top of page

SPIRITISME - DIE BINDINGSFAKTOR TUSSEN DIE POUSDOM EN AFVALLIGE PROTESTANTISME

Die vraag is: Hoe sal die Protestante van die V.S.A. die wêreld oorreed om die 1ste Dier (Pousdom) te aanbid (sy gesag te erken) en sy merk (Sondagviering) te aanvaar? Die antwooord lê in Spiritisme (praat soos 'n Draak)!

Openb 13:13,14    
“Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfsvuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense.  En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle 'n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het.”

Die 2de Dier (Protestante V.S.A.) sal hom veral beywer om in die laaste doodsnikke van die geskiedenis, die mensdom met wonders en tekens te mislei. Hy sal selfs vuur uit die hemel laat neerdaal om sy “Goddelike” gesag te bewys!
 
Die V.S.A. so Protestants, as wat dit mag voorkom, so is dit die teelaarde vir Moderne Spiritisme, wat in 1848 by die woning van John D. Fox, te Hydeville, New York, begin het. Teen 1975 was daar reeds meer as 20 miljoen Spiritiste, 1 lid vir elke 7 van die Amerikaanse bevolking! Dit is in 1986 tot ‘n wettige godsdiens verklaar. Sedertdien is die V.S.A. die hoofbron van Spiritistiese leesstof, -rolprente, -musiek, -speelgoed, ens. vir die hele wêreld. Die vraag is: Hoe is dit moontlik?  Sal die Protestante van die V.S.A. spiritisties word?  In die volgende lesing, sal ons sien hoe hierdie verskynsel besig is om reg oor die wêreld ‘n aanvang te neem.

1 Tim 4:1,2    
“Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete...”

Die Heilige Gees maak dit duidelik dat die groot afvalligheid van die wêreld, in die laaste tye van die aarde se geskiedenis sal plaasvind. Moderne Spiritisme is ‘n uitstekende voorbeeld van die “leringe van duiwels” en is eintlik net ‘n herlewing van die aanbidding van duiwels en heksery van die verlede. Sy verleidende invloed sal uiteindelik die hele wêreld oorstroom, nie-christelike- sowel as die christelike godsdienste, en die weg vir Satan se laaste groot verleiding, berei.

Openb 18:1-3    
“En na hierdie dinge het ek ‘n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag, en die aarde is verlig deur sy heerlikheid.  En hy het met ‘n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ‘n woonplek van duiwels en ‘n versamelplek van allerhande onreine geeste en ‘n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls, omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid.”
 
Weens die verwerping van God se  laaste waarskuwings (drie engele van Openb 14:6-12) keer die wêreld sy rug op God en word hulle met ope arms deur Satan ontvang en deur sy misleidings van wonderwerke en kragtige dade meegesleur na die verderf.

Openb 16:13,14    
“En ek het uit die bek van die Draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom.  Want dit is die geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God.”

Jesus maak dit baie duidelik deur Johannes in die boek van Openbaring, dat daar aan die einde van die wêreld se geskiedenis ‘n desperate poging aangewend sal word deur Babilon om die mense teen God en Sy Waarheid in opstand te bring.

Babilon is ‘n mengsel van Spiritisme- (Heidens, New Age, ens.), Rooms Katolieke- en  Afvallige Protestantisme-sieninge. Die groot bedrog sal geskoei wees op die Tradisies van mense, wat hulle gesag van die Pousdom ontvang het, wat op sy beurt, sy mag, krag en troon van Satan self, ontvang het. Let ook daarop, dat dit die 2de dier (Valse Profeet / Afvallige Protestante) sal wees wat veral die wonderwerke sal doen om die wêreld te mislei om ‘n beeld ter ere van die 1ste dier (Pousdom) op te rig, en die aanbidding daarvan met wetgewing sal probeer afdwing (Openb 13:12-17).

Mark 13:21-23    
“En as iemand dan vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Kyk, daar! - moet dit nie glo nie.  Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.  Maar julle moet op julle hoede wees.  Kyk, Ek het alles vir julle vooruit gesê.”

Ons word deur Jesus vermaan, om in die laaste doodsnikke van die wêreld se bestaan, nie op ons sintuie staat te maak vir wat reg is nie. Ons oë, ore, gevoel, smaak en reuk, sal nie bronne van veiligheid wees, in die Tyd van die Einde, nie.
 
“’n Sekulêre persoon is nie ‘n Ateïs nie maar eerder iemand wat of nie tyd vir God het nie, of nie God se betrokkenheid in die alledaagse lewe ervaar nie. Sekulêre oortuigings fokus op dit wat gesien, gehoor, gesmaak, gevoel, of geruik kan word. Maar Openbaring sê dat in die finale krisis van die wêreld se geskiedenis, diegene wat op hulle vyf sintuie vertrou, mislei sal word. Dit sal ‘n stryd wees tussen twee Waarheidsisteme - een sal wetenskaplik bevestig kan word, en die ander deur die Skrifte alleenlik. “En nou het Ek dit aan julle gesê voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur?” (Joh 14:29)

“Dit is waarom die boodskap van Openbaring so belangrik is vir vandag. Dinge is nie altyd soos wat dit blyk te wees nie. Die mense het nodig om te weet dat diegene wat slegs op hulle sintuie vertrou, mislei sal word. Die mense het nodig om te weet dat bo die vyf sintuie, daar ‘n groter werklikheid is wat in Christus gesmaak kan word. Hierdie hoër werklikheid van geloof word begryp met die hulp van die Skrifte en word gewoonlik nie verstaan deur die sintuie alleen nie. Die berg Karmel ondervinding sal herhaal word aan die einde in ondersteuning van die valse drie-eenheid. Op daardie tydstip sal al die bewyse van jou oë en jou ore jou vertel dat jy al die tyd verkeerd was om die Bybel te volg.” Jon Paulien, AS SPECULATION BUILDS, LET’S KEEP OUR EYES FOCUSED ON WHAT THE BIBLE SAYS  ABOUT THE END TIME, Review And Herald Publishing Association, Hagerstown, 1994, bl 116.

Ons sal alleenlik kan staat maak op ‘n duidelike “Daar staan geskryf...” (die Woord van God) - soos Jesus (tydens Sy versoeking deur die Satan) in die woestyn. Die Bybel sal ons enigste veilige hawe wees in ‘n donker wêreld van geestelike afvalligheid.

Jes 8:19, 20    
“En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel - moet ‘n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word?  Tot die wet en die getuienis!  As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie.”
 
Dieselfde beginsel wat gegeld het vir Israel van ouds, geld vandag steeds. Kinders van die Here moet hulle nie bemoei met “geeste van afgestorwenes” nie, want daar bestaan nie so iets nie! Ook moet ons, ons nie bemoei met sogenaamde waarsêers nie. Daniël het gesê dat slegs die God van die hemel ken die toekoms!
 
As ons riglyne vir die toekoms nodig het, moet ons, ons wend na die Wet en die Getuienis - die Woord van God. Alles wat nodig is om te weet, en wat die Here dink ons nodig het om te weet, is daar binne-in (2 Tim 3:14-17).

 

GLO U DAT DIE WOORD VAN GOD, DIE ENIGSTE ONFEILBARE WAARHEID IS VIR DIE MODERNE MENS?

 

GLO U DAT JESUS SY WIL AAN U, AS SY KIND WIL OPENBAAR?

 

BESEF U DAT DIE DRAAK, DIE DIER EN DIE VALSE PROFEET U SAL VERVOLG AS DEEL VAN DIE OORBLYFSEL VAN GOD SE KERK, SOU U GETROU BLY AAN DIE WOORD VAN GOD?

 

IS U GEWILLIG OM JESUS AL DIE PAD TE VOLG SOOS HY U LEI?


Gaan na die volgende afdeling:  21. Die Misleiding van die Lam wat Praat soos ‘n Draak

bottom of page