top of page

DIE TOEKOMSTIGE ROL VAN DIE TWEEDE DIER
(PROTESTANTSE V.S.A.)


Openb 13:11    
“En uit die aarde het ek 'n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos 'n lam en het gepraat soos 'n draak.”

Ten spyte van sy Lamagtige (Christelike / “Jesus”) voorkoms, sal die 2de Dier praat soos 'n Draak (Satan). Soos die 1ste Dier (Pousdom) sy "troon, krag en groot mag" van Satan ontvang het, so sal die 2de Dier (V.S.A.) 'n misleidende mag word (praat soos ‘n Draak - Satan).
 
Thomas Jefferson het aan die begin van die volk se bestaan gesê: "Die gees van die tye kan en sal verander.  Ons regeerders sal korrup word, ons volk agterlosig. 'n Enkele yweraar kan met vervolging begin, en beter mense kan sy slagoffers wees." Notes on Virginia, Query XVII, The Works of Thomas Jefferson, (Ford-uitgawe, 1904-1905), deel 4,
bl 81, 82.

Openb 13:12a    
“En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë...”

Die Draak het 'n gees van onverdraagsaamheid en vervolging deur Heidense Rome geopenbaar (Openb 12). Na hy sy troon aan die 1ste Dier (Pousdom) oorgegee het, het dié, dieselfde gees van onverdraagsaamheid en vervolging geopenbaar. Die 2de Dier sal presies dieselfde gees navolg.
 
Die Pousdom het vir 1260 jaar wêreldheerskappy oor die Christendom gevoer. Die 2de Dier (V.S.A.) gaan ook probeer om heerskapy oor die Christendom uit te voer tot voordeel van die Pousdom. Polities en ekonomies, is die V.S.A. vandag die sterkste mag in die wêreld.  

Maar die Pousdom was nie nét polities nie, dit was ook godsdienstig. Dit was 'n VERENIGING van KERK en STAAT. Die kerk het die staat gebruik om sy godsdienstige oortuigings op andere af te dwing, met dodelike gevolge! Die Geskiedenis is ‘n belangrike Leermeester!
 
Ons verwag dus dat dieselfde Kerk-Staat Sisteem in die V.S.A. ingestel sal word, om soos die Pousdom te kan wees. In Protestante Amerika sal 'n Totalitêre* Godsdienstige Mag (soos die middeleeuse Pousdom) ontstaan, wat die Staat sal domineer en wat die gewete van die mens sal dwing om die godsdienstige oortuigings van die meerderheid te aanvaar. Hoe sal dit gebeur? Dit sal slegs moontlik wees deur die opbou van 'n Godsdienstige Mag in die V.S.A en wat dan later deur ander lande in die wêreld nagevolg sal word.  

(*Totalitarisme = 'n Politieke opvatting wat die individu as dienaar van die staat beskou en die reg eis om sy hele lewe en sy produksie- vermoë deur dwangmaatreëls te beheer.)

"Die eerste dier, (middeleeuse Pousdom) was 'n vereniging tussen Kerk en Staat. 'Die beeld vir die dier' in die Amerikaanse verband, sal 'n Amerikaanse gelyke wees van die middeleeuse pousdom. Om dit te kan bewerkstellig sou beteken dat die konstitusionele beskerming teen die vereniging van kerk en staat afgetakel moet word." Russel Burrill, The New World Order, Review & Herald Publishing Association, Washington D. C., 1993, bl 136.
 
AANVAL OP DIE V.S.A. KONSTITUSIE

Sedert die vroegste tye, is groot groepe Christelike organisasies in die V.S.A., besig om te probeer om die eerste klousule van die Amerikaanse grondwet te verander wat die skeiding van kerk en staat voorstaan en beskerm.  

Sommige van hierdie organisasies sluit in: The National Reform Association, The International Reform Federation, The Lord's Day Alliance of the United States en The New York Sabbath Committee. Die meeste van dié organisasies het saamgesmelt, of gee nou hul ondersteuning aan die nuut gestigte "Christian Coalition," wat hom beywer vir hoër Christelike norme en die herstel van die Christelike Sondag, as ‘n teenvoeter vir korrupsie en morele agteruitgang in die V.S.A..

“Die Roomse Kerk is baie slim en listig. Hy kan vooruit sien wat sal gebeur. Hy wag sy tyd af en hy sien dat die Protestantse Kerke hulde aan hom betoon deur hul aanname van die valse Sabbat [Sondag] en dat hulle reëlings tref om dit verpligtend te maak deur dieselfde middels as wat hy in die verlede gebruik het. Diegene wat die lig van die waarheid verwerp, sal nog gaan hulp soek by hierdie beweerde onfeilbare mag om ‘n instelling van daardie selfde mag te verhef. Hoe gewillig Rome sal wees om Protestante in hierdie werk te help, is nie moeilik om te sien nie.” E.G. White, Die Groot Stryd, Kenilworth, 1939, bl. 551.  
 
Die Christelike Fundamentaliste, soos hulle algemeen bekend staan, oefen op die oomblik groot druk uit op die V.S.A. se Konstitusie. 'n Kort opsomming van wat die Fundamentaliste glo, word so beskryf:

"Sommige Fundamentaliste volg die 'Oorheersingsteorie' na, wat sê dat die Bybel letterlik opgeneem moet word. Gen 1:28 wat sê: '... en God het vir hulle gesê... heers oor die visse van die see... en oor al die diere wat op die aarde kruip,' word geïnterpreteer as om te beteken dat hulle [Fundamentaliste] die reg het om die lewe van elke man, vrou en kind op die aarde te beheer.  
 
Sommige van die ekstreme Fundamentaliste vra vir: [1] Die wegneem van Godsdiensvryheid. [2] Geen aborsies - nie eens in die geval van verkragting of fisiese gevaar wat die fetus vir die verwagtende moeder se gesondheid inhou nie. [3] Die doodstraf vir egbreuk, aborsie, voorhuwelikse seks, sodomie en nie-korrigeerbare (opstandige) kinders. [4] Slawerny in die plek van Tronke. [5] Beheer oor die Ekonomie, Skole en Openbare Inrigtings. [6] 'n Christelike Teokratiese Regering [soos Israel van ouds] nie deur verkose verteenwoordiging nie, maar deur godsdienstige leiers. Om u 'n idee te gee van hoe dit in die praktyk werk, kyk na Iran wat op die oomblik deur 'n Islamitiese Teokratiese Regering beheer word. Die Ku Klux Klan beskou hulself as 'n Christelike Fundamentalistiese Organisasie. Dit is insiggewend om daarop te let dat Fundamentaliste, éérstens regsgesind is, daarná godsdienstig," Cosmopolitan, maandblad van Mei, 1995, "The New Moral Army," deur Mark McAndrew en Heather Parker.)

'n Nuusbrief uitgegee deur Pat Robertson ('n Fundamentalis en hoof van die Christian Coalition - 'n Regse Christelike Drukgroep) se Amerikaanse Sentrum vir Wet en Geregtigheid, bevat die volgende artikel met die opskrif 'Tear Down This Wall!,' geskryf deur Keith Fournier ('n Katoliek van die "Evangelical Catholic"), na aanleiding van die val van die Berlynse Muur in Duitsland:

"Ja daar is 'n muur wat toevallig in ons geliefde land [V.S.A.] opgerig is. Sy aanslag op godsdiensvryheid, het miskien 'n groter vernietigende effek gehad. Dit is die sogenaamde muur van skeiding tussen kerk en staat ..." 'Law and Justice,' Winter 1992, nr. 1, soos aangehaal in Clifford Goldstein, DAY OF THE DRAGON, Pacific Press Publishing Association: Ontario,1993, bl. 64.
 
Burt Cohen het van Ralph Reed (tans die uitvoerende direkteur van Pat Robertson se Christian Coalition wat probeer om die koalisie van Protestantse Fundamentaliste, groter seggenskap in die politieke arena te besorg) gesê: "Hy verteenwoordig 'n gevaarlike neiging in hierdie land. Ons moet politiek en godsdiens van mekaar af weghou." 'n artikel deur Jeffrey H. Birnbaum, "The Gospel according to Ralph," soos aangehaal in die Tydskrif Time, 15 Mei, 1995, bl 30.
 
“Protestante ondersteun Katolieke; hulle het al kompromiëe aangegaan en toegewings gemaak wat selfs pousgesindes verbaas het en wat hulle nie kon verstaan nie. Mense sluit hulle oë vir die ware karakter van Katolisisme en vir die gevare wat daar te vrees is vir sy opperheerskappy.” E. G. White, Die Groot Stryd, Sentinel Uitgewery, Kenilworth, 1939, bl. 537.

Openb 13:12    
“En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is.”

Volgens die profesie, is die grootste beweegrede vir die 2de Dier, om die grondwet van die V.S.A. te verander, om die wêreld weer onder die gesag van die 1ste Dier (Pousdom) te bring.

Om te "aanbid" beteken om "hulde te bring" of om "neer te buig" en die hoër gesag van iemand anders te erken. Die V.S.A. is vandag die grootste voorstander van die samesmelting van die godsdienste van die wêreld. Die V.S.A. het alreeds in 1884 die gesag van die Pousdom, in 'n Nasionale Christelike Eenheid, erken:

"Ons erken van harte en met blydskap die feit dat die Rooms-Katolieke in die Suid-Amerikaanse Republieke, en in Frankryk en ander Europese lande, die erkende voorstanders van nasionale Christelikheid is, en dat hulle al die voorstelle van sekularisme teenstaan....Net wanneer hulle gewillig is om saam te werk om die vooruitgang van politieke ateïsme [Kommunisme] teen te staan, sal ons ons met blydskap by hulle aansluit in 'n wêreldkonferensie vir die bevordering van ‘n nasionale Christendom - wat nie ver in die toekoms gehou behoort te word nie [*] - wat in baie lande net deur die Rooms-Katolieke verteenwoordig kan word." Hoofartikel in die Christian Statesman, 11 Desember 1884, bl. 2. (lyfblad van die National Reform Association)   
 
[*] Die genoemde konferense is toe in Chicago in 1893,  9 jaar later gehou. Intussen het die V.S.A. en die Pousdom saam gewerk om die val van Kommunistiese Rusland tot ‘n val te bring. Sien ook die volgende aanhaling van die berig in die dagblad The Citizen.
 
Deur die Wêreld Raad van Kerke en die ekumeniese beweging, is die V.S.A. besig om die mensdom in een godsdiensbeweging in te trek. In 1993 is die eerste Parlement van Wêreldgodsdienste in 100 jaar gehou:

[*] "Die samekoms van 7, 700 deelnemers van ongeveer 250 verskillende godsdienste, wat wissel van Amerikaanse Babtiste tot Zoro-asteraanbidders, illustreer die dramatiese veranderinge in die Intergeloof  Beweging, aangesien die enigste ander so 'n Parlement, óók in Chicago, in 1893 gehou was."  'n Artikel: "World religions in quest for global peace, justice." uit die Dagblad The Citizen, 6 September 1993.

Die derde Parlement van Wêreldgodsdienste is in Kaapstad in Suid-Afrika gehou in 2000 nC.

 

Gaan na die volgende studie:  SPIRITISME, DIE BINDINGSFAKTOR

bottom of page