top of page

DIE PLAE WORD UITGESTORT

Is hierdie plae letterlik of simbolies? Die plae op Egipte was letterlik (Sien Ex. 7:20-12:31). Mense het aan swere gely, is deur paddas, muskiete, steekvlieë, sprinkane, ens. gepla. Die Profesie van die 7 Trompette het egter simboliese taal gebruik, maar die simbole het letterlike betekenis gehad. So is die plae van Openbaring, letterlike gebeurtenisse wat in simboliese taal geskryf is, want die taal van Openbaring is simbolies van aard.


Dit blyk dat nie al die plae wêreldomvattend sal wees nie. Die plae sal eerder verspreid oor die hele aarde voorkom en alle goddelose sal deur sommige van die plae getref word, terwyl dit geen effek op die volk van God sal hê nie (soos Israel tydens die Eksodus). Psalm 91 kan beskou word as ‘n bemoediging vir diegene wat aan die einde van Tyd sal leef.

Ps 91    
“Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige.  Ek sal tot die Here sê:  My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou.  Want Hy is dit wat jou sal red van die voëlvanger, van die verderflike pes.  Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil;  sy trou is 'n skild en pantser.  Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie, vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie!  Al val daar duisend aan jou sy en tienduisend aan jou regterhand - na jou sal dit nie aankom nie.  Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien.  Want U, Here, is my toevlug.  Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak.  Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie; want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.  Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.  Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap.  Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red;  Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken.  Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor;  in die nood sal Ek by hom wees;  Ek sal hom uitred en eer aan hom gee.  Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.”
 
Vir diegene wat ‘n lewende verhouding met Jesus het, sal Ps 91 se woorde, ‘n bemoediging wees.  Hierdie laaste groep lewende regverdiges, net voor Jesus se koms, sal deur die groot benoudheid gaan soos daar nog nooit gewees het nie.  Hulle sal egter nie alleen wees nie - engele van God sal vir hulle sorg, soos Hy gesorg het vir Elia en die weduwee van Sarfat, ja, selfs soos Hy gesorg het vir ‘n hele volk (Israel) in die woestyn.  Intussen sal miljoene goddelose wat die merk van die Dier het, sterf van honger, bose swere, pessiektes, sonsteek, en oorloë. Die 7 laaste plae sal hulle deel wees omdat hulle nie ‘n liefde vir Waarheid gehad het nie, maar eerder die leuen geglo het.

Openb 16:2    
“Toe gaan die eerste een weg en gooi sy skaal op die aarde uit, en kwaai en bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het.”
 
Die eerste plaag van kwaai en bose swere word op die aarde uitgestort en almal wat die merk van die Dier het, sal die plaag ontvang. Omdat God se volk nie die plae ontvang nie, sal die wêreld dit beslis opmerk en ‘n vyandige houding jeens hulle openbaar.


Hierdie eerste plaag van kwaai en bose swere, kom ooreen met die sesde plaag in Egipte, wat op al die Egiptenaars gekom het, maar nie op Israel en sy diere nie (Ex 9:8-12).


Openb 16:3    
“En die tweede engel het sy skaal op die see uitgegooi, en dit het bloed geword soos van 'n dooie, en al die lewende wesens in die see het gesterwe."

Hierdie plaag kom ooreen met die eerste deel van die eerste plaag in Egipte (water van die Nylrivier het in bloed verander - Ex 7:14-18). Net soos die Nyl die lewensaar en een van die hoofgode van die Egiptenare was, so is die see (letterlik gesien), met sy ryk voedsel-bronne, olie, en skeepvaart, die lewensaar vir die moderne mens.
 
Maar simbolies gesien, stel see of waters, nasies voor (Openb 17:15). Die mensdom gaan groot krissise in die gesig staar.  Die bewoners van die aarde sal in algehele verwarring wees. Oorlog, bloedbad, ontbering, gebrek, hongersnood en pessiektes, ens., sal oral uitbreek (Matt 24:7).

“...Rooi of bloed [kan] ook dwaalleer en sonde voorstel.  Dit is veral so wanneer daardie dwaalleer met die swaard [siviele mag] afgedwing word.  Ons het gesien hoe deel na deel van die Christelike kerk [een derde] ondergegaan het soos wat brander na brander van dwaalleer, gerugsteun deur die swaard, oor die kerk gespoel het.  Daardie tonele gaan hulleself weer herhaal, behalwe dat nie slegs ‘n derde nie, maar al die lewende wesens in die see sal sterwe. ...Die Verenigde State sal [in die laaste dae] die toon aangee in hierdie dwaling, die ergste wat daar is, om mense deur die siviele mag te dwing om teen hulle gewete te handel.  Roomse beginsels sal onder die vleuels van die staat geneem word, en wette vir die onderdrukking van die waarheid, sal in die hoogste raadsale goedgekeur word. ... die volke van die aarde sal dus betrek word om die bastion van die leuen te rugsteun.  Dit is ‘n herhaling van wat deur die eeue plaasgevind het: versaak jou geloof of sterf!  Die tweede stap is geneem om die wêreld in opstand te bring teen die God van die hemel en sy getroue oorblyfsel.” Dr. I. J. van Zyl, Openbaring Almanak, (Boek met Dagstukke oor Openbaring) Esdea Boeke, 1995, Oktober 10.

Openb 16:4    
“En die derde engel het sy skaal uitgegooi op die riviere en op die waterfonteine, en dit het bloed geword.”

Hierdie plaag kom ooreen met die tweede deel van die eerste plaag in Egipte (water in die versamelplekke, kuile, kanale, hout- en klipbakke was alles met bloed gevul - Ex 7:19).  
 
Die derde plaag word uitgestort op die riviere en waterfonteine sodat daar geen water is om te drink nie.  Suiwer water is noodsaaklik vir die instandhouding van alle lewensvorme. Maar God het Sy kinders, die regverdiges, nie vergeet nie: "... sy brood word hom gegee, sy water is gewis" (Jes 33:16). Soos die Here vir Elia by die spruit Krit versorg het, so sal sy kinders in die verskriklike tyd deur Hom onderhou word.

Simbolies gesien, word die Christen se lewe met strome van lewende water gevoed. Jesus het verwys na die Heilige Gees as die Bron van die geestelike lewe in die hart van sy volgelinge (Joh 7:37-39).
 
“Die feit dat die strome en fonteine deur ‘n aparte plaag geraak word, skyn daarop te dui dat dit op ‘n ander deel van die wêreld ekumene [kerke wat met mekaar saamwerk] van toepassing is. Terwyl die volke (die see) deur die Satan se onverdraagsaamheid in godsdiens tot onbesonne opstand teen God en sy oorblyfsel [144,000] gedryf word, sal die kerke wêreld, en meer spesifiek die Protestantisme, deur dwaling oor die Heilige Gees teen die oorblyfsel ingespan word. Daar is gewaarsku teen die dwaling oor die Heilige Gees in Openbaring 13:13. ...Die reine strome en fonteine van geestelike ondervinding word besoedel met hierdie valse namaaksel van die werking van die Heilige Gees. Geloof word vervang deur gevoel, en lei tot allerhande irrasionele ‘geestelike belewings.’ Net een voorbeeld: Koerante en tydskrifte is al vir ‘n geruime tyd vol van wat genoem word, die ‘Torronto Blessing.’ Onder die s.g. invloed van die Heilige Gees, gaan mense aan’t lag, val soos dronkes neer, lê op die rug en skop en skree. Die verbasende feit is dat die fenomena [verskynsel] vinnig besig is om te versprei. En as die fonteine besoedel is, sal die strome ook rooi vloei van dwaling. ” Dr. I. J. van Zyl, Openbaring Almanak, Esdea Boeke, 1995, Oktober 11.

Openb 16:5-7    
“En ek het die engel van die waters hoor sê: Regverdig, Here, is U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel uitgevoer het; want hulle het die bloed van die heiliges en profete vergiet, en U het aan hulle bloed gegee om te drink, want hulle het dit verdien.  En ek het 'n ander een uit die altaar hoor sê:  Ja, Here God, Almagtige, waaragtig en regverdig is u oordele.”

Omdat die goddelose die bloed van die heiliges en die profete vergiet het, sal die Here húlle ook bloed gee om hul bloeddorstigheid mee te vul. Die spoor van bloed, vervolging, marteling, ens., loop oral waar godsdienstige onverdraagsaamheid geopenbaar word.

Die onsedelike Babilon was dronk van die bloed van die heiliges wat sy vergiet het en van die bloed van diegene wat as getuies vir Jesus gedien het. Soos die mens aan die drifte van Satan toegee, so verspil hulle die bloed van die mense óm hulle, deur opstande, oorloë en onverdraagsame godsdienstige wette op mensegewetes af te dwing.  

In Kanada is die “Anti-Hate Law” alreeds in werking. Enigeen wat beweer dat ‘n ander godsdiens nie dieselfde verlossingswaarde het, as jou geloof nie, en dit promoveer, sal summier in die tronk gestop word. ‘n “Algemene Christus” mag verkondig word, maar sonder die Bybelse waarhede, wat die Cristelike geloof van andere onderskei.
 
Openb 16:8,9    
“En die vierde engel het sy skaal op die son uitgegooi, en daaraan is dit gegee om die mense met vuur te skroei.  En die mense is geskroei met 'n groot hitte, en hulle het die Naam van God gelaster wat mag het oor hierdie plae, en hulle het hul nie bekeer om Hom heerlikheid te gee nie.”

Die vierde plaag is oor die son uitgegooi sodat dit die mense op die aarde skroei. Die goddelose het God nie erken of verheerlik nie. Sodra rampe Israel getref het, het dit tot bekering gelei, maar met die moderne mens is dit nie die geval nie. In hulle hardheid van hart, word die onskuldiges blameer vir al die natuurrampe wat hulle tref.
 
“Die son skroei die mense. Hulle belaster God, maar soek nie Sy vergifnis nie. Openb 14:18. Die oes van die druiwetrosse van die aarde (die goddelose) is ten volle ryp vir oordeel. Hulle vereer die dag van die son.  Nou het die son ‘n plaag vir hulle geword. [Net soos met die afgode van die Egiptenare gebeur het] Hulle het vuur van die hemel laat neerdaal [voor die oë van die mense]. Nou proe hulle dit. Openb 13:13” J. van der Merwe, (M.A., D.D.), Notes on the Book of Revelation, Desember 1976, bl 36.

Die werklike aard van die goddelose se karakter word nou geopenbaar. Hulle weiering om hulle tot God te bekeer, bevestig dat Jesus se intrede in die hemelse Heiligdom, hulle nie sou baat nie. Daar is geen berou by die ontvangers van die plae nie. Dit toon dat hulle so verhard en verstok is in hulle dwalinge, dat hulle nie tot hul sinne kom nie. Sodom en Gomorra het met hul duiwelswerk voort gegaan, al was die getuies van God, nl. 2 engele, in hulle midde (Gen 19). Moderne Babilon en sy volgelinge gaan ook voort met hul sondige praktyke, ten spyte van God se getuies, Sy Woord en die Oorblyfsel, die Nakomelinge (saad) van die vrou - hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar. Jesus se middelaarsbediening sou geen versoening vir hierdie hardvogtige sondaars kon bewerkstellig nie - hulle het hul siele aan Satan verkoop deur dwaalleer en die soendood van Jesus gesmaad.

Openb 16:10,11    
“En die vyfde engel het sy skaal uitgegooi op die troon van die dier, en sy koninkryk is verduister, en hulle het hul tonge gekou van pyn; en hulle het die God van die hemel gelaster oor hulle pyne en oor hulle swere, en het hulle nie bekeer van hul werke nie.”

Hierdie plaag kom ooreen met die negende plaag van duisternis oor Egipte, wat deur die mense gevoel kon word (Ex 10:21-29). Die enigste lig was by die Israelitiese kamp te bespeur. Die son is niks werd sonder sy Skepper nie.  Die Skepper het groter mag as die songod wat deur die Egiptenare aanbid was en nou ook deur moderne Babilon aanbid word.
 
Jes 60:2        
“Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke.”  
 
Geestelike duisternis ontstaan wanneer ‘n mens van God se waarheid wegdraai na die dwalinge van Babilon. Die enigste lig tot verlossing en kennis en wysheid, is slegs in Jesus Christus en sy Woord van Waarheid te kry en in géén ander nie. Lig sonder jou Skepper en Verlosser, is duisternis!

Sefanja 1:14-16    
“Naby is die groot dag van die Here, naby en baie haastig. Hoor! die dag van die Here! Bitterlik skreeu die held daar.  Dié dag is ‘n dag van grimmigheid, ‘n dag van benoudheid en angs, ‘n dag van woestheid en verwoesting, ‘n dag van duisternis en donkerheid, ‘n dag van wolke en wolkenag, ‘n dag van basuingeklank en krygsgeskreeu teen die versterkte stede en teen die hoë hoekvestings.”

Die OT beklemtoon dat duisternis oor die aarde sal heers net voor die wederkoms van Jesus sal aanbreek.  Soos die duisternis in Egipte letterlik was, net so was dit ook geestelik. Terwyl die Egiptenare nie voor hulle kon sien nie, was daar ook geen hulp van die gode om hulle in die benoudheid te verlos nie.  

Die vyfde plaag tref die hoofkantoor van die Draak (Satan) op aarde - die tróón van die Dier (Pousdom). Sy koninkryk word verduister. Die plaag het veral betrekking op die Pousdom (Antichris) se geestelike  hoedanigheid. Sy is die goddelose, afvallige, en trotse koningin (Openb 18:7). Sy het aan almal voorgehou dat sy die beskermer van waarheid en lig vir die nasies is. Nou word die Pouslike Stelsel in duisternis gestort. Sy wat haarself as die hoop vir die wêreld voorgedoen het, deel nou self in die wanhoop van God se oordele.
 
Soos in die verlede, het die Pousdom, die God van die hemel gelaster met haar verwaandheid, as kerk van God. Gedurende die vyfde plaag gaan die valse kerk voort met haar afvalligheid. Die Pousdom sal, ten spyte van die plaag, nie berou toon vir die afvalligheid waarin die nasies verlei word nie, en haar nie tot God en sy waarheid bekeer nie. Die pous sal steeds voorgee om die plaasvervanger vir Christus te wees. Sy priesters sal steeds erken dat hulle die mag sal hê om sondes te vergewe en "ketters" te vernietig. Hulle sal "hulle tonge kou van pyn” in hul eie geestelike benoudheid.
 
In die duisternis oor die Dier, sal slegs God se volk lig hê wat hulle te midde van leerstellige donkerheid sal lei. Hul leuse bly steeds: ”U woord is ‘n lig op my pad en ‘n lamp vir my voet.” Dit is van God se volk gesê dat hulle volharding nodig sal hê, wanneer God diegene gaan straf wat die merkteken van die Dier, sy naam en sy getal aangeneem het (Openb 14:9-12).

 

Gaan na die volgende studie:  ARMAGÉDDON

bottom of page