top of page

GESKIEDENIS VAN DIE VERVOLGING VAN GOD SE VOLK

1.  DIE DRAAK / SATAN - (HEIDENSE ROME)


Openb 12:4-6    
“...En die draak het gestaan voor die vrou wat op die punt was om te baar, sodat hy haar kind sou verslind sodra sy gebaar het.  En sy het ‘n manlike kind gebaar, wat al die nasies met ‘n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon.  En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy ‘n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank.”
 
Satan werk altyd deur menslike agente om sy vuil werk te doen. Sedert die tyd van Adam en Eva vervolg hy almal wat die Lig van Waarheid navolg. Die boek Openbaring is egter gesteld op die laaste deel van die geskiedenis van die wêreld, m.a.w. die tyd van die bene van Yster en voete van yster en klei van Dan 2, die Dier met die 10 Horings en die Klein Horinkie wat na hulle sou verskyn, tot en met die oprigting van God se ewige koninkryk.

Die Draak (Satan) se triomf oor Christus, deur Rome en Israel, was van korte duur. Jesus het uit die dood opgestaan en is na God se troon, waar hy as Middelaar van die mens sou optree. Die Draak sou hom nou toespits op die vroeë Christene.

Deur Heidense Rome kon die Draak (Satan) nie genoegsame sukses teen die Christene behaal nie. In 300 jaar kon hy slegs 3, 000 000 Christene uitwis. Hoe meer hy gedood het, hoe meer het die Christene geword. Hy sou nou ‘n ander taktiek moes volg.

2.  DIE EERSTE DIER (POUSDOM)

Openb 13:1,2,5    
“En ek het 'n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe 'n naam van godslastering.  En die dier wat ek gesien het, was soos 'n luiperd, en sy pote soos dié van 'n beer, en sy bek soos die bek van 'n leeu;  en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag.  En 'n mond is aan hom gegee wat groot woorde en godslasteringe uitspreek, en aan hom is mag gegee om dit twee-en-veertig maande lank te doen.”

Die suksesvolste mag teen die Waarheid, was tot dusver, die Antichris. Hier in Openb 13 word dit beskryf as ‘n Saamgestelde Dier (Pousdom) uit die see (nasies) wat die Christendom groot skade sou aandoen. Die rede vir die Dier (Pousdom) se sukses, was omdat dit sy krag, sy troon en groot mag, van die Draak (Satan) ontvang het.
 
Vir 'n tydperk van 1260 Jaar (Tyd, Tye en ½Tyd, 42 maande, 1260 Profetiese dae) het die Pousdom tussen 50 en 100 miljoen Christene uitgeroei. Die Pousdom het die Christelike Kerk in dié tyd besoedel met valse leringe wat op Tradisies van mense en uitvindsels van die bose, gebou is.

Openb 13:10   
“As iemand krygsgevangenskap maak, gaan hy in krygsgevangenskap; as iemand met die swaard doodmaak, moet hy met die swaard doodgemaak word.  Hier is die lydsaamheid en die geloof van die heiliges.”

Die eens magtige Sisteem van Afvalligheid het egter tot ‘n einde gekom met die uitbreek van die Franse Rewolusie. Alle  godsdiens was verwerp en die Pous is in 1798 deur genl. Berthier van Napoleon gevang en in Valenco opgesluit, waar hy as krygsgevange sterf. Die Antichris se inperking sou egter van korte duur wees, want sy dodelike wond sou genees!
 
Openb 13:3    
En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was, en sy dodelike wond is genees.  En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan.”

Die Pousdom se dodelike wond is egter genees met die geskiedkundige ondertekening van die verdrag tussen kardinaal Gasparri (vir die Pousdom) en Mussolini (vir Italië) in 1929. Die Pousdom het haar politieke gesag terug ontvang. Die wêreld sou hierna verwonderd agter die Dier aanloop.

Die herrese Pousdom sou egter weer in 'n stryd teen die Kerk se Nakomelinge (oorblyfsel), gewikkel wees. Die oorblyfsel van die Kerk van Christus sou eers op die toneel verskyn ná 1798 nC. Satan sou die hulp van 'n tweede Dier inroep om sy vervolgingswerk voort te sit, en die res van wêreld te mislei om die 1ste Dier (Pousdom) tot eer van die Draak (Satan) te aanbid.

3. DIE TWEEDE DIER (VALSE PROFEET) – AFVALLIGE PROTESTANTISME

Van die interessantste ontdekkings in ons studie van Openbaring, was die profesieë van die opkoms en val van die groot koninkryke van die wêreld, nl. Babilon, Medo-Persië, Griekeland, Rome en die Pousdom.  
 
Nou word die opkoms en val van die laaste groot wêreldmag wat die Antichris (Pousdom) sal opvolg en ondersteun, as ‘n medevervolger van God se volk, onder Satan se leiding, aan ons geopenbaar.

Openb 12:17    
“En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.”
 
Die reaksie van die Draak (Duiwel) wat hier beskryf word, volg na die 1260 jaar van Pouslike oorheersing verstreke was, m.a.w. ná 1798 nC. Die Draak (Satan) wil die nakomelinge van die Kerk van Christus (oorblyfsel van haar Saad) vernietig omdat hulle aan twee belangrike waarheidsbeginsels vashou - (1) hulle onderhou die gebooie van God  en erken daarmee God se gesag en (2) hulle handhaaf hul geloof in Jesus as hul enigste Middel tot Verlossing en Waarheid (Joh 1:14).

Openb 13:11    
“En uit die aarde het ek 'n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos 'n lam en het gepraat soos 'n draak.”

Die Tweede Dier sou uit die aarde te voorskyn kom. Dit sou op die toneel verskyn om en by die tydperk wat die Pousdom sy dodelike wond in 1798 nC. ontvang het.

John Wesley het in 1754 in sy aantekeninge oor Openb 13:11 se dier met die twee horings geskryf: "Hy het nog nie gekom nie; alhoewel hy nie meer ver kan wees nie. Want hy moet aan die einde van die '42 maande' van die eerste dier verskyn." Explanatory Notes upon the New Testament  (1791 - uitgawe), deel 3, bl 299.

Die enigste koninkryk of wêreldmag, wat in die tyd van die dodelike wond van die Pousdom verskyn het, was die V.S.A. Die Amerikaanse stryd om onafhanklikheid het in 1775 nC. begin. In 1776 nC. verklaar die V.S.A. haarself onafhanklik en word in 1783 nC. deur Brittanje erken. In 1787 nC. was die raamwerk vir die Konstitusie van die V.S.A. neergelê, en in 1789 nC. was dit aangeneem.

Al die vorige Diere kom uit die "see" (volke en menigtes, nasies). Hierdie Tweede Dier (V.S.A.) se oorsprong is uit die aarde, m.a.w. uit 'n deel van die wêreld waar daar nie voorheen "volke, menigtes en nasies" was nie - die “nuwe wêreld.”

Openb 13:11a    
“En uit die aarde het ek 'n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos 'n lam...”

Die Tweede Dier het horinkies soos 'n Lam. (Horings = konings / koninkryke / magte) Dit pas uitstekend in die beskrywing van die profesie, omdat die V.S.A. op hierdie stadium nog 'n jong nasie was.

Die V.S.A. se konstitusie is opgetrek deur Protestante wat uit Europa 'n nuwe heenkome gesoek het waar hulle hul godsdiens in vryheid van gewete, kon beoefen. Die V.S.A. is nie 'n verdeelde koninkryk soos die Meders en Perse nie, maar besit wel twee besondere magte.

Die twee magte (horinkies) van Burgerlike- en Godsdiens Vryheid, is in die V.S.A. se grondwet ingebou met haar stigting in 1789. Dit sou elke persoon die reg gee om die godsdiens van sy keuse te beoefen, terwyl daar 'n skeiding tussen kerk en staat sou wees.  

In die “Handves van Menseregte” / “Bill of Rights,” sê dit:

"Artikel 1 - Die kongres mag geen wet maak wat 'n godsdienstige instelling, of die vrye beoefening daarvan belet; of die vryheid van spraak, van die pers, of die reg van die volk om vreedsaam byeen te kom en te versoek dat die regering griewe moet regstel, aan bande lê nie."

"Artikel 4 - Die reg van die volk om teen enige onredelike visentering of inbeslagneming van hul persone, huis, dokumente of besittings, beskerm te wees, mag nie geskend word nie."

"Artikel 5 - Niemand... se persoon en lewe mag twee keer vir dieselfde oortreding in gevaar gestel word nie, en niemand mag in 'n strafsaak gedwing word om teen homself te getuig, of sonder regsprosedure sy lewe of vryheid of eiendom ontneem word nie; privaateiendom mag ook nie sonder billike vergoeding vir openbare gebruik onteien word nie," Bybellesings vir die Gesin, Southern Publishing Association, Kenilworth, 1983, bl 211.

 

Gaan na die volgende studie:  DIE TOEKOMSTIGE ROL VAN DIE TWEEDE DIER

bottom of page