top of page

DRAERS VAN DIE HEILIGE VOORWERPE VAN DIE HERE

2 Pet 3:9,10    
“Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.  Maar die dag van die Here sal kom soos 'n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.”

God is 'n God van genade en liefde. Maar genade teenoor sonde kan nie vir ewig gehandhaaf word nie. Almal word geroep om tot bekering te kom, sonde en ongehoorsaamheid te versaak, uit Babilon uit te kom, en by God se Oorblyfsel aan te sluit (Openb 18:4).

Jak 4:4,5,7,8    
“Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie?  Wie dan 'n vriend van die wêreld wil wees, word 'n vyand van God. Of meen julle dat die Skrif tevergeefs sê: Met jaloersheid begeer die Gees wat in ons woon?  Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.  Nader tot God, en Hy sal tot julle nader.  Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!”

God se oproep is duidelik, ons kan nie twee meesters dien nie. Ons word ernstig vermaan om ons roeping vas te maak deur ons aan die kant van God te skaar, Hom alleen te dien en gehoorsaam te wees.
 
Openb 18:4       
“En ek het 'n ander stem uit die hemel hoor sê:  Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.”

Gaan uit haar uit My volk! God se oproep is tot elkeen wat die boek Openbaring, hoor, lees en dit in hulle harte bewaar. God gaan die wêreld met die vreeslikste plae tref wat ons maar net van kan droom. God begeer ons redding, nie dat ons die plae moet ontvang nie.

Matt 19:27-29        
“Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom:  Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg.  Wat sal daar dan vir ons wees?  En Jesus sê vir hulle:  Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel.  En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe beërwe.”

Deur Jesus te volg in die wedergeboorte (die nageslag van die belofte te word) en bereid te wees om alles vir Hom te verloor (selfs vader, moeder, broers of susters, ens.) sal jy 100 maal soveel teruggegee word en nog die ewige lewe daarby!

Hand 2:36-41      
“Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het.  Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê:  Wat moet ons doen, broeders?  En Petrus sê vir hulle:  Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.  Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep. En met baie ander woorde het hy hulle besweer en vermaan en gesê: Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag.  Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drie-duisend siele toegebring.”

Die roepstem van die Here het Israel van ouds gesmeek met die woorde: "Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag,” en op Pinkster was 3000 mense gedoop en het so by God en sy nuwe volk (die Christelike Kerk) aangesluit. So roep die Here vandag ook na sy kinders reg oor die wêreld, om by Hom en sy laaste volk (die oorblyfsel van haar Saad) aan te sluit en gered te word van Babilon en haar vreeslike plae wat almal te beurt sal val, wat God se uitnodiging nie wil aanvaar nie.

1 Pet 2:9    
“Maar julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, 'n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.”
 
Enigeen wat Jesus aanvaar as sy persoonlike Verlosser, en gedoop word, as simbool van ‘n nuwe lewe in Christus, sal beskou word as lede van God se heilige volk, Sy koninklike priesterdom. Deur die verlossing wat ons deur die geloof deelagtig geword het, is ons die taak opgelê om Jesus se deugde (genade en waarheid - Joh 1:14) te verkondig aan die hele wêreld. Jesus het ons uit die duisternis van Babilon, na Sy wonderbaarlike lig, geroep. U en ek is verplig om die mense binne-in Babilon te waarsku oor die vreeslike dinge wat oor die wêreld gaan kom. Die wonderlike voorregte wat ons geniet, plaas ons onder verpligting om andere te vertel wat God, in Christus, bereid is om vir hulle te doen, vóór dit te laat is.

Jes 52:11       
“Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, raak nie aan wat onrein is nie; gaan uit hulle midde uit, reinig julle, draers van die heilige voorwerpe van die Here!”
 
Almal wat die boodskap van die boek van Openbaring gelees, gehoor en in hulle harte bewaar, het 'n verpligting om uit Babilon uit te kom, om die oopgevlekte, onrein leringe van Babilon, nie aan te raak nie. U moet rein en heilig lewe, want u het draers van die heilige voorwerpe van God geword. Aan u is die ware en egte leringe van God, soos in Sy Woord opgeteken, geopenbaar en opgedra.

Om 'n draer van die heilige voorwerpe van die Here te wees (Tien Gebooie en Geloof in Jesus), beteken dat ons die sonde sal aflê, volkome vir Jesus sal leef en Hom ten volle as Heer en Meester van ons lewe te maak.

 

LIEWE VRIEND / VRIENDIN, IS JESUS, WAT VIR U AAN DIE KRUIS GESTERF HET, DIE BELANGRIKSTE PERSOON IN U LEWE?

 

DIE 7 LAASTE PLAE SAL SLEGS OP DIEGENE UITGESTORT WORD WAT DIE MERK VAN DIE DIER HET. IS DIT VIR U DUIDELIK?

 

SLEGS HULLE WAT DIE SEëL VAN DIE LEWENDE GOD ONTVANG HET, SAL VAN DIE 7 LAASTE PLAE BESKERM WORD. BEGRYP U DIT?

 

HET U JESUS SE UITNODIGING GEHOOR WAT Sê: "GAAN UIT HAAR UIT, MY VOLK, SODAT JULLE NIE GEMEENSKAP MET HAAR SONDES MAG Hê EN VAN HAAR PLAE ONTVANG NIE?" IS U BEREID OM JESUS DIE HELE WEG TE VOLG, SOOS HY U DEUR SY WOORD SAL LEI?


Mag God u ryklik seën met die positiewe besluit wat u vir Hom geneem het.

Gaan na die volgende afdeling:  23. Waar is die Dooies

bottom of page