top of page

22. DRAERS VAN DIE HEILIGE VOORWERPE VAN DIE HERE

DIE SEWE LAASTE PLAE EN DIE SLUITING VAN DIE GENADEDEUR


Nooit sal daar so 'n duidelike skeiding tussen die regverdiges en die goddelose wees, soos ná die sluiting van die Genadedeur nie. Nadat Jesus sy hemelse bediening namens die mensdom staak, sal die sewe laaste plae op die aarde uitgestort word. Die goddelose sal gróót lyding verduur en die regverdiges, gróót ontbering. Die goddelose sal God vervloek weens Sy oordele, terwyl die regverdiges God sal loof vir Sy genade. Maar God beloof: "Salig is hy wat waak en sy klere bewaar" (Openb 16:15; 1:3).

Openb 22:11,12    
“Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word.  En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.”

Die gebeurtenisse van Openb 15 en 16 skilder vir ons die prentjie van beproewing wat tussen die sluiting van die Genadetyd (Openb 22:11) en die Wederkoms van Jesus (Openb 22:12) sal plaasvind.


1.    Die uitdrukking "sluiting van die Genadedeur" verwys maar net na die tyd wanneer Jesus sal ophou om in die hemelse Heiligdom vir die mensdom in te tree. Die goddelose word oorgegee in die hand van Babilon (Draak, Dier en Valse Profeet). Die sewe laaste plae sal deur God, tussen die sluiting van die Genadedeur en die Wederkoms, op Babilon en haar volgelinge, wat haar merk ontvang het, uitgestort word (Hebr 10:35-39; 2 Pet 3:9,10; Openb 7:1-3; 22:11,12).
 
2.    Vreeslike oordele: Die sewe laaste plae is die vreeslikste oordele wat die mensdom ooit sal tref (buiten die tweede dood, natuurlik). Dit tref diegene wat hul trou "uiteindelik" aan die godsdienstige magte toesê wat God in die laaste dae uittart. Diegene wat die Bybelse waarhede van God en Sy talle oproepe om hulle te bekeer en Hom te volg, (3 Engele-boodskappe van Openb 14:6-12) verwerp, sal na die sluiting van die Genadedeur onder die straf van God begin ly. God het alles moontlik gedoen om hulle te red, maar nou sal Sy oordele op hulle uitgestort word (Matt 23:37; 2 Thess 2:11,12, Openb 14:9-11).

3.    Die getroues onderskraag: In Sy genade het die Here geopenbaar dat Hy die regverdiges in daardie moeilike tyd van verdrukking, liggaamlik en geestelik, sal onderskraag. Terselfdertyd sal hierdie beproewinge hulle help om alle aardse afhanklikheid vaarwel toe te roep en hul vertroue volkome op God te plaas (Ps 91; Jes 40:27-31; 1 Kor 10:13; Openb 3:10).

4.     Die ontskepping van die aarde: Die sewe laaste plae is net mooi die teenoorgestelde van die skepping. Met die Sondvloed is die eerste aarde, wat uit water en deur water ontstaan het, deur God verwoes, weens die voorvloedse mense se boosheid (2 Pet 3:5,6). So sal die sewe laaste plae ook die moderne aarde (die een wat na die sondvloed se water tevoorskyn gekom het), finaal verwoes en vernietig, die keer weens die moderne mens se sonde, afvalligheid en gruwels. Ten laaste, sê Petrus, sal dit met vuur gereining word (2 Pet 3:7).

DIE SEWE ENGELE MET DIE SEWE LAASTE PLAE

Openb 15:1    
“En ek het 'n ander teken in die hemel gesien, groot en wonderlik: sewe engele met die sewe laaste plae, want daarmee is die grimmigheid van God voleindig.”
 
Johannes sien 'n wonderlike teken - die sewe laaste plae wat deur sewe engele uitgestort gaan word. Die oomblik van beslissing het vir die wêreld aangebreek. God se grimmigheid word daardeur op die Valse Babilon en opstandige mensdom uitgestort. Die oordele van God, met die blaas van die trompette (Openb 8:6-11:19) was met genade gemeng, maar die 7 plae sal op die aarde val sonder dat God genade gaan betoon aan diegene wat die merk van die Dier ontvang.

Oordele, straf en plae kom voor sedert Adam en Eva in sonde geval het. Dit is vandag steeds met ons. Maar hierdie sewe plae wat nou gaan volg, is die LAASTE plae wat God oor die wêreld gaan uitstort. Na hulle sal daar NOOIT WEER plae wees nie, want hierdie plae voleindig God se grimmigheid en vernietig die mens se bose bestaan.
 
Die plae het 'n verskriklike uitwerking en is gemik op die goddelose wat aan die einde van die wêreld se geskiedenis sal lewe. Soos dit op mekaar volg, tref dit sondaars rondom die aarde en eindig met die wederkoms van Jesus, wat vir die goddeloses soos 'n verterende vuur sal wees. (Sien  2 Thess 2:8; 2 Pet 3:7,10,12) Die goddelose uit alle eeue moet egter nog hul laaste straf (die ewige dood) aan die einde van die 1000 jaar tegemoet gaan (Openb 20:7-15).  

Jes 28:21    
“Want die Here sal Hom gereed maak soos by die berg Pérasim;  Hy sal aanstorm soos in die dal by Gíbeon om sy werk te doen - vreemd is sy werk!  En om sy daad te verrig - ongehoord is sy daad!”

Hierdie laaste daad van God, om sonde en goddelose finaal te vernietig, blyk vreemd aan God se karakter te wees. Die liefde van God teenoor die sondaar, blyk nie te strook met hierdie daad van vernietiging nie.  Waarom doen Hy dit?

Jesus het aan die kruis gesterf in die plek van die sondaar. Hy het die vloek van die wet (nl. die ewige dood) gedra, wat ons veronderstel is om te ondergaan (Gal 3:10,13).
 
"Die toorn van God teenoor die ongeregtigheid het op die plaasvervanger van die mens, Jesus Christus, gerus, die Eniggeborene van die Vader."  Seventh-day Adventist Bible Commentary, deel 5, Ellen. G. White Comments - Matthew, Review & Herald Publishing Association, Washington D.C., 1956, bl. 1103.

Om Christus en Sy waarheid te verwerp, is die grootste sonde wat 'n mens kan pleeg (sonde teen die Heilige Gees!), want dit bring op die hardvogtige sondaar die toorn en oordele van God, sonder genade. Dit is die toorn van die Lam (Hebr 10:26-33; Openb 14:10).  

"Die dood van Christus is hoop en die ewige lewe vir almal wat Hom ontvang in hulle harte en in Hom glo."
Seventh-day Adventist Bible Commentary, deel 5, Ellen. G. White Comments - Matthew, Review & Herald Publishing Association, Washington D.C., 1956, bl. 1107.
 
Reg en Geregtigheid vereis dat die oortreders van God se wet, paslik gestraf moet word, soos met ons Plaasvervanger, die onskuldige Jesus, gebeur het. Die wonderbare genade van God bied aan onverdienstelike mense, vergifnis. Deur Christus se sterwe in ons plek te aanvaar, kan sondaars van die uiteindelike gevolge van hulle sonde, nl. die tweede (ewige) dood, bevry word.

Openb 15:2    
“En ek het gesien iets soos 'n see van glas, gemeng met vuur.  En die oorwinnaars oor die dier en oor sy beeld en oor sy teken, oor die getal van sy naam, het ek by die see van glas sien staan, met siters van God.”

Terwyl Johannes die vreeslike lot van die wêreld aanskou, word hy éérs die oorwinnaars oor die Dier, sy merk en die getal van sy naam, getoon. Hulle is die 144,000 - diegene wat die "gebooie van God en die geloof in Jesus behou het." (Openb 14:9-12; 20:4,6)

Openb 15:3,4  
“En hulle het die lied gesing van Moses, die dienskneg van God, en die lied van die Lam, en gesê: Groot en wonderlik is u werke, Here God, Almagtige; regverdig en waaragtig is u weë, o Koning van die heiliges!  Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie?  Want U alleen is heilig;  want al die nasies sal kom en voor U aanbid, omdat u regverdige dade openbaar geword het.”

Die lied van Moses, is 'n verwysing na die lied wat die Israeliete gesing het, toe God hulle met 'n wonderwerk droogvoets deur die Skelfsee laat trek het. Hulle het wonderbaarlik ontkom aan die dood (Egiptiese agtervolging). Dit wat vir die Israeliete redding beteken het, was vir die Egiptenare vernietiging (want die einste see het die Egiptenare oorspoel en laat verdrink. Ex 14:1- tot 15:21).

Die verlostes op die "see van Glas" sal dus 'n soortgelyke lied sing as dié van Moses (en die volk), om hul dankbaarheid te toon vir die wonderbaarlike verlossing uit die kloue van Babilon (2 Thess 1:6-10; 2 Thess 2:8-10).

Die Lied van die Lam, is die loflied wat die verlostes sing ter ere aan Christus, vir hul verlossing uit Sonde.  Hierin word die Vader en die Seun verhef vir hulle wonderdaad aan die kruis (Openb 5:9-14) wat vir die redding van die mens gedoen is.  
 
Hierdie twee liedere openbaar die karakter van die Skepper deur almal wat Hom as hul God aanvaar het - Sy werke is groot, wonderlik, regverdig en waaragtig. Hy alleen is heilig en regverdig en daarom wreek Hy die onskuldige bloed van sy kinders, op hul vyande.

Openb 15:5,6  
“En ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, die tempel van die tent van die getuienis in die hemel is geopen.  En die sewe engele met die sewe plae het uit die tempel uitgekom, bekleed met rein, blink linne, en om die bors omgord met goue gordels.”
 
Hierdie sewe engele kom uit die Tempel van God te voorskyn, daar waar die "getuienis" (wet van God) voor Sy aangesig lê, as standaard van Sy regverdige regering en oordeel (Pred 12:13,14; Jak 2:10-13).

Openb 15:7    
“En een van die vier lewende wesens het aan die sewe engele sewe goue skale gegee, vol van die grimmigheid van God wat leef tot in alle ewigheid.”

Een van die vier Lewende Wesens, het die sewe skale aan die engele gegee om God se vreeslike daad van verwoesting te voltrek.

Openb 15:8    
“En die tempel het vol rook geword uit die heerlikheid van God en uit sy krag, en niemand kon ingaan in die tempel voordat die sewe plae van die sewe engele voleindig was nie.”

Jesus sal nie die hemelse Heiligdom verlaat, voordat elke saak beslis is, vír die Saligheid, of vír die Vernietiging nie.  

"Die wraak van God [kan] nie kom voordat Jesus Sy werk [2de Fase van Sy hemelse bedienig- Ondersoekende oordeel] in die Allerheiligste plek afgehandel, Sy priesterlike kleed uitgetrek, en die kleed van wraak aangetrek het nie. Dan sal Jesus uitstap tussen die Vader en die mense, en God sal nie langer stilbly nie, maar Sy wraak uitgiet op diegene wat Sy waarheid verwerp het." E. G. White, Eerste Geskrifte. Sentinel Uitgewery: Kaapstad, 1975, bl 36.
 
Openb 7:2,3    
“En ek het 'n ander engel sien opkom van die opgang van die son, met die seël van die lewende God;  en hy het met 'n groot stem geroep na die vier engele aan wie dit gegee is om die aarde en die see te beskadig en gesê:  Moenie die aarde of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van onse God op hulle voorhoofde verseël het nie.”
 
Die vier engele wat die winde van verwoesting en oorloë vasgehou het, gaan dit nou loslaat. God se kinders is klaar verseël.  Die goddelose word nou aan die genade van hul meester, Satan, oorgelaat. Menslike drifte sal nou vrye teuels gegee word en die bose sal oral verwoesting saai. Jesus se werk in die hemelse Heiligdom is voltooi, en die tyd vir die uitstorting van die sewe laaste plae (op die lewende goddelose), sou hierna plaasvind.
 

VERGELYKING TUSSEN DIE SEWE TROMPETTE EN DIE SEWE LAASTE PLAE

bottom of page