top of page

26. DIE BELONING VIR OORWINNAARS

GOD SE PLAN VAN HERSTEL


Hierdie aarde met al sy skoonheid was deur God beplan om 'n gelukkige tuiste vir die mens te wees. Daarin kon Skepper en skepsel in harmonie met mekaar verkeer en die mens sy hoogste ideale bereik. Hierdie hoë ideale wat gekoester is vir die mens, was deur ongehoorsaamheid en sonde verwoes. Te midde van die stryd met Satan het God die belofte van 'n "weer begin" aan die mens gemaak.

Efe 1:3,4        
“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus, soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees.”

Die Plan van Verlossing was alreeds uitgewerk voor die skepping van die mens, as ‘n voorsorgmaatreël. God was voorbereid om enige probleem die hoof te kan bied. Maar die mens moes die toets van gehoorsaamheid, deurstaan.

Gen 3:15        
“En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad.  Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.”

Direk na die sondeval, het God die Verlossingsplan in werking gestel. Die plan het ingesluit: die vernietiging van die slang (Satan - wat die dood ingebring het) wat ‘n groot stryd tot gevolg sou hê, asook die herstel en hervestiging van die mens in Eden (met die ewige lewe). Dit sal gedoen word deur 'n Verlosser wat uit Eva se nageslag gebore sou word.
 
Joh 3:16        
“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

Die Verlossingsplan het vereis dat God se Seun, Jesus, vir die wêreld sou sterf. Elke persoon wat in Jesus glo as sy persoonlike Verlosser van die sonde, sal die Ewige Lewe kan hê.

Joh 3:36        
“Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe;  maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.”

Die mens moes egter weer aan 'n toets onderwerp word. Hy wat in die Seun glo (Gehoorsaam aan ‘n nuwe Meester - Jesus) sou die ewige lewe ontvang. Hy wat egter ongehoorsaam is (God se Plan van Verlossing sou versmaai), sal saam met die slang (Satan) vernietig word in die Ewige Vuur (Tweede Dood).

Rom 6:16, 22,23    
“Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie - óf van die sonde tot die dood, óf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid? Maar nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe.  Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.”

Die mens moet die geleentheid gebied word om sy eie Meester te kies - óf die Sonde wat lei tot die Dood, óf die Gehoorsaamheid wat lei tot die Geregtigheid. Die Ewige lewe word as ‘n geskenk deur God aan die mens gebied. Ons aanvaarding van die geskenk van die ewige lewe, kom slegs deur Jesus Christus as jou Meester te kies.
 
Jak 1:12        
“Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.”

Elke belydende Christen sal versoek word om die egtheid van sy geloof te toets, net soos met Adam en Eva die geval was. Deur elke versoeking, toets Satan jou lojaliteit aan God. Ons bewys ons getrouheid (gehoorsaamheid) aan Jesus, deur Hom as enigste Meester te hê in my hart. As beloning vir getrouheid, sal jy die kroon van die lewe ontvang.

TYDELIKE TUISTE VAN DIE REGVERDIGES GEDURENDE DIE 1000 JAAR

Joh 14:1-3    
“Laat julle hart nie ontsteld word nie;  glo in God, glo ook in My.  In die huis van my Vader is daar baie wonings;  as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het.  Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”

Jesus is nou in die hemel, aan die regterhand van die Vader in die hemelse heiligdom. Hy het belowe om sy volgelinge te kom haal, sodat ons by Hom kan wees - weg van die Versoeker af, maar by Jesus en in sy Vader se huis.

1 Kor 15:51,52
“Kyk, ek deel julle 'n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in 'n oomblik, in 'n oogwink, by die laaste basuin;  want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word;  en ons sal verander word.”


Met die Laaste Basuin wat met die Wederkoms blaas, sal al die regverdiges wat in Jesus ontslaap het, onverganklik opgewek word. Terselfdertyd sal die lewende regverdiges verander van verganklikheid, na onverganklikheid.
 
1 Thess 4:15-17    
“Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie.  Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God;  en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.  Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug;  en so sal ons altyd by die Here wees.”

Jesus sal sy belofte gestand doen. Die Basuin sal weerklink tydens die Wederkoms van Jesus. Die dooie regverdiges, (hulle wat "in Christus" ontslaap het - gesterf het voor die wederkoms) sal opgewek word en saam met die lewende regverdiges (hulle wat glo en lewe wanneer die wederkoms aanbreek) Jesus ontmoet in die lug! So sal hulle altyd by die Here wees - geen regverdige bly op die aarde agter, na die Wederkoms van Jesus plaasgevind het nie. Al die regverdiges sal na Jesus se Vaderhuis in die hemel gaan.

Openb 20:5b,6
“Dit is die eerste opstanding.  Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding;  oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”

Elkeen wat deel in die Eerste Opstanding tydens die wederkoms, word "Salig en Heilig" genoem. Waarom?  Omdat hulle onverganklikheid (onsterflikheid - ewige lewe) van Jesus ontvang het tydens die Wederkoms. Die Tweede Dood het geen mag oor hulle nie.

Die regverdiges sal gedurende die 1000 Jaar by God en Jesus wees en sal saam met Hom in die hemel regeer - nie afsonderlik op die aarde nie.

Openb 20:4    
“En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee;  en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie;  en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.”
 
Gedurende die 1000 Jaar sal die regverdiges die goddelose (wat almal dood op die aarde is), en die duiwels wat gedurende die tyd geboeid is, oordeel, deur die boeke na te gaan, wat gedurende die hemelse oordeel gebruik was (Dan 7:10-27).  

Wie is al die Heiliges? Die wat onthoof is oor hul getuienis van Jesus (Bv. Johannes die Doper, Paulus, ens.). Die wat met hul lewens moes boet vir hul geloof in die Woord van God (Bv. die Christene wat gesterf het gedurende die Middel Eeue), asook almal wat geweier het om die Dier, sy Naam of getal te aanvaar.

Hebr 11:8-10    
“Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as 'n erfenis sou ontvang;  en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom.  Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in 'n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte.  Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.”

Abraham het geduldig as ‘n swerwer en gelowige op aarde gebly. Hy het die aarde nie gesien as sy permanente tuiste nie, want hy het vooruit gesien na die stad waarvan God self die Argitek en Boumeester was.

Hebr 11:13    
“In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.”
 
Nie een van die gelowiges het, die beloofde stad ingegaan nie, tog het hulle dit met die geloofsoog gesien en dit met andere op hul pad gedeel. Hulle het geglo dat God vir hulle 'n stad berei het.

Hebr 11:39,40    
“En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie, omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie.”
 
God se plan is dat al die regverdiges vanaf Adam tot die laaste gelowige wat op die aarde sal lewe, gelyktydig die Ewige Lewe sal ontvang en na die Beloofde Stad geneem sal word. Hierdie wonderlike gebeurtenis sal plaasvind sodra Jesus sy kinders met die Wederkoms sal kom haal, sodat ons kan wees waar Hy is.

 

Gaan na die volgende studie:  DIE BELOOFDE STAD

bottom of page