top of page

20. DIE OORSPRONG VAN DIE LAM WAT PRAAT SOOS 'N DRAAK

OPSOMMING VAN GOD SE LAASTE 3 ENGELE-BOODSKAPPE

DIE EERSTE ENGEL SE BOODSKAP


Openb 14:6,7    
“En ek het 'n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met 'n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke.  En hy het met 'n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom;  en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.”

Die 1ste Engel se boodskap bevat die kern van God se oproep tot die mensdom:

1.    Dit bevat die ewige Evangelie vanaf Adam en Eva, dwarsdeur die geskiedenis, tot op ons tyd. Dieselfde verlossingsplan geld vir almal - Jesus Christus is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Deur die geloof word ons Sy genade geskenk, nl. vergifnis van sonde deur Sy bloed en oorwinning oor die sondige natuur in die daaglikse lewe, deur die inwonende Heilige Gees.

2.    Terselfdertyd is dit ook 'n Oordeelsboodskap vir die hele wêreld. Jesus Christus is die enigste toegang tot God om Verlossing te verkry. Hy is deur God Self aangestel as Middelaar en Regter in die hemelse Oordeel, wat in 1844 nC. begin het. Almal moet hulle van die sonde bekeer tot die Lewende God, want Jesus gaan die wêreld in geregtigheid oordeel, sodat Hy sy ewige koninkryk van geregtigheid kan oprig.
 
3.    Dit is 'n oproep tot Skepper-aanbidding wat deur die onderhouding van die Sewendedag Sabbat (Saterdag) gesimboliseer word. Die Sabbat is die Teken van die Skepper-God as Heerser van die Heelal, die Verlosser en Heiligmaker van die sondaar wat hom tot God bekeer (Ex 20:8-11; Eseg 20:12,20).

DIE TWEEDE ENGEL SE BOODSKAP
 
Openb 14:8    
“En 'n ander engel het gevolg en gesê: Geval, geval het Babilon die groot stad, omdat sy al die nasies laat drink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery.”

1.    In die Tyd van die Einde, is Babilon, 'n drievoudige godsdienstig-politiese stelsel wat bestaan uit die Draak (Spiritisme en heidense godsdienste), die 1ste Dier (Katolisisme) en die 2de Dier / Valse profeet (Afvallige Protestantisme).  

2.    In die Tyd van die Einde, ná 1844nC. gaan ‘n boodskap uit dat Babilon geval het.  Sodra die oordeelsboodskap van die 1ste engel van Openb 14:6,7 verwerp word, ter wille van menslike Tradisies, volg die boodskap: Geval, geval het Babilon!

3.    Van nou af sal Babilon geïnfiltreer word met duiwelse leringe, want Gods Woord is nie meer hoogste gesag nie. Met die verwerping van die Oordeelsboodskap na 1844 nC. (Dan 7-9; Openb 14:6,7;Openb 10), is daar ‘n volgehoue aanvaarding van valse leringe (met inbegrip van Preterisme, Futurisme en ander teorieë wat daaruit voortvloei). Hierdie erkenning van menslike tradisies, teorieë, en sieninge, bo die Woord van God, (afkomstig van die Pousdom en sy assistent, die Valse Profeet) word beskou as ‘n erkenning dat die Pousdom die hoof van die Christelike Kerk is, insake leer en voorskrif. Onthou, die Draak (Satan), het die Pousdom sy troon, krag en groot mag gegee. (Openb 13:2,18:1-3; 2 Thess 2:10-12).
 
DIE DERDE ENGEL SE BOODSKAP

Openb 14:9-12    
“En 'n derde engel het hulle gevolg en met 'n groot stem gesê:  As iemand die dier en sy beeld aanbid en 'n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam. En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie - hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang.  Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas;  hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.”

God se laaste oproep, afkomstig van die 3de engel, tot die mensdom, is eintlik 'n waarskuwing teen Babilon se groot bedrog.

1.    God waarsku elkeen teen die merk van die Dier, sy naam en getal. Elkeen wat enige deel daarvan aanvaar, sal gestraf word met vuur en swael voor die heilige engele en die Lam. Soos Babilon die mensdom laat drink uit die beker van haar hoerery (deel in haar valse leerstellings), so sal God hulle ook laat drink uit die beker van Sy toorn (straf op sonde), omdat hulle Sy waarskuwing verag het en aan valsheid bly vasklou het.

2.    Terselfdertyd is dit ‘n genadige oproep wat sê: "Kom uit haar uit, My Volk!" (Openb 18:4). God wil diegene wat mislei word, nie sommer net uitwis nie! Hy is lankmoedig teenoor ons. Sy uitnodiging is gerig aan die wat nog in Babilon verkeer, om uit te gaan en by die "lydsames" (hulle wat volhard in dit wat Gods Woord leer) aan te sluit, wat die "gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar" (Openb 12:17; 14:12).

 

Gaan na die volgende studie:  GESKIEDENIS VAN DIE VERVOLGING VAN GOD SE VOLK

bottom of page