSIE (Koningin Ester)

5.    GRIEKELAND (Alexander die Grote en Antiochus IV Epiphanus)

 

  • EEN WAT IS:

6.    ROME (Makkabeërs, Val van Jerusalem in 70 nC. Christene as nuwe kerk)
 

  • EEN WAT NOG NIE GEKOM HET NIE:

7.    POUSDOM (Christene)
 

  • DIE AGTSTE - DIE EEN WAT WAS, NIE IS NIE,  EN WAT HOORT BY DIE SEWENDE:

8.    HERRESE POUSDOM (Christene)

Babilon Hoer

BABILON - DIE MOEDER VAN DIE HOERE

In die sluitingstyd van die aarde se geskiedenis, behels "Babilon die grote" alle afvallige vorms van die Christelike en Nie-christelike godsdienste. Ons moet onthou dat hierdie visioen gegee word, net voor God die wêreld en die hoer besoek met die sewe laaste plae. (Openb 17:1; 18:4-19:4)

Openb 12:17

En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.”

Die nakomelinge van die Ware Kerk van God kan maklik uitgeken word - dit is hulle wat die Gebooie van God en die Getuienis van Jesus bewaar.

Openb 17:5

En op haar voorhoof was 'n naam geskrywe:Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde.”

Volgens die apostel Paulus, is die evangelie van Jesus Christus ‘n “Verborgenheid” wat om ons ontwil geopenbaar is (Rom 16:25-27; 1 Kor 2:7-9; Efe 6:19, ens.). God se Plan van Verlossing was onder ‘n dekmantel gehou, sodat Satan en sy agente nie die presiese aard daarvan sou verstaan nie. Die geheimenis van die verlossingswerk van God vir die mens, is nou ‘n voltooide werklikheid en moet wyd en syd verkondig word, aan alle nasies stamme tale en volke. (Matt 28:19,20; Openb 10:11; 14:6,7)

Maar die Hoer se naam is ook “Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en die gruwels van die aarde.” Sy het ook ‘n evangelie wat verkondig word - ‘n valse evangelie! (Openb 16:13,14) Daarmee besoedel sy al die godsdienste van die wêreld. Haar plan met misleiding word ook in geheimenis omhul, sodat die nasies nie sal agterkom dat sy hulle mislei tot hul eie verderf nie.
 
Die Hoer, Afvallige Kerk, het ook nakomelinge (dogter-kerke) wat self hoere genoem word. Dit is 'n aanduiding dat hulle haar slaafs navolg in die verkondiging van valse leerstellings aan ‘n niksvermoedende wêreld - leringe wat nie aan Bybelse riglyne voldoen nie. Elke mens is onder die verantwoordelikheid geplaas om, as Waarheid regtig saak maak, die dinge te ondersoek, en Gods Woord na te volg.

Die gesaghebbende geloofsbelydenis van pous Pius IV sê in artikel 10: "Ek erken die Heilige Katolieke Apostoliese Kerk as die moeder en meesteres van alle kerke."

Om hierdie rede het die “moeder” 'n gekombineerde naam op haar voorhoof, wat beide haar en haar dogters insluit - Babilon. Babilon kom van die woord Babel wat "verwarring" beteken.

Openb 17:18

“En die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde.”

Die Nuwe Jerusalem uit die hemel, is ‘n simbool vir die vergadering van die heiliges, God se ware volgelinge wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar. (Hebr 12:22,23; Openb 12:17; 14:12) Die aardse Babilon, is ook ‘n stad, ‘n simbool van afvalligheid, vir diegene wat Satan, die dier en die valse profeet navolg.

Openb 16:19

“En die groot stad is in drie dele verdeel, en die stede van die nasies het geval.  En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn.”

Die plae wat aan die einde van die dae op Babilon uitgestort gaan word, sal die saamgestelde eienskappe van die groot stad, wat uit drie dele (Spiritisme - Heidenisme in al sy vorms, Katolisisme en Afvallige Protestantisme) bestaan, openbaar.

Openb 16:13,14

En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom.  Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God.”


Hierdie godsdienstige en politieke samestelling se boodskappe aan die wêreld, bestaan uit die godsdienstige beskouings van die Draak (Spiritisme - mengsel van New Age en ander heidense gelowe, Boedisme, Hindoeïsme, selfs Islam), die Dier (Pousdom) en die Valse Profeet (Tweede Dier van Openb 13 - Afvallige Protestantisme of dogters van die Hoer).

Hierdie drie verdelings (Draak, Dier en Valse Profeet) van Babilon, omarm die hele godsdienstige wêreld, uitgesonderd die nakomelinge (oorblyfsel / saad) van die vrou van Openb 12 ("hulle wat die gebooie van God en die Geloof in Jesus bewaar"). Dit is dan ook om hierdie rede dat die Draak en sy twee helpers hulle toespits op hierdie oorblyfsel van God se Ware Kerk (Openb 12:17; 13:10; 14:12; 18:4)

DEEL ONS IN DIE LERINGE VAN BABILON?

Wanneer belydende Protestantse Kerke, die fundamentele beginsels van die Bybel verwerp, menslike bespiegelinge, tradisies en politieke mag in die plek van die gesag van Gods Woord aanvaar, dan tree hulle op as dogters van Babilon. Let op wat sekere Protestantse leiers hieroor te sê het: "Ekumenisme is net nog 'n beweging in die rigting van die stigting van die superkerk, Babilon die grote, wat aan die einde almal sal vervolg wat nie met haar kompromieë wil aangaan nie." Ron Thompson, "The Woman in Scarlet," (Why are there so many Churches?), bl 5.

Selfs in Donker Afrika is daar ekumeniese vooruitgang - Die "All- Africa Church Conference het alreeds in 1963 besluit dat Kerkeenheid 'n Eenheid is wat ons onder onsself soek, tussen onsself en die Onafhanklike Kerke, en tussen ons en die Rooms-Katolieke Kerk." "Ibid.," bl 5.

"Ons mag die strydbyl teen die Kerk van Rome nie ophef nie. Maar ons moet verlang na 'n gesprek met hierdie broeders in Christus, wat uit dieselfde huis as ons is, wie se doop en 12 Artikels ons aanvaar het."  Ds. G. van Duinen, N H. Courant, van 31 Oktober 1957.

"Die hele Protestantisme, waar daar 'n afdwaling van die geloof is" is die dogters van die Hoer. Dr. O. Smith, Book of Revelation, bl 22, 23.  
 
"Ons kan nooit sonder skuldbelydenis en verootmoediging oor die dwalinge en misstande van Rome spreek nie, omdat daar binne die Protestantisme soveel is wat sowel prinsipieël as prakties in stryd met Gods Woord is." J. Overduin, Wat het ons aan Rome te sê?,  N.G. Kerk Uitgewers, Kaapstad en Pretoria.

  • Val u en ek in die kategorie van Babelse verwarring?

  • Neem ons ook sopies uit die goue beker van die Hoer, waaruit die hele wêreld drink?

  • Wat staan ons te doen?

GOD SE OPROEP TOT SY KUDDE

Dit sou onvanpas wees om nie te erken en te bely dat daar opregte kinders van die Here Jesus Christus binne die New Age Dwaling, Die Rooms Katolieke Kerk en Afvallige Protestantisme, verkeer nie. Jesus het Self gesê:

Joh 10:16
Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie.  Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.”

Selfs Jesus het erken dat daar nog baie skape buite Sy kraal (oorblyfsel) is. Hulle sal egter nie vir ewig buite die kraal kan bly nie, want wrede wolwe patroleer die nag!  Jesus se skape sal Sy stem hoor wanneer Hy dringend in die nag na hulle roep. Hulle sal na Hom toe kom en Hom volg. Soos hulle aansluit by die oorblyfsel van Openb 12:14, sal Jesus se plan van Een Herder en Een Kudde gevul word met mense wat die Gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.

Openb 18:1-3

En ná hierdie dinge het ek 'n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag, en die aarde is verlig deur sy heerlikheid.  En hy het met 'n groot stem kragtig uitgeroep en gesê:  Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword 'n woonplek van duiwels en 'n versamelplek van allerhande onreine geeste en 'n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls, omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid.”
 
Babilon sal reg aan die einde van die wêreld se geskiedenis, totaal deur Satan en sy bose engele se planne beheer word. In 1993 is die eerste Parlement van Wêreldgodsdienste, sedert 1893 gehou. So pas is die laaste Parlementêre sitting in Suid Afrika in 2000 nC. gehou.

“Die samekoms van 7,700 deelnemers van ongeveer 250 verskillende godsdienste, wat wissel van die Amerikaanse Baptiste tot Zoroaster-aanbidders, illustreer die dramatiese veranderinge in die Intergeloof Beweging...” artikel: “World religions in quest for global peace, justice.” Suid Afrikaanse Dagblad, The Citizen, van 6 September 1993.

Daar is egter nog baie van God se kinders wat hulself in afvallige geestelike kringe bevind, sommige selfs onwetend, maar hulle verkeer in gemeenskap met geestelike verwarring en hul siele verkeer in groot gevaar! God roep dringend na hierdie kinders van Hom.

Openb 18:4

“En ek het 'n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.”

God se kinders durf nie langer in Babilon bly nie. Deur langer te vertoef, beteken dat ons openlike gemeenskap met Babilon en haar dwalinge, haar sondes, verkies. Jesus het alreeds met die 2de Fase van Sy hemelse bediening in 1844 nC. begin (Oordeel oor Sonde, Sondaars, en Babilon)! Diegene wat aanhou om gemeenskap met die Hoer en haar dogters hou, sal self ook van haar plae ontvang.

Om die rede kom daar ‘n spesiale boodskap vanuit die hemel tot ons: “Gaan uit haar uit my volk!” God het ons nog nie verwerp nie, daarom noem Hy ons nog “my volk.” Indien u ‘n kind van God is wat in die kring van Babilon se terrein beweeg, moet u dit ernstig oorweeg om daar uit te kom, vóór dit te laat is.

2 Pet 3:9

“Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”
 
God se genade is groot, en Hy is lankmoedig met ons. Daarom kom hierdie laaste waarskuwing tot Sy kinders: “Kom uit haar uit, My volk!” Dit het tyd geword dat ons moet skei van Babilon en die wêreld - ons moet vlug soos Lot, of sterf soos sy vrou!

Openb 22:17

“En die Gees en die bruid sê:  Kom!  En laat hom wat hoor, sê:  Kom! En laat hom wat dors het, kom;  en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”

Wat ‘n uitnodiging van Liefde! Die Ware Heilige Gees en die Ware Kerk (God se gekose oorblyfsel van die Tyd van die Einde), doen saam 'n beroep op elke mens, om uit Babilon te kom en by Sy oorblyfsel aan te sluit - “hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.” (Openb 12:17; 14:12; 19:7-9)

Jes 30:20,21

“Die Here gee julle wel brood van benoudheid en water van bedruktheid, maar jou leraars sal hulle nie langer verberg nie - maar jou oë sal jou leraars sien; en jou ore sal 'n woord agter jou hoor wat sê:  Dit is die weg, wandel daarop!  wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan.”

Die Here is nie onbewus van die stryd wat in ons binneste woed nie. Hy weet van die “brood van benoudheid en die water van bedruktheid” wat u nou ervaar. Maar Hy verskaf herders op hulle tyd, wat die ware weg van waarheid, soos dit in die Woord van God uitgespel word, vir ons aandui.

“Jou oë sal jou leraars sien en jou ore sal ‘n woord agter jou hoor wat sê: ‘Dit is die weg, wandel daarop!’”  

HOOR U DIE STEM VAN JESUS WAT PLEIT DAT U HOM MOET VOLG?

 

IS U GEWILLIG OM SODOM (BABILON) TE VERLAAT, SOOS LOT VAN OUDS?

 

IS U GEWILLIG DAT JESUS U, DEUR SY WOORD, IN DIE VOLLE WAARHEID LEI?  
 

KOM UIT HAAR UIT, MY VOLK!

Gaan na die volgende afdeling:  17. Die Eerste Engel se Boodskap

bottom of page